3 bladsye.

Selfaanvaarding

sokkies met hartjie🔗

ʼn Derde Gebod?🔗

Daar is skrywers wat dink daar bestaan ʼn derde gebod in die Bybel wat sê dat ons onsself moet aanvaar of liefhê. Hulle lees dit as ʼn gebod: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Hulle verduidelik soos volg: "soos jouself” beteken dat jy jouself aanvaar of liefhet. En as dit nie die geval is nie, kan jy jou naaste ook nie rêrig liefhê nie. Selfliefde is dus volgens hierdie mense ʼn voorwaarde om ander mense te kan liefhê. Daarom moet ons aandag gee aan liefde vir onsself. Trobisch noem dit selfs "ʼn derde gebod’’.

Daar is drie redes waarom ons nie hiermee kan saamstem nie.

Eerstens: Wanneer ons sê: “Jy moet die deurkosyn dieselfde geel verf as die vensterraam”, dan beteken dit nie dat die vensterraam eers ekstra geel geverf moet word en daarna die deurkosyn nie. Die vensterraam is alreeds geel. Ons hoef nie nog ekstra aandag hieraan te gee nie. Net so is “soos jouself” ʼn basiese gegewe, nie ʼn derde gebod nie.

Tweedens: Hierdie gebod van die Here Jesus sou dan nie op almal van toepassing kon wees nie, want nie almal beleef ʼn positiewe selfaanvaarding nie. Daarenteen is hierdie wet van God wél vir alle mense bedoel. Hierdie “soos jouself” beteken nie selfaanvaarding (soos Trobisch dit bedoel) nie. Dit dui op ʼn natuurlike betrokkenheid, wat elke mens in hom het. Maak nie saak hoe jou selfbeeld is nie, wanneer dit oor jouself gaan, weet jy dadelik waarvan jy hou of nie hou nie, en of jy iets as reg en billik ervaar of nie, ens.

Die derde rede waarom ons hierin nie ʼn derde gebod sien nie, is dat op so ʼn manier jou liefde vir jouself voorrang het bo jou liefde vir jou naaste. Daar is selfs mense wat eieliefde as grondslag beskou vir naasteliefde. Dus: Eers liefde vir die Here God, dan ek-self en dan my naaste; eieliefde en naasteliefde word eintlik as gelyk beskou. Maar dit is nie waar nie! Nee, die rede vir naasteliefde lê nie in eieliefde nie, maar in God se liefde vir ons (Johannes 3:16, 17; 4:7-8).

God se Liefde vir Ons🔗

Tog leer die Bybel ons dat ons onsself mag aanvaar, ook al staan dit nie letterlik so geskryf nie. Dwarsdeur die hele Bybel spreek die Here indirek hieroor, want Hy praat oor Sy liefde vir ons. Ons is waardevol vir Hom. “Omdat jy kostelik is in my oë, hoog geag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke in jou lewe” (Jesaja 43:4). ’n Pragtige teks! God die Vader het liefdevol elkeen van ons uniek gemaak, met ons eie gawes, ons sterk en swak kante, asook ons gevoel, verstand, liggaam en ons eie lewensloop (Psalm 139).

As gevolg van die sonde is ons totaal verdorwe. Maar God die Seun, Jesus Christus, het ons so liefgehad, dat Hy sy lewe gegee het om ons te verlos. Hy vergewe ons ons sondes en vernuwe ons lewe, sodat ons weer vir God kan dien (Efesiërs 2:4-6; Romeine 6:10).

God die Heilige Gees wil in ons hart woon. Ons mag selfs ʼn tempel van God wees! Hy gee vir ons gawes, sodat ons goeie werke kan doen, wat Hy aan ons bekend maak en in ons werk (Efesiërs 2:10; Hebreërs 6:10), ook met betrekking tot die gemeente (Romeine 14:4-8; 1 Korintiërs 12:12-31).

geskenk

So mag ons onsself aanvaar deur God se liefde. Omdat God my so gemaak het, mag ek dit so aanvaar. Omdat God my toerus met gawes, mag ek my hierin verheug. Omdat God my sondes vergewe, mag ek dit in dankbaarheid aanvaar en is dit nie meer nodig dat ek myself hieroor blywend verwerp nie. Omdat God my só liefhet, mag ek bly wees met wie ek is. Dáárom mag ek my lewe aanvaar as ʼn geskenk uit die Here se hand. Vanselfsprekend is daar nie plek vir hoogmoed en selfverheffing nie, maar dankbaarheid teenoor God is gepas. So kry God, ons Skepper en Verlosser, die eer wat Hom toekom!

Die Bybelse boodskap is nie "aanvaar jouself” nie, maar “wees aanvaar in Christus”.
Ons selfvertroue is dus Godsvertroue.
Ons eiewaarde is ʼn geskenkte eiewaarde.
Dit gee vrede met God, mense en jouself.

Eieliefde Veroordeel🔗

Ons kan onsself afvra of dit nie tot selfsugtigheid en eieliefde lei nie? Die Bybel waarsku ons hiervoor. Neem bv. 2 Timoteus 3:2 (liefde vir jouself). By Calvyn het selfliefde geen plek nie: "Naasteliefde is die einde van selfliefde”.

Maar ons kan ook iets meer sê as dit. Vir Calvyn gaan dit oor ʼn sondige gerigtheid, na jouself gerig wees. (Kom ons noem dit selfliefde). Alles gaan oor jouself, tot jou eie voordeel. Jou "eie-ek’’ is die middelpunt van alles. Dit is sonde en selfsugtigheid.

Tog is gelowige selfaanvaarding iets anders. Jou eie selfaanvaarding is deel van die liefde van God, dankbaarheid teenoor God en liefde teenoor die naaste.

Ons Sondes en Swakhede🔗

In die praktyk van die lewe steek ons ou sondige natuur steeds weer sy kop uit, die sondige ek. Jy staar jou vas teen jou sondes, jou mislukkings, jou beperkte moontlikhede. Baie van dit wat ’n mens doen en beplan om te doen, bly onvolmaak en onvolledig. Dit kan ’n mens diep hartseer maak. Kan ’n mens dan nog vrede hê met jou bestaan? Hiermee saam leer die Bybel ons tog dat ons ons moet bekeer, stry teen die sonde en ons lewe verander. Hoe kan ons dan vrede hê in ons hart?

Nee, God se kinders is beslis nie bly met alles in hulle lewe nie. Ons het opregte berou oor ons sondes wat God bedroef het, ja wat God ook vertoorn het. Ons haat die sonde al hoe meer, en wil daarvan wegvlug (Heidelbergse Kategismus, Vr en Antw 88). Daarom staan in die Nagmaalsformulier geskrywe dat ons ook ʼn afkeer van onsself moet hê, vanweë ons sondes. Dit wys op hoe ons lyk, vanuit onsself: Verlore in sonde en skuld. As ons so daarna kyk is daar genoeg rede om onsself te haat. Ons kan nooit bly en tevrede wees met ons “eie-goeie-ek” nie, want ʼn “goeie-ek” bestaan nie.

Maar God wil ons sondes vergewe. En hoe bevrydend is dit nie! Nou is dit nie meer nodig dat ons ons blind staar op dit wat nie reg is in ons lewe nie. Dit is nie meer nodig om onsself te haat en verwerp nie. Nee, ons aanvaar nie ons sondes nie, maar ons bekeer ons daarvan omdat ons Christus leer ken het. Ons mag bly wees met ons lewe, ondanks ons sondes.

Dit beteken nie dat ons ons sondes volledig moet oorwin as ’n voorwaarde vir God se liefde en aanvaarding van ons nie. Selfaanvaarding en bekering is nie in stryd met mekaar nie. Ons mag onsself juis aanvaar as kinders van God. Dit is bemoedigend! Nou het ons ruimte om te verander en te groei in geloof. God bewerk hierdie groei en Hy snoei ons tot vrugbare ranke.

Wat gebeur as ons vashaak by ons swakhede, grense, beperkings en gebrekkige werke? Ook hierin is daar uitkoms! Ons mag dit in God se hand plaas. Ons swakhede en tekortkominge kan natuurlik onvrede gee, maar dit sal in beginsel nooit ons lewensvreugde kan demp nie.

God is in totale beheer van ons lewe. Ons is deel van God se toekomsplanne, waarby die onvolmaakte en slegte van my lewe, deel van die verlede word!

In die Praktyk🔗

Kan ongelowiges tot ware selfaanvaarding kom?

snoei

Nie net Christene nie, maar ook baie ongelowiges het ʼn positiewe selfbeeld. Is hierin ʼn verskil tussen gelowiges en ongelowiges? Is ʼn positiewe selfbeeld, waarvan die sielkundiges praat, dieselfde as wat die Bybel ons leer?

Nee, dit is nie dieselfde nie. Die verskil is die volgende: Waar kom jou selfbeeld vandaan (die grond) én wat maak jy daarmee (die norm)?

ʼn Ongelowige kan ʼn blymoedige (valse) vrede in hom hê, sonder om in God te glo. Hy dank God nie vir wie hy is nie. Hy wil homself uitleef, sonder om rekening te hou met God se wet. Alle “voordele” van ʼn positiewe selfbeeld (aandag vir ander mense, gemaklik in omgang met mense) is nie in gehoorsaamheid en liefde tot God gerig nie (verg. Heidelbergse Kategismus vr. 91), maar word net tot eie voordeel gebruik: populariteit, beroep ens.

Die wêreldse beeld van selfaanvaarding begin gemaklik oorloop tot sondige selfliefde. Selfontplooiing en selfbeskikkingsreg staan sommer vinnig bo aan die lys. En dit sien ’n mens weer so vinnig in allerlei dinge in ons samelewing. Dink maar net aan die hoë egskeidingsyfers, en aan hoe min mense nog besig is met selfkritiek.

Daarom is dit belangrik om krities te wees en nie sommer alles te aanvaar wat sielkundiges sê oor selfaanvaarding nie. Want dikwels gaan dit dan net oor dit wat die mens bedink. En die gelowige kyk tog altyd na homself vanuit dit wat God sê?