Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Selfaanvaarding Wat Leer die Bybel Ons?

Mag Ek Myself Liefhê?🔗

Selfaanvaarding is in die sielkundige en maatskaplike wêreld ʼn begrip wat wyd aanvaar word. Selfaanvaarding word deur hierdie mense as ʼn noodsaaklike voorwaarde gestel vir die gesonde funksionering van mense in al hulle verhoudings. In die lig hiervan is dit noodsaaklik dat ons weet wat God oor selfaanvaarding in die Bybel leer. Gee God in die Bybel ʼn bevel dat ek myself moet liefhê?

Jesus het ons geleer wat die grootste gebod is: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. Hierdie dubbelgebod van die liefde is in kort die samevatting van die hele wil van God vir ons lewe (Matteus 22:36-40). Maar nêrens in die Bybel lees ons die uitdruklike gebod: Jy moet jouself liefhê, nie!

Word selfliefde dan deur God verbied? Nee, ook nie dit nie. Nêrens gee die Bybel die bevel: Jy mag jouself nie liefhê nie, jy moet jouself haat!

God beveel wél dat ons die sónde moet haat. Dit is heeltemal iets anders. Dit is dalk moeilik vir ons om hierin onderskeid te tref, want as ons na ons sonde kyk, sien ons onsself! Ons dóén immers nie net sonde nie, maar die sonde woon in ons, sê die Bybel (Romeine 7:17, 20). Dit is ook hoekom ons kerklike formuliere ons meer as een keer waarsku dat ons vanweë ons sonde ʼn afkeer van onsself moet hê. Ons moet net soos Paulus leer bely: “Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. ... Ek, ellendige mens!” (Romeine 7:14, 24).

Elke optimisme oor die goeie eienskappe wat in ʼn mens sou verskuil wees, is in wese humanisme, d.w.s.: Opstand teen God! Die humanisme volg die pad van selfverlossing: elke mens moet net sy potensiaal in homself vind, hy moet net homself ontdek en homself uitleef. Jy is jou eie maatstaf. Elkeen moet sy eie gewete volg. Hierdie manier van dink staan lynreg teenoor dit wat die Bybel ons leer. “In my woon niks goeds nie” sê Paulus in Romeine 7:18. Ook Dawid bely hierdie woorde in Psalm 143:2: “niemand wat leef, is voor U aangesig regverdig nie.”

Die Bybel wys nie vir ons ʼn pad na selfverwesenliking deur selfregverdiging en selfverheerliking nie. Inteendeel – die Bybel wys vir ons die pad van verootmoediging en selfverloëning voor God: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13).

Wie is Ek?🔗

God vra dus van my, dat ek ʼn afkeer van myself moet hê vanweë die sonde wat in my woon: “Ek ellendige mens.” Maar dit beteken nie dat ek, as skepsel van God, myself moet weggooi nie. Inteendeel. Wanneer die besef van die verskriklike bedorwenheid van die sonde wat my aangetas het tot my deurdring, verwonder ek myself des te meer oor die werk van God: Hy het my heeltemal volmaak gemaak (Genesis 1:31)! Op God se werk as Skepper kan ʼn mens geen kritiek hê nie. Daaroor kan ek my verheug (Psalm 8). God het sy skepsel, sy eie maaksel, lief. Mag ek dit dan minag? God stel ook sy skepsel, “mens”, baie hoog op prys. Hy het in mense ʼn welbehae (Lukas 2:14). Hy het sy eie Seun gegee om die sonde van die mense te versoen. Daarom mag ek myself as skepsel van God nie waardeloos ag nie. So sien ons die Bybelse opdrag tot selfwaardering.

God het My Onvoorwaardelik Aanvaar🔗

Daar kan geen Bybelse selfaanvaarding bestaan sonder die geloof dat God my aanvaar het nie. My geloof in God wat my aangeneem het, is in feite die enigste grond vir my selfwaardering as mens. Enige iets anders is ʼn versinsel.

Die Bybel leer aan ons dat God geen voorwaardes stel vir sy aanvaarding van ons nie. Sy liefde is onvoorwaardelik. Die Bybel leer ons: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ʼn versoening vir ons sondes” (1 Johannes 4:10). “Terwyl ons nog vyande was, is ons met God versoen deur die dood van sy Seun” skryf Paulus in Romeine 5:10).

Dit beteken dat ek nie eers myself hoef te verbeter voordat ek na God toe kan gaan nie. God het my in Christus aanvaar net soos ek is. Hy het my as sy kind aangeneem, mét my sondige bedorwe aard wat in my woon en mét my karakterfoute en my persoonlike gebreke.

Vir God is die sonde in my nie iets klein of niksbeduidend nie, maar Hy neem my as sondaar aan om my van my sonde te genees. Hy neem die skuld van die sonde van my weg deur die versoenende bloed van Christus. Hy breek ook die mag van die sonde in my af deur die vernuwende krag van die Heilige Gees.

Omdat God my onvoorwaardelik aanvaar het, kan ek myself aanvaar as Sy kind. Omdat Hy my onvoorwaardelik liefhet, kan ek myself aanvaar. My selfrespek as mens hang dus nie af van iets in myself nie, byvoorbeeld herkoms, karakter of my prestasies nie. My selfrespek ontleen ek enkel en alleen aan God se genade. Hy het my deur Christus sy eiendom gemaak. Hy bewaar my soos ʼn kosbare skat en maak my bruikbaar en gewillig om Hom te dien (HK antw. 1). Hierdie onverdiende genade van God is my enigste troos: dit is die enigste grond waarop my gelowige aanvaarding van myself op rus.

Dit is hoekom egte, normale selfliefde nie kan bestaan sonder gelowige liefde vir God nie. Wanneer ek God se liefde met my hele hart gelowig aanvaar, dan kan dit nie anders nie as dat liefde vir Hom in my hart groei as antwoord. En deur die liefde wat ek vir God het, word my selfwaardering gedra en gevoed.

God se Liefde Oorwin my Negatiewe Selfbeeld🔗

Baie mense ly aan ʼn negatiewe selfbeeld, deurdat hulle skeefgegroei het tydens hulle psigiese ontwikkeling. Die versteuring van God se perfekte skepping kom ook by Christene voor. Sulke tekortkomings word in hierdie lewe nog nie heeltemal weggeneem nie. Maar Christene kan hulself in lewe en sterwe troos met die sekerheid dat hulle eie versteurde kyk op hulself nooit kan opweeg teenoor die liefde waarmee God hulle aanvaar het nie. “Indien ons hart ons veroordeel ... God is meer as ons hart” skryf Johannes (1 Johannes 3:20). Slegs God se liefde kan ons vrees vir God verander na vrymoedigheid voor God.

Elke keer as ek ly aan gevoelens van nutteloosheid en angs oor wie ek is, as ek my laat verlam deur my haat vir myself en myself straf met die gedagte dat ek eerder nie op aarde moes gewees het nie, mag ek vasgryp aan God se onvoorwaardelike liefde vir my. Hoe meer ek leer om myself worstelend in gebed onvoorwaardelik aan God se genade oor te gee, hoe meer sal ek deur sy Gees bevry word van die swaar las van my verwronge selfbeeld.

Want God het gesê dat Hy my liefhet. Hy het dit deur die water by die doop aan my verseker, dat Hy my aangeneem het as sy kind, as sy kosbare eiendom. As ek myself aan sy liefde oorgee, hoef ek myself nie meer weg te gooi nie. God sê vir my: “Jy mág hier leef!” Ek hoef nie daaraan te twyfel nie. Ek mag tog ook nie teëpraat teen God nie?

God se liefde vir my is daarom die doodsteek vir my selfhaat.