Bron: Kompas, 2005. 4 bladsye.

Sing soos Jy Glo en Glo soos Jy Sing

In hierdie artikel word aangesluit by die tema “musikale norme en waardes in die kerkdiens”. Binne hierdie raamwerk word aandag gevra vir die noue verband wat daar bestaan tussen geloof en lied. Na aanleiding daarvan sal iets gesê word oor die nuwe gesangebundel in Nederland, Negentig Gezangen, en oor die manier waarop die kerke op die oomblik liedere en liedgenres uitsoek.

Geloof en Lied🔗

Christene sing soos hulle glo en hulle glo soos hulle sing. Daarmee word die volgende bedoel. Sing is ʼn middel waardeur ons uiting gee aan dit wat in ons leef. En waardeur ons die geloof persoonlik en gesamentlik ervaar. Maar die lied is nie net ʼn uiting van dit wat ons glo en beleef nie. Liedere werk ook altyd in die teenoorgestelde rigting: dit bevestig en voed ons geloof (kyk o.a. Efesiërs 5 en Kolossense 3). Dit gee ook rigting aan, en is medebepalend vir die manier waarop ons die geloof beleef.

Die lied het alles te make met geloofsopvattings en identiteite. Daar is ʼn wisselwerking tussen enersyds hoe en wat mense wil glo, en andersyds die liedere wat hulle (wil) sing. Twee voorbeelde ter verduideliking en illustrasie.

Eerste voorbeeld:🔗

In charismatiese kringe val al die nadruk op die noodsaak om die werking van die Gees heel konkreet in jou persoonlike geloofsbelewing waar te neem. Dis nie verniet nie dat in daardie kringe dié liedere gewild is wat ʼn sterk appèl op die emosies van die mens maak. Sodanige liedere word dan gebruik om jou oop te stel vir die Gees. Deur daardie liedere beleef ʼn mens iets wat dan aangedui word as “geloofservaring” en as die “konkrete belewing van God se aanwesigheid deur die werking van sy Gees”. Bowendien funksioneer die liedere daar in samekomste waar begin word met ʼn “tyd van aanbidding en lofprysing”. Daarby word dan vir ʼn kwartier of langer diverse aanbiddingsliedere na mekaar gesing. Kritici interpreteer dit as ʼn manipulasie van menslike adrenalienstrome. Maar vir deelnemers aan hierdie samekomste is sulke liturgiese oomblikke van groot belang. Na hul mening ervaar hulle dan God Self en voel hulle dat die Gees in hulle werk. Hier beheer liedere die belewing en hulle word gekies op grond van bepaalde geloofsopvattings. Dus ʼn wisselwerking.

Tweede voorbeeld:🔗

In gemeentes van die Gereformeerde Bond en in Gereformeerde Gemeentes in Nederland word uitsluitend psalms gesing, wat bowendien “nie-ritmies” gesing word. Dat hulle geen gesange sing nie, het hoofsaaklik te make met die opvatting dat via die “vrye lied” dwalings die kerk kan binnekom. Ook hier is dus die keuse van liedere bepaal deur godsdienstige opvattings. Dat die psalms “nie-ritmies” gesing word, is nie net ʼn gevolg van afgestompte konserwatisme nie (“my ouma het dit ook so gesing en sy het daarmee salig geword”). Maar volgens hulle is dit die vorm, die manier van sing, wat die beste pas by die gewyde, aandagtige sfeer van ʼn kerkdiens waar ʼn nietige mens homself voor die hoogheilige God stel.

So kan talle voorbeelde genoem word waaruit duidelik blyk dat keuse van liedere en liedgenres in ʼn groot mate te make het met geloofsopvattings.

Algemene Sinode Leusden, Nederland🔗

Waarom word hierdie punt onder die aandag gebring? Die rede hiervoor is dat die onlosmaaklike wisselwerking en samehang tussen enersyds geloof en andersyds liedgenres en liedere veels te min in berekening gebring word in die huidige gesangeproses in Nederland.

Dit kom veral sedert die Algemene Sinode van Leusden in 1999 duidelik na vore. Op daardie sinode is gepleit vir ʼn verbreding van die liedgenres waaruit deputate moes kies. Daar is naamlik gestel dat rekening gehou moes word met die “hedendaagse kultuur” wat ook binne die Christelike wêreld sterk gedifferensieerd is. Daar word in die godsdienstige kultuur nou maar eenmaal verskeie soorte liedere aangetref wat nie geïgnoreer kan word nie, omdat baie mense dit graag sing. Buite die kerkdienste sing Gereformeerdes allerlei liedere, ook uit die sogenaamde “godsdienstige vermaaklikheidswêreld”. En die wense en behoeftes om daardie liedere ook in die kerkdienste te sing, moet tegemoet gekom word.

Hierdie gedagtes het die agtergrond gevorm vir die opdrag aan deputate Kerkmusiek om nie net liedere uit die kerkliedtradisie te kies nie, maar byvoorbeeld ook liedere uit die sogenaamde “evangeliese tradisie”. In die bundel Negentig Gezangen kom veertien liedere uit daardie “tradisie”.

Die spesifieke liedere word ook “opwekkingsliedere” of “gospelliedere” genoem. Maar daar heers baie verwarring oor watter soort liedere dit nou eintlik gaan. Daarom is dit goed om eers ʼn aanduiding te gee van wat onder daardie liedere verstaan moet word. Dit gaan om liedere uit die twintigste-eeuse Angelsaksiese geloofsbeweging, wat gekenmerk word deur bepaalde teologiese aksente en deur die aktiewe inskakeling van uitingsvorme uit die vermaaklikheidskultuur (ligte musiek).

Dit is nonsens om te beweer dat daar geen bruikbare liedere onder die resente Angelsaksiese liedrepertoire sou wees nie. Ewe min kan beweer word dat hierdie liedere nêrens gesing mag word nie. In hierdie sin is dit onnodig om slapelose nagte te hê oor die veertien opwekkingsliedere wat in die bundel Negentig Gezangen opgeneem is.

Maar by die keuse van hierdie liedere kan wel diverse praktiese en ook meer inhoudelike kanttekeninge gemaak word. As praktiese beswaar kan genoem word dat die opwekkingsliedere wat nou gekies word, al weer “uit” is teen die tyd dat die sinode dit goedgekeur het. In werklikheid vorder ʼn mens dus eintlik glad nie deur hierdie repertoire te kies nie.

Belangriker as dergelike praktiese sake is die inhoudelike redes wat die kerke aanvoer om hierdie liedrepertoire in die erediens toe te laat, naamlik die kulturele verskeidenheid en die behoeftes van groepe kerkgangers. In die huidige gesangeproses het hierdie motiewe in ʼn groot mate bepalend geword in die soektog na liedere en liedgenres. In hierdie opsig is die kerke beslis te kortsigtig.

Wense Deurslaggewend?🔗

Daar is inderdaad baie mense wat ʼn evangeliese liedrepertoire op prys stel en aan wie dit baie steun en houvas vir hul geloof(slewe) bied. Maar is dit so ʼn deurslaggewende argument om dit dan maar tot bruikbare liturgiese musiek te verhef? Vergelyk dit met byvoorbeeld die Bybelvertalings wat lidmate in die week gebruik. Daar is van hulle wat hou van vertalings uit byvoorbeeld Het Boek of Groot Nieuws. Tog is ons in hierdie opsig minder geneig om toe te gee aan die wense en verlangens van ʼn groep lidmate. Daar is in Nederland selfs ʼn deputaatskap aangestel om te ondersoek of en in hoeverre hierdie vertalings langs die gebruiklike vertaling in die kerkdiens toegelaat kan word (Acta GS Zuidhorn, art. 65).

Vir alle duidelikheid: hier word beslis nie beweer dat daar so min as moontlik rekening gehou moet word met wense wat in die kerke leef nie. Die beswaar is gerig op die feit dat daardie verlangens op die oomblik van beslissende betekenis is vir die manier waarop gehandel word ten aansien van liedere en liedgenres.

Veelkleurig🔗

Dit is baie vreemd dat daar die laaste paar jaar met ʼn beroep op kulturele verskeidenheid gepleit word vir ʼn evangeliese liedrepertoire in die kerkdiens. Die musiekkultuur was nog altyd veelkleuriger as wat in die Christendom as “kerkmusiek” aangedui en gebruik is. Die godsdienstige musiek wat gereformeerdes in die week speel en na luister, was nog altyd baie breër as dit wat in die Sondagse kerkdiens gehoor is.

Dat baie musiek en liedere ten spyte daarvan nie in die eredienste gehoor is nie, het onder andere te make met algemeen gedeelde opvattings oor dit wat wel en nie gepas is wanneer die gemeente voor God se aangesig kom. Daar was ʼn duidelike styl wat perke gestel het aan die bruikbaarheid van godsdienstige musiekgenres. Daardie styl het blykbaar verdwyn. Op ʼn postmoderne manier gestel: daardie styl het baie uiteenlopend en veelkleurig geword. Stylloosheid bestaan nie meer nie: daar is nog maar net verskillende style wat prinsipieel gelykwaardig is.

Die verskil met vroeër jare (tot byvoorbeeld 1990) is nie dat die kultuur skielik so uiteenlopend geword het nie. Die verskil is dat ons blykbaar geen rede meer het of sien om bepaalde geestelike liedgenres in die kerkdiens te weier nie. Ons hou duidelik nie skerp voor oë nie wat die styl van ʼn gereformeerde liturgie is, sou kon wees of selfs sou moet wees.

Gereformeerde Liturgie🔗

Die gereformeerde liturgie sal beslis nie tot niet gaan as daar af en toe ʼn opwekkingslied gesing word nie. Maar dit sal definitief wel so wees wanneer die poorte wyer oopgemaak word vir allerlei liedgenres uit die godsdienstige ligte musiek, omdat daardie genres gelykwaardig en net so geskik vir die kerkdiens sou wees as die kerkliedgenres.

Bowendien gaan dit in die bundel Negentig Gezangen om ʼn paar “matige” liedere. Daar is egter ook “heftiger” gospelrepertoire. As die uitgesoekte opwekkingsliedere passend geword het in die gereformeerde kerkdienste, waarom sou “reli-hardrock” dan in beginsel nie ook toegelaat kon word nie? Die gewildheid van jeugdienste is ʼn aanduiding dat die behoefte daaraan wel bestaan, en ʼn mens is tog veronderstel om reg te laat geskied aan kulturele verskeidenheid in die kerk?

Die vrae wat ter tafel gelê word, is dit: trek ons nog grense, en indien wel, waar en waarom juis daar? Dit is inderdaad lastige en ingewikkelde vrae. Maar tog is hulle van fundamentele belang. Dit moet aan die orde kom wanneer ons ʼn verantwoorde beleid ten aansien van die lied wil volg. ʼn Ander moontlikheid is natuurlik om hier Gods water oor Gods akker te laat loop. Maar laat ons dan openlik daarvoor kies en daardie keuse duidelik formuleer en afspreek. Dit gee ten minste duidelikheid.

Voorlopig word daarvan uitgegaan dat die kerke nie sodanige “laisser-faire”-houding wil aanneem nie. Dit beteken wel dat ons lastige vraagstukke en probleme moet onderken. En hoe ʼn mens dit dan ook al wend of keer, evangeliese liedgenres veronderstel ʼn ander soort liturgie, waar ander teologiese aksente gelê word. Dit getuig van en bevestig ʼn spiritualiteit waarvan ons onsself moet afvra of en in hoeverre dit vanuit ʼn gereformeerde oogpunt in ons kerkdienste gewens is. Dergelike vrae het tot nou toe nie aan die orde gekom nie, laat staan dat dit beantwoord is.

By die keuse en beoordeling van liedere en liedgenres het ons nooit slegs te doen met tekstuele en musikale aspekte nie. Daar is ook altyd liturgiese aspekte wat ʼn rol speel en daar is beslis gevolge vir die erediens. Daarom sou dit ʼn belangrike stap na vore wees indien die hele gesangeprojek meer binne die raamwerk van ons liturgiese besinning aangepak word.

Bedoel word nie net die breë besinning ten aansien van die gereelde Sondagse kerkdienste en hul vormgewing soos ons dit tans ken nie. Maar bedoel word ook die huidige besinning oor die tweede diens. Eintlik word gedink aan alle manier en vorme wat in die kerk gebruiklik is om die Here gesamentlik te dien. Hier kan gedink word aan aangepaste dienste vir gestremdes, verwelkomingsdienste, ensovoorts. Binne die raamwerk van ʼn besinning oor hierdie dienste kan gekyk word watter liedere en liedgenres goed en sinvol daar gebruik sou kon word.

Ons doen en late ten opsigte van liedere kan nie losgemaak word van liturgiese vraagstukke nie, soos bv. oor die eie karakter van die Sondagse oggenddiens, oor die moontlikheid of wenslikheid om op Sondagmiddae andersoortige dienste te belê, ens.

Daarom sou dit goed wees om die onderskeie deputaatskappe “Eredienst” en “Kerkmuziek”, soos hulle tans in Nederland funksioneer, weer saam te voeg tot een deputaatskap. Op hierdie manier sou die gesangeproses beter ingepas kon word binne die raamwerk van die algehele liturgiese besinning en ontwikkeling.

Aanbring van Onderskeid in Liedere🔗

Een van die winste van die afgelope dekade is dat ons meer oog gekry het vir die plek van liedere in die breedte van die kerklike lewe. Dit sal goed wees as ons as kerke saam ʼn beleid ontwikkel en uitvoer waarby ons verantwoorde liedere soek wat vir uiteenlopende geleenthede en situasies geskik sal wees. ʼn Stap in die regte rigting sal wees wanneer, in die seleksie van liedere, duideliker onderskei sal word tussen liedere wat veral vir die gereelde kerkdienste geskik sal wees en liedere wat spesifiek in allerlei ander samekomste goed kan funksioneer. Daarmee word laasgenoemde liedere nie as minderwaardig getipeer nie, maar wel as andersoortig.

Dit sluit deels aan by die koers wat die kerke in Nederland inslaan ten aansien van die gewenste lys van liedere. In sinodebesluite aldaar is besluit dat die lys so saamgestel moet word dat ʼn wye keuse daaruit gemaak kan word in alle plaaslike kerke en vir besondere dienste (bv. aangepaste dienste, verwelkomingsdienste).

Tot nou toe is versuim om duidelik onderskeid te tref ten opsigte van die liedere vir uiteenlopende samekomste en geleenthede. In die praktyk word die liedere sonder enige verdere onderskeid behandel, voorgestel en gebruik. Dit terwyl daar verseker wel ʼn onderskeid is. Ook die sinode van Zuidhorn (Nederland) het blykbaar nie daarvan uitgegaan dat alle liedere ook in alle samekomste gesing kan word nie. In die bundel Negentig Gezangen kom egter verskeie liedere voor wat waardevol is vir gebruik in ander samekomste as die kerkdienste, maar dit staan tussen die ander. Alle liedere lê dus nou as’t ware op een hoop en in beginsel kan alle liedere in alle eredienste gebruik word.

Slotsom🔗

By die uitsoek en beoordeling van liedere en liedgenres moet rekening gehou word met die feit dat keuses nooit neutraal is nie. Ewe min is dit in die eerste plek ʼn saak van “smaak” (= aangeleerde gedrag) of “kulturele verskeidenheid”, waarmee rekening gehou moet word. Sing is nie net ʼn uiting nie, maar ook altyd ʼn “inning” en bevestiging van geloof. Norme en waardes wat hanteer word as dit kom by musiek in die kerkdiens, is per definisie in ʼn groot mate bepaal deur godsdienstige norme en waardes.

Daarom moet gevra word of alle liedere en liedgenres wat deur Christene gebruik word, ook uit teologiese en liturgiese oogpunt ewe wenslik is op alle plekke en gebeure in die kerklike lewe, bv. in kerkdienste.

Dit is moeilike vraagstukke, maar die werklikheid is mos ingewikkeld. Die oplossing is nie: kyk anderpad en laat lei jou deur vrae soos: “wat is die aanvraag?”, “wat het draagwydte?” en “hoe stel ons almal soveel as moontlik tevrede?”

Dit spreek vanself dat by die seleksie sorgvuldig rekening gehou moet word met behoeftes en wense wat in die kerke leef. ʼn Beleid waarby alles bloot net van bo-af opgelê word, is nie goed nie. Maar op die oomblik is die neiging na die ander kant toe. ʼn Inhoudelike besinning van diverse relevante vraagstukke met betrekking tot die lied het helaas heeltemal tot stilstand gekom. Daar word te veel en te eensydig voorkeur gegee aan vraagstukke ten aansien van draagwydte, aan wense en behoeftes van verskillende groepe. Miskien is dit die bedoeling om verder in daardie rigting te beweeg, maar dan moet dit duidelik uitgespreek en vasgelê word. Dan kan daar ook sinvolle pleidooie gehou word om die betrokke deputaatskap op te hef en die keuse van liedere bloot net aan die plaaslike kerke oor te laat. As dit nie die bedoeling is om in daardie rigting te beweeg nie, dan sal hierdie artikel hopelik daartoe bydra dat die huidige beleid en die huidige pad nog ʼn slag goed deurdink word.