Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Sinodebesluite en die Vryheid van die Plaaslike Kerk

Christusgerig🔗

Christus is die enigste hoof van sy kerk. Hy is die Redder van die wêreld, 1 Johannes 4:9, 10, 14. Aan Hom is alle mag in hemel en op aarde gegee, Matteus 28:18. Wie dit bely, verval nie in kerkgerigte denke nie, maar hy is gefokus op die werk van Christus om sy kerk te vergader en te bewaar, hy is gefokus op die verhouding tussen Christus en sy gemeente, NGB artikels 27-31. Christus bou sy kerk op die fondament van die belydenis dat Hy die Christus is, die Seun van die lewende God, Matteus 16:18.

Die verhouding van die vryheid in Christus van die plaaslike kerk aan die een kant en die verantwoordelikheid van kerke om na mekaar om te sien aan die ander kant moet goed deurdink word, sodat Christus se regering van sy kerk nie bedreig word nie.

Christus se regering oefen Hy direk deur sy Woord in die plaaslike kerk wat volgens die Skrif volledig kerk is, uit. Die regering van Christus is ’n regering van die vrede van God, ’n regering van die versoening wat deur Christus bewerk is, ’n geestelike orde. Hierin maak Hy van besondere ampte wat die Woord bedien, gebruik. Maar Hy dra nooit sy gesag aan hulle oor nie. Hulle bedien Sy regering van die kerk aan die gemeente.

Die kerk is God se bouwerk en direk onderworpe aan die orde van die Hoof Jesus Christus. Daarom is ’n kerkorde of ’n aantal sinodebesluite geen tweede stel regeermiddels of tweede regeerinstansie naas die verkondiging en bediening van Christus se Woord nie. Dit is nie Christus se Woord plus die besluite van ampsdraers of Christus se Woord plus die besluite van ’n kerkvergadering nie. Die verhouding tussen Christus en sy gemeente is so direk dat geen vergadering, amp of volmag tussenin mag kom nie, NGB art 7.

Die bediening van God se Woord is die saak waarom dit gaan in Christus se regering van sy kerk. Deur die Woordverkondiging word die vrede in die gemeente gevestig en uitgebou en word die orde van God bevorder, 1 Korinthiërs 14:26-40. Sowel Kerkordeartikels as sinode-, klassis- en kerkraadsbesluite, of dit ’n direkte opdrag van die Here is en of dit uit die Skrif af te lei is en of dit ’n praktiese afspraak is wat nie direk uit die Skrif afgelei kan word nie, behoort die vrede van Christus, die lewe van die volk van God met Hom in die verbond te dien. Waar die vrede van Christus gestig en uitgebou word, word die eenheid in die geloof gesoek en bewaar.

Vryheid van die Plaaslike Kerk en die Agenda van die Sinode🔗

Waarin bestaan die vryheid van die plaaslike kerk?

Die vryheid van die plaaslike kerk is in die verbondenheid aan Christus. Daar is een kerk oor die hele wêreld en deur al die eeue. Elke plaaslike kerk is uiting van die een kerk van Christus.

Tog is hulle nie ’n ondergeskikte onderdeel van ’n groter geheel nie. Elke plaaslike kerk is ’n volledige kerk, vry van oorheersing deur ander, maar tog deur die Here geroep om saam met ander plaaslike kerke die Here te dien. Saam met ander plaaslike kerke dien hulle, by wyse van afsprake wat in die Kerkorde vasgestel is, mekaar. Hierdie diens is nie heerskappy oor mekaar nie, maar om mekaar te ondersteun om kerke van die Here te wees. Hulle vind mekaar in eenstemmigheid oor dieselfde geloof in Jesus Christus, die gemeenskap met Christus, die deel hê aan Christus. Die verbondenheid deur die een geloof in Christus, motiveer die samewerking wat gesoek en in stand gehou word, maar bewaar terselfdertyd die vryheid van elke plaaslike kerk. Almal is broers en daar is maar een Meester, een Hoof, naamlik Jesus Christus. Geen kerk mag oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op watter manier ook al, heers nie, KO 83.

Die vryheid en samewerking van die kerke word op ’n goeie wyse in die Kerkorde gereël. Maar dit moet altyddeur ook gesoek word. Dit moet beskerm word.

Die Kerkorde wat ’n vrywillige afspraak is, reël die vrylike bediening van die Woord deur die ampte, die vergaderings van ampsdraers, die erediens en die tug – kortom, alles wat nodig is sodat die Evangelie bevestig en bevorder word en die lidmate in die liefde en kennis van die Here opgebou word en kan groei in die eenheid.

Volgens die Kerkorde kom die kerke egter ook met mekaar ooreen dat die kerke deur afgevaardigdes met mekaar sal saamkom om mekaar in die voortgang van die Woordbediening en die bevordering van die eenheid in die geloof by te staan en te onder-steun. Deur hierdie meerdere vergaderings van klassis en sinode word daar nie in die plaaslike gemeente ingemeng nie, of die vryheid wat daar in Christus is, ingeperk nie, maar die vryheid in Christus word juis veilig gestel en bewaar. Daar word spesifiek gekyk daarna dat die suiwer Woordbediening van die genade voortgaan en nie enige valse leer nie.

Die agenda van die sinode word duidelik deur die Kerkorde gereël. Dit behels sake wat die plaaslike kerke of die klassisse nie self kan hanteer nie en waarvoor die kerke gesamentlik verantwoordelikheid wil en behoort te dra.

Die werkwyse van die sinode word in Sinodereëls afgespreek. Dit is nie maar ’n klomp vergaderreëls nie, maar wil duidelik die geestelike aard van die sinode om die eenheid in Christus te dien, beskryf. Dit hou die vergadering by sy verantwoordelikheid en soek die vryheid wat elke kerk in Christus het.

Bindende Sake waaroor die Sinode besluit🔗

Die sinode neem in behandeling sake wat die plaaslike kerke na die klassis verwys het en die klassis na die sinode verwys het, sake wat nie plaaslik afgehandel kon word nie. Die Kerkorde reël ook dat sake van die voortgang van die evangelie wat die verband van kerke raak, deur die sinode behandel word. Ook sake van appèl waar kerke of lidmate veronreg voel oor besluite van kerkvergaderings. Sake op die sinodetafel sluit in teologiese opleiding, sending, Bybelvertaling, liedere wat in die kerke gesing word, kontak met ander kerke in binne- en buiteland om hulle te toets om ook met hulle die eenheid in Christus na te streef. Hieroor word besluite wat bindend is, deur die sinode geneem.

Voor die aanvang van die sinode neem plaaslike kerke die agenda en verslae van deputate in behandeling om daarop te reageer en na afloop van die sinode word die besluite getoets aan die Skrif, nie om vryblywend keuses te maak nie, maar om dit te aanvaar tensy dit in stryd is met die Skrif. Indien besluite in stryd is met die Skrif, kan die kerke hulle nie daarby neerlê nie, maar moet daar via die klassis versoek word om dit te hersien. Versoek om revisie vind ook plaas, wanneer ’n besluit van die sinode nie die lewe in die kerke ten beste dien nie. Daar rus dus ’n groot verantwoordelikheid op die sinode om goeie, weldeurdagte besluite te neem wat die lewe van die kerke afsonderlik en gesamentlik dien en wat nie op elke sinode verander moet word nie. Aangesien die kerke gewoonlik driejaarliks in sinode vergader, is dit belangrik dat besluite geneem word wat die vryheid van die kerke in Christus dien, sodat hulle nie belas word met outokratiese jukke nie. Die gewetens van die gemeente mag nooit gebind word nie. Nie deur die ampsdraers individueel nie, nie in die vergadering as kerkraad nie en ook nie deur ʼn meerdere vergadering nie, NGB artikels 7, 30, 31, 32.

In die pastorale versorging en die diens van barmhartigheid volgens die voorbeeld van Christus, gee die ampsdraers leiding in die plaaslike kerk. Die sinode kan nooit daarin inmeng nie. Die ampsdraers word deur Christus aan sy gemeente gegee en hulle word geroep uit die gemeente en gestuur om die gemeente te lei. Hulle regeer vanuit en met die Woord van God in die gemeente en nooit vanuit die sinode met sinodebesluite in die gemeente nie. Sinodebesluite behoort altyd ’n ondersteunende rol te vervul vir die lewe en funksionering van die plaaslike kerk. Daar is ook sake wat die gemeente vir haar eie konteks en situasie reël, byvoorbeeld eredienstye en ʼn kerkgebou. Hierin speel die sinode geen rol nie.

Die leer van die evangelie in die lewe van die gemeente behoort deur die gemeente jaloers bewaak te word. Daarvoor is daar bedienaars van die Woord, wat gawes ontvang om die Skrifte te bestudeer en verskillende probleme in die lig van die Skrif te ondersoek, te stel en antwoorde uit die Skrif te voorsien. Die gemeente hoef nie vir elke saak te soek na die uitspraak van ’n hoër instansie asof die sinode dit kan wees nie. Christus se Woord is voldoende om aan die gelowiges norme en riglyne te gee waarmee hulle daagliks in nuwe gehoorsaamheid met die Here lewe.

Vanuit die eenheid in Christus soek kerke mekaar op. Om hulle eenheid in Christus te bevorder en te bewaar, want die eenheid in Christus beteken vryheid met mekaar in Hom. Die eenheid is nie in die struktuur van een vergadering nie, maar bestaan in geloof en praktyk deur met mekaar ooreen te kom en af te spreek. Handelinge 15:24-33 beskryf hoe kerke in ’n krisis waar die voortgang van die Evangelie bedreig was, kerkverband met mekaar belewe het. Die gesag van sinodebesluite lê in die innerlike kwaliteit, die gehoorsaamheid aan Christus. Waar dit so die geval is, is die sinode nie berower van die vryheid van die kerk nie, maar middel waardeur in die kerke die vryheid in Christus bevorder word.