Bron: Kerk en Woord, 1998. 1 bladsye.

Sirkelgang of Ontwikkeling Of...?

tol speelgoed

Waarom het die seuns en meisies van die kosskool op die sendingpos altyd eers na sonsondergang aan ons deur geklop om brandstof vir hulle lampies te kom haal? Die gemors altyd in die donker! Waarom het die mans, wat tog waarlik nie baie te doen het in die winter nie, eers na die eers­te goeie reëns na hulle stukkende ploeë begin kyk. Hulle moes tog sorg dat die saaisaad byderhand is in plaas van om nou vir die sendeling te vra om dit êrens vir hulle te koop?

Dergelike verhale is legio. Baie blankes het ’n antwoord byderhand wat grappig op die oor val en wat kan varieer van “sorgelose kinders” tot “onverantwoorde­like niksnutte”. Die gevolgtrekking hoef jy nie uit te spreek: ons is immers heelwat beter.

Maar ek sou graag elke Westerling wat Afrika besoek, wil toeroep: wantrou by voorbaat elke sogenaamde voor die hand liggende gevolgtrekking. Ek dink te midde van die oënskynlike planloosheid in Afri­ka dat ons as Westerlinge dikwels, sonder om dit te besef, nou al eeue lank – let wel struktureel gesien – Bybels leer dink het. Ons het die Bybelse denke ons eie gemaak wat die tyd uiteensit in ’n verlede, ’n hede en ’n toekoms. Mens lees wel dat hierdie historiese doelgerigte denke van die Grie­ke afkomstig is en wys dan op Thucydides en Herodotus, maar geskiedenis as ’n doel­gerigte gebeure met wette van oorsaak wat êrens op uitloop, en waarin ons nie as slagoffer maar as aktiewe deelnemers be­trokke is, is Bybels. As Bybelse erfenis sluit ons in die Weste almal die toekoms in ons lewensbeskouing in. ’n Ateïs, wat geleer het om sy lewe uit te stip aan die hand van aanwysings uit die verlede, dink in Bybelse strukture. Hy kan selfs nie anders nie. Hy leef van onverwagte seëninge. Daarmee het die Heer ons opgehef bo die gevangenskap in die natuur waarin die mens as slagoffer beklem gesit het en waarin hy soos in ’n stadige mallemeule maar saam moes draai. Wie daarin vasgevang is en probeer om bo die kringloop op te hef, gaan teen god met ’n klein letter­tjie in. Natuur is god. Toe ek baie jare ge­lede vir die eerste keer hieroor H Berkhof se “Christus de Zin der Geschiedenis” begin lees het, het ek dit as ’n begin van die verstaan van Afrika ondervind.

In Afrika is die mens ’n slagoffer en draai in die langsame mallemeule rond. Op die beste kan jy god ietwat manipuleer om jou gevangenskap draagliker te maak. Maar jy bly daarin. Vandaar dat daar min aktiewe toekomsgerigtheid in Afrika is. Die bekende John S Mbiti het uitvoerig daaroor geskryf. Ook Afrika-tale lê getui­enis af van hierdie toekomslose en hulpe­lose slagoffer-wees: “Die siekte het my” en nie “ek het die siekte” nie. Wie ’n bietjie langer in Afrika is, sien dié mankgaan aan beplanning oral en raak hewig gefrustreerd tensy hy bereid is om ietwat verder te kyk as wat sy Westerse neus lank is. En is dank­baar dat hy onder invloed van die Bybel al eeue gelede geleer het om anders te kan dink. Daarmee word nie gesê dat die Weste vandag ’n alternatief het as oplos­sing vir Afrika nie. Europa het uit die ge­vangenisskap deurgeskiet na die arrogan­sie van die mens wat homself onafhanklik maak van God in ongekende verwêreld­liking. Jy vra jouself af of die risiko’s van die ou Afrika met sy mallemeules tog nie beter was as die malheid van bewuste uitskakeling van God en die verlies van eerbied vir die natuur met sy sikliese geheime nie. Ons vooruitgang het terselfdertyd ’n bedreiging geword.

Maar Afrika kan nie kies nie omdat die gulsige Weste besig is om Afrika ideolo­gies te verslind, veelal op versoek van die slagoffer self. Die evangeliese res van Europa sou nog kon help, sover dit binne die Afrikaanse nasionalisme toegestaan word, maar gaan nou liewer – gefrustreerd – na elders in die wêreld.