Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Skrifbeskouing in die Gereformeerde Kerke

Daar moet onderskei word tussen "die Gereformeerde Skrifbeskouing" en "die Skrifbeskouing in die gereformeerde Kerke". Oor laasgenoemde is daar 'n wye spektrum van beskouings. Tog is daar so iets soos 'n eg Gereformeerde Skrifbeskouing.

Wye spektrum van Skrifbeskouings🔗

L. Caplan beskryf die spektrum op sy wydste as twee teenpole naamlik die fundamentalisme en die modernisme. Hierdie indeling is egter onvoldoende, omdat dit te vaag en veralgemenend is en omdat dit slegs uiterste pole beskryf. Die moontlikheid van tussen variasies moet ondersoek word.

Vier hoofkategorie🔗

Die twee uiterste sienings is die (Amerikaanse) fundamentalisme en die Radikale skrifkritiek. Oorvleuelend tussenin kan die Gereformeerde fundamentele beskouing en die relativisme geplaas word. Skematies kan dit soos hieronder voorgestel word.

DIAGRAM

Verwarring🔗

Die huidige tipering van die fundamentalisme is te vaag en dit kan feitlik alle Protestantse beskouings insluit. As gevolg van hierdie vae tipering word fundamentalisme dikwels verwar met die Gereformeerde fundamentele Skrifbeskouing. Daar is egter grondliggende verskille tussen die twee ten opsigte van verskeie sake:

  • Skrifbeskouing (fundamentalisme telkens eerste genoem): – meganies teenoor organies,
  • Skrifgesag — foutloosheid teenoor onfeilbaarheid,
  • Historiese karakter van die Skrif – tydloos teenoor tydgerigtheid,
  • Skopus van die Skrif en Skrifuitsprake — eenvlak-openbarings teenoor openbaringshistoriese voortgang,
  • daar is ook soms verskil oor die plek van die Belydenisskrifte.

Ten spyte van hierdie verskille kom Fundamentalistiese beskouings wel in die Gereformeerde Kerke voor.

Gereformeerde Fundamentele Beskouing🔗

Skrifkritiek en Relativisme🔗

Daar is aan die ander kant weer ooreenkomste tussen die Radikale Skrifkritiek en die Relativistiese Skrifbeskouing. Albei skaal die Goddelike gesag van die Skrif af, albei minimaliseer die Heilige Gees as skrywer, albei verwerp die eenheid van die hele Skrif.

Daar is egter ook verskille tussen die twee sienings. Terwyl die Radikale Skrifkritiek die inspirasie van die Skrif in geheel verwerp, relativeer die Relativistiese Skrifbeskouing die Skrifinspirasie (kanon binne die kanon, of stimulus-inspirasie). Radikale Skrifkritiek verwerp die Goddelike gesag van die Skrif en relativisme relativeer gesag tot 'n funksionele gesag (de facto/de jure-gesag). Die Radikale Skrifkritiek ontken enige Skrifboodskap vir vandag terwyl die relativisme die Skrifboodskap as relatief sien tot die mens se ervaring daarvan (vgl. Bultmann-Barth-Kuitert se relasionele waarheidsbeskouing).           

Variasies binne die Relativistiese Skrifbeskouing kom ook voor, soos onder andere kulturele relativisme (soos by Wells en Nineham wat Skrifuitsprake as tydgebonde beskou), en funksionele relativisme (soos by Barr wat gesag sien as 'n "insoverre as-" siening).

Verskillende gedaantes van die Relativistiese Skrifbeskouing kom in die Gereformeerde Kerke voor.

Gereformeerde Skrifbeskouing🔗

Die belydenisskrifte dien as maatstaf vir die eg Gereformeerde beskouing (ten opsigte van Skrifbeskouing, NGB art. l-7).

Inspirasie🔗

Artikel 3 bely die geïnspireerde Woord van God. Teenoor die fundamentalisme word die volgende bely: Die Bybel is 'n boek van 100% Goddelike oorsprong ("want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie," 2 Petrus 1:21) met die Heilige Gees as die eintlike skrywer ("deur die Heilige Gees gedrywe," 2 Petrus 1:21). Tog is die Bybel ook 'n 100% menslike boek, geskrywe deur mense van verskillende tye, agtergrond en geleerdheid ("God het … sy knegte, die profete en die apostels beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel"). Hierdie beskouing is bekend as dié van organiese inspirasie.

Eenheid🔗

Die eenheid van die Skrif word as eenheid in verskeidenheid bely. Die NGB verwys na die Bybelboeke as "Heilige Skrif" (art. 4 en 7) en as "Goddelike Skrifte". Juis omdat daar te midde van vele menslike skrywers EEN eintlike Skrywer is (art. 3), word die boeke van die Bybel as 'n eenheid beskou. So word bely in art. 4: "Ons vat die Heilige Skrif (enkelvoud) saam in twee boeke, die van die Ou en die Nuwe Testament" en daarna word al die individuele boeke met hulle onderskeie skrywers genoem, dit wil se die verskeidenheid. Verskeidenheid word dus bely teenoor die Fundamentalisme en eenheid teenoor die Radikale Skrifkritiek en die Relativisme.

Gesag🔗

Die Skrif het onweerspreekbare gesag ("…waar niks teen gesê kan word nie" art. 4), wat nie deur mense daaraan verleen word nie ("nie omdat die Kerk hulle aanneem en as sodanig beskou nie…" art. 5) maar wat van buite die mens met gesag spreek ("omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle van God is, en omdat hulle ook die bewys daarvan in hulleself het" art. 5). God se doel met die Skrifgesag, gestel teenoor die Fundamentalisme en relativisme, is

  1. om Hom te ken ("Hy maak Homself bekend" art. 2) en te verheerlik ("tot sy eer" art. 2)
  2. om die weg van saligheid te leer ken ("en die saligheid" art. 2) en
  3. om Hom reg te kan dien ("Ons glo dat die Heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat … die wyse waarop God deur ons gedien moet word" art. 7)

Duidelikheid🔗

God openbaar Hom duidelik in die Skrif ("…God maak Homself aan ons nog duideliker en meer volkome bekend deur sy Heilige en Goddelike Woord" art. 2 en ook "…aangesien die blindes self kan tas dat die dinge plaasvind wat daarin voorspel is" art. 5). Dit beteken egter nie dat alle Skrifuitsprake ewe duidelik is nie. Maar juis vanweë die eenheid van die Skrif lees ons (by wyse van Skrif-met-Skrif-vergelyking) die minder duidelike in die lig van die duidelike – daar word altyd die aksiomatiese as vertrekpunt geneem en nie die problematiese nie.

Skrifbeskouing in die Gereformeerde Kerke🔗

Word die Gereformeerde Skrifbeskouing soos in ons Belydenis verwoord, konsekwent in die Gereformeerde Kerke gehandhaaf? Daar is gebrekkige gedokumenteerde materiaal oor die saak. Die gevaar van veralgemening moet ook vermy word. Soms kom daar nie soseer 'n afwykende Skrifbeskouing nie, maar 'n afwykende hantering daarvan.

Fundamentalisme🔗

Fundamentalisme kom van tyd voor in die manier waarop die Skrif hanteer word. Dit is dikwels sigbaar in die manier van Skrifberoep asof die Skrif tydloos en konteksloos is. 'n Paar voorbeelde ter verduideliking:

  • Die Deputate Volkereverhoudings verklaar gebiedskeiding van volkere gewens op grond van Handelinge 17:26, wat sê dat God vir "al die nasies … die grense van hulle woonplek vasgestel het" (Acta, 1985:443).
  • Die Deputate van Sinode Soutpansberg se pleidooi vir gesamentlike eredienste met tolke vir anderstaliges met 'n Skrifberoep op 1 Korintiërs 14:27 "En as iemand in 'n taal spreek … laat en dit uitlê" (Acta, 1991:650).
  • Ook die hedendaagse herhaalde wekroep na liefde en vrede en versoening in die samelewing, met 'n beroep op die Skrif, het die tipiese trekke van die fundamentalisme – met hierdie begrippe word hulle bedoeling in die Bybel gebruik, ja, misbruik.

Soms is Fundamentalisme sigbaar in 'n valse teenstelling tussen Skrif en belydenisskrifte. Daar is egter min gepubliseer. Dit is egter verstommend om te sien dat daar Gereformeerde lidmate is wat wel bereid is om soos volg hulle hand op papier te waag (per brief, gedateer 20 Jan 1995): "Waar staan in die Bybel geskryf dat die Gereformeerde Kerke belydenisskrifte moet hê… Daar staan nêrens in die Bybel dat daar uit die Kategismus gepreek moet word nie. M.i. kan al die belydenisskrifte … verwerp word."

Die vraag oor of verwysing na Christus in die Ou Testament (bv. Kneg, Seun, Koning) met 'n kleinletter vertaal word, is ook hier belangrik. Die aandrang dat ons die Kneg-tekste in die Ou Testament moet lees sonder inagneming van die lig van die Nuwe Testament, loop ook op die spore van die Fundamentalisme.

Relativisme🔗

Die funksionele gesagsbeskouing kom by G. Snyman voor (In die Skriflig, 1992:258). Hy beskuldig die gereformeerde teologie van "naïewe realisme" omdat dit daarvan uitgaan dat die Bybel 'n objektiewe (buite-die-mens-om) openbaring van God bevat. Hy skryf: "Dit wil eerder voorkom of die subjektiewe inderdaad 'n groter en selfs primêre rol speel in die leesproses (van die Bybel)".

Die relasionele waarheidsbeskouing kom by J. Botha voor. Botha (Semeion, 1988:13,15, Pretoria: N.G. Kerkboekhandel) skryf oor die interpretasieproblematiek van die Nuwe Testament: "Waarheid is nie alleen buite die menslike subjek te vinde nie, maar ook nie alleen binne die mens nie" … "Persoonlik bevredig die wetenskapsmodel van die historiese skool en die relasionele waarheidsmodel my meer as die ander alternatiewe".

Oor die skopus en duidelikheid van die Skrifopenbaring dien die Beswaarskrif van Klassis Boland (Agenda, 1994:227-228) as voorbeeld. Die sentrum of skopus van die Skrif word gedefinieer as "God se verlossingswerk in Jesus Christus". By Luther lê die klem van die Skrif meer op die saligheid en by Calvyn op die eer van God. Die Bybel as openbaring van die wyse waarop ons God moet dien, word dus gerelativeer, soos blyk uit die volgende: "Die Skrif is dus inderdaad reël vir die Christelike geloof en lewe, maar dit is nie op dieselfde wyse vir sowel geloof as lewe nie" (1994:229-230).

Die duidelikheid van die Skrif word dus in die Beswaarskrif beperk: "Oor sommige sake is die Skrif duidelik (bv. die verlossing in Christus), en oor sommige sake is dit onduidelik (bv. of Christene die Sabbat moet hou)" en "die Skrif alleen (het) spesifiek betrekking op wat nodig is vir saligheid" en "die Skrif alleen (is) genoegsaam vir kennis tot die weg tot saligheid" (1994:229,232). Opvallend word in hierdie Beswaarskrif die problematiese en onduidelike telkens as vertrekpunt geneem: "Dit is 'n legitieme vraag of hierdie uitsprake… hoegenaamd vir alle tye (geld)" en "ten opsigte van hierdie twee Skrifdele (1 Korintiërs 11 en 1 Korintiërs 14) kan die volgende onduidelikhede aangetoon word…" (Acta, 1994:235).

Slot🔗

Daar is dus wel in die geledere van die Gereformeerdes aanduidings van wyd uiteenlopende standpunte oor die Skrif en Skrifgesag – vanaf die fundamentalisme tot die relativisme. Om te probeer om al hierdie standpunte onder een kombers van die belydenisskrifte toe te maak, is onbevredigend – trouens, onmoontlik. Daarvoor is die Gereformeerde belydenisskrifte aangaande Skrifgesag eenvoudig te duidelik. Ons Gereformeerde belydenis vra op hierdie punt nie toleransie of akkommodasie nie, maar reformasie.