Bron: Kerk en Woord. 8 bladsye.

Skrifbeskouingskrisis

Skrifkritiek verteenwoordig die diepste wortel van die krisis van die kerke in ons land, maar ook wêreldwyd. Aan die een kant benader ’n mens dit met groot huiwering en benoudheid, omdat ons weet dat ons hier te doen het met waarskynlik die mees venynige, die mees meedoënlose, die allerwreedste, die mees subtiele, en tegelyk die gevaarlikste wapen van die Antichris nog deur al die eeue heen. Daarom juis die huiwering, omdat ons besef dat dit nie moontlik is om die probleem binne die ruimte van die volgende paar pennestrepe finaal vas te vang nie. Dit is dus met reserwes dat ons soek na die mees geskikte woorde wat vir die minste misverstand vatbaar sal wees, en tegelyk die dieptemotief van die dwaling op sy helderste sal blootlê. Aan die ander kant is die aanwysing hiervan die roeping wat van ons dapperheid en gehoorsaamheid vra.

In ’n sekere sin het die apostel Paulus onder inspirasie van die Gees die aantasting van God se Woord raakgesien as die mees kerkvernietigende aanslag van die Antichris. Dit dien as die finale offensief teen die kerk en as hoogtepunt van die afval voordat die persoon van die Antichris self geopenbaar sal word en die Here Jesus as Regter sal verskyn om lewende en dode te oordeel. Ons praat van die gees van die dwaling, die gees van die leuen wat die kerkvolk verlei.

Paulus versus die Skrifkritiek🔗

Wanneer Paulus hieroor in sy tweede brief aan die Thessalonicense (hoofstuk 2) skrywe, lees ons nog daarby dat die Here self aan hierdie gees van leuenagtigheid krag sal gee om te opereer, alles om die afval te versnel en sy koms en oordeel te finaliseer.

As ons met die volle Bybelse openbaring in ons hande werk, tref dit hoedat in die ontvouing van die heilsgeskiedenis twee nie-gelyke koninkryke hulle gang en verbreiding deur die eeue uitwerk. Die almagskoninkryk van God wat onoorwinlik is, maar ook die rebellekoninkryk van die Satan wat tot niet gemaak sal word. Die moederbelofte van Genésis 3:15, met sy vyandskap tussen die vrou en die slang, loop sy ontwikkelingsgang deur die geskiedenis van die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die finale ontknoping word bereik wanneer die Here Jesus op die jongste dag sy verskyning maak en Hy die seun van die verderf met die asem van sy mond sal verdelg. Maar om tot daar te kom, weet ons dat die gees van die leuen sy worstelgang moet hê, en moet kom tot volle ontwikkeling naas die ware kerk – die kerk wat uit alle volke saamgeroep word in die eenheid van die ware geloof, met die suiwer woordverkondiging, versterk word deur die suiwer bediening van die sakramente en onderhou word deur die suiwer bediening van die Christelike dissipline. En hiernaas, maar jammerlik ook tussenin, sal die hipokriete en kerkvervalsers hulle bloedspoor trap om die kosbare kerk van die Here Jesus af te breek, te besmet, te vervals en te deformeer. In 2 Thessalonicense 2 leer ons dat die Antichris dit deur die gees van die leuen sal doen deur mense daartoe te dryf om die waarheid van God se Woord nie te glo nie (vers 12).

Skrifkritiek – oersonde🔗

Dit is enigsins belangrik om te sien dat die Satan nog nooit met iets nuuts vorendag kon kom nie - iets anders as waarmee hy reeds sy kerkverwoestende werk in die tuin van Eden begin het. Hy het naamlik die Woord van God as belaglik voorgestel, die motiewe van God verdag gemaak, en daarmee die grootste krisis van alle krisisse ontketen. Hy het op sy verdagte wyse vir die mens ’n regverdiging in die kop gepraat om te doen wat hulleself kwansuis goddelik sou kon maak. So het hy die naam gekry waarmee die Here Jesus hom benoem het: Die vader van die leuen en die mensemoordenaar van die begin af. Hierdie eerste bevrugting met die saad van die sonde is die grondoorsaak en eerste voorbeeld van die krisis van die Skrifbeskouing, en dien as bepalende faktor vir die verval van die kerk. Die krisis van die Skrifbeskouing verteenwoordig die bepalende faktor om die vraag van Jesus te beantwoord: Sal die Seun van die mens, as Hy kom, wel geloof op die aarde vind (Lukas 18:8)? Nog anders gesê: Die krisis van die Skrifbeskouing is die bepalende faktor of ons waarlik kan bid, waarlik kan glo, en waarlik God kan behaag (Hebreërs 11:6).

Ons weet dat ons nie nou vir die eerste keer met hierdie krisis te doen het nie. Ons Reformatoriese vaders, wat veral onder die aanslag van die Roomse kerk aan die een kant en die Doperse beweging aan die ander kant gebuk gegaan het, het met verbysterende insig en wysheid die wortel van die kwaad in die Skrifbeskouing herken. Daarom het ons so ’n merkwaardig duidelike belydenis oor die plek, die omvang, die helderheid, die genoegsaamheid en die gesag van die Skrif. Ons weet ook dat die reformatore self nie vir die eerste keer hieroor na gedink het nie. In die eerste eeue van die Nuwe Testamentiese kerk het ons reeds met ketters soos Marcion en Arius, Montanis en Pelagius te doen gehad - ook met die Gnostieke dwalings wat veral in die Koptiese kerke naas die Bybel allerlei valse geskrifte (Nag Hammadi) as aanvulling en kontrole vir die Bybel gebruik het. Ons reformatoriese vaders kon dus vrymoedig uit die harde stryd in die eerste eeue van die Nuwe Testamentiese Kerke leer en van die resultate daarvan gebruik maak. Hulle het bykans verbatum oorgeneem wat in die jare 393 en 397 by die konsilies van Hippo-Regius en Karthago oor die Bybel besluit is. So is dit vandag grootliks verwoord in die NGB artikels 2 tot 7.

Die krisis van die Skrifbeskouing openbaar homself altyd in een en dieselfde grondmotief, en kom hoofsaaklik op twee maniere na vore.

Laat ons eers oor die grondmotief praat. Verstommend is dit dat die Nederlandse Geloofsbelydenis op verskillende plekke hierdie grondmotief vir ons uitspel.

Artikel 29: Die kenmerke van die ware en die valse kerk🔗

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Artikel 30: Die regering van die kerk🔗

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timótheüs daarvoor gee (1Timótheüs 3).

Artikel 32: Die orde en die tug van die kerk🔗

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder, en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

Dit kan in enkele punte opgesom word.
Die grondmotief betreffende ’n verdraaide Skrifbeskouing om die kerk te vernietig kom na vore:🔗

  • Waar mense aan hulleself en hulle besluite meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van die Here.
  • Waar mense hulle nie aan die juk wat Christus ons opgelê het, wil onderwerp nie.
  • Wanneer hulle die sakramente nie bedien soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar na eie goeddunke daarvan wegneem en daaraan toevoeg.
  • Wanneer hulle meer op mense (leiers/konsilies/tradisies) vertrou as op Christus.
  • Wanneer hulle diegene wat heilig volgens God se Woord wil lewe en daarom die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf, vervolg.
  • Wanneer hulle die geestelike bestuurswyse van die kerk wat ons Here ons in sy Woord geleer het, vervang met ander bestuurswyses.
  • Wanneer hulle in hulle doen en late afwyk van wat Christus ons enigste Leermeester vir ons ingestel het.
  • Wanneer hulle menslike uitdinksels en wette van mense wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing.

Hierdie is die herkenningstekens van die motiewe wat verborge lê agter die Skrifkritiek. In plaas van met gehoorsaamheid na die Skrif te gaan en oop-ontvanklik te vra: Wat wil U hê, Here, moet ek doen - word dit omgedraai: Ek wil graag iets doen, ek het my agenda, en hoe kan ek die Woord manipuleer om by my eie wil aan te pas en dit te regverdig?

Dit is insiggewend dat altyd weer hierdie selfde grondmotief op verskillende maniere in afwykende standpunte na vore kom. Dit is uit die Skrif self aan ons gegee, en deur die kerkgeskiedenis by al die ontwikkelings van dwaalleringe uitgewys as ’n onfeilbare kenteken van die skrifkritiek: Die vertrekpunt van argumentasie is (pro of kontra) ons menslike kontekste. Dan vind die denkers dit moeilik om hulle waarneming van die menslike kontekste te rym met die Woord van God. Uiteindelik ontwikkel hulle uit die Skrif een of ander humanitêre teologiese denksisteem wat (hetsy om te handhaaf, hetsy om te verander) niks anders is as ’n refleksie van hulle eie aspirasies nie.

Ons herken dit in die bevrydingsteologieë, in die feministiese teologie, in die sosiaal-vernuwings-teologie, in die fundamentalistiese teologie, in die volksteologie; ook in die radikalisering van al die skeeftrekkings soos deur die eeue verteenwoordig in ketterye, oa die Montanisme, Arianisme, Marcionisme, Pelagianisme, Donatisme, Armenianisme, Deïsme, Metodisme. Selfs in die moderne strewes van globalisme een anti-globalisme.

Twee werkwyses🔗

Hierdie grondmotief kom na vore in hoofsaaklik twee werkswyses🔗

Mense publiseer en verklaar openlik dat hulle die Bybel as ’n bundel fragmente, geskryf deur mense beskou. Die inspirasie of ook die openbaring is ’n uitgediende ideologie van vroeër wat afgewys word. Die Bybel is dus nie die Woord van God nie, maar mense se nadenke en opgetekende oorgelewerde godsdienstige belewenisse van mense. Vir hulle is die Bybel maar een van baie ander bronne wat betwyfelbaar en korrigeerbaar deur ander bronne is. Dit beskryf die godsdiensverskynsel onder die mense van die antieke tyd, en is as sulks geensins normatief vir die godsdiensverskynsel vir vandag nie. Dit kom daarby dat die godsbegrip gesien word as ’n blote menslike refleksie. Jou god is die een wat jy in jou denke vir jouself ontwerp het. Vir hulle bestaan daar nie so iets soos die Wonderbare Wese wat ons in artikel 1 NGB erken en bely nie. Daarom is die Bybel ook geen gesagvolle en normatiewe bron vir ons godsdiens nie. Die krisis is dat mense wat so dink en redeneer hulleself gerieflik binne die gereformeerde kerklike huishouding tuismaak, maar intussen alles wat gereformeerd is bevuil. Die Judas-brief beskryf hierdie mense uitmuntend. Veilig geknus binne die ekonomiese en sosiale voordele van die gereformeerde huishouding, vergiftig hulle dieselfde huishouding, sonder dat hulle eerlik te kenne gee dat hulle wesentlik goddeloos is. Waar dit enigsins nog geduld word dat hierdie mense steeds leiding aan die kerkvolk gee, geld die uitspraak van die Here Jesus oor die Fariseërs: hulle is blindes wat blindes lei totdat almal in die afgrond val. Hierdie enorme graad van afval mag eenvoudig nie verder in die kerk van die Here Jesus geduld word nie.

Hierdie is beslis die gevaarliker kant van die skrifkritiek. Onder dié groepering sien ons mense wat steeds die Skrif as Woord van God beskou, wat steeds die Bybel as belangrike gesagsbron van ons godsdiens aanvaar, wat die drie-enige God as die ware God bely. En tog word hulle deur een of ander saak wat hulle deur hulle ontleding van menslike kontekste verkry het, aangedryf. Daarby gebruik hulle alle denkbare argumente (vanuit die Skrif - teen die Skrif) om hulle aspirasies bewys te kry dat hulle passievolle saak wel deur die Bybel geregverdig word. Dit is so subtiel soos die duiwel dit eens vir Jesus gesê het: As u die Seun van God is, spring van die tempeldak af, want daar staan geskryf: Hy sal sy engele aangaande u bevel gee, en hulle sal u op die hande dra sodat u nie u voet teen ’n klip sal stamp nie. Satan het ’n saak vanuit die Skrif probeer uitmaak om iets te bewerk wat juis in stryd met die Skrif is.

Bekende temas wat tekens van subtiele Skrifkritiek toon, is:🔗

  • die vertaling van die Bybel,
  • die gebruike van die sakramente,
  • die manier van kerkregering,
  • die plek van die vrou en die kind in die kerk en die samelewing,
  • die plek van homoseksuele in die kerk en die samelewing,
  • die huwelik en die gesin met die uitlewing van seksualiteit,
  • ’n verskeidenheid van mediese aangeleenthede soos eutanasie, kunsmatige bevrugting en aborsie,
  • gesagsverhoudinge, opleiding en onderwys,
  • die vraagstuk van die evolusionisme, God se beheer oor die skepping,
  • allerlei politieke teologieë,
  • allerlei kontekstuele teologieë (soos in ’n algemene genade of andersins ’n volksheil strewe na vore kom),
  • die fundamentalistiese teologie wat die letter van die teks uit sy Bybelse historiese konteks neem en as orakelboek vir vandag misbruik.

Argumente wat dikwels gebruik word om afwykende standpunte (in stryd met die gesonde leer van 1 Timótheüs 6) te regverdig, is onder andere:

  • Dat ’n sekere Bybelse uitspraak ad hoc bedoel is - net vir die Efésiërs onder hulle spesifieke omstandighede, terwyl die openbaring van die hele Skrif hierby saam nie verreken word nie.
  • Dat ons vir die verklaring van ’n saak alle relevante gegewens uitsluitlik vanuit ’n interpretasiesentrum (soos ’n locus classicus, of die liefdesbeginsel) van besondere eie keuse moet beoordeel terwyl die hele openbaring soos ’n legkaart voor ons lê met elke onderdeel se besondere plek in die geheel.
  • Dat met argumente van tydgebondenheid/kultuurgebondenheid teen die uitspraak van die Skrif geargumenteer word.
  • Dat argumente/beskuldigings teen die bekwaamheid van sekere bybelskrywers ingebring word. (Eségiël was ’n skisofreen, Paulus was ’n chauvinis, Jesus was ’n homoseksueel).
  • Die argumente teen antieke sosiale strukture (patriargale huishoudings, slawerny, bloedvergieting en oorlogvoering, klassestelsels), maak Bybelse uitsprake ongeldig vir vandag.
  • Dat argumente van teenstrydige skrifgedeeltes misbruik word om die geldigheid daarvan te bevraagteken.
  • Dat argumente gebruik word wat die Skrif in verbandlose stukke wil verskeur.
  • Dat met die argument van die menslike feilbaarheid geargumenteer word om die gesag van dinge wat met goeie logiese gevolge uit die Skrif afgelei en verkondig is te ontkrag, maar tog dan weer ook menslike uitdinksels te regverdig op grond van die afwesigheid van uitsprake in die Bybel daaroor.
  • Dat van buite-Bybelse bronne gebruik gemaak word om binne-Bybelse gegewens te verklaar/kritiseer/veto.
  • Dat die Bybelse uitsprake as blote riglyne en beginsels beskou word wat ons maar met eie verantwoordelikheid moet gaan toepas.
  • Dat die kontekstuele (sosio-kulturele-maatskaplike-politieke) ontstaan van die Skrif rede gee waarom ons in nuwe kontekste opnuut toepassings te maak.
  • Dat die historiese realiteit van die ware God se ware interaksie met werklike mense, opgeteken in historiese literatuur, afgekam word met argumente dat daardie beskrywings eintlik oermites is, eposse, simboletaal wat op die wêreldbeeld van destyds gegrond is. Dit is nie belangrik dat God werklik met die mense gehandel het soos dit daar staan nie, maar dat ons ons slegs tot die “boodskap” van ’n betrokke beskrywing moet beperk.

Materialistiese of ook kontekstuele argumente (gierigheid) word uit die letter van ’n teks misbruik sonder om die heils-historiese doel van God se openbaring te verreken. Byvoorbeeld: dat God dit sou hê oor ’n algemene menslike heil (filantropie), of aan die ander kant oor die heil van slegs spesifieke tipe mense (volk, bloed, bodem).

Ons kan saamvat. Enige argumente wat die Skrif teen die Skrif gebruik en impliseer dat God nie gesê het (of bedoel het) wat Hy laat opteken het nie. Dat God of sy Woord, blatant of subtiel, nie ernstig geneem word nie. Dat die mens God se integriteit bevraagteken. Sonde teen die tweede gebod.

Hierteenoor is daar die pertinente bedoeling by die ware kerk wat die slagspreuk van Sola Sacra Scriptura handhaaf, om te aanvaar dat die een Heilige Gees deur gebruikmaking van verskeidenheid natuurlike en bonatuurlike prosesse, verskillende mense uit verskillende agtergronde gedryf en geïnspireer het, om sy openbaring in verskillende verkondigingswyses op skrif vas te lê en vir ons en die gelowiges van alle eeue te bewaar, dat ons geloof daarvolgens gerig en geskik en ons geloofsgehoorsaamheid daarvolgens vasgestel sal word.

Oorsaak en gevolg🔗

Wat is nou die krisis wat hierdie skrifbeskouïng veroorsaak? Die krisis is dat hierdie (ver)leiding die kerk vergiftig en vervals. Dit benewel die kerkvolk se nugtere oordeelsvermoë om waar en vals te onderskei. Die krisis is dat waar met blatante miskenning van die Woord van God, ook die God van sy Woord misken word. Leiding binne die diens van die drie-enige God word geakkomodeer, dinge word geleer en verkondig waarvan ons reeds bely dat diesulkes ewig verlore sal gaan (Atanasius). Die waarheid is egter dat die begrip wat ons van God vorm, nie ’n saak is van ons eie soekende menslike uitspinsel oor een of ander vreemde buiteruimtelike veraf Wese, waarvan ons ’n klein glimpsie kry deur die loergaatjie van die Bybel saam met baie ander nie; nee, maar dit is ’n verbondsmatige bekendmaking van Hom wat sê: Ek is die HERE jou God!

Dan is daar verder die dwaalleer van die subtiele skrifkritiek. Dit verwar mense se denke en dryf hulle tot ongeloof. Dit is lankal nie meer gewoon net ’n saak van verskillende geldige eksegetiese konklusies nie (soos wat dit dikwels beweer word nie), maar dit word ’n saak tussen geloof en ongeloof. Lidmate is verward om te bepaal wat hoort nog in waarheid en liefde saam, en van watter soort liefdes ons om die waarheid se onthalwe eerder afskeid moet neem. Die krisis is dat hierdie sake al op verskillende maniere tevore aangewys is. Maar met meedoënlose hardkoppigheid en nederige hoogmoed rol die sneeubal van eiesinnigheid voort, en is besig om te versnel. Dit is helaas nie meer menslik moontlik om dit in sy gang te keer of elders heen te bestuur nie. Hierdie mense is - soos die berymde Psalm 1 dit verwoord: “onkeerbaar in hulle spoed, loop hul oplaas ’n afgrond tegemoet”.

Dit is noodsaaklik dat ons die weg moet vind om saam met ons medebroeders en -susters in die huishouding van God weer terug te keer na ons Bron toe, soos ons dit bely in die NGB artikel 1 tot 7, met die gewetensvraag daarby of ons gehoorsaam is om dit ook met dapperheid te bevestig wat van ons gevra word: Ware kerklike en persoonlike reformasie!