2 bladsye.

Skriflesing(e) in die Erediens

Die gebruik om die Skrif reëlmatig in die erediens voor te lees, het die eerste Christene oorgeneem van die sinagogediens. Aanvanklik is die Ou Testament gelees. Hierby is die Nuwe Testament geneem soos dit opskrif gestel is. Na die vierde eeu het dit gewoonte geword om twee lesings uit die Nuwe Testament op 'n Sondag in die erediens te lees, te wete een uit die evangelies en een uit die briewe, asook een lesing uit die Ou Testament. Die keuse van die lesinge is deur verskillende kriteria bepaal. Daar bestaan geen gesaghebbende leksionaria (of leesrooster) voor die middel van die vyfde eeu nie. Toe het Venerius so 'n lys met lesinge vir 'n hele jaar opgestel. In die Oosterse Kerk het die gebruik gebly om die Skrif agtereenvolgens te lees — lectio continua. In die Westerse (Roomse) Kerk het daar 'n ander gebruik opgekom, naamlik 'n lys van gedeeltes, perikope, wat gewissel het volgens die kerklike jaar, wat in die erediens gelees is. Sowel die lectio continua as die perikope was bekend uit die sinagogediens.

Waar daar aanvanklik drie lesinge in die erediens was, is dit later beperk tot twee — een uit die briewe en een uit die evangelie. Tussen die lesinge is gesing.

Behalwe die Roomse Kerk, het ook die Lutherse en Anglikaanse Kerke 'n perikoopsisteem. Die Gereformeerde Kerke was gekant teen die gedagte van 'n perikoopsisteem, en die reformatore in hierdie lyn het voorkeur gegee aan 'n deurlopende wyse om die Skrif te lees. Later is die lees van die Skrif oorgelaat aan die algehele vryheid van die prediker.

  • Die lees van die Skrif in volgorde het groot waarde vir sowel die prediker as die gemeente, maar die reekse moet nie te lank wees nie, anders laat dit die aandag verflou. Daar moet ook afwisseling wees. Lectio continua kan aangepas word deur kort samehangende snitte uit 'n boek of 'n kleiner boek agtereenvolgens te lees. So het dit baie voordele. So leer die gemeente die Bybel in sy verband ken en die prediker kan dieper ingaan op die verband, op die teologie en die boodskap van 'n bepaalde gedeelte. En dit bly fris en lewend.

  • Die lees van die Skrif volgens die kerklike jaar het ewe-eens groot voordele. Dit help die prediker en gemeente om op gepaste wyse die groot heilsfeite uit die Skrif in ordelike verloop te verneem en dit telkens te herhaal vanuit ander gesigspunte. Hier moet wel aan die prediker leiding gegee word om 'n sinvolle en verantwoordelike keuse te maak van die Skrifgedeeltes wat gelees moet word, maar dit moet nie voorgeskrywe word nie. Die vryheid en die ruimte vir die leiding van die Heilige Gees moet gelaat word.

  • Hoewel daar baie besware teen die perikoopsisteem ingebring kan word, kan dit 'n groot hulp wees by die verantwoordelike lees van die Skrif in die erediens. Gewoonlik hang die perikoopsisteem saam met die gang van die kerklike jaar. Die besware teen die perikoopsisteem is veral as dit bindend voorgeskrywe word; verder dat die keuse soms op willekeur berus; ook dat ander dele van die Skrif buite rekening gelaat word terwyl sommiges oor en oor gelees word. Die Lutherse Kerke het hierdie beswaar so probeer oorkom deur die perikoopsisteem oor ses jaar te laat loop, sodat 'n gedeelte eers na ses jaar weer aan die orde is.

    Waar die perikoopsisteem nie as dwang gebruik word nie en waar dit afgewissel word en aangevul word met lectio continua en die kerklike jaar, kan dit 'n baie goeie doel dien. Daarby kom nog die vrye keuse van die liturg, wat binne hierdie raam minder willekeurig sal wees.

  • Meerdere lesinge is gewens. Natuurlik moet die gedeelte gelees word waaroor die prediking gaan. Daarby moet ook ander dele van die Bybel gelees word. Dit moet dien om die Skrif in sy verband en in sy totaliteit te oorsien en te verstaan. Die prediking moet kom uit die Skrif self, uit 'n konkrete gedeelte, maar teen die agtergrond van die hele bedoeling en boodskap van die Skrif.

  • Die voorlees van die Skrif het self 'n volwaardige betekenis. Die Skriflesing geskied nie slegs met die oog op die prediking nie — dit welsekerlik. Die voorlees van die Skrif op duidelike, hoorbare wyse, het self groot krag. Immers, dit is God se Woord en waar dit weerklink in gelese vorm, daar spreek dit tot die mens. Die voorlees van die Skrif is self reeds 'n stuk verkondiging, veral waar dit omraam word deur gebede en waar spesifiek gevra word dat die Gees dit moet laat spreek.

  • Mee lees deur die gemeente. Dit is sterk aan te beveel dat die gemeente in die erediens self hulle Bybels sal lees. Dit is 'n geheuehulp vir die lidmate, want die boodskap wat onthou moet word, word aan die konkrete Skrifgedeelte verbind. Verder beklemtoon dit die noue verband tussen die Skrifgedeelte wat gelees word en die uitleg daarvan in die prediking. Ook is dit belangrik om die dimensie van die visuele te versterk. Die mee lees van die Bybel deur die gemeente is ook gewens omdat dit die Bybelse waarheid van die mondigheid van die lidmate onderstreep. Deur self te lees, kan hulle ook beter oordeel of die prediking inderdaad bediening van die Woord van God is.

  • Die lees van die Skrif en die uitleg daarvan, die prediking, hang onafskeidbaar saam. Die lees van die Skrif en die uitleg daarvan mag nie deur allerlei elemente geskei word nie. By meerdere lesinge kan tussen die lesinge gesing word. As 'n verlenging hiervan kan by sogenaamde sangdienste meerdere lesinge afgewissel word deur sang. Op die laaste gedeelte of op die gedeelte waarop die prediking berus, moet egter die prediking direk volg.