6 bladsye.

Skrikwekkende Onthullings op die Laaste Dag?

hamer regter

Dit is opvallend dat die Apostoliese Geloofsbelydenis doelbewus die woord "oordeel" kies om die doel van Christus se wederkoms aan te dui. Dit kon ook ander dinge noem, byvoorbeeld die bruilofsmaal van die Lam, die ryk van Christus en die ewige vreugde waaroor daar in die Nagmaalsformulier gepraat word.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rig egter ons aandag op die koms van Christus as Regter om die lewendes en die dooies te oordeel.

Ewe opvallend is dat die Heidelbergse Kategismus hierdie koms van Christus as Regter as besonder troosvol beskou. Vraag 52 lui inderdaad: "Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?"

Die vraag ontstaan: is die koms van Christus ten oordeel wel so troosvol? Paulus skryf immers dat ons almal voor die regterstoel van Christus sal verskyn (2 Korintiërs 5:10) en dat "elkeen se werk ... aan die lig (sal) kom" (1 Korintiërs 3:13). Die jongste dag sal die dag wees van die openbaring van die Here Jesus (2 Tessalonisense 1:7), maar eweneens van óns openbaring.

A.A. van Ruler beskryf in dié verband hoe alles aan die groot klok gehang word. Die hele bondel vuil wasgoed word uitgehang; almal kan dit sien: daar vind verskriklike onthullings en publikasie plaas. Die laaste oordeel lyk soos één groot skandaalblad ... en ons staan almal daar. Ons moet almal erken dat alles waar is, net soos dit uit die boeke voorgelees word. Ons gewetens word uitgedop.1

Is daar nog sprake oor die troos van sy wederkoms as die openbaring van Christus vir ons sulke verskriklike onthullings meebring? Is daar nie dan méér aanleiding tot die vrees wat klink in die Middeleeuse lied oor die dies irae, die dag van toorn nie?

Dag van skrik wat aan sal breek,
as die Regter reg sal spreek
en die kwaad op aarde wreek?2

Daar ontstaan nou nog 'n vraag. Ons bely met die Geloofsbelydenis die vergewing van sondes. Die Heidelbergse Kategismus sê in antwoord 56 dat hierdie vergewing só groot is dat God aan al my sondes nooit meer wil dink nie. Hoe klop die sterk uitspraak van die Heidelberger daarmee dat al ons vuil wasgoed aanstons uitgehang word? Is ons sonde dalk nie regtig weg nie en kom die Here weer op alles, en dit selfs in die openbaar, terug?

Dit is dan met hierdie vrae waarmee ons ons hier sal besighou, want ek dink dat baie van God se kinders hieroor tob.

Vergewing🔗

Die grootste gawe van die nuwe verbond in Christus se bloed is die vergiffenis van die sonde (vgl. Lukas 22:20). Dit is reeds in die Ou Testament geprofeteer (Jeremia 31:34; Miga 7:19).

Ook Israel het vergifnis geken (Psalm 32:1; Psalm 130:4), maar die regsgrond vir die vergifnis moes nog (deur Christus) gelê word. Tot dit gebeur het, het God genoeë geneem met die bloed van diere (Levitikus 17:11). Die bloed het versoening bewerk, dit het "heilig gemaak" (Hebreërs 9:13), maar dit het nie die sonde weggeneem nie (Hebreërs 10:14). Christus het ook gekom tot "verlossing van die oortredinge onder die eerste testament" (Hebreërs 9:15).

Israel het in die vergewing, wat eers deur die offer van Christus betaal sou word, gedeel. 'n Mens sou kon sê dat Israel die vergewing "op krediet" ontvang het.3 Die bloed het "'n skaduwee van die offer van Christus” (Hebreërs 10:1). Dit beeld sy versoenende bloed uit en wys daarna heen.

bloed

Wat die Ou Testamentiese offerdiens nie kon bewerk nie, word deur Christus gebring. Wanneer Hy verskyn, word die profesieë van Israel se profete vervul. Sagaria jubel in sy lofsang oor die heil wat bestaan in die vergifnis van sondes (Lukas 1:77). En Johannes mag met sy doop die volk gereed maak om die vergewing van sondes te ontvang (Markus 1:4). Die Heiland dra die naam Jesus, omdat dit Hy is wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21). Ons hoor dan ook hoe Jesus sondes vergewe (Markus 2:5; Lukas 7:48). Later gee Hy sy apostels die opdrag om met die blye boodskap van vergifnis die wêreld in te gaan (Lukas 24:47). Vir Paulus bestaan die verlossing deur die bloed van Christus kort en klaar in die vergewing van die oortredinge (Efesiërs 1:7).

Dit is dan ook hierdie boodskap wat die hart vorm van wat ons Sondae in die kerk mag hoor. Prediking is onderwysing, waarskuwing en vertroosting, maar dit lê alles rondom die kern van wat daar op die preekstoel verkondig word. Wat hierdie kern is, leer ons in Sondag 31 van die Kategismus: in die prediking word aan die gelowiges "openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ... vergewe is". Wie glo mag in die kerk God se vryspraak hoor!

A.L.Th. de Bruijne verbind die regverdiging met die verskyning van Christus om te oordeel. By die laaste oordeel sal ons vryspraak klink. In die hede gee die Gees aan ons 'n voorskot op dié werklikheid. In die geloof aan die evangelie van Jesus se opstanding, vertrou ons dat Hy ons dan sal vryspreek.4 Dit kom my voor dat ons vryspraak nie enkel beskou moet word as 'n uitspraak wat voor ons lê, maar wat, in die verbondenheid met Christus, nou reeds aan ons bekend is, nie. Die Nuwe Testament spreek sterker. Paulus skryf dat "ons uit die geloof geregverdig is" (Romeine 5:1) en Johannes sê dat die sondes ons "vergewe is om sy Naam ontwil" (1 Johannes 2:12).

Die verhouding tussen die laaste oordeel en ons vryspraak nou, sal nog hieronder ons aandag kry. Ek kan dit egter nie anders sien nie as dat ons nou reeds God se vrysprekende vonnis in die prediking mag hoor. Paulus praat oor die regverdiging in die teenwoordige tyd. Hy spreek oor Hom "wat die goddelose regverdig" (Romeine 4:5) en spreek saam met Dawid dié mens salig "aan wie God geregtigheid toereken" (Romeine 4:6). Dit gaan, in die woorde van Calvyn, om "gedurige vergiffenis" en "by herhaling kwytskeld"5 iets wat steeds weer in die prediking aan ons verkondig word en wat ons in die geloof mag aanneem.

Word ons vuil wasgoed eendag in die openbaar gewas en ons sondes aan die groot klok gehang? Wat die Skrif oor vergewing sê, skyn dit te weerspreek. Wanneer die Here vergewe "verwyder Hy ons oortredinge van ons" (Psalm 103:12), Hy maak die sonde wit soos sneeu (Jesaja 1:18), Hy bedek dit (Psalm 32:1) en dink daaraan nie meer nie (Jeremia 31:34). Hoe buitengewoon groot God se vergewing is, hoor ons in die Skrif nouliks meer indringend as in Miga 7:18 en 19: God "gaan" die oortredinge "verby" (Hy loop daaromheen), Hy sal "ons ongeregtighede vertree" (Hy vertrap dit in die grond), ja, Hy sal al ons sondes "in die dieptes van die see werp" (Hy werp dit weg sodat dit nêrens gevind kan word nie). Dit is dus volkome in ooreenstemming met die Skrif wanneer die Kategismus in antwoord 56 sê dat God nooit meer aan ons sondes wil dink nie!

Wanneer God se vryspraak wat ons nou reeds mag ontvang, neerkom op so 'n vergewing dan is dit maar moeilik te rym met Van Ruler se gedagte oor die vuil wasgoed. As Van Ruler reg is, is dit nie waar dat die Here nooit meer aan ons ongeregtighede dink nie – hulle is dan nog in die hemelse boeke opgeskryf en word eendag weer op die tapyt gebring. So 'n gedagte moet by God se kinders skrik wek. Hoe is dit dan moontlik dat vervul kan word wat by ons doop gebid is: dat ons sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus mag verskyn?

Voor Christus se Regterstoel🔗

God self is die groot Regter voor wie ons almal "gestel" sal word (Romeine 14:10). Aan Hom sal ons rekenskap gee (Romeine 14:12). Dit is Hy "wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel" (1 Petrus 4:5). Johannes het die hele mensheid voor God se troon sien staan (Openbaring 20:12).

Die Vader het egter die uitspreek van die laaste oordeel aan die Seun toevertrou (Johannes 5:22). Christus is deur God as Regter aangestel (Handelinge 10:42). Juis omdat Hy die Seun van die mens is, het Hy die mag ontvang om te oordeel (Johannes 5:27). Hy wat die Redder van die wêreld is, is ook sy Regter. Ons sal dan ook almal voor die regterstoel van Christus verskyn (2 Korintiërs 5:10).

wasgoed

Uit die Nuwe Testament kry ons die indruk dat die eindoordeel wel oor alle mense gaan, maar dat die gelowiges tog anders voor die regterstoel verskyn as die ongelowiges. Dit blyk dat daar, reeds op pad na die regterstoel van Christus, 'n skeiding bewerkstellig word. Wanneer die Here Jesus terugkom om te oordeel, gaan die gelowiges Hom tegemoet in die lug (1 Tessalonisense 4:17). Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes te versamel (Matteus 24:31).

Hierdie skeiding bestaan ook wanneer die Heiland sy regterstoel bestyg. Die "skape" word van die "bokke" geskei (Matteus 25:32, 33). Die eerste verskyn by sy regterstoel as "die regverdiges" (Matteus 25:37) en word aangespreek as "julle geseëndes van my Vader" (Matteus 25:34).

Die skeiding het sy ontstaan by die lewe wat op aarde geleef is. Hierin is hoe ons ons verhouding tot Christus uitgeleef het, beslissend. Dit blyk sterk uit die volgende uitsprake: "Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy (die Vader) gestuur het" (Johannes 6:29); "...dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo" (1 Johannes 3:23); "Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie" (Johannes 3:18). Veral die laaste teks maak dit duidelik dat die aanstaande skeiding volledig teruggaan op wat op aarde ten opsigte van Christus gedoen is. Wie in Hom glo, kom nie in die gerig nie (Johannes 5:24), maar wie in Hom nié glo nie is al gevonnis en is reeds onder die toorn van God (Johannes 3:36).

Ons mag die beskouing daarop nahou dat die gelowiges as "regverdiges", as "van die oordeel bevry", as Christus se "skape" voor sy regterstoel verskyn. Daar sál rekenskap gevra word (Hebreërs 4:13), die Here sál "sy volk oordeel" (Hebreërs 10:30), daar sál 'n onthulling wees (2 Korintiërs 5:10), maar vir die gelowige sal dit 'n genadige onthulling wees. God sal die diepste werklikheid van hulle lewe aan die lig bring: die liefde tot die Here Jesus, die geloof in sy Seun.

Dit is alles reeds aan God bekend. Alles is immers "oop en bloot" voor hom (Hebreërs 4:13). Maar dit sal dan in die openbaar onthul word. "Die bedoelinge" van die mensehart sal "openbaar" gemaak word (1 Korintiërs 4:5).

Voor Christus se regterstoel word ook die heiliging van God se kinders openbaar. Dit is waar: sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie (Hebreërs 12:14). Ons sal geoordeel word volgens ons werke (Openbaring 20:13) en volgens wat ons "deur die liggaam verrig het" (2 Korintiërs 5:10). Maar daar ís "goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel" (Efesiërs 2:10). Aan die bruid is gegee "om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges" (Openbaring 19:8). Dit is die werk van die Heilige Gees, "die Gees van heiligheid" (Romeine 1:4), om die gelowiges met die fyn linne te beklee. Hy laat sy "vrug" in hulle lewe ryp word en werk in hulle om die wil van die Vader te doen (Matteus 7:21).

Daar is 'n intense eenheid tussen die maatstaf van ons verhouding tot Christus, dit wil sê ons geloof in Hom, en die werke waarvolgens ons geoordeel sal word, want die werke is die werke van dié geloof. Die geloof in die Here Jesus manifesteer in dié werke (Galasiërs 5:13). Die geloof word eers "volkome" uit hierdie werke (Jakobus 2:22): eers as daar werke by is, is die geloof werklik geloof. Dit is as't ware die proef op die som. Dáárom is daar ook die oordeel volgens wat ons "deur die liggaam verrig het". Want uit die lewe wat ons geleef het, blyk of ons die Here Jesus in geloof liefgehad het.

Onberispelik🔗

Dat ons beklee met die fyn linne van die regverdige dade van die heiliges voor die regterstoel mag verskyn, kom ook na ons in die plekke waar die Nuwe Testament spreek oor onberispelik wees op die dag van Christus.

Paulus skryf in Filippense 1:10 en 11: "...sodat julle rein en onberispelik mag wees, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid..." Die woordjie "rein" (eilikrineis, letterlik: in die sonlig gekeur) wys meer op innerlike reinheid, terwyl die apostel met "onberispelik" (aproskopoi, letterlik: waaroor niks aangemerk kan word) meer dui op die uiterlike lewenswandel.6Groei in liefde lei daartoe dat die Filippense sal beantwoord aan die eis van die dag van Christus: dat hulle rein en onberispelik sal wees, vervul met die vrug (van die Gees) wat bestaan in 'n regverdige lewenswandel. Hart én lewe moet aan die eis van dié dag voldoen. Ons vind ongeveer dieselfde in Kolossense 1:22: Christus het die gelowiges versoen om hulle "heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel..." Die woorde wat Paulus hier gebruik, herinner aan wat vir die offerdiere onder die ou bedeling gegeld het (Hebreërs 9:14; 1 Petrus 1:19). Opnuut word verkondig dat die gelowiges mense is oor wie niks aan te merk is nie. Ons hart en lewe kom by Christus se regterstoel ter sprake, maar dit hoef die ware gelowige nie te verontrus nie. Paulus bid dat God die Tessalonisense sal laat toeneem in die liefde "sodat Hy (hulle) harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Tessalonisense 3:13; vgl. 5:23). Judas skryf oor Hom wat ons vir struikeling kan behoed en "sonder gebrek (= onberispelik) voor sy heerlikheid ... stel met gejuig" (Judas 1:24).

wit linnen

Om onberispelik te wees blyk selfs iets te wees waartoe die gelowiges hulle nou reeds tot die uiterste moet inspan: "Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede" (2 Petrus 3:14). Eens kom God se proef. Eens sal dit "blyk" hoe dit met ons gesteld is. Dit moet ons dring tot heilige wandel en godsvrug.

Die woord "onberispelik" kan tot misverstand lei. Ons dink maklik aan sondeloosheid. Maar dit word nie in die eerste plek met dié woord bedoel nie. Die mens wat die Here opreg vrees, is onberispelik (vgl. Genesis 6:9; 17:1; Deuteronomium 18:3; Psalm 101:2, 6; Spreuke 2:7; Lukas 1:6). Dit gaan om "wandel in die wet van die Here" (Psalm 119:1) en "doen wat reg is" in sy oë (Psalm 15:2). Wie as die "regverdige" van die Psalms leef, is "onberispelik": beide aanduidings word in één asem genoem (vgl. Genesis 6:5; Lukas 1:6).

Onberispelik wees, is dus nie net 'n toekomstige saak nie. Hier op aarde mag en moet God se kinders reeds onberispelik wees. Van die volgelinge van die Lam word dan ook, in terugblik op hul stryd op aarde, getuig: "En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek (= onberispelik)..." (Openbaring 14:5).

Dit is hierdie onberispelikheid wat sal blyk, aan die lig kom, op die jongste dag. God se kinders verskyn dan as mense wat met al hulle swakheid en struikeling die Here gevrees en op sy weg gegaan het. Die hemelse Regter sal dit erken. Die werk van die Gees in die lewe van sy kinders sal nie misken word nie.

Wie in Christus bly en as "regverdige" leef, sal dan wanneer Christus en hyself ook geopenbaar word, "...vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" (1 Johannes 2:28). Hy sal selfs "met gejuig" voor die hemelse Majesteit staan (Judas 1:24). Daar sal oorweldigende blydskap vir God se kinders wees wanneer hulle hart en lewe eens voor Christus se troon onthul word!

Tweërlei Onthulling🔗

Wat Van Ruler skryf oor die groot onthulling is in teenstelling met wat ons in die Skrif gevind het. Ek stem nie saam dat ons vuil wasgoed uitgehaal en alles aan die groot klok gehang sal word, en dat dáárom vir God se kinders sprake is van 'n "verskriklike onthulling en publikasie" nie.

Sekerlik lees ons dat die mense van elke ydele woord rekenskap sal gee in die oordeelsdag (Matteus 12:36), dat daar niks bedek is wat nie ontdek sal word nie (Matteus 10:26), dat die Here die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die menseharte binnestebuite sal keer (1 Korintiërs 4:5), dat daar Iemand is voor wie ons rekenskap sal moet gee (Hebreërs 4:13) en dat elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap sal gee (Romeine 14:12).

Maar dit moet ons nie só verstaan dat ons vuil wasgoed aan die lyn gehang word nie. Die tekste is elkeen 'n vermaning wat ons wil aanspoor om inderdaad "onberispelik" te lewe. Dit is dringende waarskuwings om die laaste oordeel ernstig op te neem en te besef dat daar 'n regterstoel kom.

Wie nie in Christus glo en uit Hom leef nie, kom in die oordeel. Van hom sal van sy gedrag rekenskap gevra word. Mense mag dink dat daar geen God is wat tot verantwoording roep nie (vgl. Psalm 10:4), maar hulle vergis hulle. God vergeet nie hulle dade nie en eens sal die boeke geopen word (Openbaring 20:12). Die vuil wasgoed kom inderdaad eendag op die lyn. Alles word ontmasker (Efesiërs 5:13). En dit sál 'n verskrikking wees vir almal wat Christus verbygegaan het en nie met sy Woord gereken het nie.

lig

Maar hierdie beskamende en skrikaanjaende onthulling word God se kinders gespaar. Hulle verskyn as "regverdiges", as "heiliges" voor Christus se regterstoel. Húlle openbaring sal vreugdevol wees. Want hulle mag voor Hom verskyn as mense wat hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam (Openbaring 19:14) en hulle laat beklee het met die fyn linne van die regverdige dade van die heiliges (Openbaring 19:8). Op dié dag sal God se genadewerk in en aan hulle blyk: sy werk in vergewing en heiliging.

Daar was ook in hulle lewe vuil wasgoed. Maar dié sal blyk geheel gereinig te wees deur die bloed van Christus. Die reiniging sal aan die lig kom, die "met die bloed en Gees van Christus gewas te wees" (vgl. Vraag en antwoord 70 van die Heidelbergse Kategismus). Terselfdertyd sal aan die lig kom waarvan hulle gereinig is. Dit sal openbaar word waarvoor ons alles vergewe is en hoe die Heilige Gees ons geheilig het. En dit tot die groter glorie van God.

Ek sluit graag aan by wat gereformeerde Leidense teoloë uit die sewentiende eeu sê: "Die sondes van die vromes, waarvoor hulle deur Christus vergewing ontvang het, word nie uitgesonder nie en word ook openbaar gemaak, maar só dat dit geen beskaming bring nie, maar veeleerder onmeetlike vreugde. Hierdie vreugde kom daaruit voort dat, weens soveel vergeefde sondes, so 'n grootheid van God se goedheid teenoor hulle blyk. So sal die herinnering van die sonde nie tot straf of ter opheffing van die heerlikheid wees nie, maar tot danksegging".7

Ons kan dit nie nou al goed begryp nie: 'n Onthulling van ons verlede wat vreugde en lof bring? Maar ons het nog maar 'n "beginsel" van die ewige vreugde en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie (1 Johannes 3:2). Ons dink oor dié dinge veelal vanuit onsself en met ons maatstawwe. Maar wat vir ons nou nog beangstigend lyk, sal nie dán beangstigend wees nie, want die eer en die lof van God sal ons totaal beheers. Dié eer en lof sal uitstraal wanneer onthul word hoeveel kwaad ons vergewe is en wat die Gees van ons lewe gemaak het.8

Ek wil hier wys op God se besluit van verwerping. Kan daar aanstons vreugde by ons wees terwyl sovele vir altyd gepynig sal word? Is dit moontlik: blydskap in die hemel, terwyl daar onvoorstelbare leed in die hel is? God se besluit van verwerping is vir ons nou nog – met Calvyn se woord – huiweringwekkend. Maar ek herinner aan die woorde van Augustinus: dit sal straks amen en halleluja wees. Ons sal die Here prys oor al sy werke (vgl. Openbaring 19:1, 2). Ook oor sy besluit van verwerping. Wat ons ons nou nog nie kan voorstel nie, sal dan werklikheid wees.

So sal dit ook wees wanneer ons vergeefde sondes aan die lig kom. Dit sal ons nie verskrik of beskaamd laat staan nie, maar tot dank en aanbidding bring. En die lied van die Lam (Openbaring 15:3) sal weerklink, die lied oor Hom wat ons sonde op Hom geneem het en wie se bloed ons geheilig het.

Openbare Bevestiging🔗

Daar is nog een vraag in hierdie verband wat beantwoording vra. Wat is die verhouding tussen ons vryspraak nou, en die laaste oordeel? Wanneer ons in hierdie lewe deur die geloof reeds vergewing van sondes ontvang, wat gebeur dan by God se regterstoel?

G. C. Berkouwer skryf: "In die laaste oordeel (die dag) vind nie 'n ánder, tweede, gerig plaas nie, maar word die werklikheid van hierdie krisis in die aardse lewe – teenoor Jesus Christus – ten volle onthul en bo alle twyfel en onduidelikheid gestel."9 L. Floor gaan ook in dié rigting wanneer hy sê dat die skeiding wat hier op aarde reeds tot stand kom "helder aan die lig sal kom". Terselfdertyd voeg hy hieraan toe dat die skeiding ook "bevestig" word.10 A. Kuyper versterk die laasgenoemde wanneer hy "die publieke afkondiging voor alle engele en magte en skepsels" sien as die laaste stadium van ons regverdiging.11 H. Bavinck praat van "die voltooiing" van ons regverdiging "wanneer God in die laaste oordeel sy vonnis van vryspraak ten aanhore van die ganse wêreld herhaal..."12 Die Groot Kategismus van Westminster (1647) verwys na "publiek erken en vrygespreek word".13

kruis

Ek dink dat daar waarheid in al hierdie aanduidings is. Die mooie hiervan is dat dit die woord van vryspraak wat nou in die prediking gehoor mag word, ernstig neem. Wie daardie woord glo, besit die vryspraak. Die apostel Johannes sê met groot stelligheid: "...die sondes is julle vergewe om sy Naam ontwil" (1 Johannes 2:12). Die vryspraak is nie iets wat nog voor ons lê nie.

Op die jongste dag sal die vryspraak bevestig en openbaar gemaak word. As Regter sal Christus ons voor sy Vader (Matteus 10:32) en voor die engele van God (Lukas 12:8) bely. Dit gaan in hierdie Skrifgedeeltes (vgl. ook Openbaring 3:5) oor wat Hy in die eindgerig sal doen. Hy sal ons in die openbaar erken as syne, as mense wat sy evangelie geglo en daaruit geleef het.

Van Ruler is korrek: daar vind onthulling en publikasie plaas. Maar nie van vuil wasgoed of 'n skandaalblad nie. Wel van dié vrysprekende vonnis wat ons hier op aarde reeds mag hoor en in die geloof ons eie maak. Só sorg die Here dat ons aanstons nie dodelik verskrik nie, maar "met gejuig" (Judas 1:24) voor Hom staan!

Endnotes🔗

  1. ^  A.A. Van Ruler, Ik geloof, Nijkerk 1972, p. 122.
  2. ^ Lied 278 van Liedboek voor de kerken.
  3. ^ Vgl. C. Veenhof, Het Woord Gods in den brief aan de Hebreën, Terneuzen 1946, p. 37. (Die Ou Testamentiese kerk ontvang die vergewing in die belofte as't ware op krediet, met hoop en in die sekerheid van die later volgende reële voldoening en versoening soos Christus dit deur sy bloed sou bewerk). In sy kommentaar op Hebreërs 10:15 sê Calvyn dat die verskil nie geleë is in hetsy die woord of die geloof nie, maar in die prys van die kwytskelding self. 
  4. ^ A.L.Th. de Bruijne, 'Christelkijke ethiek tussen wet, schepping en gemeenschap, in Radix, jg. 27, nrs. 2/3, p. 139.
  5. ^ Institusie 3.14.10. (Vertaling H.W. Simpson, Potchefstroom 1988.),
  6. ^ Vgl. L. Floor, Filippenzen. Een gevangene over het navolgen van Christus, Kampen (1998), p. 55. 
  7. ^ Synopsis purioris theologiae, ed. H. Bavinck. Leiden 1881, p. 650.
  8. ^ Ten onregte sê C. Vonk dan ook: 'Hoeveel kwaad sal daar geopenbaar word waarvan niemand iets geweet het nie! Ook uit òns hart en uit òns lewe. Dit laat ‘n mens ril’ (De voorzeide leer, (Schiedam) 1950, p. 225).
  9. ^ G.C. Berkouwer, De wederkomst van Christus I, Kampen 1961, p. 197.
  10. ^ L. Floor, Het gericht van God volgens het Nieuwe Testament, Amsterdam 1979, p. 55.
  11. ^ A. Kuyper, E Voto Dordraceno II, Amsterdam/Pretoria 1905, p. 338, vgl. p. 340.
  12. ^ H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek IV, Kampen 1930, p. 212.
  13. ^ Vgl. G. van Rongen, De Westminster Confessie met de Grote en de Kleine Catechismus, Barneveld 1986, p. 104. W.H. Velema handel oor die eskatologiese aspek van die regverdiging en skryf: In die Openbaring staan die Lam sentraal. Hierdie beeldspraak laat sien hoe die regverdiging om Christus' wil in die nuwe hemel en op die nuwe aarde deurwerk. Dit is nie alleen so dat die regverdiging in die eskatologiese vernuwing vervul en voltooi word nie. Dit is ook omgekeerd! Die voltooiing verloor nooit die herinnering aan, of die verwysing na, die regverdiging om Christus' wil nie. Die bruid van Christus is slegs rein omdat haar klere gewas is in die bloed van die Lam (Openbaring 7:14)' (J. van Genderen/W.H. Velema, Beknopte gereformeerde dogmatiek, Kampen (1992), p. 586).