Bron: Nader Bekeken. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Soekende Liefde

Oor Tug in die Gemeente🔗

Elke skapie, hoe koppig hy ook al is, is baie kosbaar. Die Herder het baie daarvoor betaal, onvoorstelbaar baie. Sy eie kosbare lewe was die prys om elke skaap te red en dit in sy liefde vas te hou.

Soekende liefde🔗

Die liefde van die Herder is altyd soekende liefde. Sedert menseheugenis soek Hy ons al. Wanneer ons eenmaal in sy kudde opgeneem is, moet ons moeite doen om in sy liefde bly. Sonder dié liefde gaan ons vroeër of later dood. Selfs as ʼn skapie verdwaal, selfs as dit in die kloue van sy vyand val, selfs as dit deur sy eie dom skuld in ʼn strik trap, dan nog sal Hy aanhou soek.

Wanneer ons die kosbare hoofstuk in die Bybel oor die ‘tug’, Matteus 18, oopmaak en lees, is dit teen die agtergrond van die Herder wat soek na wat verlore is (vs. 11-14). Hy ken die gevare wat sy kudde bedreig. Skape is blootgestel aan baie gevare. Hulle kan van die regte pad afdwaal, aangetrek word deur verleiding van buite, saamgesleep word deur ʼn ander wat eiewys is. As daar maar net één skaap wegdwaal, word die hart van die Herder bewoë van liefde en Hy gaan soek.

Sonder hierdie liefde kan tug in die gemeente nie bestaan nie. Dit is jammer dat die woord so ʼn byna gevestigde negatiewe gevoelswaarde gekry het.

Tug op die aftog?🔗

Volgens M.T. de Velde is die draagvlak van tuguitoefening besig om te verbrokkel. In ʼn lesing vir ampsdraers wys hy op verskeie oorsake: in vele opsigte word ons deur ons kultuur mislei; ons het toenemend te doen met ʼn doellose spiritualiteit; ʼn sielkundige gevoelsdrang in die pastoraat, ʼn verevangelikalisering van ons geloofslewe; die selektiewe gebruik van tug in die verlede en die feit dat die tug iewers langs die pad ʼn spoelklip in die stroom van ons kerklike lewe geword het.

Tug is op die aftog (Tucht staat op de tocht). Dit was die opskrif van ʼn artikel deur twee kollegas in ʼn onlangse uitgawe van Nederlands Dagblad. In ons kultuur word die tug baie maklik as bemoeisiek of diktatoriaal afgemaak, waarmee ander dan nie gerespekteer word nie of in hulle menswaardigheid aangetas word. Hulle stel voor dat die woord met Christelike dissipline vervang word en dat daar na ander vormgewing daarvan gesoek word – spesifiek sodat die tug nie in die eerste plek ʼn kerkraadsaangeleentheid sal wees nie, maar eerstens ʼn aktiwiteit van die gemeente, soos die goeie Herder dit wil hê.

Onderling🔗

Dit is ʼn dringende vraag of hierdie onderlinge tug daadwerklik beoefen word! Dit staan wel in ons belydenis dat dit ʼn kenmerk is van die ware geloofsgemeenskap van die HERE en ons het in die verlede die beeld gekry van ware kerke op dié punt. Ons moet ewewel hieroor eerlike en openhartige selfondersoek doen.

Dit is opmerklik dat direk na die kort gelykenis van die soekende herder, ons self aan die orde kom:

...as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.Matteus 18:15

Ek het eenmaal by die voorbereiding vir ʼn preek oor antwoord 85 van die Kategismus nagegaan wat die Skrif oor die onderlinge bemoediging en teregwysing sê. Die klem wat die Gees hierop lê, is opvallend.

Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ʼn klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.Kolossense 3:12, 13

As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.Matteus 5:23, 24

...as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.Galasiërs 6:1, 2

Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;  en gee aan die duiwel geen plek nie... Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ʼn woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.Efesiërs 4:26, 27; 29-32

Die abc🔗

Dit lyk veelal asof tug eers ter sprake kom by hardnekkige afwyking. Nie net wanneer daar sonde is nie, maar ook volharding daarin. Volgens Te Velde is daar altyd sprake van verharding. Dit is waar, wanneer dit gaan oor toepassing van die tug deur ampsdraers.

Maar hieraan gaan die selfdissipline en onderlinge dissipline vooraf. (Te Velde bring hier baie mooi die gesinstug in: hoe staan dit in ons gesinne met dissipline in die omgang met die HERE?).

Ek sou onderlinge dissipline nie wou beperk tot aanspreek van mekaar, of ingryp waar daar ʼn ontsporing of afdwaling is nie. Aan korrektiewe optrede moet geestelike aansporing en onderlinge bemoediging voorafgaan. In ʼn lesing oor die funksie van kleingroepe in die gemeente het die Nederlandse predikant P.W. van der Kamp dit by ʼn plaaslike kerk mooi met drie letters saamgevat: die ABC van onderlinge ‘aansporing, bemoediging en correctie.’

Onderlinge dissipline veronderstel geestelike lewe in die gemeente, gesprekke op daardie vlak, openhartige verhoudings en ʼn besef van eie kwesbaarheid. Ook donker sondes en die verborge sondaar moet in die soekende liefde van Christus na vore kan kom en in die lig van sy genade gebring kan word. Hy skryf ons nie af na ʼn growwe sonde nie; hy laat ons nie met ons dwaal-idees nie; Hy laat ons nie los wanneer sy teëstander dreig om ons in sy greep te kry nie.

Ons het ewewel almal sy bemoediging dringend nodig, ook al dwaal ons nie weg of raak verstrik in ʼn hardnekkige sonde nie. Ons het almal sy aansporing nodig om te groei in liefde vir die Here, om dissipline in die leefstyl van die koninkryk te ontwikkel, om op die belangrikste in ons besige lewetjie onder die son te fokus, om dag na dag uit genade en in die krag van die Gees te lewe.

Die veld is hier aansienlik breër as net seksuele sondes van allerlei aard. Die liggaam van Christus kan ook besmet word deur materialisme, gemaksug, wêreldgelykvormigheid, kwaadsprekery en skinder, eiewilligheid, selfgenoegsaamheid en ʼn hardnekkige gebrek aan toewyding en dankbaarheid, om maar net ʼn paar te noem.

Die VAT🔗

Ons is gemeente van die Here in ons tyd, wat gekenmerk word deur die VATgevoel. Alles draai om goeie verhoudings, aanvaarding en toleransie. Jy mag sake nie op die spits dryf nie, dan kry jy probleme. Jy moet te alle tye toesien dat die (pastorale) verhouding mooi gehou word, sodat die ander nie minderwaardig voel nie. In ons tyd van psigologisme en demokrasie word verwag dat jy in mense se worsteling en gebrokenheid moet inleef en daarmee moet meeleef, anders het jy geen gevoel vir mense nie.

Maar hierdie VAT gevoel kan baie wegvat uit die ABC van geestelike omgang in die koninkryk van God. Maar tug word in ooreenstemming met, en na die maatstaf van, die Woord van God uitgeoefen, want sy eer is in gedrang in ons (gemeente)lewe. Daadwerklike lewe met die liefde van die Herder en vanuit sy genade is op die spel. As jy jou verhouding met Christus reg wil hou, moet jy jou verhouding met jou sonde breek. As jy deur God aanvaar wil wees, moet jy nie argeloos die sonde aanvaar nie. Om ander in hulle ‘waardigheid’ te tolereer, kan ʼn teken word daarvan dat jy die ander laat vaar het, of self nie aangespreek wil word nie. Voor jy weet, adem ons geestelike lewe meer tydsgees as die Heilige Gees van Jesus.

Soektog🔗

Of ons ware kerk bly, ʼn ware gemeenskap van die Here (kuria-kè), hang ook af van die vraag of ons die Christelike dissipline in gehoorsaamheid aan Christus self, toepas en voortsit. Hierdie dissipline het ten diepste te make met lewe of dood; met navolging van Christus, of vasloop in ʼn bestaan sonder Hom; met lewe in die lig van sy genade, of verstrik raak in die duisternis van die sonde. As Herder het Hy, soos geen ander nie, die dreigende gevaar van infiltrasie in sy kudde voorsien. Sy vyand swerf om sy kudde rond soos ʼn hongerige leeu op soek na prooi. Verleiding lê op die loer. Die poorte van die doderyk staan oop en die magte van die bose ruk op en doen hulle kwaadaardige werk op aarde.

Maar ons is uit die ryk van die duisternis oorgeplaas na die ryk van Christus. Dáár heers Hy, in sy liefde. Hy ken die bevrydende werking van sy genade, die ongebreidelde energie van sy Gees en die krag van sy liefde. Hy het sy lewe gegee vir sy skape. Ons is syne, en Hy wil dit so hou, want dit alleen is ons redding.

Daarom soek Hy in sy liefde ons harte. Dáár wil Hy die liefde van ons lewe wees. Dít is die allerbeste.