4 bladsye.

Sondag 1: Heidelbergse Kategismus

Lees 1 Petrus 1

Christus die Eienaar?🔗

Watter plek neem Christus in u lewe in? Oor dié vraag gaan dit in die Heidelbergse Kategismus.

Ek dink ons kan met groot veiligheid sê dat Christus in ons almal se lewe 'n plek inneem — anders sou ons nie nou hier in die kerk gewees het nie! Die vraag is egter steeds watter plek Hy in jou lewe inneem. As Christus nie die regte plek in ons lewe inneem nie, kan ons nie reg lewe nie. Soos wat ons sonnestelsel nooit reg kan funksioneer sonder dat die son op sy regte plek is nie. Indien ons nie die son in die middelpunt plaas nie, maak dit eintlik nie saak waar ons Mars of Jupiter of die aarde plaas nie; die son moet op die regte plek wees. Sonder die son in die middelpunt, is alles tot niet gemaak.

Die vraag waarvoor Sondag 1 ons plaas, is inderdaad die vraag na die plek van Christus in ons lewens. As Christus nie die regte plek inneem nie, kan ons nie getroos lewe of sterwe nie, selfs al het ons die illusie dat dit wel so is. Dan kan ons dalk plek gee vir allerhande sogenaamde "geestelike" sake soos Bybelstudie, gebed, erediensbywoning of selfs heel intense debatte oor die groot teologiese vrae in die lewe. Al hierdie dinge kan, en dit moet ons ongelukkig sê, selfs struikelblokke word, indien Christus nie in die middel­punt van ons lewe staan nie.

Want die evangelie is uiteindelik 'n baie eenvoudige saak. Dit is die pragtige van die eerste vraag van die Kategismus. Daar is maar een groot troos — dat ek deur die geloof mag weet dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser mag behoort. Ons is waarskynlik almal goed bekend met die Halleluja-lied "Blye versekering, Jesus is myn". Hoe mooi hierdie woorde ook al mag klink, is dit nog nie presies die troos waarvan Sondag 1 praat nie. Sonder dat ons besig wil wees met muggiesiftery, kom die wonderlike genade en rus en troos van die evangelie na vore wanneer ons in geloof mag sê: Christus behoort nie alleen aan my nie, maar: "Blye versekering, ek is syne"; blye versekering, ek is in sy hande veilig. Ek behoort aan Hom.

Waarom stel ek dit so, in kontras met die woorde van daardie lied? Juis omdat ons so maklik dink: Jesus behoort aan my, sodat ek met Hom kan doen wat ek goed vind en nodig ag. Ek mag egter uit sy onbegryplike groot genade aan Hom behoort. Hy het my gekoop met sy kosbare bloed. Hy is soos 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos geslag om vir my sondes te sterwe. Hy bewaar my dat geen haar van my kop val sonder die wil van my hemelse Vader nie. Hy verseker my van sy ewige liefde waardeur ek mag en kan lewe en vir ewig lewe. Hy maak my deur sy Heilige Gees gewillig om vir Hom te lewe.

Ek besit nie vir Jesus Christus in die verkeerde sin van die woord nie. Hy besit my. Hy het reg op my. Waarom? Want Hy het my gekoop, en daardie perspektief moet ons duidelik hê in ons lewe. Hy het my met sy bloed gekoop, daarom besit Hy my. Ek is sy eiendom. Ek verdien niks wat Hy my wil en kan gee nie. Uit sy onbegryplike liefde kom gee die Here God vir my 'n plek in sy gemeente, sodat ek daar in sy gemeente vir Hom mag wees. Dit is die geweldige werklikheid waarvoor die eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus ons kom plaas. Ek is nie 'n lid van sy gemeente, sodat die predikant vir my allerhande dienste kan bewys nie, of sodat die ander broeders en susters vir my allerhande dienste mag bewys nie, nee! Ek word deur die Here 'n plek in sy gemeente gegee, omdat ek aan Hom mag behoort. Ek is syne, sy eiendom, en dit is die geweldige werklikheid waarvoor hierdie eerste vraag van die Kategismus ons kom plaas. Die blye versekering: ek is syne!

Geen Eie Baas Nie!🔗

Die Heidelbergse Kategismus noem dit 'n troos dat ons nie ons eie baas is nie, dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Iemand anders, aan Christus. En dit kan ons so stel, omdat dit vanuit die Woord van die Here duidelik aan ons geleer word dat dit 'n verskrikking is om aan onsself te behoort. Ons weet van die droewige gevolge van die lewe van Adam en Eva, toe hulle besluit het dat hulle eerder aan hulleself wil behoort, en die gevolge vir hulle nageslag. Dit is 'n lewe van slawerny en die dood. Waar word dit duideliker uitgebeeld as juis in die lewe van die verlore seun in die bekende gelykenis in Lukas 15? Vader, gee my dit wat ek besit, sodat ek my eie lewe kan gaan lei; dat ek kan besluit hoe ek my erfporsie wat aan my behoort, kan gaan spandeer. 'n Lewe van slawerny! Vryheid om met sy erfdeel te maak soos hy goeddink, maak hom 'n slaaf van sy eie begeertes en uiteindelik 'n slaaf van ander, om hom uit te buit en te misbruik vir hulle begeertes. Vir daardie seun is daar uiteindelik ook geen groter troos nie as dat hy tot die besef leer kom: ek mag 'n seun wees in die huis van my Vader; daar is dit goed, daar is ek vertroos. Daar waar ek nie aan myself behoort nie, maar aan 'n Ander.

Wanneer Israel kies om aan hulself te behoort en besluit hulle sal hul toekoms bepaal met samewerking van die Egiptiese volk en die konings van die Assiriërs, wanneer hulle self hulle lot en toekoms gaan vasstel, dan beland hulle in ballingskap. En dit weet ons ook uit ons eie lewe. Ons weet waartoe ons in staat is wanneer ons baas in eie lewe wil wees. Wanneer ek self besluit hoe ek omgaan met seksualiteit in my lewe as jongmens (of as volwassene!), is ek kort voor lank vasgevang in 'n lewe waaruit ek wens dat ek kan loskom. Wanneer ek self besluit hoe ek my maandelikse begroting optrek of hoe ek die Sondag deurbring, verloor ek sommer gou alle vryheid en word ek slaaf van my eie begeertes. En dit is slegs die begin.

Maar die weg uit al hierdie eiesinnigheid word vir ons gegee in die evangelie van genade en vergifnis. Die groot bevryding wat ek kan leer ken om nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser te behoort. En dan beteken dit nie dat ons Hom sal toelaat in 'n deel van my lewe, wat beperk is tot sekere dae van die week, tot sekere ure van die dag of tot sekere gebooie van die wet nie. Nee, dit is nie 'n lewe waarin ek Hom opsoek wanneer ek eintlik nou nie self meer verder weet nie. Nie 'n lewe waarin ek Hom besit om my skuldige gewete stil te kry terwyl ek volhard in my eie sondes nie. Maar wel 'n lewe waarin ek die Here tog net dankbaar mag wees dat ek aan Hom behoort. 'n Lewe waarin ek die Here nie uit eie krag hoef te probeer dien nie, want dit sal telkens weer misluk. Maar ek mag met 'n Goddelike troos seker wees en weet dat ek behoort aan Een wat magtiger is as ek. Een wat "ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is" (NGB artikel 1). Dit is die God aan Wie ek mag behoort. Ek behoort nie aan myself nie, wat wispelturig is en wat 'n tiran kan word oor homself, wat homself dryf. Ek is gelukkig dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan hierdie God wat goed is, wat werklik regverdig is. Een wat 'n fontein is, waaruit alles wat goed is, voortkom. Dank die Here dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Verlosser!

Sy Kosbare Bloed het vir My Betaal🔗

Hoe mag ek weet dat ek sy eiendom is en nie meer verkoop aan die mag van my eie sondes nie? Dit leer die evangelie my. Ek is gekoop, nie met verganklike dinge soos silwer en goud, wat vir ons dikwels kosbaar lyk nie. Ek is gekoop deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos (1 Petrus 1:18, 19). Ek is losgekoop van 'n ydele lewenswandel. Met sy dood het Hy betaal, sodat ek kan ophou om 'n doodsbestaan in die sonde te lewe. Die geweldige mag van die satan oor en in my, het Hy kom verbreek. Hy het my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Dit is wat u uit die evangelie mag hoor. Dit is wat ons mag glo: dat ons aan 'n Ander mag behoort en dat ons daardeur bevry word van die mag van die satan oor ons.

Maar hoe word hierdie mag van die satan ook in my lewe verbreek? En hoe mag ek weet dat ek ook aan Christus mag behoort? Dit gebeur, sê Petrus, wanneer ons "in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees ... gereinig het" (1 Petrus 1:22), wanneer ons die evangelie hoor en daaraan gehoorsaam is. Gehoorsaamheid aan die evangelie is om ons hoop op Christus te stel, om dankbaar te wees dat ek aan Hom mag behoort. Want dan gebeur die wonder! Dan is julle "wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly" (1 Petrus 1:23). Wedergebore deur die Woord van God. Ek mag dus weet dat ek aan Christus behoort, wanneer ek in geloof die Woord van God aanvaar. Wanneer ek die evangelie, wat aan my verkondig word, werklik in die geloof bely. Wanneer Hy vir my sê: "Jou sondes is vergewe!" En ek, soos Abraham, in God glo. Dit is hoe ek loskom uit die mag wat die duiwel oor my het. Glo in God, glo in Hom, wat vir jou sê: "Jou sondes is vergewe!" Ek maak nie die afleiding dat ek God se kind is omdat ek tog wel twee maal op 'n Sondag in die kerk kom nie. Of omdat ek lank reeds lidmaat van die kerk is nie.

In Sondag 1 van die Kategismus bely ons baie duidelik: dit is slegs die Here self wat my deur sy Heilige Gees van hierdie ewige lewe kan verseker. En dit is deur die Woord van die Here! Die Woord wat aan julle verkondig is en verkondig word! (1 Petrus 1:25). En as die evangelie ook aan my verkondig word, dan mag en dan hoef ek nie te twyfel of ek ook aan Christus mag behoort nie. Dan mag ek dit werklik glo. Want die woorde wat tot ons kom, is nie sommer mensewoorde nie, maar die ewige Woord van die Here. En Hy is die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Hy bedoel wat Hy sê. Al voel jy asof jy dit nie werd is om sy eiendom te wees nie. Hy het jou gekoop en daarom mag jy aan Hom behoort! Ek moet nie uit vrees vir toekomstige mislukkings van my eie kant wegbly van die Here nie. Want ons bely dat Hy die Een is wat getrou is. Daarom, dank God dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Verlosser. As ek my eie ontrou sien, wat 'n troos is dit om te weet ek behoort nie aan my eie onbetroubare self nie, maar aan 'n getroue Verlosser. Sy Woord is 'n ewige Woord wat altyd vas bly staan. En die prys waarmee jy gekoop is, is nie verganklike goed soos silwer of goud nie. Die prys is betaal deur die bloed van die ewige Messias, Hy wat reeds in die Ou Testament aangekondig is deur die profete; hulle wat die tyd wanneer Hy sou kom, en Wie Hy is, nagespeur het. Hy, wat nou aan ons verkondig word in hierdie laaste dae. Deur sy bloed is ons gekoop. Nie deur 'n aardse prys nie, maar deur Een wat uit die hemel gekom het om sy liggaam vir ons te gee as 'n offer. Hoop daarom volkome op die genade van God! (1 Petrus 1:13).

En dit mag vir jonk en oud. Moenie die bloed van Christus waarmee Hy sy gemeente gekoop het, geringskat nie, jongmense, want Christus het ook vir julle gekoop om deel te mag wees van sy gemeente. Die Here God het julle deel gemaak van sy gemeente. Moet daarom nie die bloed gering ag nie. Vertrou op Christus, ook wanneer jy jonk is. Ook jy mag weet dat jy, gelukkig tog maar, nie aan jouself behoort nie, maar aan Christus. Al is daar so baie ander sake en persone wat aanspraak maak op jou lewe en aandag, en al het jy soveel planne vir jou lewe, wat nog blink voor jou lê, weet maar dat jy deur die bloed van Christus gekoop is en daarom nie aan jouself behoort nie, maar aan Hom wat jou met sy bloed gekoop het.

Hy Bewaar My🔗

Die wonderlike troos, wanneer ons deur die bloed van Christus gekoop is, is dat ons mag weet: Hy bewaar my en Hy doen dit op so ’n manier dat nie een haar van my hoof val sonder die wil van my hemelse Vader nie. Selfs alles wat met my gebeur dien uiteindelik tot my geluk en troos en verlossing. Kyk maar hoe pragtig skryf die apostel Petrus oor hierdie beskerming van die Here, as hy sê: Selfs wanneer dit nodig is dat ons nou vir 'n kort tydjie in allerhande beproewinge bedroef word, maak dit ons bly (1 Petrus 1:6). Al die beproewinge waardeur ons dikwels moet gaan, maak die beproefdheid van ons geloof bekend. Dit suiwer ons geloof. En daarom mag ek in al my beproewinge weet: gelukkig behoort ek nie aan myself nie, maar aan Een wat magtig is. Een wat so magtig is dat Hy al hierdie dinge tot my voordeel gebruik.

Want ons geloof is baie kosbaarder as goud en ander metale wat deur vuur gelouter word. Want wanneer ons geloof die beproewinge deurstaan het, dan dien dit tot lof en eer en heerlikheid van Christus op die dag van sy wederkoms. En is dit nie die grootste begeerte van elkeen wat aan Christus behoort nie?! Ons wil tog sien en hoor en weet dat sy ewige Naam verheerlik sal en kan word. En dit sal verheerlik word, want die skat wat vir ons weggebêre word, word nie hier op aarde bewaar in menslike krag nie. Dit leer ons uit die Woord van die Here. Ons erfenis word in die hemel bewaar, waar roes en mot nie kan kom nie. En daar word dit in die krag van God bewaar (1 Petrus 1:5-6). Ons erfenis is onverganklik, onbesmetlik en onverwelklik (1 Petrus 1:4).

Wat 'n troos dat ons nie aan onsself behoort nie! Maar aan Een wat ons verlossing in die hemel bewaar. Ons word bewaar, want Christus is in die hemel. Hy is die Een in Wie al ons skatte weggebêre word. Aan Hom mag ons behoort. By Hom sal ons altyd veilig wees. In alles wat met ons gebeur, bewaar die Here ons nie alleen nie, maar Hy gebruik dit ook tot ons voordeel. Hierdie Christus staan gereed om geopenbaar te word met al sy heerlikheid. Moet daarom nie moeg word nie, skryf Petrus: "Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter" ... (1 Petrus 1:13). In Afrikaans sou ons kon sê: trek julle sokkies op, moenie moeg word nie, volhard, gaan aan! Want Christus is gereed om in al sy heerlikheid, met al die rykdom wat Hy vir ons wil gee omdat ons aan Hom behoort, geopenbaar te word in die dag van sy heerlikheid, wanneer Hy weer kom.

Leef deur die Heilige Gees🔗

En daarom, as ek nou leef uit die besef dat ek nie aan myself nie, maar aan Christus behoort, dan leef ek ook voortaan nie meer vir myself nie. Dan gaan lewe ek nou ook vir Christus. Wanneer ons deur die Gees lewe, gaan ons ook nou volgens die Gees wandel (Galasiërs 5). Soos gehoorsame kinders, leef ons ook nou vir dié Een, aan Wie ons behoort. Daarom kom die oproep van die eerste brief van Petrus na ons toe: "Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Petrus 1:16). Hy wat ons geroep het, is heilig. Daarom moet ons soos Hy wees.

En dit doen ons nie uit eie krag nie. Ons mag volkome hoop op die genade wat ons deel geword het, deurdat ons aan Christus behoort. Ons hoop nie alleen op Christus vir die afwassing van ons sondes en dan leef ons die nuwe lewe uit eie krag nie. Die Here self maak my van harte gewillig en bereid om voortaan deur die Heilige Gees vir Hom te lewe. Dit is juis deur die Heilige Gees wat ons harte en siele gereinig word (1 Petrus 1:22). Petrus noem die voorbeeld van hartlike broederliefde. Wanneer ek aan die Here behoort, dan sal ek ook in liefde leef vir die ander wat aan die Here behoort. En dan is ek lief vir hulle, nie omdat hulle noodwendig deur my gekies sou word nie. Maar hulle is ook gewas in die bloed van Christus. Hulle behoort ook aan Hom. Sal ek dan wat gekoop is, die ander wat ook duur gekoop is, afwys, hulle nie ook liefhê nie?

Volhard Hierin!🔗

Op hierdie manier, deur die Heilige Gees wat ons nuut maak, kan ons volhard in die geloof dat ons aan Hom behoort. Hierin sal ons ook volhard as ons maar gedurig oorweeg hoe groot ons eie sonde en ellende is. Maar ook tegelykertyd hoe wonderlik die verlossing is wat die Here vir ons wil gee. En as ons daarmee saam gedurig bly oorweeg hoe ek die Here dankbaar mag wees en kan wees vir die verlossing wat Hy vir my gee.