4 bladsye.

Sondag 10 Heidelbergse Kategismus

Lees: Genesis 22🔗

Ons Vader is teenwoordig met SY krag🔗

God se voorsienigheid — wat presies word daarmee bedoel? Ons glo dit is God se almagtige en oral teenwoordige krag. Ons Vader is in alles wat op aarde gebeur besig om sy mag en krag en teenwoordigheid en heerskappy te bewys. In alles. In die grootste natuurramp wat die wêreld tref, wanneer daar 'n aardskudding is en duisende in een oomblik sterf, tot die kleinste dinge in my lewe. God bemoei Hom werklik met die skepping wat Hy gemaak het. En dan nie as 'n gereelde Besoeker in sy skepping nie, of as Een wat by geleentheid kom seker maak dat alles nog nie totaal tot niet gegaan het nie, wat as 't ware nog maar net kom kyk of die skip op koers is.

Nee, van die begin van die skepping van die wêreld tot vandag, is die Here self besig om alles met sy almagtige krag en teenwoordigheid so te regeer dat alles tot sy volmaakte doel met die aarde sal dien. God is met ons besig in die grootste krisis van my lewe, maar ook in die kleinste voorspoed en teëspoed wat my tref. Vir baie van ons voel dit egter vandag asof God nie betrokke is by wat in my lewe gebeur nie. Ons dink dat dit vroeër makliker was vir mense om God se hand in alles te sien. Maar met ons sou dit nou anders wees. Ons geleerdheid het ons veel meer laat verstaan van weerpatrone en siklone. Ons weet meer van die osoonlaag, van kieme en virusse wat ons siektes veroorsaak. Ons is tog nie meer so naïef om te dink dat dit God is wat reën en droogte stuur nie. Alles het vir ons verander, hoe meer ons die sogenaamde "natuurwette" verstaan en dikwels selfs begin manipuleer het.

God bestaan vir baie vandag nog bloot net in die dinge wat vir ons in die eerste plek onverklaarbaar en ook in die tweede plek onbeheerbaar geword het. God regeer dan met sy voorsienigheid oor net 'n klein gedeelte van ons lewens en vir die res is ons elke dag besig om self vir alles te sorg. Ek weet hoe om dit te verklaar, ek weet hoe om dit te regeer, ek weet selfs hoe om dit te beheer, tot my voordeel. Op hierdie manier word God sommer maklik uit ons lewens weggedruk. Ons lewe word al hoe meer net soos dié van die ongelowige wêreld, met die uitsondering van enkele erkennings dat God nog besig is met ons in sy skepping.

Dit alles klink so anders as die geloof waarvan ons in die Bybel hoor. In Psalm 104, wat 'n loflied is van sy heerskappy oor sy skepping, hoor ons hierdie woorde: "Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed — wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek ..." (Psalm 104:1,2). Dit is 'n pragtige psalm wat aan God die eer en erkenning gee in alles wat op aarde gebeur. Daar is so baie dinge wat Hy gemaak het en nog steeds doen. En tog is dit alles een groot geheel wat deur God onderhou word. Niks in die skepping gebeur volgens ewige natuurwette nie, asof God nie daarop sou kon ingryp en dit verander nie. Die Here God hou Homself gedurig met sy skepping besig. Nie as 'n Besoeker by geleentheid nie, maar as die Een wat dit alles bestuur, wat dit beheer en regeer. Die Here stuur die water, lees ons in Psalm 104, in die riviere; Hy deurdrenk die grond uit sy hemelse waterkamers. Hy laat die gras uitspruit vir die diere, versadig die bome, en Hy gee brood aan die mens. Hoeveel reëlmaat daar ook in die skepping en in die verloop van elke dag is, nogtans word God in Psalm 104 erken as die God van Israel wat oor alles regeer ter wille van sy volk. Daarom hoor ons die roep van vers 24 in dié Psalm: "Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!"

Dít is geloof in ons hemelse Vader. Hier word ons geleer hoe ons moet staan teenoor alles wat ons elke dag waarneem en wat met ons gebeur. Dit alles moet ons weer tot aanbidding bring! En dit is uiteindelik waaroor dit in Sondag 10 gaan. Ons belydenis oor God se voorsienigheid is 'n lied van aanbidding op God se ewige krag en heerlikheid, teenwoordigheid en heerskappy. Sy onophoudelike sorg vir sy skepping en kinders. Vandag word daar egter nie meer gepraat van God se almag nie. Sy sogenaamde "weerloosheid" kom eerder ter sprake by baie mense. God is nie die Een wat as regeerder optree nie; Hy tree eerder terug uit die wêreld soos Een wat magteloos is, en dan is Hy die God wat eintlik afwesig geword het, die Groot Afwesige. Volgens hierdie siening is God eerder die Een wat saam met ons kom ly het. God het weerloos geword. Magteloos, as ons dit so verstaan.

Maar ons glo nie dat God afwesig is nie. Ons bely juis in Sondag 10 dat Hy aanwesig is. Hy is oral met sy almagtige en teenwoordige krag besig. In die skepping en in dit wat elke dag met my gebeur, het ek met God te doen. God is daar wanneer my kind gebore word; God is daar wanneer daar siekte in die huis is; wanneer ons sukkel om die begroting te laat klop; God is daar wanneer ek iemand op skool ontmoet wat ek aantreklik vind of as goeie vriend sou wou hê. Niks, maar dan ook niks, gebeur toevallig nie.

Ons Vader regeer in alles🔗

Laat ons nou ook in die tweede plek oplet dat ons Vader ook in al hierdie dinge regeer. Dat God in alles teenwoordig is, sê nog nie alles nie. Dit kan wees dat God maar bloot by ons is in alles wat gebeur, as Een wat saam met ons voel in al ons smart, as die magtelose Een wat net langs ons kom staan, soos baie teoloë dit vandag wil hê. God is uiteindelik die gekruisigde God. Hy is magteloos saam met ons. Wel teenwoordig, maar magteloos. Maar die Woord leer ons dat God in sy teenwoordigheid werklik in alles regeer. In die heel gewoonste dinge van die lewe. Nie maar net in die groot wendings in die geskiedenis van die mensdom of in my persoonlike lewe nie. Of by die aangrypende dat daar 'n kind in ons huis gebore word nie. Kyk maar na die gewone dinge wat genoem word in Sondag 10. God regeer in die groei van die gras, in reën en droogte, in vrugbare en onvrugbare jare, in voedsel en drank, in gesondheid en siekte, in jeug en ouderdom, in rykdom en armoede. Kortom, alles kom na ons toe nie per toeval nie, maar uit ons God se Vaderhand. En daarom is dit geen gedweep met ons geloof om God se hand te erken in letterlik alles wat met ons gebeur nie. Ons sê hiermee nie dat ons dus alles verstaan wat in ons lewens plaasvind nie. Hoe kan ons?! Psalm 139 sê dat die Here selfs al met ons besig is in die skoot van ons moeder. Wanneer ek nog maar 'n "ongevormde klomp" is! Daar is God al besig met hoe ek gevorm word, daar gee God my persoonlikheid al gestalte. Toe het God sy hand reeds op my kom lê. Dit is Hy wat bepaal het in watter huisgesin ek gebore sal word.

Hoe belangrik is dit nie ook vir ons jongmense om hieraan vas te hou nie. Ons voel soms asof ons presies die verkeerde ouers het. Juis hierdie man en vrou wat Pa en Ma genoem word, verstaan my nie. Hoe kan ek tog met hulle regkom!? Die God wat ons die lewe gegee het, het in sy Vaderlike goedheid my ook in hierdie spesifieke huis geplaas. Want Hy regeer. Dit het nie per toeval gebeur nie.

Waarom doen die Here dit alles so? Omdat die Here op hierdie manier in ons lewe Koning wil wees. Die Here bestaan nie op aarde as 'n handlanger van ons begeertes en om uitvoering aan ons planne te gee nie. Hy is besig om sy doel te bereik met jou en my lewe en met die hele wêreld. Hy wat alles gemaak het, gaan voort as die magtige Koning om alles te regeer, sodat dit kan uitkom by daardie spesifieke doel waarvoor Hy ook alles aanvanklik gemaak het. God is besig om te werk en te bou aan die nuwe hemel en die nuwe aarde. Hy is besig om te regeer en te werk aan die Koninkryk van Christus. En wanneer Hy met ons elkeen besig is, dan is dit sodat Hy 'n plek vir sy kinders gereed maak rondom sy troon in die koninkryk van die hemel.

Ons Vader kan vertrou word🔗

Ons gaan nou in die derde plek hierop let, dat die God wat so teenwoordig is, wat op hierdie manier regeer in ons lewe, ook as ons Vader vertrou kan word. Is alles wat ons nou gehoor het, net iets waarvan ons maar met belangstelling kennis moet neem? Die vraag is egter: bepaal dit die manier waarop ons lewe? Ja, seker, want hierdie genadige heerskappy van die Here moet juis deur ons erken word. Ek moet as kind van God daaronder gelowig kan gaan lewe. Soos Abraham se geloof in God wat in alles voorsien, werklik ook sy hele lewe bepaal en beheers het. Sy geloof in God se voorsienigheid het hom nie maar laat leef soos iemand wat die gebeure van elke dag oor hom laat spoel het nie. Ons geloof in God se voorsienigheid sal juis elke keuse en besluit wat ek elke dag neem, ten volle bepaal en beïnvloed. Ek gaan juis begin insien dat die Here in alles besig is met my, elke dag, en wel op so 'n manier dat ek meer en meer die liefde en sorg van Hom, as 'n genadige Vader, vir my kan verstaan. In alles is Hy besig om my geloof in Hom te versterk en my aan te moedig in die geloof.

God se voorsienigheid is nie maar iets waarvan ek net kennis neem nie, maar plaas my juis voor die mees radikale keuses van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid. Ons gehoorsaamheid en verantwoordelikheid word nie tot niet gemaak deur God se voorsienigheid nie. Inteendeel. Wanneer ek glo in God se voorsienigheid, sal ek begin sien dat ek in die kleinste besluite van my lewe gekonfronteer word met my geloof en gehoorsaamheid aan die Here. Daar is geen aspek van my lewe waar God as 't ware uitgesluit kan word nie; waar geloof of ongeloof uit my lewe uitgesluit kan word nie. Veral nie in die dinge wat vir my die moeilikste is en, ja, selfs die dinge wat onmoontlik lyk nie. In alles in my lewe sal ek besef dat ek met God te doen het en dat dit Hy is aan Wie ek kan en moet gehoorsaam wees.

Soms dink ons dat die noodlot ons in so 'n moeilike omstandigheid gebring het, dat ons in sulke omstandighede nie anders kan as om aan God ongehoorsaam te wees nie, sy wil en wet opsy te skuif en self planne te gaan beraam, sodat dinge tog reg sal uitwerk. Maar dit is juis wanneer ons in God se volkome voorsienigheid gaan glo, dat ons in die moeilikste omstandighede nie ons eie koppe gaan volg nie, maar in alle eenvoud God gaan gehoorsaam. Want Hy wat my liefdevolle Vader is, sal ook vir die uitkoms voorsien.

God kom vra nie van ons insig in sy beskikking oor ons lewe nie. Hy vra wel van ons vertroue. Soos Abraham in die moeilikste van omstandighede gebring is deur God self, so word ons ook deur God in moeilike omstandighede gebring. God het Abraham se geloof op die proef kom stel deur hom in 'n "skaakmat"-situasie te bring, soos ons in Genesis 22 gelees het. Abraham, gaan offer jou seun, Isak, die een deur wie Ek beloof het om die verlossing vir jou en jou nageslag te bewerk. Kan die Here in hierdie omstandighede vertrou word? As Isak sterf, dan lyk dit asof God sy woord van genade en liefde en sorg vir ons verbreek. Want deur Isak sou die Here sorg vir die toekoms van sy kerk op aarde. Van Abraham word in hierdie omstandighede vertroue in God gevra. Gewillige vertroue.

Kom ons kyk wat doen Abraham. Abraham het vroeg in die môre klaargemaak en sy seun saam met hom geneem om te vertrek na die plek wat God aan hom gewys het. Op die derde dag het hy die plek gesien wat God vir hom gewys het en sy diensknegte daar gelaat, terwyl hy alleen saam met Isak verder gegaan het. Met die hout op Isak en die vuur en die mes in Abraham se hand, het hulle na die offerplek gegaan wat God hom gewys het. Wat 'n moeilike situasie! Op die oog af het die "noodlot" vir Abraham in 'n posisie gebring waaruit hy geen hoop op die toekoms weer sou kon kry nie. Dit lyk selfs asof God Homself teëspreek. In Isak sal al die nasies van die aarde geseën word. En nou sê God: Offer vir Isak. Hoe kan God hom in 'n situasie bring waarin Isak moet sterf? Isak moet bly leef!

Maar Abraham gaan in volle sekerheid verder. Hoe kan dit? Dit kon omdat Abraham in dieselfde God geglo het wat die ewige Vader is van ons Here Jesus Christus. Want toe Isak aan hom sê dat daar wel brandhout en vuur is, maar geen lam om te offer nie, kon Abraham in volle sekerheid verder gaan, wetende dat die Here ook in hierdie omstandighede by en met hom is. Abraham antwoord vir Isak: "God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun" (Genesis 22:8). God sal voorsien. Die Here was nie die groot "afwesige" in sy lewe op hierdie oomblik wat lyk asof daar geen uitkoms is nie. Hier sien ons in Abraham 'n vaste vertroue in ons hemelse Vader wat deur sy almagtige en oral teenwoordige krag alles uit sy Vaderhand sal voorsien. God is nie soos daar in die poplied gesing word, "watching us from a distance" nie. 'n God wat van 'n afstand staan en ons dophou om te sien hoe ons dinge laat gebeur nie. In sy genade en liefde kom Hy juis in al ons omstandighede baie naby ons.

In hierdie "onmoontlike" situasie van Abraham vertrou hy in die God wat genadiglik by hom is. By hierdie God voel Abraham veilig. In hierdie beproewing is hy geduldig en probeer nie deur eie krag te gryp na 'n oplossing om Isak in die lewe te laat bly nie. Die oënskynlik "onoorkombare" situasie probeer hy nie nuwe lewe inblaas nie. Hy is ook nie maar "fatalisties" besig om die verloop van gebeure oor hom te laat spoel nie. Wat moet gebeur, my seun, moet nou maar gebeur. Die lewe is tog maar 'n geval van sommige wen en ander verloor. Nee, dit hoor ons nie by Abraham nie; maar: God sal voorsien! Vertrouend op God se voorsienigheid gaan hy juis gehoorsaam doen wat God van hom in hierdie omstandighede vra. Geduldig wag hy in teëspoed.

En uiteindelik sterf Isak nie onder Abraham se mes nie. God verhoed dat hy sy seun offer, en toe Abraham sy oë opslaan, sien hy 'n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. Die ram kon in die plek van sy seun geoffer word. Dan lees ons hierdie aangrypende woorde: "En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word" (Genesis 22:14).

Sien u die geweldige geloofsvertroue waarmee ons ons hele lewe aan God kan oorlaat? Hy is nie ver van ons nie; Hy is naby! Hy is nie besig om magteloos toe te kyk nie; Hy is besig om te regeer. Hy is nie die Een op Wie ons nie kan vertrou nie, wat sy eie Woord teëspreek nie. Hy is juis die Een vir Wie ons kan en moet vertrou. Daarom kom God dan ook in hierdie omstandighede na Abraham en bevestig die Here sy verbond met Abraham en sy nageslag. Hy sê: Abraham, Ek sweer by Myself, Ek sal jou en jou nageslag ryklik seën (Genesis 22:16, 17). Dit is hierdie God wat ook vandag met sy verbondsteken na verbondskinders kom. 'n Geweldige troos vir ons as ouers dat God sal voorsien. Watter teëspoed ook al voorlê, ons kan maar geduldig wees. Watter moeites daar ook al is, ons kan van God alles verwag. En leer dit vir julle kinders, sodat hulle in hierdie God kan glo! In voorspoed met ons kinders, moet ons dankbaar teenoor die Here wees. In alles gelowig. Daarom kan ons met so 'n vaste vertroue verder gaan dat ons weet dat geen skepsel ons sal kan skei van die liefde wat God vir ons in Christus Jesus het nie. So 'n vaste vertroue kan ons op ons Vader hê. Geen skepsel kan ooit sonder die wil van ons Vader roer of beweeg nie.

Laat ons daarom op Hom vertrou. Gelowig met Hom leef soos Abraham, die vader van al die gelowiges; hy wat op God vertrou het dat Hy sal voorsien. Hier verdwyn alle twyfel en onsekerheid en angs en vrees. Hier bly alleen geloof en liefde in en vir ons God en Vader.