5 bladsye.

Sondag 12 - Vraag 31: Heidelbergse Kategismus

Lees Hebreërs 5:1-10

Die Kneg van die Here 🔗

Die naam "Christus" — dit is veel meer as maar net 'n noemnaam. Jesus, wat ons Verlosser is, word veral as Verlosser geken as die Een wat die Christus is. En daar hoor ons dit alreeds. Jesus is "die Christus". Hierdie naam is 'n baie spesifieke aanduiding vir Wie Jesus is en wat Hy kom doen het. "Christus" beteken "Gesalfde". In Hebreërs het ons saam gelees dat Jesus, ons Hoëpriester, nie uit Homself die waardigheid op Hom geneem het om ons Hoëpriester te word nie; Hy het nie self besluit om Homself vir ons te offer nie. Wat sou dit dan beteken? Het Jesus Homself nie vir ons geoffer omdat Hy ons liefgehad het nie? Het ons Jesus dan nie leer ken as "die Een wat ons liefgehad het en Homself vir ons oorgegee het" (Galasiërs 2:20) nie?

O ja, die Here Jesus het Homself vir ons gegee uit sy liefde. Maar weet u waaruit word sy liefde veral duidelik? Hy het sy liefde aan ons bewys deur Homself beskikbaar te stel om die taak uit te voer waarvoor Hy, ter wille van ons, deur die Vader AANGESTEL is. Jesus het nie na die aarde gekom as ons Kneg nie. Hy het gekom as die Kneg van die Here, soos ons telkens lees in Jesaja se profesieë. Hy het 'n taak en opdrag gehad om te kom uitvoer. Maak dit sy liefde vir ons minder? Nee, dit maak sy liefde soveel duideliker, soveel meer intens. Want die opdrag wat Hy kom uitvoer het, kan en mag niemand anders doen nie, omdat hy nie daarvoor aangestel is nie! Omdat hy nie daarvoor geroep is nie!

Die naam "Christus" wil ons aandag daarop vestig dat Jesus deur God self tot die taak as ons Verlosser geroep is. Dit is nie 'n waardigheid wat Hy vir Homself geneem het, asof Hy 'n indringer sou wees nie. Hy is geroep, net soos Aäron en sy seuns geroep is as priesters. So het Christus ook Homself nie verheerlik om vir ons 'n Hoëpriester te word nie. God het Hom verheerlik en vir Hom gesê: "U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer" (Hebreërs 5:5-6). 'n Heel moeilike begrip vir ons om te verstaan. Maar as ons dit sien in die konteks waarin ons dit gelees het in Hebreërs 5, dan lyk dit of die woord beteken dat Hy deur God geroep is, deur God aangestel is, om die taak van ons verlossing te volbring. Hy, al was Hy die Seun van God, moes gehoorsaamheid "leer". Hy moes die taak wat op Hom gelê is, gaan uitvoer. Al was en is sy werk vir ons uit liefde, kom sy liefde vir ons juis hierin tot uitdrukking, dat Hy sy werk vir ons verlossing kom doen het uit nederige gehoorsaamheid. Daarin het Hy gely, maar daardeur het Hy dan ook vir ons 'n volmaakte Verlosser geword. Een in Wie ons ook volmaak kan wees. Die woord "Christus" wil dus sê: Jesus was die Kneg van die Here. Dit was ons eerste punt.

Hy was Verag en Ons het Hom nie Geag nie🔗

Ons Verlosser het gekom as Dienskneg. Nie ons Dienskneg nie, maar Kneg van die Here. Sodat ons verlos kon word om ook weer diensknegte van die Here te word. Jesus het 'n Dienskneg geword om ons weer tot gehoorsaamheid te bring. Van hierdie "Kneg" vertel die profeet Jesaja ons baie. Hierdie Kneg van die Here "het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie" (Jesaja 53:2). En dat ons sou sê: "Hy is ons Verlosser" nie. Hierin sien ons sy liefde vir ons. Hy het 'n taak op Homself geneem wat nie begerenswaardig was nie. Nie 'n taak wat aansien onder mense opgeëis het nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, deur mense vermoor selfs, 'n man van smarte en bekend met krankheid. Een van wie 'n mens liewer die gesig wegdraai. Hy was verag en ons het Hom ook nie geag nie.

Nogtans het Hy deur hierdie taak wat aan Hom gegee is, ons krankhede op Hom geneem. Ons smarte het Hy gedra. Hy was ter wille van ons deurboor, want Hy het 'n taak gehad om uit te voer. Dit is wat dit beteken dat Jesus ook die "Christus" genoem word. Hy het sy taak gehoorsaam kom uitvoer as Kneg van die Here. Sodat ons werklik in Hom kan glo; sodat ons nie hoef te twyfel nie en nie hoef te wonder: "Is Hy ons Verlosser?" nie. Hy is die Een wat die taak, waartoe Hy geroep was, uit liefde vir ons kom doen het. Hy is waarlik God se Gesalfde vir ons. Hy is deur God die Vader bestem en aangestel, toe Hy met die Heilige Gees gesalf is. Dit is wat salwing beteken. Ons glo daarom nie in Jesus omdat Hy homself uit "vrye" liefde vir ons gegee het nie. Daar bestaan nie so-iets as vrye liefde nie. Hy het geen voorkoms dat ons Hom sal begeer nie, sê die profeet Jesaja. Ook gedurende sy tyd op aarde het mense Hom verag. En tot vandag toe is die verkondiging van Jesus se kruis vir mense dwaasheid. Maar ons glo in Hom, want Hy is die Een wat deur die Vader aangestel is as ons Priester en ons Profeet en ons Koning.

My Seun in wie Ek 'n Welbehae het🔗

Ons gaan nou vervolgens let op hierdie Seun in wie God 'n welbehae het. Hierdie salwing deur God kan ons nie sommer minag nie. Dink maar aan die geweldige ontsag wat Dawid vir koning Saul gehad het. Want Saul was deur Samuel, die profeet van die Here, as koning oor Israel gesalf, aangestel, geroep. Daarom het Dawid, selfs nadat hy self as koning gesalf was, hierdie koning Saul met soveel gewilligheid gedien. Later word die seun van Saul, Jónatan, die getroue vriend en dienskneg van Dawid, nadat Dawid deur die Here gesalf is as koning. Jónatan erken die roeping van die Here en verkies om vir Dawid te erken as koning, terwyl nog niks daarvan te sien is nie. Want wie is hierdie Dawid vir wie Jónatan erken as koning? Op daardie stadium was Dawid 'n voortvlugtige en later 'n bendeleier, wat gewoon het onder die Filistyne en hom gedra het soos 'n kranksinnige. Maar Jónatan erken hom, want hy het geweet die Here het vir Dawid gesalf, hom aangestel as koning. By Dawid alleen, het Jónatan erken, sou daar hoop vir hom en sy nageslag wees. Dawid was God se keuse — wie sou dan 'n ander wou kies?

So is ons Here Jesus deur die Vader gekies. Aangestel as ons Verlosser. By wie anders as by Hom sou ons dan wou wees? Dink maar aan die woorde van Petrus nadat Jesus hom en die ander dissipels gevra het of hulle Hom nie ook wil verlaat soos al die ander nie (Johannes 6). Petrus het geantwoord: "Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe" (vers 68). By Christus is die ewige lewe. Waarheen sal ons dan gaan? Hulle het gesien dat Hy gesalf is en het dit geweet. Sommige van hulle was eers dissipels van Johannes die Doper wat by was toe Jesus gedoop is. Hulle het die wonder van Jesus se salwing belewe. Toe Jesus in die Jordaan gedoop is, het die hemel vir Hom oopgegaan en die Gees het soos 'n duif neergedaal en op Hom gekom (Matteus 3:16-17). Uit die geopende hemel het daar 'n stem gekom wat sê: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het". Ek wys Hom vir julle aan; luister na Hom. Dit is my Seun, wat Ek gekies het vir julle. Dit het Petrus geweet, dit het Andreas geweet. Here, waarheen anders sal ons dan gaan, waarheen anders as na U? By U is die lewe.

By wie anders sou ons dan wou wees, as by hierdie Jesus? Dit is wat die woord "Christus", Gesalfde, vir ons wil leer. Hierdie Jesus is deur God self aangestel. Hy is deur God geroep as ons Verlosser. Deur Hom kan jy na die Vader gaan. Maar Jesus se salwing beteken ook dat Hy bekwaam gemaak is vir die werk. Onmiddellik na Jesus se salwing deur die Gees, word Hy dan ook na die woestyn gelei om daar deur die duiwel versoek te word. Dan lees ons van die geweldige oorwinning van die Here Jesus oor satan, na sy salwing. Sy openbare werk vir ons begin nie sonder die salwing van die Gees nie. Wanneer die dissipels sou twyfel of Hy werklik die beloofde Messias is, dan kon hulle telkens weer herinner word aan sy roeping deur die Vader tot sy werk — dit is my Seun wat Ek gekies het, gegenereer het, vir julle aangewys het.

Gesalf as Koning, Priester en Profeet🔗

Ons gaan nou vervolgens daarop let dat Hy vir ons gesalf is as Koning, Priester en Profeet. Jesus is gesalf deur die Heilige Gees ter wille van ons. Hy is nie ons Kneg nie, maar Hy gaan sy werk in gehoorsaamheid doen ter wille van ons! Om vir ons te wees Koning, Priester en Profeet. In die Heidelbergse Kategismus bely ons dit dat Hy gesalf is tot ons "hoogste Profeet en Leraar". As ons dit wil verstaan, kan ons alleen maar gaan let op die eerste hoofstuk van die Hebreërbrief. "Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun" (Hebreërs 1:1), wat Hy aangestel, gegenereer het. Hierdie Seun is aangestel as erfgenaam oor alles. As ons wil weet wat in die testament van God vir ons staan, dan moet ons na Jesus luister. Soos wat die wolk van heerlikheid vir Jesus op die berg oordek het en daar 'n stem uit die wolk gekom het wat gesê het: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!" (Matteus 17:5).

So is die Here Jesus vandag nog ons hoogste Profeet, na Wie ons moet luister. Wat ek ook al wil weet oor die genade van die Here vir my, ek moet daarvoor na Jesus luister. Wanneer ek nog wonder of God my ook genadig sal wees, dan mag ook ek luister na die Seun van God, ons Here Jesus Christus. Hy wat gesê het dat Hy gekom het nie om regverdiges te roep nie, maar wel sondaars tot bekering. Hy wat gesê het: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee" (Matteus 11:28). Kom! Luister na Hom. Hy is gesalf daartoe. Hy het die reg om ons te roep en ons mag na Hom toe kom, wetende dat daar verlossing is. Want die Vader het Hom aangestel, die Heilige Gees het Hom gesalf. God Drie-enig wil ons red. Hy is erfgenaam oor alles. As ek in Hom glo, is ek mede-erfgenaam. Want hierdie Here Jesus is die Woord van God wat vlees geword het. Hy het die Vader aan ons kom bekend maak. Jesus as Christus is die groot Leraar van Israel. Hy kan sê dat niemand wat na Hom toe kom, ooit uitgewerp sal word nie.

Dit is Hy wat vandag steeds met ons praat deur sy Woord. Hy is die Een wat elke Sondag sy Woord verkondig laat word. Want dit is juis deur die dwaasheid van die prediking dat God elkeen wat glo, wil red. In die prediking hoor ons steeds nie die stem van 'n mens nie, maar die stem van ons enigste Leraar. Hy wat alleen maar die stem van 'n mens hoor, is horende doof.

Hierdie Jesus is ook gesalf as ons Enigste Hoëpriester. Dit is Hy wat ons met die eenmalige offer van sy liggaam verlos het en nou nog deur sy onophoudelike voorbidding vir ons by die Vader intree. Omdat Jesus 'n volmaak gehoorsame, geroepe Hoëpriester was, kon Hy vir ons sondes 'n volmaakte offer bring en ons daarom volmaak red deur sy een offer. Ons hoef niks daarby te voeg nie. Hy het vir almal wat Hom gehoorsaam is, wat na Hom luister, 'n bewerker van ewige saligheid geword deur sy een offer (Hebreërs 5:9). Hy bewerk dit. Eens en vir altyd!

Maar Jesus is steeds besig as Hoëpriester vir ons. Want Hy het nie opgehou om vir ons in te tree nie. Hy bid steeds vir ons. Ons het juis 'n Hoëpriester wat met al ons swakhede medelye kan hê (Hebreërs 4:15). Hy is in alle opsigte net soos ons versoek. Daarom kan ons met soveel vrymoedigheid na die troon van genade gaan om op die regte tyd gehelp te word. Hy voel saam met ons, lees ons in Hebreërs 5:2. Hy was self ook swak. Hy het bloed gesweet in Getsémané. En al het die beker toe nie by Jesus verbygegaan nie en al moes Hy toe vir ons sterf, kan ons juis daarom nou weet dat Hy altyd verhoor sal word as Hy vir ons bid! Want Hy bid op grond van sy eie volmaakte werk.

Maar ons het nog meer sekerheid dat die Vader Hom sal verhoor. Die Vader het Hom as ons Hoëpriester aangestel om vir ons by Hom te bid. Sal Hy wat Hom aangestel het vir ons, dan nou nie na Hom luister nie?! Die Vader wil na Hom luister ter wille van ons. Hy het sy geliefde Seun op dié manier vir ons gegee. Dat ons deur Hom na die Vader kan en mag gaan. Dit is waarvoor Hy aan ons gegee is. Hy is gesalf. Hy is die Christus. By niemand anders sal ons verhoor word nie. En niemand is meer gewillig om ons gebede te verhoor nie. Dink maar aan Sondag 52 van die Heidelbergse Kategismus, waar ons bely dat die Here meer gewillig is om ons gebede te verhoor as wat ons is om ons node vir die Here bekend te maak. Want Hy is 'n Vader wat ons liefhet. Hy het sy Seun aangestel, wat 'n volmaakte offer gebring het. Hy het Hom aangestel om nou nog vir ons te bid. Sal ons dan nie verhoor word as ons deur Hom na die Vader gaan nie? Kom na Hom, almal wat vermoeid en belas is en Hy sal vir jou rus gee. God het Hom aangestel. Vir sy kinders. Vir jou en vir my.

Maar Hy is ook nog ons "ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar". Want as ons uit eie krag by hierdie verlossing wil bly, dan gaan ons dit verloor. Maar Hy is aangestel as ons Koning. In Hebreërs 1:3 lees ons dat Jesus, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, gaan sit het aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Jesus het nie maar vir ons 'n versoening bewerk as Priester en dit aan ons oorgelaat om ons verlossing verder uit te werk nie, om nou self in eie krag te volhard nie. Hoe kan ons! Wie van ons kan maar een oomblik staande bly? Niemand nie. Daarom het die Here Jesus as Koning gaan sit aan die regterhand van sy Vader. Hy gaan regeer vanaf sy genadetroon. Uit sy genade, oor sy genade vir ons. Die verlossing wat Hy bewerk het, die bewaar Hy en regeer daaroor. Daarom word van hierdie Seun gesê (luister na die aangrypende woorde uit Hebreërs 1): "U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer" (vers 8); "... daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle" (vers 9). Hy is as Koning gesalf met vreugde-olie. Want Hy is 'n bewerker van ewige saligheid. 'n Saligheid wat vir ons vreugde gee en volmaak is in Christus. Mense, ons dink dikwels so: die Here Jesus het gesterf vir ons sondes, sodat ons nou verder in eie krag uit dankbaarheid kan gaan leef en hierdie verlossing vashou. Dat ons hierdie verlossing moet bewaar. Dit kan ons nie doen nie. Jesus is gesalf met vreugde-olie om hierdie vreugde oor ons verlossing ook vir ons te bewaar. Ons kan dit nie in eie krag vashou nie. Maar Hy is gesalf as ons Koning. Daarom gaan Hy ons deur sy Woord en Gees ook by hierdie verlossing bewaar. Dit gee vreugde! Nie 'n halwe baster-vreugde, omdat ons nog dink ons moet uit eie krag bydra, nie. Wat wil u bydra? Sal Hy wat vir ons sondes betaal het, dan nie ook hierdie saligheid vir ons beskerm en bewaar nie? Of word dit aan ons oorgelaat? Ons verslyt soos 'n kleed, maar ons Koning bly vir altyd. Sy vreugde-olie gee ons vreugde. Dit gee ons volkome rus in en by Hom, en daardeur vreugde. Daar kom ons vreugde vandaan! Deur die geloof. Hierdie Jesus is deur die Vader aangestel om ons totale verlossing te bewerk; daarvoor is Hy gesalf. Met vreugde-olie om vreugde te gee. Nie vrees nie. Nie angste nie. Buite Hom is daar alleen maar angste. Maar in Jesus Christus is daar alleen maar vreugde.

Koninklike Priesterdom wat Sy Deugde Verkondig🔗

Laat ons nou in die laaste plek daarop let dat Hy, wat Christus genoem word, ons nou ook roep. Hy roep ons as Christene. Want ons is 'n koninklike priesterdom wat sy deugde verkondig. As ons deur die geloof in Jesus Christus leef, dan word ons ook Christene genoem, so bely ons in die Kategismus. Want dit is ons erenaam. Christene! Ons word Christene genoem omdat ons deur die geloof deel het aan Christus! Deur die geloof in Hom lewe ek nou weer die lewe waartoe ek deur God van die begin af geroep en verplig is as mens. Soos wat Jesus as Christus aangestel is met 'n geweldige taak en roeping, word ons ook nou geroep, aangestel tot 'n nuwe taak, 'n nuwe roeping onder Jesus Christus. Want deur hierdie Christus word ons ook weer dag na dag vernuwe na sy beeld en daardeur tot die beeld van God waarin Adam aanvanklik gemaak is. Ons hele lewensroeping word weer herstel (Kolossense 3:10).

Dikwels voel ons so onmagtig om in ons hele lewe te leef as kinders van God. Ons voel onbekwaam en so swak toegerus. En dan is dit nie dat ons nie bid vir God se gawes en krag in ons lewe nie. God se gawes kom na ons toe deur geloof. Hierdie geloof aanvaar eers die roeping wat ons van die Here het, die roeping waarmee ons gesalf is. Die vraag is: neem ons die roeping op ons? As gemeente van die Here is ons vir Hom geheilig. Ons is 'n koninklike priesterdom wat geroep is om sy deugde te verkondig. Hy het ons geroep uit die duisternis na sy wonderbare lig. Aanvaar ons hierdie roeping? Dan sal ons ook die bekwaammaking daarvoor van die Here ontvang, die krag om ons roeping uit te voer. Maar ons mor en kla dikwels dat ons nie krag het om die taak uit te voer nie, dat ons te swak is. Ek dink dit is dikwels omdat ons ons taak nog nie op ons geneem het nie. Die Here deel sy gawes uit op die pad van gehoorsaamheid aan die aanvaarding van ons roeping.

Die een wat sy roeping voor God gelowig aanvaar, hy mag ook werklik uit die geloof weet dat hy van God alles ontvang wat nodig is om sy roeping te vervul. So het Jesus Christus ook volmaak geword uit dit wat Hy gely het. Hy het in gehoorsaamheid sy roeping op Hom geneem en God het Hom ook bekwaam gemaak om sy roeping uit te voer. So word ons geroep om as profeet die Naam van die Here te bely. Dit beteken nie in die eerste plek dat ek teenoor 'n ieder en 'n elk sal getuig nie. As profeet sal ek in die eerste plek self luister na God se Woord. My eie roeping aanvaar om in geloof sy Woord te gehoorsaam. Om sy Woord met die hart te glo, en as profeet dit daarna met die mond te bely. Ek begin nie by my getuienistaak nie. Maar het ek al die roeping aanvaar om self te glo in die Woord van God? Dan sal ek kom tot 'n belydenis met my mond; dan kan ons uitgaan in die wêreld om te evangeliseer. Aanvaar ons gelowig die roeping? Die een wat sy roeping gelowig aanvaar, sal alles ontvang.

Daarvoor hoef ons nie groot wyses te wees nie. Sy koninkryk word gegee as geskenk. Ons kan dit ontvang — soos kinders. Vir wyses is dit verborge, maar vir kinders openbaar. En dan kan ons ook soos kinders begin praat van hierdie liefde van ons Vader vir ons. Nie gedwonge nie. Maar wanneer ek my roeping as profeet aanvaar het, kom die bekwaammaking om as profeet op te tree as gawe van God. Wanneer ek my roeping aanvaar, sal ek my nie meer skaam om Christen te wees en vir ander daarvan getuig nie.

As priesters gaan ons dan ook ons hele lewe as dankoffer aan die Here wy. Hierin lê ook geen swaarmoedige opgawe vir ons nie. Hy wat weet dat sy sondes hom vergewe is ter wille van Christus se volmaakte offer, gaan elke nuwe oggend weer krag van die Vader vra om te lewe tot sy eer. En wanneer ek geval het, dan bly ek nie lê in my ongehoorsaamheid nie, want ek weet dat as ons gesondig het, ons 'n Voorspraak by die Vader het, sodat ek vergifnis kan kry. Die hoofvraag is en bly of ons die genadige roeping aanvaar het om deel te wees van Christus se koninklike priesterdom deur die geloof in Hom. Vir my sal die lewe nou Christus wees. Volmaak in my gehoorsaamheid in Hom. Ons is tog nie in ons lewe besig om ons eie verlossing te bewerk nie. Ons kom bloot ons roeping as kinders van God na.

Maar in die laaste plek is ons ook nog konings. Ons kan met vrye gewetens lewe. Wat? Al doen ek nog sonde? Ja! Met 'n vrye gewete kan ek teen die duiwel en die sonde stry en oorwin. Ons het 'n skoon gewete ontvang deur die vergifnis van ons sonde. Daarom is ons koningskap 'n saak van geloof. Geloof in Jesus wat op sy genadetroon regeer oor alle sondemag en die duiwel. En wanneer ek lewe vanuit geloof in hierdie magtige Koning, sal ons met vrymoedigheid na die genadetroon gaan. En dan sal ons weet dat ons meer is as oorwinnaars deur Christus wat ons liefgehad het. Dan mag ek weet dat geen dood of magte of engele of siekte of swakheid my kan skei van die liefde van God wat daar in Christus is nie.