4 bladsye.

Sondag 17: Heidelbergse Kategismus

Lees 2 Korintiërs 4:16-5:10

Die Doel van Ons Lewe🔗

Hoe maklik lyk die lewe wat ons vandag lei, nutteloos. Waarvoor dien dit nou eintlik? Het dit werklik enige nut en sin? Is ons hele lewe nie maar eintlik soos 'n gebou wat stukkie vir stukkie afgebreek word nie? Paulus noem dit in 2 Korintiërs 4:16 ons uiterlike mens wat vergaan. As jy jonk is, het jy dikwels groot verwagtinge van die lewe en die toekoms. Alles lê en wink as 't ware vir 'n mens. Dit is asof 'n mens, soos die teorie van evolusionisme, verwag dat alles eintlik net kan verbeter. Dat daar, deur voortgaande verbetering en veredeling, 'n groot toekoms op ons wag. Die geskiedenis en die lewe is 'n proses waarin die wêreld, elke mens individueel en die hele mensdom, eintlik hoe langer hoe meer vooruitgaan en ontwikkel. Dit is egter 'n illusie.

Ons aardse tentwoning is besig om afgebreek te word. Ons is nie besig om hoe langer hoe meer heerlikheid te ontvang nie. Die beeld wat in 2 Korintiërs 5 gebruik word, is eerder dié van iemand wat besig is om uitgetrek te word, naak daargestel te word. Daarom ook, soos Paulus sê: ons sug. Want ons wil nie ontklee word nie, maar juis oorklee of beklee word met heerlikheid. En daarom lyk dit asof die hele lewe nutteloos is. Nadat ons as jongmens baie idealisties was en verwag het dat die lewe soos een opgaande kurwe op 'n grafiek is, ontdek ons dat die lewe eintlik 'n proses is waarin ons hoe langer hoe meer ontklee word van al ons heerlikheid, ons besittings. Talle mense ervaar dit as 'n krisis in hulle lewe.

Mans kom op 'n ouderdom van veertig of vyftig jaar en begin wonder wat hulle nog in die lewe kan bereik, en of dít wat hulle bereik het, nou eintlik alles die moeite werd was of is. Mense het gedink hulle bou aan 'n blink toekoms, net om geweldige terugslae te beleef. Bejaardes wat gedink het hulle het hul lewe lank hard gewerk en kan nou op hul oudag rus, ontdek dat hulle ewe skielik weer totaal afhanklik raak van ander mense se sorg. Toegewyde gelowiges wat gedink het die groei in die geloof is 'n opgaande lyn in oorwinnings oor die sonde, ontdek dat hulle op vyftigjarige ouderdom met dieselfde sondes 'n stryd moet voer as toe hulle jongmense was en as die jongmense van hierdie tyd. Nou sê die apostel dat hierdie lewe van ons vergelyk kan word met 'n tentwoning. En dit laat ons sug en ons voel beswaard. Maar ons word nie daar gelaat nie. Ons smag daarna dat die sterflike deur die lewe verslind kan word (2 Korintiërs 5:4).

En dit is nou juis hier dat die geweldige betekenis van Christus se opstanding uit die dood 'n onuitspreeklike troos vir ons is. Deur die krag van sy opstanding word ons tot 'n nuwe lewe opgewek. Wat is hierdie nuwe lewe? 'n Lewe met 'n opgaande kurwe op die lewensgrafiek? Nee, die nuwe lewe is 'n lewe nie van aanskouing nie, sê die apostel Paulus. Nie die lewe van wat ek kan sien en voel en kan ervaar nie, maar dit is die lewe van die geloof. Nou wandel ons nie meer deur aanskouing nie, maar deur geloof, sodat die verganklike deur die lewe verslind kan word. Iemand wat in Christus is, is nou werklik 'n nuwe skepsel, selfs al is dit 'n bedlêende gelowige wat oënskynlik vir die gemeente en vir die samelewing van geen "waarde" is nie. Selfs al is dit 'n verstandelik gestremde wat die Here in die midde van sy gemeente gee. Kyk, 'n nuwe skepsel — nuut in Christus, deur die krag van sy opstanding. Die dood, die vernietiging, verslind deur die lewe van Christus! In Sondag 17 gaan dit nie oor die verwagting dat ons ook met nuwe liggame uit die graf sal opstaan nie; dit is waaroor Sondag 22 handel — ek bely die opstanding van die liggaam, van die vlees. Dit gaan vandag oor die krag van Christus se opstanding wat nou reeds in elkeen van die kinders van God se lewe werk.

Christus se opstanding het die dood verslind. Ons sou ook kon sê: Christus se opstanding het die nietigheid van ons lewe verslind. En dan sien ons die krag van die lewe in die opstanding van Jesus, en die krag van die opstanding in die lewe van sy kinders.

Die Krag van die Lewe in die Opstanding van Jesus🔗

Het Jesus werklik opgestaan uit die dood? Dit is tog eintlik moeilik om te glo. Dood is mos nou maar eenmaal dood. Doodgaan is deel van die lewe. Elke lewe het 'n begin en 'n einde. So word vandag deur baie geredeneer. Hooggeleerde teoloë bedink dit. U kan dit in die media verneem. Die dood pas by die lewe. Elke mens is geprogrammeer om te sterf. En terwyl dit so is, moet ons ons nie bekommer oor Christus se opstanding nie. Laat ons dan eerder ons tyd goed gebruik terwyl ons lewe en laat ons die beste daarvan maak. Ons moet nie te veel nadink oor Jesus se opstanding uit die dood nie. Sy lewe moet eerder vir ons 'n inspirasie wees en sy lewensideale moet ons dryfkrag en motivering wees. So vertel mense ons. Op hierdie manier sal Hy wel opstaan in ons lewe en voortleef in ons lewensideale. So kan ons tog, heel filosofies, sê: "Jesus leef. Hy het opgestaan uit die dood."

Maar veral op hierdie manier word die werklike opstanding van Jesus vandag ontken en kragteloos gemaak. Op hierdie manier is daar geen nuwe lewe meer uit die krag van sy opstanding nie.

Het ons dan nog 'n evangelie om uit te lewe? Want as Christus nie opgestaan het nie, is alles nutteloos. En belangriker nog: is dit dít wat die Woord van die Here ons leer? Die evangelie leer nie vir ons dat Christus op hierdie manier, wat die filosofie ons wil laat glo, opgestaan het nie. Ons moet onmiddellik sê dat daar nêrens in die Bybel 'n beskrywing is van hoe Jesus uit die dood opgestaan het nie. Geen mens het dit gesien nie. Om die waarheid te sê, nie eers een van sy dissipels wou aanvanklik glo dat Hy weer uit die dood sou opstaan nie. Christus het wel aan hulle gesê dat Hy op die derde dag weer sou opstaan. Maar sy dissipels hou op die derde dag glad nie daarmee rekening nie. Nie een van hulle sit in afwagting en vol verwagting by die graf nie. Trouens, as Maria Magdaléna hulle vertel dat Hy opgestaan het, weier hulle nog steeds om te glo. "Kom ons probeer sy lewensideale lewendig hou en versprei die storie dat Hy leef." Nee! Hulle het dit juis nié geglo nie.

Dié wat daardie Sondagoggend wel vroeg opgestaan het, gaan nie na die graf om 'n lewende Here te verwag nie. Enkele vroue gaan wel om 'n lyk te versorg. Die opstanding uit die dood is daarom geen idee wat by die dissipels van Jesus gebore is ná sy tragiese dood nie. Dit is die Here self wat daarvoor sorg dat sy dissipels gekonfronteer word met 'n leë graf. Nie 'n graf waaruit bloot 'n lyk verdwyn het nie. Ja, dit ook. Maar die engele getuig van Jesus se opstandingskrag, as hulle sê: Hy is die Lewende wat by die dooies gesoek word (Lukas 24:5). En dan gaan Jesus self ook nog aan baie mense verskyn. Aan die vroue. Aan Petrus. Daarna aan die twaalf. Daarna aan vyfhonderd broeders tegelyk. Aan die Emmaüsgangers. Ook nog aan twee ander broeders, wat in die veld gaan stap het. En uiteindelik verskyn hierdie selfde lewende Here ook aan Paulus op die pad na Damaskus.

Sien u, die mag van die sonde en die dood is met Jesus se opstanding uit die dood deur Hom gebreek. Die graf, die nietigheid, kon Hom nie vashou nie. Die Vader wek Hom op uit die dood en gee daarmee 'n openbare verklaring dat die skuld wat sy dood gekos het, tot niet gemaak is. Die skuld van die sonde, die dood, is van Hom weggeneem. Hy is onskuldig! Hy word in die openbaar geregverdig. Hy is die Lewende, Hy hoort nie by die dooies nie. Sy lewe was nie nutteloos nie. Dit het nie tot niet gegaan nie. Maar nog meer. Hy keer nie terug in dieselfde toestand as waarin Hy voor sy sterwe geleef het nie. Sy aardse tentwoning is afgebreek en Hy is oorklee met onverganklikheid en met heerlikheid. Hy kan skielik aan sy dissipels verskyn en dan ewe vinnig weer uit hulle midde verdwyn. Hy kan saam met hulle vis braai by die see, maar het dit nie meer nodig om van te lewe nie. Ons weet nie waar Christus die hele tyd op aarde was in die tyd tussen sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart nie. Waar oornag Hy? Moes Hy nog deur iemand versorg word? Hoe gebeur dit dat Hy by die dissipels verskyn agter geslote deure? Dit weet ons nie, maar Hy wat geen sonde ken nie, het nogtans gemeenskap behou met sondige mense. By die see van Tibérias word Simon Petrus nog weer geroep tot liefde vir Christus. In sy verheerlikte toestand roep Hy hulle juis: "Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?" (Johannes 21). Na sy opstanding uit die dood gaan staan Hy nie ver weg van sy dissipels nie, noudat Hy in die openbaar geregverdig is.

Die Krag van Sy Opstanding in die Lewe van Sy Kinders🔗

In die tweede plek sien ons hoe die krag van die opstanding in die lewe van sy kinders deurwerk. Christus het opgestaan uit die dood, sodat Hy kan uitdeel aan sy kinders wat Hy vir ons aan die kruis verdien het. Die Kategismus noem drie dinge wat ons ontvang wanneer ons glo. Want die krag van sy opstanding werk nou in die lewe van elkeen wat glo.

In die eerste plek het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy die geregtigheid wat Hy deur sy dood verdien het, aan ons kan uitdeel. Wat is hierdie "geregtigheid"? Die beteken dat ons nou voor die Here mag staan soos mense wat skoon gewas is van ons sondes. Al ons sondes is skoon  en weggewas, deur die bloed van Jesus aan die kruis. Hy kan die geregtigheid en die onskuld wat syne is, aan ons gee. Deur sy opstanding uit die dood het Hy mag gekry om die lewe uit te deel. Die onverwelklike lewe met God kan Hy gee aan wie glo.

Dit het Christus verdien en nou kan Hy dit uitdeel. Want aan die kruis het Hy ons sonde op Hom geneem. Die feit dat Hy nie deur die dood vasgehou kon word nie, bewys sy onskuld. Maar nou het Hy juis ons skuld daar klaar gedra. God dink nie meer aan ons sonde en skuld nie. Dit is sy geregtigheid wat Hy vir ons verwerf het. Dit deel Hy uit deur die verkondiging van die evangelie in en deur sy kerk, sy gemeente. Elkeen van ons mag die evangelie hoor en dit glo, dit aangryp. Ons kan nie onverskillig staan teenoor Christus wat opgestaan het en nou sy skatte uitdeel nie!

Maar hierdie geregtigheid is nie maar 'n los geskenk wat Jesus vir ons gee nie. Ons het dit nie los van Hom nie. Hy is ons geregtigheid. Daarom sê die apostel Paulus: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel" (2 Korintiërs 5:17). Deur die lewe uit die geloof, leef ons nou met Christus. Ons ontvang dus nie iets van Christus nie. Ons ontvang Hom! Ons eet sy liggaam en drink sy bloed aan die nagmaalstafel. Teen alle aanklagte van ons gewete in, moet ons in die geloof gedurig aan Christus met sy geregtigheid, met sy onskuld, bly vashou, want sy onskuld, sy geregtigheid, is nou myne. Op hierdie manier mag ek onskuldig staan voor God. Soos Paulus vir Timoteus aanmoedig in die stryd van die geloof: "Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie" (2 Timoteus 2:8). Onthou dit: Hy was onskuldig. Hy het vir ons geregtigheid verwerf, sodat ons met Hom kan leef en onskuldig kan wees.

Maar in die tweede plek wil Hy ons nog meer gee. Ons mag elkeen ook 'n nuwe lewe ontvang. En dan praat ons nou nie van die opstanding eendag uit die dood nie, maar van 'n nuwe lewe van gemeenskap met God. 'n Lewe waarin ons nie moed opgee nie, al vergaan ons uiterlike mens. Al lyk dit vir ons of alles wat ons in die lewe gedoen het, nutteloos was, asof die opvoeding van ons kinders oënskynlik geen vrug dra nie, dan weet ons tog: dis nie nutteloos nie. Want innerlik word ons dag ná dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Ons let nie meer op die sigbare nie, maar op die onsigbare. Ons verkyk ons nie meer aan ons tentwoning wat afgebreek word nie, want ons weet dat as hierdie lewe wat ons nou leef, afgebreek is, dan het ons 'n huis nie met hande gemaak nie, 'n huis vir ewig by God. Dit wat nou nog sterflik is en nietig is, word deur die lewe, die lewe van Christus wat opgestaan het uit die dood, verslind. Die nuwe lewe is die lewe van geloof. Om nie te leef deur aanskoue nie, maar deur geloof. Om nie te verkyk aan ons lewe wat so nietig is nie, maar te leef met die wete dat ons die ewige lewe het in Christus.

Hierdie nuwe lewe het niks te doen met ons lewe wat hier en daar so 'n bietjie verbeter word nie. Dit gaan nie oor die restourasie van ons ou lewe nie. Dit is 'n lewe waar werklik alles nuut is. 'n Lewe van geloof uit Christus. 'n Lewe waar alles uit God is (2 Korintiërs 5:17, 18). Daarom skryf Paulus: Hy wat in Christus is, is 'n nuwe skepsel. Hy gaan 'n nuwe lewe lei. Hy gaan nie weer bou op die ruïnes van sy ou lewe nie. Dit is nuut! En niks kom van onsself nie; dit is alles deur die geloof. Want uit genade is ons gered, deur die geloof. Nie uit ons eie werke nie, sodat nie een van ons kan roem nie. Dit is 'n nuwe lewe waar ons niks verwag van 'n lewe waarin ons iets kan ontwikkel deur ons inspanning nie. Dit is 'n lewe wat nie van onsself uitgaan nie, maar van Jesus Christus. Dit gaan nie oor ons lewe wat in 'n nuwe rigting gestuur of gebuig moet word nie. Dit gaan oor 'n lewe waar alles nuut is. Die nuwe lewe wat ons kry in Jesus se opstanding, is nie ons getimmer aan ons ou lewe nie.

Die nuwe lewe is totaal nuut. Dit is 'n lewe waar ons nie gaan bou op die fondamente van ons ou lewe nie. Dit is 'n nuwe lewe waar geleef en gebou word op net een fondament, en dit is Jesus. Hierdie nuwe lewe is nie ons pogings om die oue te verbeter nie, waar ek my beste vir die Here gaan probeer nie. Anders sou ons telkens weer teleurgesteld wees om te sien dat die ou lewe tog maar nie wil regkom nie. Daarom word daar van "wedergeboorte" gepraat. Ons moet geen lewe probeer blaas in ons ou lewe nie. Ons kan nie ons ou lewe aan die Here kom bring met allerhande mooi versierings daaraan gehang nie. Maar ons hoef dit ook nie te doen nie. Laat die dooies by die dooies! Die nuwe lewe waarvan hier gepraat word, begin nie by ons nie. Dit is nie ons ou lewe wat 'n nuwe koers inslaan met nuwe planne en oortuigings nie. Nee, niks uit onsself nie, alles uit die geloof! Uit genade is julle gered, deur die geloof!

Die nuwe lewe is 'n lewe wat begin by Christus. 'n Lewe wat begin by die opstanding van Jesus uit die dood. Dit is 'n lewe uit geloof. As dit nie uit geloof is nie, is dit nie nuut nie. Dan is dit uit onsself en ons werke. Ons moet nie op onsself sien nie, maar op Christus. Ons moet gaan lewe uit die krag van die geloof in sy opstanding en van sy liefde wat Hy daarin vir ons bewys het. Ons nuwe lewe kom nie wanneer ons met ywer aan die werk spring nie. Maar wel wanneer ons gaan glo in sy opstanding en sy liefde daarin vir ons bewys. Die nuwe lewe is nie wat ons in onsself sien gebeur nie. Die nuwe lewe is die inwoning in ons liggaam, maar tegelyk die "uitwoning" van die Here (2 Korintiërs 5:6). Met hierdie woordspeling is Paulus deurentyd besig om ons te laat sien ons leef nog wel in ons liggaam, maar ons uitwoning is by die Here. Want ons wandel nie deur aanskoue nie, maar deur die geloof.

In die derde plek is Christus se opstanding nog 'n waarborg van ons salige opstanding. Hier gaan dit oor die herstel van ons lewe in ons liggaam. Paulus sê dat of ons inwoon of uitwoon by die Here, ons ons daarop moet toelê om die Here te behaag. Christus se opstanding beteken die aanvaarding van sy hele lewe wat Hy in die vlees op aarde geleef het, deur die Vader. Sy hele lewe het ewigheidswaarde. Dit is nie nutteloos nadat Hy sy doel bereik het nie! Dit was nie 'n ydele lewenswandel nie, 'n lewe wat geen waarde het nie. Sy gesprek met die Samaritaanse vrou was nie nutteloos nie. Elke daad van gehoorsaamheid was nie nutteloos nie. Dit dra vrug tot in alle ewigheid.

Sy lewe in die liggaam, al was sy liggaam tot in die dood afgebreek, het waarde vir ewigheid. Dit is waarvan die opstanding getuig. Deur die opstanding van Christus ontvang ook ons lewe waarde vir ewigheid. Ja, al word dit afgebreek, al is dit 'n tentwoning wat tot niet gemaak word, dan bly dit vrug dra tot in ewigheid. Ons lewe in die vlees is nie nutteloos nie. Al is ek bedlêend. Al is ek verstandelik met groot beperkthede toebedeel. Al voel my lewe 'n groot mislukking.

Die apostel Paulus sê: Omdat ek glo in die opstanding van Christus, daarom lê ek my ook ywerig daarop toe, of ek inwoon of uitwoon, om die Here welbehaaglik te wees (2 Korintiërs 5:9). Ek wil nou die Here behaag deur my lewe. Al is hierdie lewe nie die bron van my daaglikse bemoediging nie, tog dra my daaglikse roetine vrug tot in ewigheid. Want, sê Paulus in 2 Korintiërs 5:10, "ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad." Deur die opstandingskrag van Christus sal daardie gelowige gehoorsaamheid aan die Here vrug dra tot in alle ewigheid. En deur die genade van die Here sal my werke beloon word tot in alle ewigheid.

Dít is die krag van Christus se opstanding. Daarom, of ons inwoon of uitwoon, laat ons so leef dat ons Hom welbehaaglik sal wees.