4 bladsye.

Sondag 21 - Vraag 54: Heidelbergse Kategismus

Lees Openbaring 7, NGB Artikel 28

In Openbaring 7 lees ons van die groot skare wat niemand kan tel nie. Die volmaakte vergadering — 144 000, die kerk van Christus. Hierdie 144 000 is verseël; hulle het beskerming, hulle is veilig. En dit, let goed daarop, is nodig. Want Openbaring 7 volg op Openbaring 6, wat eindig met die opening van die sesde seël. Die opening van hierdie seël bring die verskriklike vernietiging op aarde. Daar was 'n groot aardbewing; die son het swart geword; die maan het soos bloed geword; die hemel het weggewyk. Die magtige konings en regeerders op aarde, die grotes en die rykes, het weggekruip in grotte en rotsskeure in die berge. Vir die berge en die rotse het hulle gevra om hulle te beskerm teen die Een wat op die troon sit. Beskerming teen die toorn en woede van die Lam. En dan kom die uitroep: "... wie kan bestaan?" aan die einde van Openbaring 6. Wie kan op aarde bestaan, te midde van die oordele waarmee Christus, wat op hierdie aarde regeer, die ongeloof straf? As u kyk na die verskrikkings wat die aarde tref, dan kom dit sterk ooreen met die tien plae waarmee die Here Egipte getref het. Wie kan bestaan in hierdie tyd?

Op daardie vraag gee Openbaring 7 die antwoord. Op die aarde is daar 144 000 wat verseël is. Hulle kom deur al die vernietiging op aarde; trouens, hulle kom selfs tot voor die troon van die Lam. Terwyl die bewoners van die aarde hulle moet beskerm teen die Lam en die troon van God, kom hierdie 144 000 tot reg voor die troon van God. Dit is die gemeente, die kerk van Christus op aarde. Die kerk waarbuite daar duidelik geen saligheid is nie. Sien u waarvandaan kom die belydenis in NGB Artikel 28: "Ons glo — aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie — dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie." Buite hierdie kerk is daar geen saligheid nie. Alleen binne die kerk van Christus is daar oorlewing, is daar beskerming teen die vernietiging. Alleen die 144 000 wat verseël is, oorleef. Daarom het ek die roeping om my by die kerk van Christus te voeg. Daarbúíte moet ek my, saam met magtiges van die wêreld, gaan verskuil in die skeure van rotse en berge, in die grotte gaan wegkruip teen die toorn van die Lam. Dit is die boodskap van Openbaring 6. Hulle wat nie verseël is nie, sterf die ewige dood; hulle kom nie voor die troon van God nie. Hulle proe die woede van die Lam van God. Buite die kerk is daar geen saligheid en verlossing nie.

In die Kerk van Christus is daar Beskerming in die Dag van die Toorn van die Lam🔗

Ons belydenis oor die kerk van Christus, is dit wel belangrik? Is dit nie maar mensewerk nie? Is dit nie maar 'n klomp geestelike leiers wat opgestaan en mense om hulle versamel het nie? Wat gesê het: "Dit is goed vir ons geestelikes om so bymekaar te wees en opgebou te word en om 'n bietjie georden en georganiseer te word"? Gaan alles nie uiteindelik maar oor 'n persoonlike verhouding met die Here nie? Dit is die gedagte wat die kerklike wêreld oorheers, waarmee ons elke dag te doen kry en wat verseker afvryf op ons. Dit beïnvloed ons. Is die kerk van Christus nie maar 'n optelsom van al die gelowiges oor die hele aarde nie? Ons sê so maklik: "Ek is die kerk, nie die gebou nie, nie 'n organisasie nie. Ek is." Is dit so eenvoudig? Is dit wat God se Woord ons leer? Is die kerk nie maar iets onsigbaars wat alleen deur die Here geken word nie? Is die kerk wel nodig vir my verlossing?

Dan sien ons reeds in Openbaring 7 dat die kerk nie maar 'n gesiglose aantal gelowiges die wêreld oor is nie. Hulle is aanwysbaar. Hulle kan by die naam genoem word. En dan doen Openbaring 7 moeite; miskien het dit u selfs geïrriteer toe ons gelees het: "uit die stam van Juda ..., uit die stam van Ruben ..., uit die stam van Issaskar ...". Stam vir stam is hulle daar. Hulle is daar gebore! Hulle is aanwysbaar. Opgestel soos die Here dit van hulle gevra het, rondom die tabernakel in die woestyn. Daar is die vergadering van die volk van die Here. Die kerk is nie maar elkeen wat ronddwaal in die woestyn nie, maar dit is by die tabernakel. Daar waar die diens van versoening is; waar die offerandes gebring is, daar is my plek. Dit is aanwysbaar. Daar is nie 'n paar Jode wat agtergebly het in Egipte, wat kan sê: "Ons glo ook, ons is die kerk" nie. Nee! Die kerk kan met ons oë gesien word. Jy kan en moet jou daarby gaan voeg, bely ons in Artikel 28 NGB. As jy nie verseël is nie, is jy verlore. Buite hierdie vergadering is daar geen verlossing nie. Dan moet ons nie met ons maklike antwoorde kom dat daar wel oral oor die aarde gelowiges is wat selfs nie eers in 'n kerk is nie. Of in kerke wat ontrou aan die Woord van die Here geraak het. Die vraag is nie of daar gelowiges is nie, maar die vraag is of daar gehoorsames is waar die kerk van Christus vergader. Daarom moet ons so versigtig wees om te sê: "Ek is die kerk". Trouens, dit lees ons nie in die Skrif nie. Immers, by ons is alles ook nie sonder blaam nie. Pas groter beskeidenheid dan nie by ons nie? Wil ons by al die dinge sê: "Ons is die ware kerk"? Dit is nie waarmee ons in die eerste plek besig is nie.

Maar laat ons mooi daarop let dat dit nie hier gaan oor wat u en ek van die kerk dink nie. In Sondag 21 vra ons: "Wat glo jy van die kerk?" Dit beteken dat ons wil luister na wat die Woord van die Here te sê het oor die kerk. Die vraag is nie wat die Here doen ten spyte van ons en ander se ongehoorsaamheid nie. Die vraag is wat die weg van gehoorsaamheid is, wanneer ons praat oor die kerk van Christus. Een van die grootste krisisse in die hele kerklike toneel (as 'n mens so daarvan kan praat!), is die gebrek aan 'n skriftuurlike kerkbesef. Waar daar deur mense sommer maklik gepraat word oor 'n lewe met die Here, praat die Skrif nooit van daardie lewe met die Here los van of buite sy kerk nie. En dan is die kerk ook iets anders as wat ons ons dikwels laat voorstel. Die kerk is 'n vergadering, 'n saam gehoorsaam leef onder die gesag van Christus wat met sy Gees en Woord oor ons regeer. 'n Vergadering verseëldes, soos Openbaring 7 ons dit voorstel, verseël deur die Gees. Die Gees wat uitgestort is, nie op enige plek in Jerusalem nie, maar daar op dié wat vergader was, op sy gemeente!

Openbaring praat van geweldige ellende wat op die wêreld gekom het. So was dit nie van die begin af nie. Die Skrif leer ons van 'n mooi begin. Maar die klomp ellende op aarde is die gevolg van die mens se sonde. En vir hierdie ellende en sonde staan ons skuldig. Hy wil ons in die tyd en ewigheid straf. Maar dan sien ons hoe Christus van die begin van die wêreld tot vandag en tot die einde van die wêreld, uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente tot die ewige lewe verkies. Dit is die verhaal wat deur al die geslagsregisters in die Ou Testament vertel word, dit wat ons so dikwels verveel as ons dit lees. Maar dit is die verhaal van hoe Christus sy kerk bymekaar maak. Dit is die lyn waar Hy sy kerk beskerm en bewaar, waarbuite daar nie saligheid is nie. Gaan kyk wat het gebeur met die ander wat buite die geslagsregisters val. Dit is hulle wat in opstand gekom het teen die Here, wat verlore gegaan het. Hulle wat afvallig geraak het van die Woord van God. Maar die Seun van God het vir Hom 'n gemeente uit die vervalle mensdom verkies. So kom Hy dan ook by Abraham, Isak en Jakob. By die twaalf stamme van Israel gebore uit Jakob. En dan sien ons in die noem van die stamme van Israel in Openbaring 7 dat dit nie die oudste is wat eerste genoem word nie. Nie Ruben nie, maar Juda. Want uit Juda is die Verlosser gebore, uit die kerk van die Ou Testament. En die stam Levi, wat geen erfdeel kry onder Israel nie, dié is daar in Openbaring 7, want Christus is die vervulling van die priesterskap van die stam van Levi, en nou neem Levi sy plek in onder die stamme van Israel. Dit wil ons wys op die werk van Christus in sy kerk.

Aan hierdie vergadering van God se uitverkorenes kan en mag daar geen kwaad gedoen word nie. Die vier engele op die vier hoeke van die aarde wat vernietiging bring, word bevel gegee om eers hulle werk terug te hou, totdat die 144 000 verseël is. Hulle is die hele kerk van Christus. En die kerk van Christus word beskerm. Israel wat die wortel van die kerk is. Die olyftak waarop die wilde tak van die gelowiges uit die heidendom ingeplant word. Hulle is uitgekies tot die ewige lewe. Want eers is hulle beskerm teen die vernietiging op aarde, maar daarna staan hulle ook nog voor die troon van God. Ons sien hulle waar hulle Hom dag en nag in sy hemelse tempel dien en Hy sy tent oor hulle oopspan. Sien u die beeld van die aardse tabernakel? Die tent wat God oor hulle kom span? Oor die 144 000, oor daardie stamme van Israel. Hulle het nie meer honger of dors nie; hulle word na lewende waterfonteine gelei; en God self vee al hulle trane van hulle oë af. Verkies tot die ewige lewe!

Dit is hulle wat nou in die geloof vergader word te midde van al die vernietiging. As ons enigsins leef onder die bewussyn van ons eie sonde en skuld, dan sal ons nie onverskillig kan gaan staan teenoor die vergadering van die kerk van Christus nie. Op aarde is dáár juis die plek van veiligheid. Rondom die Woord van Christus is daar beskerming, daar sal die Here sy tent oopspan. Hierdie verwondering oor die kerk moet weer plek kry in ons lewe. Kerkbesef, wanneer ons ons sonde besef. Die verlossing is nie maar oral te kry nie. Is dit nie 'n wonder dat God gekies het om te midde van al die oordeel van Christus oor die wêreld en sy magtiges, vir Hom 'n vergadering van 144 000 bymekaar te maak nie?

As u daardie wonder raaksien, sien u dus dat dit sinneloos en sondig is om in hoogmoed te gaan praat van "my" of "ons" kerk wat die saligheid gee. Daar is geen saligmakende kerk op die aarde nie. Daar is net Een wat saligheid gee en dit is Christus. Hy gee dit binne sy kerk! Dit is Hy wat die kerk vergader. Geen kerk kan salig maak nie. Maar buite die kerk werk Christus nie. Wel skenk Christus sy genade en beskerming daar waar Hy aan die Woord kom vanuit die Skrif. Hy gee nie sy genade soos manna wat ons op die straat kan gaan optel nie. Sy hemelse brood, waarsonder ek nie kan leef nie, bedien Hy in sy kerk. Ons bely in Sondag 21: Ons glo dat Christus sy gemeente versamel, bymekaar maak, en daar moet ek, in alle eenvoud en gehoorsaamheid, my plek gaan inneem. Daar waar Christus aan die werk is, daar moet ek wees. Soos wat die manna nie beskikbaar was vir al die volke in die woestyn nie, maar in die vergadering van die volk Israel wat deur die woestyn getrek het. Daar lê juis die wonder van die manna! Die manna was nie maar net 'n natuurverskynsel, sodat dit in die tyd dat Israel daar was, dit maar orals opgetel kon word nie. So wil baie teoloë dit vir ons verklaar. Maar die Here gee die manna te midde van die twaalf stamme rondom die tabernakel. Daar kon Israel dit opgetel en daarvan geleef het. Net Israel het dit gehad!

En daarom, gemeente, is die kerk geen vereniging van gelykdenkendes en gelykvoelendes nie, van mense met dieselfde oortuigings nie. Dit is nie 'n vereniging vir mense wat dieselfde verwagtings en ideale koester nie. Die kerk is nie iets wat deur godsdienstige mense opgerig is om in hul godsdienstige behoeftes en belange te voorsien nie; daar waar ek my bydrae gee en dan verwag om 'n bepaalde opbrengs vir my belegging te kry nie. Waar ek verwag dat daar aandag aan my gegee kan word en ek iets daaruit sal kry. Nee, die kerk van Christus is 'n plek waar ek, deur die genade van God, my plek mag inneem as dienskneg van die Allerhoogste. Want wat word van die 144 000 gesê? Hulle is knegte van God en dien Hom dag en nag in sy tempel. Dis nie mense wat 'n godsdienstige vereniging oprig waar hulle die middelpunt is nie. Maar dit is waar Christus die aandag kry. Want dit is Hy wat sy kerk bymekaar maak. Indien dit die geval sou wees dat ons 'n godsdienstige vereniging was, sou ons onsself gaan vergelyk met ander "kerke", onsself op die skouer klop en aanprys as die beste vir ons behoeftes. "Ons is die ware kerk, almal moet hulle by ons voeg."

Maar, ons het dit oor Christus en nie oor onsself nie. Wanneer ons praat van "kerk", dan praat ons van Christus. Ons bely dat Christus vir Hom 'n gemeente vergader. Ons is vandag besig met die belydenis: "ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk". Nie "my kerk" nie, maar Christus se kerk, wat Hy uit alle volke, nasies, tale en stamme oor die hele wêreld vergader. 'n Ontelbare groot skare. Daarom bely ons: dit is nie alles vir ons te sien nie, dit is onoorsienbaar. Maar ons kan wél sien waar Hy sy kerk vergader; ek kan weet waar ek behoort te wees. Ons as mense vergader nie die kerk nie. Christus doen dit deur sy Woord en Gees. En dan moet ek sorg dat ek daar is waar sy Woord en Gees werk. Dat ek daar is waar Christus vergader.

Hierdie kerk wat Christus vergader, beskerm en onderhou Hy ook, en ek glo dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly. En daarom is dit belangrik dat ek my sal voeg waar Christus regeer met sy Woord. Het dit u opgeval dat in die lys stamname in Openbaring 7 daar twee is wat ontbreek? Dan en Efraïm. Waarom? sou ons tog moet vra. Efraïm is die stam wat homself verset het teen die koningskap van Dawid. Efraïm is die stam wat die leiding geneem het om die tien stamme van die noorderyk los te skeur van die suideryk. Efraïm het die kerk van Christus geskeur! En vir hulle wat hulself skuldig maak aan kerkskeuring is daar geen plek onder die verseëldes nie! Daarom word Efraïm nie genoem nie. Hulle wat hul verenig met dié wat die kerk van Christus skeur, wat hulself nie onderwerp aan die Koningskap van Christus nie, sal oorgegee word aan die verskrikking en vernietiging wat die aarde tref. Daarom is u kerkkeuse so lewensbelangrik!

Dan is daar nog die ander stam wat nie genoem word nie, naamlik Dan. Het hulle nie gekies vir die eiewillige godsdiens nie? Ons lees in Rigters 17 en 18 dat hulle beeldediens en afgodery in Israel ingevoer het. Hulle het God gaan probeer vereer op 'n manier wat Hy nie gevra het nie. Hulle het hulself losgemaak van die verbondstrou van die Here. Daarom, laat ons nie sê: "Dit maak nie saak waar ons die Here aanbid nie, want ook in dié of daardie kerk is daar tog nog gelowiges." Die vraag is nie of daar gelowiges is nie, maar of God daar aanbid word soos wat Hy dit vra. Laat ons die Here nie probeer vereer op 'n manier wat Hy nie beveel het nie. Laat ons nie op 'n goedkoop manier sê: "Die kerk maak jou nie salig nie, dus dit maak nie saak waar jy lidmaat is nie." Indien jy dit doen, onttrek jy jou aan die verseëling van Christus en plaas jy jouself buite die kerk, waar Christus met sy verlossing jou wil bewaar en beskerm.

As ons weer let op Openbaring 7, dan sien ons aan Wie die 144 000 hulle verlossing te danke het: aan die Lam! In vers 10 roep hulle uit: "Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!" Alle eer aan God en aan die Lam op die troon. Dié met wit klere — wie is hulle en waarvandaan kom hulle? Hulle kom uit die groot verdrukking en vernietiging. Dit is hulle wat hul klere gewas het en hul klere wit gemaak het in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God. Dit is hulle wat die kerkvergaderwerk van Christus nie teëgestaan het nie. Dit is hulle wat hul plek mag gaan inneem onder die 144 000, onder die twaalf stamme van Israel. Wat hulle onderwerp het aan die Lam. Wat nie in eiesinnigheid op hul eie gaan staan het in hoogmoed teenoor ander vir wie Christus ook gekies het om deel te wees van sy gemeente nie. Die kerk is nie die vergadering van my beste vriende en volksgenote wat dieselfde agtergrond as ek het en gesellige kuierplekke oplewer nie. Die kerk is die plek waar Christus my in sy bloed gewas het en my 'n plek wil gee om my te red, te bewaar en uiteindelik te stel voor sy ewige troon, sodat ek die ewige lewe mag geniet en kan drink uit die lewende fontein vir altyd en ewig. Want daar waar God sy tent gaan oopspan, is wanneer die nuwe hemel op die nuwe aarde gaan neerdaal en God vir ewig op hierdie aarde kom woon by die 144 000, wat nou gehoorsaam is.