4 bladsye.

Sondag 24: Heidelbergse Kategismus

Lees Galasiërs 3

Vryheid Verlore?🔗

Wie van ons het nie al die brief aan die Galasiërs met groot verwondering gelees nie? Ons behoort dit met groot verbasing te lees, want die skrywer, Paulus, is in verwondering wanneer hy die brief skryf. Hy verwonder hom daaroor dat die gemeente of gemeentes in Galasië so gou afvallig geword het van die evangelie van God se vrye genade, dat hulle afgeval het na 'n ander evangelie toe. En hierdie "ander evangelie" is 'n dwaalleer wat die kerk van Christus op 'n heel subtiele manier binnekom. Dit is 'n dwaalleer wat nie opgeteken staan in boeke van ketters alleen nie, maar in elkeen van ons se harte gereed is om, wanneer dit nie deur die evangelie in toom gehou word nie, daar uit te borrel. Die verstaan van Sondag 24 van die Kategismus is daarom so noodsaaklik vir 'n ware heilige en regverdige lewe voor God.

Paulus vertel in hierdie brief aan die Galasiërs hoe hy vroeër in die gemeente ontvang is. Hulle het hom ontvang asof hy 'n engel van God was. Asof hy Jesus Christus self was. Hy getuig van hulle dat, as dit moontlik was, hulle hul oë sou uitgegrawe en vir Paulus sou gegee het (Galasiërs 4:15). Hy het Christus op so 'n manier aan hulle verkondig dat dit was asof die Here Jesus voor hulle oë gekruisig is. Hulle het Hom so duidelik gesien; hulle kon so wonderlik uit die geloof in Christus gaan leef! Hulle was so dankbaar dat hulle selfs hul oë vir Paulus wou gegee het. Dankbaar omdat hulle vrygekom het van hulle eie werke. Hulle het hierdie evangelie aangegryp. Hulle het geleef uit die Gees. Hulle het geproe wat dit is om waarlik vry te wees; om geen veroordeling van God meer te vrees nie, maar volmaakte vryheid in Christus te hê; om nie meer te wandel na die vlees nie, maar na die Gees.

Die verwondering was nou dat hulle wat met die Gees begin het, met die vlees geëindig het. En dit was duidelik in die manier waarop hulle geleef en met mekaar omgegaan het. Ons lees van twis, partyskappe, jaloesie, dronkenskap, naywer. Hierdie sondes is die gevolg daarvan dat hulle nie meer geleef het vanuit die vryheid wat ons in Christus het nie. Daarom moet ons raaksien dat die skeidslyn tussen 'n lewe van slawerny van die sonde, van ons eie werke, en 'n lewe van vryheid uit genade, baie fyn is. Luister maar na die eerste vraag van Sondag 24: "Maar waarom kan ons goeie werke nie die geregtigheid voor God of 'n DEEL daarvan wees nie?" Dit was die vraag waarmee die Galasiërs geworstel het. En dan het ons dit veral oor die laaste gedeelte: " ... 'n deel daarvan ...". Agter 'n heel vroom sluier dat ons uit dankbaarheid tog nie niks vir die Here wil doen nie, soek ons altyd maar weer plek vir ons eie gehoorsaamheid as deel van ons geregtigheid voor God. Ja, nie die volle geregtigheid nie, dit sal ons nie sê nie, maar tog wel 'n klein gedeeltetjie daarvan. Ons moet tog vir die Here wys dat ons dankbaar is, nie waar nie? Dit is mos die driedeling van die Kategismus: ellende, verlossing en dankbaarheid. En so gebruik ons dit elke keer maar weer om met ons eie vroom lewe iets aan ons geregtigheid te probeer bydra.

Laat ek dit vir u voorstel deur 'n gesprek wat ek gereeld met my katkisante voer. Wanneer ons praat oor die volmaakte werk van Christus waarop ons kan en moet vertrou vir ons verlossing, dan hoor ons so gereeld die opmerking in hierdie trant: "Ja, ons moet glo in Christus en op Hom vertrou, maar dan moet ons ook ons bes vir die Here doen." So verseker die katkisante my. En die argumente kry hulle by die huisgesinne. Ons moet tog nog ons beste vir die Here doen. Is daar iets fout hiermee? Getuig dit nie van 'n begeerte om die Here te dien, van ywer vir Hom, nie? Nee, dit getuig van die gees van slawerny. Dit getuig nie van die Gees nie, maar van die vlees. Dit getuig van slawerny aan ons eie werke. Vasgeroes in ons eie werke. Want Christus is òf ons volle geregtigheid voor God, òf ons is besig om Christus weer te kruisig, om na 'n ander evangelie oor te gaan, so leer die apostel Paulus ons. Die gelowiges in Galasië het in presies hierdie strik van die satan getrap, dat hulle hul eie geregtigheid tog ook weer naas Christus wou oprig. Let wel: nie in die plek van Christus nie. Dit het nie in hul gedagtes opgekom nie. En dit alles onder die vaandel van ywer van lus en liefde om die Here te dien.

Ons Werke staan onder God se Oordeel🔗

Laat ons nou daarop let dat ons werke onder die oordeel van God staan. Dit is die eerste punt van hierdie Sondagsafdeling van die Kategismus. As ons werklik heilig voor God wil wees, dan moet ons eers sien dat al ons werke, selfs ons beste werke, onder God se oordeel staan! So word dit ook in die Kategismus verwoord — ons werke kan nie eers 'n deel van ons geregtigheid voor God wees nie, omdat die geregtigheid wat voor God se oordeel kan staan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte met die wet van God ooreen moet stem. Dit is die woorde van Galasiërs 3. Die Kategismus haal dit eintlik woordeliks aan. Ons moet weet dat ons beste werke in hierdie lewe onvolmaak en met sonde besmet is. Elkeen wat op watter manier ook al uit die wet wil lewe, moet na die wet self luister.

Galasiërs 3:10: "Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie". Ek kan nie maar my beste vir die Here doen en dink dat Hy daarmee tevrede is nie. Ons "beste" staan onder die vloek van God.

Weet u waarom bly die evangelie van Christus nog half buite ons lewe staan? Waarom is dit nie 'n krag om ons lewe werklik te verander nie? Omdat ons nog hopeloos te veel troos daarin vind dat ons ons beste vir die Here doen. Ons vind nog vertroosting in die feit dat ek my deel wel sal doen, nadat Christus sy deel gedoen het. En ons is blind daarvoor dat ons beste onder God se oordeel staan. Ons beste word deur God vervloek! Salig blind vir ons eie verlorenheid en vir God se oordeel oor ons lewens, lei ons goeie, godsdienstige lewens. Omdat ons nog nie met Christus gesterf het aan onsself nie, is ons ook nie lewend vir God met en deur Christus nie. Dit is wat nog met ons moet gebeur, sê die apostel Paulus. Saam met Paulus moet ons kan sê: "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." (Galasiërs 2:20). Ek probeer nie om met my werke God te behaag, my geregtigheid voor God te verdien nie. Dit is die lewe wat ons moet leef: nie 'n lewe waarin ek probeer bydra aan my geregtigheid nie, maar waarin ek gaan leef uit die geregtigheid van Christus — dit is die lewe van die geloof. Dit is wat dit beteken om die genade van God nie te verwerp nie (Galasiërs 2:21). Enigiets anders is 'n verwerping van die genade. As ons die genade verwerp, dan het Christus verniet gesterf en kruisig ons Hom weer. Met ons vroom lewe en al!

Hoe kyk ons na die oordeel van God? As iets wat aan die einde van die geskiedenis van hierdie wêreld kom? Dit is 'n uiters gebrekkige verstaan van God se oordeel. God se oordeel kom nou oor al ons werke, deur die verkondiging van Christus se volmaakte gehoorsaamheid aan die wet van God. As Christus aan ons verkondig word as die Een wat God se wet volmaak gehoorsaam het, dan is dit tegelykertyd 'n oordeel oor ons werke. Hou op daarmee om 'n eie geregtigheid te probeer oprig. Jy kan nie met Christus en jou eie werke besig wees nie. Jy kan met Christus besig wees, uit Hom leef, maar dit is wel iets anders. Dit gaan dan nie daaroor dat ons werke net nie goed genoeg is nie, dat dit nie genoeg kan bydra nie; want as ons dit so bekyk, dan neem ons eintlik altyd maar weer die Here kwalik dat ons beste nie goed genoeg is nie, dat die Here dit nie as geregtigheid aanvaar nie. Daar is selfs 'n dagboek, wat baie van u lees: "My beste vir die Allerhoogste". Wat wil u daarmee? God soek nie ons allerbeste nie! Ons moet leer sien dat ons beste werke God toornig maak! Dit staan onder God se vloek. Want God eis volmaakte gehoorsaamheid, anders is ons werk onder God se vloek! Is ons werk volmaak? Nee, dit erken ons almal. Dit is ook waarmee Paulus besig is in die gemeente van Galasiërs. Op hierdie manier het hulle 'n ander evangelie begin aanhang.

Maak die Here die lewe nou vir ons as sy kinders onmoontlik? Want dit kan wees hoe u nou voel. Hoe u nou kan voel is: "Maar dominee, wat moet ons dan doen? Wat kan ons nou nog doen?" Ons kan niks doen nie. Dit is juis waarby ons moet uitkom. Sluit dit ons in 'n tronk toe? Word ons vryheid ingeperk? Nee, God se oordeel oor my werke maak my juis werklik vry daarvan. Dit gee my vryheid! Vry van onvolmaakte werke! As die Here ons werke veroordeel, hoekom sal ek dan nog daaraan vashou? Wat kan ons nog met ons werke bydra as God daarvan sê: "Weg voor my aangesig"? Dit is vir ons vryheid. God gee ons ruimte om in te leef. Ek hoef nie my geregtigheid voor God te verdien en aan te dra nie; ek kan ook nie. Moet daarom ook nie probeer nie. Dan is ek vry om nie langer vir of uit myself te leef nie, maar vir Christus! Die lewe wat ek nou lewe, sê Paulus, daarin kan ek werklik vir Christus lewe. Die belofte wat aan Abraham gemaak is, is uit die geloof in Christus. Daarom was hierdie belofte aan Abraham uit genade geskenk, so redeneer Paulus in Galasiërs 3. Dit is nie 'n belofte wat ons terugvoer na die wet met sy werke nie, maar na Christus toe. Na sy Saad — enkelvoud; nie sade nie, maar Saad — na Christus, sodat ons vir Hom sal leef. As die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte van genade nie. Maar dan is dit uit die werke van die wet. As ons aan Christus behoort, dan is ons die nageslag van Abraham en volgens God se belofte van genade erfgename. Dan is ons nie slawe of arbeiders wat werk vir loon en wag op vergoeding nie, maar dan is ons vrye kinders in die huis van God.

Maak die Here ons hiermee lam en wanhopig in ons diens aan God? Nee, hiermee wil die Here juis seker maak dat ons Christus nie buite ons lewe laat staan nie. God wil dat ons nie ons vryheid verloor en weer slawe word nie. En dit gebeur makliker as wat ons dink. God wil juis dat ons uit die Gees gaan leef en nie uit die vlees nie. Anders word genade goedkoop. "Jesus en my allerbeste vir die Allerhoogste". Iets wat ek kan koop deur my beste pogings tot diens aan God. Maar ons kan God nie hiermee omkoop nie. In hierdie opsig veroordeel God al ons godsdienstigheid. En Hy roep ons tot 'n nuwe lewe in Christus. Nie 'n lewe van losbandigheid nie, maar juis 'n nuwe lewe uit die Gees van God. Ons moet wandel deur die Gees, dan sal ons nooit die begeerlikhede van die vlees volbring nie (Galasiërs 5:16).

Dit mag nie met bitterheid wees dat ons afskeid neem van ons eie werke nie. Ons is eers werklik dood vir die sonde, wanneer ons geleer het om van ons beste werke afskeid te neem en voluit te hoop op Christus. Dit is 'n saak van alles of niks.

Geen Beloning?🔗

Die volgende vraag lui: is daar dan geen beloning nie? Beloon God nie ons goeie werke nie? Dit is nie presies hoe hierdie vraag in die Kategismus gestel word nie. Ons moet goed daarop let. Die volgende vraag is: "Verdien ons goeie werke dan niks nie?" God het tog beloof dat Hy ons gehoorsaamheid in hierdie lewe en in die toekomstige lewe wil beloon? Natuurlik beloon God ons goeie werke — uit genade, nie volgens verdienste nie! En hiermee word God se genade nie weer verduister nie. Hy wat aan 'n arme leen, leen aan die Here. Hy wat vir een van die dissipels van die Here 'n glas water gee, gee dit vir Christus. Jesus noem selfs elkeen wat ly en vervolg word ter wille van die evangelie, gelukkig. Hulle loon sal groot wees in die hemele (Matteus 5:12). Liefdadigheid wat ons bewys sonder om dit aan die groot klok te hang, sal grootliks deur ons Vader in die openbaar vergeld word (Matteus 6:1 4). Ons sal daarvoor beloon word, maar dan uit genade.

Daarom is 'n lewe uit genade geen ruggraatlose lewe vir lamsakke wat deur godsdienstigheid aan die slaap gesus wil word nie. Ons werke verdien niks by God nie. Dit beteken nog nie dat dit nuttelose werke is nie. Dit was die dwaling van iemand soos Karl Barth, wat die swakke gehoorsaamheid van die kerk van Christus in Duitsland aan die begin van die eeu veroordeel. In plaas daarvan om God se oordeel oor ons beste werke aan te kondig en op te roep tot gehoorsaamheid uit die geloof, veroordeel hy alle diens aan God. Hy verkondig 'n boodskap dat God die goddelose regverdig. Hy wat dapper genoeg is om te sê: "My werke staan onder die oordeel van God, daarom moet ek maar goddeloos gaan lewe. God regverdig immers die goddelose." Dit is heidens. Volgens hom verkies God die goddeloosheid van die wêreld bo die gehoorsaamheid van die kerk van Christus. Dit is nie waar nie. Dit is 'n leuen wat u verleë probeer maak met u diens en gehoorsaamheid aan God. Hy verkondig nie dat God uit genade die gelowige ook weer aanneem ter wille van Christus nie.

God het behae in die diens van sy kinders wat deur die geloof gedoen is. Uit genade is daar groot loon vir ons werke van geloof. As ons deur die Gees lewe, moet ons nou ook deur die Gees wandel, sê Paulus. As ons deur die Gees geleer het om te hoop op Christus, bly dan ook verder so leef. Leef uit Christus! Die verkondiging van God se genade maak ons tog nie onverskillig nie. Dit is onmoontlik, bely ons in Sondag 24, dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie. Hy wat met die naam Christen losbandig gaan lewe, is lewendig dood. Die een wat in 'n losbandige lewe wil voortgaan, het nog niks van God se genade verstaan of geglo nie.

Maar die werke van die vlees word nie oorwin daar waar ons die verdienste van ons werke naas die verdienste van Christus se werke gaan plaas nie. Dit is die ywer van die Fariseërs wat die einde van die sondaar erger maak as sy begin. Hy wat die sonde oorwin, is die een wat gaan lewe uit God se genade! "Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie". (Galasiërs 5:16 e.v.). Die vlees begeer teen die Gees. Maar die omgekeerde is, danksy God, ook waar. Want die Gees begeer teen die vlees. Die manier waarop die vlees oorwin word, is om uit die Gees te gaan leef; om te gaan leef deur die geloof in Christus en sy geregtigheid. Ons kan nie uit eie krag teen die vlees gaan stry nie. Daar is geen hoop nie. Dit is net slawerny.

Maar die Gees oorwin die werke van die vlees. Daar waar ons gaan lewe uit die genade van die Here — daar waar ek gesterf het en Christus in my leef en ek deur die geloof in Hom leef, daar word ons deur die Gees van God gelei en is ons nie meer onder slawerny nie. Dit is die wat aan Christus behoort, wat die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede kruisig. Teenoor die werke van die vlees, kom dra die Gees nou vrug in die lewe van die een wat leef uit Christus; of beter gesê, in die woorde van Paulus in Galasiërs 5: dan dra die Gees vrugte in die een in wie Christus leef. Die werke van die vlees is openbaar: ongebondenheid, owerspel, vyandskap, haat, twis, afguns, woede en dergelike dinge. Waarom kom dit nog in die gemeente voor? Dit is die werke van die vlees wanneer ons probeer om ons eie geregtigheid op te rig. Maar die vrug van die Gees is: liefde, dankbaarheid, blydskap, vrede, lankmoedigheid, selfbeheersing, ens. (Galasiërs 5:22). Dit kom wanneer ek met Christus gekruisig is en ek nie langer leef nie, maar Christus in my leef.

Soos ranke wat ingeënt is in die wynstok, in Christus, kan ons vrug dra. So lank as wat ons in Hom bly en uit sy volmaaktheid lewe, dra ons vrug. Waar ons die genade van God agterweë laat, kan daar geen vrug van die Gees meer wees nie. Maar deur die geloof kan ons nou die hele wet vervul — die wet wat nou die wet van Christus is. In Christus het ons die wet van die Here volbring, volmaak! Wanneer die Gees in ons kom leef het, wanneer Christus deur sy Gees in ons kom werk het. Laat ons hierdie vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, nie verloor nie. Hy wat aan sy eie werke, op watter manier ook al, wil vashou, het van die genade verval. Op 'n pragtige manier eindig Paulus sy brief aan die Galasiërs: "Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld." (Galasiërs 6:14). Die roem in ons eie werke is uitgesluit. Wil u die sonde oorwin? Leef uit die kruis van Christus en die wêreld sal vir u dood wees. Is die krag en die aantreklikheid van die sonde te veel? Deur die kruis van Christus sal u dood wees vir die wêreld.

In Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag. Dit gaan nie daarom of u uit die Jodedom of uit die heidendom tot geloof gekom het nie. Dit maak nie saak wie u is nie, slaaf of vry man, man of vrou, Jood of Griek. Deur die geloof in Christus word ons nuwe skepsele, en daar lê ons krag: geloof in sy volmaakte werk. Daar is vir ons ryk beloning in en deur Christus. Nou en tot in alle ewigheid!