4 bladsye.

Sondag 28: Heidelbergse Kategismus

Lees Markus 14:12-26

nagmaal🔗

Vanaf Doop na Nagmaalstafel🔗

Ons word beveel om die nagmaal te vier, deur niemand minder nie as ons Here Jesus Christus. Die viering van die nagmaal is nie maar 'n mooi simboliese handeling wat ons as gemeente besluit het om so nou en dan uit te voer nie. In die kerklike handboekie is dit reeds aan die begin van die jaar mooi vooruit gereël: die tweede Sondag van elke alternatiewe maand. Maar waarom het dit so 'n belangrike plek in ons kerklike lewe? Dit is nie omdat ons as mense besluit het om dit te doen nie. Maar Christus self het ons en alle gelowiges beveel om dit te vier, om tot sy gedagtenis van die gebreekte brood te eet en van die nagmaalbeker te drink.

Wanneer die apostel Paulus aan die gemeente in Korinte skryf oor die manier waarop die nagmaal daar gevier word, dan verwys hy terug na die opdrag wat Christus self gegee het in daardie nag waarin Hy verraai is – die opdrag dat dit gevier moet word tot sy gedagtenis (1 Korintiërs 11). Dit wat Paulus van die Here ontvang het, dit het hy ook aan die gemeente in Korinte oorgelewer. In daardie besondere nag van verraad, tydens die pasgamaaltyd saam met sy dissipels, het Hy brood geneem, dit gebreek en aan sy dissipels gegee met die opdrag: "Neem, eet, dit is my liggaam. "En by die beker van danksegging, wat deel was van die pasgamaaltyd, het Hy gesê: "Hierdie beker wat julle nou drink, dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie gestort word." En dan kom die opdrag: "Doen dit tot my gedagtenis." Dit is 'n opdrag van Christus!

Ons vier die nagmaal omdat ons Here Jesus hierdie fees ingestel het om ons geloof te versterk. En hoe nodig het ons dit nie! Want ons voel so onwaardig om die nagmaal te vier. Tog, omdat die viering van die nagmaal 'n bevel is, moet ons luister. Ek vier dit nie wanneer ek sterk genoeg daarvoor voel nie. Let maar daarop dat Judas, net voor die viering van die laaste pasgamaaltyd,  reeds geswig het voor die verleiding van die satan en sy planne om Jesus te verraai aan die owerpriesters gaan bekend maak. Onmiddellik ná die ete het Jesus nog vir Petrus gewaarsku dat hy Hom gaan verloën. Petrus ontken dit stellig en met so veel sekerheid. "In hierdie nag", sê Jesus vir hom – dit is dieselfde nag waarin Jesus sy liefde vir so baie, ook vir Petrus, bewys deur Homself vrywillig oor te gee om gekruisig te word – in hierdie nag, "voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën." (Markus 14:30). Hy, wat onskuldig is, sal in daardie nag skuldig verklaar word ter wille van ons. Hy sê ook vir Petrus: "Doen dit tot my gedagtenis, jy het dit so nodig!" Daarom wil die Heilige Gees die nagmaal ook gebruik om ons te versterk. Omdat ons so swak is. Omdat ons dit so nodig het.

Maar die viering van die nagmaal is ook nog meer as net dat dit dien tot versterking van ons geloof. Dit is ook 'n geleentheid waar ons ons geloof bely. En die belydenis van ons geloof is geen opsionele saak in die gemeente van Christus nie. Die hele gemeente word geroep om sy Naam te bely. Want hulle wat hulle nie voor mense vir Hom skaam nie, vir hulle sal Christus ook nie skaam wees om hulle naam voor die Vader te bely nie. Die nagmaal is duidelik bedoel vir hulle wat bereid is om hulle geloof voor mense te bely, vir hulle wat nie skaam is vir Christus se Naam nie. Kyk maar weer na die nag waarin Jesus die laaste pasgamaaltyd saam met sy dissipels eet. Hy stuur sy dissipels om die pasga in 'n huis se bovertek gereed te maak. Nie, soos gebruiklik was, in die huis saam met 'n gesin nie. Die eienaar van die huis waarin die pasga gevier word, so lees ons in Markus 14, hoor net dat Jesus die laaste pasga saam met sy dissipels wil vier. Hy sal die laaste pasga, waar die nagmaal ingestel gaan word, anders vier as wat dit voorheen gevier is. Hy vier dit alleen met sy dissipels. So kom die opdrag ook na die huiseienaar: "Ek wil dit vier saam met die twaalf, met hulle wat my Naam bely." Saam met hulle wat voor die mense bely het: "U is die Christus, die Seun van die lewende God, die Een in Wie ons glo." Dit was nie omdat Jesus 'n privaat geleentheid gesoek het om op 'n heel intieme manier van sy dissipels afskeid te neem, dat hulle alleen in die vertrek was nie. Hy kon dit ook saam met die gesin in die huis gevier het, maar Hy doen dit nie. Want die kerk van die Here Jesus Christus moet in die eeue wat kom weet dat daar aan die tafel net plek is vir hulle wat sy Naam bely. Die opdrag van die Here Jesus is daarom ook: "Doen dit tot My gedagtenis." Dit is: "Vier dit as fees van verlossing, waaraan jy ook deel het. 'n Fees waar jy kom bely dat jy deel het aan my bloed en my liggaam."

oordink

Daarom is daar van ons doop na die nagmaaltafel 'n regstreekse verbintenis. Hierdie twee word aan mekaar verbind met 'n belangrike gebeurtenis: die openbare belydenis van ons geloof. Niemand, ook nie iemand wat in die gemeente gedoop is, kan aan die nagmaaltafel gaan, voor daar nie eers in die midde van die gemeente bely is: "Ek glo in Jesus Christus, Wie se liggaam ons aan die tafel mag geniet." In die doop word ons gedoop, heeltemal passief. Maar aan die nagmaalstafel kom 'n opdrag wat ons moet uitvoer: neem – met ander woorde: vat dit, moenie passief daar sit nie – eet nou, gedenk – oordink dit, en glo. Hier aan die nagmaalstafel moet dit duidelik word dat die Gees van God ons lewend gemaak het. En hierdie lewe wil Christus deur sy Gees aan die nagmaalstafel in stand kom hou. Daarom eet ons. Want soos brood ons liggaam versterk en in stand hou, so moet die offer van Christus ons geestelike lewe in stand hou. Ons kan nie daarsonder nie. Dit wat vir ons die brood van die lewe is, sy liggaam, en die drank van die ewige lewe, sy bloed, wil Christus vir ons aan die tafel uitdeel, sodat ons vir ewig kan bly lewe.

Ons vier nagmaal op Christus se bevel.

Bevel van Christus🔗

Aan die nagmaalstafel sien en hoor ons die geloofsbelydenis van die gemeente van Christus. Daarom dat ons, behalwe dat ons die brood eet en die beker drink, ook aan die tafel saam sing. Ons bely in lied ons geloof in Christus. Hier is 'n opvallende verskil tussen die doop en die nagmaal. By vraag 69 van die Kategismus, oor die doop, bely ons dat die doop ons "ten goede kom", met ander woorde ons bely dat die doop ook vir ons ten goede is – tot ons voordeel. Dit plaas ons in 'n bevoorregte verhouding. Maar by die nagmaal, in vraag 75 van die Kategismus, bely ons dat ons deel het aan, of veel beter vertaal, dat ons deel in die enige offer van Christus aan die kruis en aan sy bloed.

Hier is ook in die Kategismus voortgang. Vir iemand wat gedoop is, is daar net een pad vanaf die doopvont: vorentoe, na die nagmaalstafel. Die viering van die nagmaal is Christus se bevel wat tot elkeen van ons kom. Daar is net een alternatief vir hierdie blye belydenis van ons geloof – die verraad teen Christus soos Judas dit in daardie nag gedoen het.

Dwing ons hiermee enigiemand na die tafel van Christus? Nee, niemand word na die tafel gedwing nie. Ons wys u alleen maar op die erns van Christus se bevel dat ons die nagmaal in geloof moet vier. In die Ou Testament was dit dan ook so dat 'n kind wat die verbondsteken ontvang het, maar die onderrig in die evangelie deur sy ouers verwerp het en die God van Israel nie wou dien nie, die kind wat saam aan die Pasgamaaltyd kon gesit het, wat geweet het wat dit beteken om uit Egipte verlos te wees saam met die volk van God, maar wat nie gaan leef het soos 'n kind van die Here nie – daardie kind is uiteindelik uit die volk van God uitgesluit. Dit vorm die agtergrond vir ons eie tug, wat uitgeoefen kan en moet word oor dooplidmate wat nie belydenis van geloof aflê nie; wat gedurig saam met die gemeente in die erediens sit, maar nie aan die nagmaalstafel nie. Kan so iemand maar altyd deel van die gemeente bly? Nee, verseker nie!

Sien julle die appèl wat tot julle uitgaan, jongmense? Is maar net 'n dreiging? Nee, dit wys hoe ernstig God sy genade met elkeen van julle bedoel. "Kom na My toe" – dit is 'n bevel. "Vier die nagmaal. Moenie wegbly nie; jy mag nie. By My is daar lewe; weg van My net die dood. Niks anders nie." Tot elkeen van julle kinders en jongmense wat gedoop is, kom die bevel van Christus om sy liggaam te eet en sy bloed te drink. Die nagmaal is vir elke lidmaat van die kerk van Christus, vir elkeen wat 'n lewende geloof in Christus het, wat die liggaam van Christus kan onderskei, soos wat Paulus dit noem in 1 Korintiërs 11.

jongmens kerk

Ons glo daarom ook dat dit verkeerd is om te sê – en nou moet u goed luister – dat die nagmaal nie vir kinders bedoel is nie. Die ouderdom van 'n persoon is nie bepalend om aan die nagmaalstafel te gaan nie. Wat bepalend is, is die vraag of iemand werklik in Christus glo. Die vraag is of die lidmaat selfstandig die liggaam van Christus kan onderskei, die nagmaal kan gebruik sonder om dit te doen met bygeloof en daarom die nagmaal kan vier tot versterking en bemoediging in die geloof. As daar enigeen van die jongmense is wat vyftien jaar oud is en die kerkraad vra om tot die nagmaalstafel toegelaat te word en die kerkraad ook oortuig dat hy of sy 'n lewende geloof in Christus het en tot versterking van sy of haar geloof die nagmaal wil gebruik, dan kan en mag daar geen belemmering wees nie.

Maar ons glo nie dat die nagmaal bedien mag word aan kinders om hulle daardeur te leer dat hulle tot geloof moet kom nie. Hierin is daar 'n duidelike verskil tussen die viering van die nagmaal en die pasgamaaltyd van die Ou Testament. Aan die nagmaaltafel verkondig ons die dood van die Here totdat Hy kom, en dit kan ons nie doen sonder om self werklik met die bloed van Christus gewas te wees nie. Sien u die uitnodiging? Hoe dat daar by die jongmense die begeerte moet wees: "Ek kan nie wag totdat ek nagmaal gaan vier nie." Selfs as dit so is dat van die jonger mense sê: "Ek wil op sewentien reeds belydenis van my geloof aflê" en daar is 'n duidelik volwasse geloof wat die liggaam van Christus onderskei. Wie wil so iemand van die nagmaal van die Here weghou? In die tyd van die Reformasie het jongmense van veertien en vyftien jaar nagmaal gevier. Waarom? Omdat daardie jongmense geloofsmoed gehad het om voor die wêreld te staan en hul geloof in Christus te bely. Hulle het ook nodig gehad om deur die nagmaal versterk en bemoedig te word.

Vir Elkeen wat Glo🔗

Maar dan mag ons ook werklik weet dat die nagmaal is vir elkeen wat glo. Die nagmaal is nie gereserveer vir 'n sekere uitgesoekte "geestelike" groep in die gemeente nie. Dit is nie weggebêre vir dié wat nooit twyfel of sonde in hul lewe het nie. Ook vir dié wat dikwels nog twyfel oor hul uitverkiesing, is daar plek aan die nagmaalstafel. Hoe dikwels gebeur dit nie dat katkisante die katkisasie heel getrou volg en duidelike vrugte van geloof in Christus toon, en tog huiwerig is om belydenis van geloof af te lê en die nagmaal te kom vier nie. Hulle het 'n lewende geloof in Christus, hulle hoop op Hom alleen vir hul verlossing, hulle het 'n gewete gewas in sy bloed en leef in gehoorsaamheid aan Hom. Maar al hierdie dinge ervaar hulle nog so gebrekkig (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1, paragraaf 16). Daar mag iemand in die gemeente wees wat al hierdie dinge nog in 'n beperkte mate ervaar. Ons bely dat hierdie gelowiges nou nie moet gaan reken dat hulle ongelowiges of selfs deur God verwerp is nie, maar eerder die middele wat God gee om ons geloof te versterk, met alle ywer moet gebruik! Hulle moet vurig verlang na 'n tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. En waar wil die Gees van God nou juis vir jou hierdie tye van oorvloed gee? Aan die nagmaaltafel! Dus, al is jou geloof swak en voel jy as jongmens dat jy twyfel, gebruik dan die genademiddele met ootmoed en nederigheid, met groot verwagting dat die Here jou volle sekerheid sal gee.

Juis vir die een wat dalk so grof gesondig het en in groot vertwyfeling is of daar ook vir hom vergifnis is, ook vir hom is die opdrag: moenie van die nagmaalstafel wegbly nie! Bely jou sonde voor die Here, kom sit aan die tafel en gedenk! Dink! Waaraan? Aan die bloed van Christus, aan sy liggaam wat vir jou geoffer is. Dit is waaraan ons dink aan die tafel. Gedenk en glo! En glo! Wat? Glo dat dit ook vir jou is. Neem en eet. Neem en drink. Glo dat sy bloed ook vir jou gestort is. As jy nodig het om van jou sondes gewas te word, hoort jy aan die tafel.

Trouens, die tafel is alleenlik vir sondaars bedoel. Daar is nie aan die tafel plek vir mense wat met hulle eie geregtigheid wil kom aansit nie. Aan hierdie tafel kom sit geen gas met 'n kleed aan wat versier is met eiegeregtigheid nie. Hier het die feesgangers net een kleed aan: Christus en sy geregtigheid en sy heiligheid. Christus se tafel is 'n volkome "gelykmaker". Aan die tafel van Christus sien, bely en ervaar ons dat ons almal een kan wees in Hom. Die tafel is daar tot versterking van ons geloof in Christus. Nie as 'n skouterrein vir ons eie heiligheid nie.

Neem Christus dus ernstig op. Hy roep jou na sy tafel. Dit is 'n bevel. Wil jy nie ook jou sondes  laat afwas nie? Is jou sonde te kosbaar, sodat jy daaraan wil vashou? Roep jy uit: "Neem my sondes nie van my weg nie; dit is my besit!?" Daarom is die opdrag: Doen belydenis van jou geloof! Verkondig die dood van die Here saam met die res van die gemeente. Daarom hoort al die gedoopte kinders hier in die erediens waar ons nagmaal vier. Want hulle moet die verkondiging van Christus se dood sien en hoor. En hulle moet die uitnodiging na die tafel elke keer ook ontvang, sodat hulle nie daar wil wegbly nie. Hier mag niemand ontmoedig word om van die tafel weg te bly nie. Elkeen word ernstig genooi, gedwing na die tafel toe en getrek met koorde van liefde. Het Christus nie sy diensknegte uitgestuur om die bedelaars en armes, die blindes en die verminktes en die kreupeles van die strate te gaan haal na sy feesmaaltyd en hulle gedwing om in te kom, aangesien die genooides na die fees van Christus nie gewillig was om te kom nie (Lukas 14:15-24)? Die Here wil dat sy tafel vol sal word. Hy nooi baie. Hy het sy bloed gestort vir baie, so lees ons in Markus 14.

nagmaal

Die nagmaalstafel is 'n roep tot elkeen wat gedoop is. En stel voor dat ek nog in sonde leef? Dan raak dit dringend tyd dat jy die sonde laat staan en vergifnis kry en krag om daarteen te stry. Die feit dat ek nog sonde doen, is geen verskoning om van die nagmaalstafel weg te bly nie. Of is jy liewer vir jouself en jou sonde as vir Christus wat sy bloed gestort het en Hom onskuldig laat veroordeel het in die nag waarin Hy die nagmaal ingestel het?

Hy is die Gasheer🔗

Daarom sien ons nou dat Christus self die Gasheer aan die nagmaalstafel is. Hoe moet ek aan die tafel kom sit? Want Christus is die Gasheer. Hy is hier teenwoordig, deur sy Gees. Aan die tafel ontmoet jy daarom vir Christus. Aan die nagmaalstafel wil Christus met jou 'n paar dinge uitruil. Hy wil ons armoede neem, en ons swakheid en ons sondes. En dan wil Hy vir jou sy rykdom kom gee, en sy krag. In die plek van jou boosheid wil Hy sy goedheid vir jou gee. Daarom, neem dit en glo! Jou skuld wil Hy neem en in die plek daarvan vir jou sy bloed gee. Jou sondes wil Hy vat en Hy gee jou sy gebreekte liggaam. Hy gee jou die bloed van 'n volmaak onskuldige Lam. Kom kry dit by die Gasheer!

Dit is die "vrolike ruil" waarvan Maarten Luther gepraat het. Ons mag met Christus ruil. Ek gee vir Hom en Hy gee vir my. Wat 'n vrolike transaksie is dit nie. Ek kan my sondes vir Hom gee en Hy gee my onskuld. Ek kan my onheiligheid vir Hom gee en Hy beklee my met volmaakte heiligheid. Ons ongeregtigheid kan geruil word vir die geregtigheid van Christus. Christus neem op Hom wat ons s'n was. Maar nog veel meer. Ek hoop u het op die pragtige woorde van die Kategismus gelet. Aan die tafel ruil ons nie net nie, maar aan die tafel word ek "in Christus ingelyf". Daarom word die nagmaalstafel deur Paulus ook 'n gemeenskapstafel genoem. Hier aan die nagmaalstafel is 'n mistieke omhelsing tussen die bruid en die Bruidegom. Volgens die nagmaalsformulier word ons aan die nagmaalstafel deel van die gemeente van Christus. Ons word deel van sy vlees. Daar kom 'n mistieke eenheid tussen ons en Christus. Daar is 'n omhelsing tussen Bruidegom en bruid. Omdat ons aan die nagmaalstafel reeds geniet wat ons in die ewigheid in oorvloed aan die bruilofstafel van die Lam sal geniet. Aan die tafel besit ons deur die geloof die liggaam en die bloed van Christus. Dit is myne en ek is Syne! Hier word sy liggaam vir my gegee om in die geloof te omhels. Hier moet ons saam met Calvyn alleen maar kan sê dat dit iets is wat ons "eerlik gesê, beter kan ervaar as wat ons dit kan begryp!" Omdat ons aan die nagmaalstafel bloed van sy bloed en vlees van sy vlees word.