Sondag 31b: Heidelbergse Kategismus
Sondag 31b: Heidelbergse Kategismus
Lees 2 Korintiërs 5:11-21
⤒🔗
Genade in die Hande van Mense?←⤒🔗
Ons het al aandag gegee aan die eerste deel van Sondag 31. Ons het daarop gelet dat elkeen wat God as Vader ken en het, die kerk, die bruid van Christus, as "moeder" sal hê. Elkeen wat God "Vader" wil noem, moet deel wees van die kerk, wat funksioneer as "moeder" in ons lewe. Beteken dit dat ons glo dat die vergewing van ons sondes en die boodskap van vergifnis nou in die mag en hande van mense is? Beteken dit dat, wanneer die kerk en die verkondiging van die evangelie in die kerk 'n belangrike plek in ons lewe inneem, ons afhanklik word van mense en nie meer van God nie? Word ons verlossing dan op een of ander manier in mense se hande gelaat?
Niks is verder van die waarheid nie. Paulus getuig: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel" (2 Korintiërs 5:17); dit beteken dat God besig was met daardie persoon. Hy is deur God nuut gemaak. As iemand in Christus Jesus wil wees, kan hy nie deel wees van Christus deur 'n mens wat dit vir hom gee nie. Soos alleen God maar kan skep, so alleen kan iemand deel kry aan Christus se genade, aan sy werk vir ons, deur 'n skeppingsdaad van God. Verlossing van sondaars is geen mensewerk nie! "En dit alles", wanneer iemand in Christus is, skryf Paulus (vers 18), "is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus." God self maak mense nuut. God self verlos mense uit die sondedood. As iemand lewendig is, dan beteken dit God het dit gedoen. Nie 'n mens nie.
Maar God het dit wel goedgedink om die bediening van die versoening en verlossing deur sy kerk te doen, sê Paulus in dieselfde woorde. Let goed op die woorde; ons sê nie: die versoening is deur Christus bewerk en nou laat God dit aan die kerk oor om hierdie versoening aan mense uit te deel. Nee, God doen dit, ook die uitdeel daarvan. Maar Hy doen dit op 'n besondere manier: deur sy kerk. Dit is Goddelike werk. God het in Christus die wêreld met Homself versoen, deur hulle hul misdade nie meer toe te reken nie. Die Woord van die versoening is uiteindelik toevertrou aan die gemeente van Christus. Die gemeente het hierdie Woord nou gekry om uit te leef en om hierdie Woord van versoening te verkondig. Lees self daaruit, verkondig dit aan mekaar en aan die wêreld. Omdat God die wêreld, en nie maar 'n klein gedeelte van die aarde nie, met Homself versoen het. Die evangelie mag dus uitgaan tot aan die uithoeke van die wêreld. Dit mag die gemeente weet. God het dit aan die kerk toevertrou. Dit is wat in Sondag 31 beskryf word as "die sleutels van die koninkryk van die hemel", daardie bediening van die versoening.
Daarom kon Paulus sê: "Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan" (vers 20). 'n Gesant is en bly 'n dienskneg. Hy bring niks anders as die boodskap van die Een wat hom gestuur het nie. Hy is net 'n gesant, 'n gestuurde, wat 'n boodskap wil oordra van God aan hulle na wie hy gestuur is. Hy bedien hulle aan wie hy die boodskap van sy Heer, sy Sender, bring. Hy tree op as 'n dienskneg, en dit waarmee hy hulle bedien, is die Woord — die Woord van God, wat 'n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo. God self vermaan dus deur hierdie gesante van Hom wat Hy uitgestuur het. Dit is nie die gesante wat mense moet oortuig nie. Dis nie die gestuurdes wat mense nuwe skepsele moet maak nie. Dit alles, as iemand in Christus Jesus is, is uiteindelik uit God, en nie uit 'n mens nie.
God gee aan sy bruid die sleutels van sy koninkryk.
Amp van Gelowiges←⤒🔗
Ons gaan in die eerste plek let op wat ons almal ken as die amp van gelowiges.
Die Roomse kerk veronderstel dat hierdie sleutels van die koninkryk in die hande van die amptelike hiërargie van die kerk is. En dit sien ons daarin dat slegs die priesters aan mense die verlossing kan gee, veral deur die sogenaamde offer van die nagmaalsbrood en die vergewing van mense se sondes vanuit die biegstoel, waar die priester die verlossing gee! Ons glo egter nie dat Christus die sleutels aan 'n uitgesoekte groepie mense in die gemeente gegee het nie. As gereformeerdes glo ons dat die Here dit aan die hele gemeente gegee het. Want die hele gemeente het die Woord ontvang, waardeur hulle hul mag bekeer en die genade van die Here in geloof mag aanneem. Nie 'n klein groepie nie! Daarom roep die apostel Paulus ook die gemeente in Korinte op: "Laat julle met God versoen." (2 Korintiërs 5:20b). Want julle het die Woord van versoening gekry! Dit is wat die groot ontdekking was van die groot Reformasie van die sestiende eeu: die priesterskap, nie van 'n klein groepie mense nie, maar van elke gelowige. Dit beteken dat die verlossing nie deur die kerk aan ons uitgedeel word nie. Elkeen van ons moet en mag leef uit die Woord van versoening wat aan ons verkondig word. Ons mag dit glo, en dan het ons nie 'n tussenganger tussen God en ons nodig nie. Ek mag die Woord wat God aan my, sy gemeente, gegee het, glo; en daarom mag elkeen profeet, priester en koning wees. Elkeen mag leef vanuit die Woord van God.
Elkeen sal daarom ook verantwoording voor God moet aflê oor wat hy of sy gemaak het met die Woord wat na ons gebring is. Wanneer word die koninkryk van die hemel vir my oopgesluit? Ons bely in Sondag 31: Die koninkryk word oopgesluit so dikwels as wat ek die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Wanneer ek dit doen, word al my sondes my ter wille van Christus se verdienste vergewe (antwoord 84). So dikwels as wat ek die evangelie van versoening in geloof aanvaar! Sien u hoe funksioneer die priesterskap van die gelowige? Die Woord leef in die gemeente en elkeen mag en moet glo. Die koninkryk word nie vir my oopgesluit wanneer ek weer 'n keer in die erediens gekom het en ek, wanneer ek daar uitstap, beter voel oor my lewensituasie, of omdat my gewete my minder aankla as daarvoor nie. Die koninkryk word nie vir my oopgesluit wanneer die dominee 'n baie mooi preek gelewer het en ek verstom staan oor sy insigte in die Skrif nie. Die Woord werk op 'n heel bo-natuurlike manier in ons lewe, maar op geen magiese manier nie. Niemand word ooit gered deur na goeie of slegte preke te luister nie.
Die Woord kom werk geloof in menseharte en bring verslae en belaste mense tot geloof. Dit is wanneer die koninkryk oopgesluit word. Dit is verlossing vir mense! Nie om oopmond na geweldige insigte in die Skrif te luister nie, maar om met 'n eenvoudige, gelowige hart die Woord van versoening vir myself te aanvaar. Dit bring die grootste en gehardste sondaars tot bekering. Onverstaanbaar! Onbegryplik vir ons beperkte insigte, dat daardie persoon, daardie geharde broeder, ewe skielik verander het. Kyk hoe lyk hy, hoe lyk daardie suster skielik. Wat het in haar lewe gebeur? God werk op 'n wonderbaarlike manier. Die koninkryk van die hemel word vir u oopgesluit wanneer u u met God laat versoen. En daarom wil ek u vandag nie maar net kom toespreek nie, maar wil ek nou by u pleit, soos Paulus dit gedoen het in die gemeente van Korinte: laat u in God se Naam met God versoen! Dan word die koninkryk van God vir u oopgesluit. Nie as u die preek maar oor u laat gaan nie. Laat u met God versoen, glo die evangelie! Waar is die blydskap as u uit die erediens uitstap? Laat ons dit sien! As ons by die huis kom en nie kan ophou om te praat en te getuig van die wonderlike genade van die Here dat ek mag weet: my sondes is vergewe. Ons moet nie gaan sit en praat oor dominee se mooi preek en goeie insigte nie, maar oor die versoening wat onder ons moet gaan leef. Vandaar kom die blydskap.
Daarom, hou op om langer in u sonde te leef asof dit die normale manier vir 'n Christen is. Hou op met u gesanik oor die grootheid van u sondes; is u dan so blind vir die heerlikheid van Christus, u Bruidegom, dat Hy u nie kan bly maak nie?! Is u nie volmaak in Hom nie? Glo u dan nie in Hom nie? Trek Hy nie alle aandag van uself af na Hom toe nie? Is u nie besig met Hom nie? Dit is tog ons roeping dat ons ons met God versoen, om met Christus besig te wees? Waarom die gedurige kyk na onsself, asof dit gaan funksioneer as 'n verskoning om in sonde te bly? Daarom is die oproep van die apostel: Laat julle met God versoen! Is Hy nie vir u genoeg nie? Wat wil u by Hom byvoeg voordat u sal voel dat u op Hom vertrou? Hy is geen egbreker wat 'n derde in die verhouding tussen Hom en u toelaat nie! Hy is vir u óf alles óf niks!
Daarom word aan al dié wat nie glo nie en dié wat as huigelaar in die gemeente lewe, verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hom sal bly solank hy nie glo en hy hom nie bekeer nie. Dit is presies die woorde wat in Sondag 31 staan. Dit is hoe die koninkryk van God toegesluit word. Dat ons sal hoor dat, as ons ons nie bekeer nie, as ons nie glo nie, dan bly die toorn van God op ons; dan sal ons gevalle bly in ons sondes; dan sal ons nooit daaruit kom nie. Nie in die eerste plek waar mense met die ban uit die gemeente uitgesluit word nie, maar daar waar mense week na week die verkondiging van die Woord aanhoor en met Bybels in die huise lewe, maar hulle nie met God laat versoen nie. Daar word die koninkryk toegesluit. Die sleutels funksioneer in die eerste plek daar waar elke individuele lidmaat homself met God versoen deur te lewe vanuit die verkondiging van die evangelie. Waar elke lidmaat homself verneder onder die magtige hand van God oor sy sondes, met die wete dat God die nederiges verhef op die regte tyd. Dit is die selftug waarvan die Bybel praat – waar ek my laat aanspreek deur die Woordverkondiging en nie maar gedurig weer kritiek op die Woord het nie. Daar waar ek my lewe deur die Woord laat kritiseer en dit verander en die Woord my 'n lewe vanuit Christus alleen gee.
Dit is waarom Paulus met soveel "uitsinnigheid" by die gemeente in Korinte pleit dat hulle hul met God moet versoen, omdat die versoening so 'n groot sekerheid is. God het Hom, wat geen sonde gehad het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Hierdie liefde van Christus dring die apostel Paulus om by die gemeente te pleit: moenie die versoening by julle laat verbygaan nie. Omdat ons die vrees vir die Here ken, probeer ons om mense te oortuig. Laat julle met God versoen! Daar is die taak van die amp van die gelowige, die priesterskap. Om te gaan leef vanuit die boodskap van vergifnis.
"Besondere" Ampte←⤒🔗
Ons kyk nou na wat ons ken as die "besondere" ampte. Sien u hierin iets van die besondere van die bevoegdheid van die kerk wat ons moeder is? Die kerk waar die evangelie, waardeur ons versoen moet word, aan ons verkondig word, is ons moeder. Want bediening van die versoening is aan die kerk toevertrou. Die feit dat dit ons elkeen se persoonlike verantwoordelikheid is om die evangelie te glo, neem nog niks weg van die belang van die kerk van Christus in ons lewe nie. Want die sleutels is nie vir 'n klomp individue gegee om rond te dra nie. Hy gee dit vir sy kerk wat gebou word op die fondament van die apostels en profete se prediking.
En hier sien ons die belang van die kerk van Christus in ons lewe. Christus self gee in sy kerk ampsdraers wat die Woord aan die gemeente verkondig. Aan die gemeente saam in die erediens, maar ook aan die gemeentelede afsonderlik. Op huisbesoek. Of in 'n gesprek op die kerkplein of oor die telefoon, of waar ons mekaar ook al ontmoet.
In die lig van die feit dat ons glo in die priesterskap van die gelowiges, kan ons vra: Maar waarom het ons ampsdraers nodig as elkeen van ons self die Bybel kan lees? Wat maak hulle nou so besonder? Word ons nie op hierdie manier al weer aan mense gebind en nie aan Christus self nie? Nee, ons sien in die ampsdraers manne wat die Here in sy gemeente gee en toerus deur sy Heilige Gees, om die Woord aan ons te bedien. Nie om ons aan hulle te bind nie, maar om ons aan die Woord te bind. Nie hulle besondere en welsprekende persoonlikhede hoef ons aan te staan nie. Die teendeel is dikwels waar! Maar hier behoort manne te wees wat vol van die Woord en ook vol van die Gees sal wees. Nie met 'n gesag van hul eie nie, maar met die gesag van die Woord waarmee hulle na ons kom. Die Here het hulle as 'n gawe van die Gees aan die gemeente gegee. Hy wil hulle gebruik in gereelde en erkende diens tot opbou van die gemeente. Dit is wat ons ken as die ampte van die predikant, ouderling en diaken.
Ons kan onsself maklik verhef bo die wysheid van die Here deur te dink dat ons tog geen predikant, ouderling of diaken nodig het om te glo en die Here te dien nie. Dit is egter nie die saak waaroor dit gaan nie. Die vraag is of u wel geloofsoë het om die goedheid van die Here daarin te sien dat Hy ons juis deur die werk van die ampsdraers wil wys dat ons geloof wat ons nodig het om gered te word, nie iets is wat uit onsself kom nie, maar dat dit aan ons gegee word. Dit is die besondere werk van 'n ampsdraer. Nie dat hulle ons iets kan gee wat ons nie van God self kan kry nie! Maar God wil ons waarsku teen selfgenoegsaamheid, teen die denke van: "Maar ek kan mos ook, ek het mos ook 'n Bybel; wie is die kêrel wat bel vir huisbesoek?" God wil ons laat sien dat dít wat ons nodig het om gered te kan word, vir ons gegee moet word. Daarom is die ampte 'n genadegawe van God, sodat ons kan sien dat ons verlossing na ons toe moet kom. Ons kan dit nie na God toe bring nie. God kom deur sy Gees na ons toe. Daarin lê juis die aangrypende van die leer van die ampte in ons gemeente – die amp van predikant, van ouderling en van diaken. Ons sien die wysheid van die Here daarin dat Hy ons ampsdraers gee. Ons glo dat genade nie iets is wat ons kry deur ons eie inspanning en prestasies nie. Ons is nie "doen-dit-self"-gelowiges nie. Dit wil die Here ons laat sien deur vir ons ampsdraers te gee. Hy wat werklik leef uit die genade van God en weet dat God se genade iets is wat van buite homself uit Christus kom, het ook geen moeite om die ouderling of predikant op huisbesoek te ontvang nie. Want hy het geleer dat God se genade iets is wat van buite homself as geskenk van God na hom kom.
Waar sukkel die ouderling om 'n afspraak vir huisbesoek te kry? Waar sukkel die ouderling of die predikant om enigsins 'n goeie gesprek aan die gang te kry oor God se genade in ons persoonlike lewe? By die broeder of suster wat dit self wel alles so goed weet, en wat die huisbesoek kaap en gebruik om te praat oor allerlei interessante sake en oor wat in die gemeente gebeur, sonder dat hulle daar sit met 'n honger om die versoening te ontvang. Om maar 'n woord te kry van genade vir my! Dit is die een wat nog nie geleer het dat sy geregtigheid buite homself lê, dat dit na hom toe kom as 'n gawe, 'n geskenk van God, nie. Die gesprek gaan oor sake buite sy of haar persoonlike geloof en geloofsekerheid om. Die persoon wat leef uit selfgenoegsaamheid, verlang nie na 'n huisbesoek nie. Hy het ook gedurig maar weer kritiek op die ouderlinge. Hy wat weet om sy verlossing buite homself te soek, sal nie vir die ouderling wag om sogenaamde "geestelike" sake aan die orde te stel nie. Wanneer die ouderling traag is om die gesin met die evangelie te bedien, smeek hom dan: "Broeder, gee my die water van die lewe, want ek het dors." Tot beskaming van die ouderling wat weet hoe om die aand vol te kry met gesellige kuiertjies.
En die preek? Wat maak ons met die preek? In 'n preek, wat bediening van die versoening is, gaan dit om ons lewe as gemeente. Oor u en my sonde wat vergewe moet word, oor ons lewens wat geheilig moet wees. Dit gaan in die preek nie oor allerlei interessante Skrifuitleg en uitlegmetodes nie. Nog minder oor die vreeslik boeiende voordrag van die predikant. In die prediking gaan dit in die eerste plek daaroor dat ek die boodskap mag hoor dat my sondes vergewe word ter wille van Christus. En wie word ooit moeg daarvan? Wie word daardeur verveel? Wie sê: "Daar hoor ons die bekende weer; hy sê dit alweer"? En waarom sê hy dit alweer? U het dit alweer so nodig! Of u dit besef of nie! Ek mag uit die ryke Woord van die Here telkens weer dieselfde hoor: in die Naam van die Here word ons sondes ons vergewe. Op heel gevarieerde maniere hoor ons dit. Soms uit geskiedenis van die Ou Testament, soms uit pragtige Psalms of liedere, soms uit die mooiste gedigte of uit briewe van Paulus wat as 't ware gedoop is in die bloed van Christus, wat ons vertel van God se genade en liefde.
"Welsalig wie van skuld en straf onthewe, die woord mag hoor: jou sondes is vergewe." (Psalm 32 berymd). Daaroor gaan dit. In die Naam van die Here mag ook aan my verkondig word dat daar vir my vergifnis van sondes is. Dit mag ek dan ook in geloof aanneem. Maar ek moet ook hoor en weet dat as ek nie glo nie, die toorn van God op my bly. Hier word ons gestel voor die vraag hoe ons na die preek luister. En ek dink dat ons as gemeente hieroor baie ernstig selfondersoek moet doen. Baie in die gemeente broei oor die vraag of hulle uitverkies is al dan nie. Baie leef met onsekerhede oor die dag van oordeel. Mense leef in geweldige onrus oor hulle toekoms en oor die verhoring van hulle gebede.
Maar dit is nie vreemd as die prediking nie ernstig opgeneem word nie. Wanneer 'n erediens met die grootste gemak versuim word vanweë "familieverpligtinge" of gebrek aan lus. Moet dan nie verbaas wees as jy in onsekerhede leef en vol twyfels is nie. As jy nie luister na wat die kerk as moeder vir jou sê nie, sal jy ook vol twyfel wees oor wat die hemelse Vader van jou sê en hoe Hy jou wil lei. Luister wat moeder te sê het en jy sal weet wat die Vader se gesindheid teenoor jou is. Want as die prediking nie gelowig begeer en daar nie na gehonger word nie en dit nie aanvaar word nie, word die koninkryk van die hemel nie vir my oopgesluit nie, maar toegesluit. Is dit dan vreemd as die hemel bo my voel soos 'n ysterskerm waardeur my gebede nie kan dring nie?
Dit wat hier op aarde dan deur die evangelie ontbind word, sal in die hemel ontbonde wees, en dit wat hier in die erediens gebind word, sal in die hemel gebind wees. Ek herinner u aan wat ons lees in Openbaring 21, die visioen van die nuwe Jerusalem met die twaalf pêrelpoorte – die poorte waarvan ons so dikwels dink dat ons êrens in die toekoms daardeur moet gaan in die stad van die toekoms. U sal u herinner dat daardie stad se poorte op die aarde staan – nou! Daardie pêrelpoorte is die leer van apostels en profete. Hulle wat vandag daardeur gaan, wat vandag glo, sal ook dan in die stad van die toekoms wees. Daardie stad word hier op aarde gebou deur die verkondiging van die evangelie. Hy wat vandag in die kerk ingesluit is, sal dan in die stad ingesluit wees. Want die stad van die toekoms is niks anders as die voltooide kerk wat die Here nou reeds bou nie. Daarom, as ek nou deur die geloof deel is van die kerk, dan mag ek ook weet dat ek deel is van daardie stad. Die vraag is of ek die sleutels, wat aan my bedien word, nou ernstig opneem.
Daarom, gelukkig is elkeen wat mag hoor en glo: my sondes is my vergewe!