4 bladsye.

Sondag 33 Heidelbergse Kategismus

Lees: Hosea 6:1-11; Matteus 9:9-13🔗

Aan die einde van die viering van die nagmaal bid ons dat die Here sal gee dat ons as bekeerde mense gaan leef. In die pragtige laaste gebed van die formulier bid ons saam tot die Here: "Ons vra U, gee dat ons in ons geloof gesterk deur hierdie nagmaal, vrugte van dankbaarheid voortbring. Laat ons ook in ons hele lewe hartlike liefde betoon aan U en aan mekaar." Dit is die lewe van dankbaarheid; dit is wat dit beteken om as 'n bekeerde kind van God te leef. Bekering is 'n saak van God se genade en krag in ons lewens. Daarom het bekering te doen met die vernuwing, die nuut maak, van my lewe voor God. Na sy sonde met Bátseba bid koning Dawid hierdie gebed tot God: "Here, skep in my 'n nuwe hart!" Dit is bekering — God wat met sy krag in my 'n nuwe hart kom skep, my 'n nuwe skepsel maak. Dit kan vergelyk word met die opstanding van iemand uit die dood. Die Here kom gee my 'n nuwe hart.

Dan is dit geen onbelangrike saak nie wanneer ons onsself gaan afvra of ons as bekeerde mense lewe. Wanneer Dawid bid dat die Here hom 'n nuwe hart moet gee, staan onmiddellik daarna die smeking: "Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie" (Psalm 51:13). Want dit sal die alternatief wees vir die bekering wat God hom moet gee. Die vraag of ek lewe as 'n bekeerde kind van God, is 'n lewensbelangrike vraag. En tog is dit steeds so dat sommige van ons dit vreemd vind dat ons van onsself as bekeerde mense praat.

Daarvoor kan daar verskillende redes wees. Dalk is dit vanweë 'n teenstand teen mense wat geweldige bekeringsverhale het, maar waar daar weinig sigbaar word van 'n lewe met die Here. Mense in wie se lewe geen vrugte van dankbaarheid gestalte gaan kry nie. Dan bied ons weerstand daarteen. Mense wat met verhale kom van alles wat hulle verkeerd gedoen het, maar geen nuwe lewe in Christus gaan lei nie.

Maar dit kan ook wees omdat ons self die Gees van God weerstaan om kragtig in ons te werk en ons nuut te maak. Ons moet versigtig wees om die lewe van 'n Christen te sien as 'n natuurlike proses van gedoop word, opgroei in die kerk, op 'n bepaalde ouderdom belydenis van geloof aflê en daarna 'n rustige lewe voortleef van meedoen aan kerklike aktiwiteite — soms op 'n intensiewe manier meedoen as ampsdraer of die vrou van 'n ampsdraer of as suster wat allerlei dienswerk in die gemeente verrig. So "gewoon" gaan dit nie met bekering nie. Bekering is 'n daadwerklike antwoord op die Here se genadige roep tot bekering. Ons moet elke dag weer leer wat dit beteken dat die Here in sy kerk nie regverdiges roep nie, maar sondaars tot bekering.

Ons kyk na bekering — terug na God: deur sy krag en genade, vir my lewe lank, en met my hele lewe.

Bekering deur sy krag en genade🔗

Wat beteken dit dat die Here sondaars tot bekering roep? As ons dit goed wil verstaan, moet ons kyk hoe die Here Jesus die Fariseërs gewys het op die noodsaak van die bekering van hulle lewe. Uit volle ywer vir die reinigingswette wat geld by 'n ete, vind hulle dit vreemd dat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet. Die Fariseërs het self geen behoefte en nood gevoel aan Jesus se ontferming oor sondaars nie. Hulle het geen behoefte om naby Jesus te wees en genade van Hom te ontvang nie. In antwoord op hul vraag waarom Hy dan saam met sondaars eet, sê Jesus dat die gesondes die geneesheer nie nodig het nie, maar die siekes. Jesus kritiseer die Fariseërs wat dink dat hulle gesond is en Hom nie nodig het nie. Hulle dink dat hulle deur hul lewe wel diens aan God bewys en Hom so behaag en daarom Jesus, wat van die Vader gekom het, nie nodig het nie.

Dit maak Jesus nog duideliker wanneer Hy die Fariseërs in vers 13 na die boek van die profeet Hoséa verwys: "Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie." Dit is effens onduidelik in ons Afrikaanse vertaling, asof God barmhartigheid van ons wil hê. God sê: "Ek wil barmhartigheid; Ek wil dit vir julle gee. Gaan leer wat dit beteken. Ek wil geen offerandes hê nie." Hy sê dit aan 'n volk wat in opstand is teen Hom, wat Hom probeer behaag met uiterlike offerandes. Hiermee het Jesus hulle geneem na die profeet Hoséa waar die Here Homself voorstel as die Een wat sy volk verskeur het; Hy het hulle gestraf oor hul sonde, maar is nou ook die Een wat kom om hulle te genees. Hy het sy volk geslaan, maar gaan ook weer hulle wonde verbind (Hosea 6:1). Hy gaan hulle hul sonde laat berou, maar Hy doen dit omdat Hy hulle na Hom wil laat terugkeer om aan hulle barmhartigheid te bewys hul lewe lank. Dit moet sy volk leer verstaan. Die Here wil nie hê dat sy volk moet verdrink in 'n put van sondebesef en ellende nie. Maar Hy wil wel hê dat hulle na Hom toe sal kom, wetende hoe nodig hulle Hom het, wetende dat Hy hulle God is, uit Wie, deur Wie en tot Wie hulle kan leef. Hy wil nie in die eerste plek die offers van sy volk hê nie. Hy wil aan hulle barmhartigheid bewys en het nie hulle offers nodig nie.

Die Here Jesus se aanklag teen die Fariseërs is dat hulle so besig is met hulle offers van gehoorsaamheid aan die Here, dat hulle blind daarvoor is dat hulle geen besef van hulle eie sonde en skuld voor die Here het nie. Nou sê die profeet Hoséa: "Want Ek het 'n behae ... in kennis van God meer as in brandoffers". (Hosea 6:6). Kennis van Hom wat soveel genade aan sy volk wil bewys, wat sy liefde aan hulle wil gee. Hulle moet Hom leer ken, dan sal hulle kan leef as sy bekeerde volk. Om van ons verkeerde lewe weg te vlug terug na die Here wat ons uit genade as sy volk wil aanneem; terug na Hom wat ons sy genade en liefde wil gee en bewys. Vir jou! Het Hy dit nie bewys nie? Het Hy jou nie geroep as sy kind nie? Vlug vir die lewe uit en vir onsself, en keer terug na die Here en sy genade, sy barmhartigheid en sy goedheid. Daar lê die hartklop van ware bekering — 'n omkeer in ons lewe, weg van onsself, na God toe. Bekering vind nie plaas as ons bloot probeer wegvlug van ons sonde wat ons oorweldig nie. Nie as ek my gevange voel deur die mag van die sonde en dan dink: "Nou moet ek weg, so kan ek nie leef nie." Dit is nie bekering nie. Bekering is wanneer ek God leer ken as die genadige Vader wat my uit my doodsbestaan die lewe wil gee!

Daarom sê die profeet Jeremia: "As jy jou bekeer, Israel, spreek die HERE, bekeer jou tot My" (Jeremia 4:1). Keer terug na daardie God wat sy verbond met jou kom sluit het. Dalk het jy al lankal van Hom vergeet, het jy van Hom weggedwaal, Hom nie meer erken nie. Keer terug na Hom wat altyd aan sy Woord getrou bly.

En nou is die vraag: as dit bekering is, gaan alles dan maar so ewe rustig in ons lewe aan asof daar niks verander het nie? Daar kan nie sprake wees van bekering sonder verandering in ons lewe nie. By die een mag die verandering dan meer dramaties wees as by die ander. Soos in die geval van die apostel Paulus. Op pad na Damaskus word hy skielik op 'n kragtige manier tot bekering gebring. Alles wat hy gedink het diens aan die Here was, versmelt in die lig van God se genade oor hom as moordenaar en kerkvervolger! Een wat in opstand teen Jesus was, vir Wie hy vervolg het. 'n Bekering, heel dramaties, heel aangrypend!

Maar so het ook meer in hierdie gemeente dit al belewe — 'n besef wat skielik tot jou deurdring wanneer jy gekonfronteer word met die vraag: "Waarmee is ek besig? Vir wie lewe ek: vir God of vir myself? Kan ek langer so met die sonde in my lewe speel? Wat maak ek met al die goeie wat die Here my gee — sy geduld, sy sorg, sy liefde, sy Seun? Wat maak ek met sy Seun wat Hy vir my gegee het?" En dan kan dit wees dat die Here my lewe heel drasties 'n nuwe rigting laat ingaan — 'n bewuste lewe vanuit God se genade, en dat ek dan vlug vir die vroeëre sondes waarin ek geleef het.

Ons bely dat God werklik mense, ons, verander. Hy dring met sy Gees deur tot in die binneste dele van ons lewe en Hy open die geslote hart, Hy maak sag wat hard is. Wat dood was, maak Hy lewend; wat sleg was, goed; die wat onwillig was, wat weerstand gebied het en gesê het: "weg van my", die maak Hy gewillig; en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 11). So werk die Here in die lewe van sy kinders. Ook in ons lewens.

Klink dit nie alles te dramaties nie? As ons na onsself kyk, dan lyk of voel dit nie asof die Here so met ons werk nie. En tog gebeur dit. Gebeur dit nie dat waar ek vroeër met slepende voete kerk toe gegaan het, die Sondag met die eredienste nou vir my soos 'n eiland in die see of 'n oase in die woestyn geword het nie, 'n plek waar ek veilig is en voel dat ek versorg word? Waar my gebede op 'n stadium weinig meer was as 'n gekerm op my bed, het ek in alle eenvoud begin om God te aanbid as my Vader. Ek het sy liefde leer ken en 'n opregte berou gekry dat ek God se toorn wakker gemaak het deur gedurig sy volmaakte wil nie in my lewe te erken nie.

Hoe nodig het ons as gemeente dit nie dat die Here ons met sy Gees nuut sal maak nie!? Ons sit dikwels so vasgevang in ons sondes. Soms is die skokkende dat ons daardie klem van die sondes op ons lewe as gerieflik ervaar. Hoe doen Hy dit alles as Hy ons bekeer? Dit kan ons nie alles begryp nie (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 13). En dit hoef ons ook nie. Die skokkende is egter wel dat ons so min van die uitwerking van ons bekering in ons lewe sien. Hoeveel te meer is dit 'n rede om ons toevlug tot God se genade te bly neem! Om Hom te vra dat Hy ons deur sy genade in beskerming sal neem. In die Dordtse Leerreëls bely ons dat ons dit nie alles kan begryp nie, maar dit is vir ons 'n gerusstelling dat ons weet en oortuig is dat ons deur die genade van God in Hom glo en ons Verlosser van harte liefhet. Ja, al kan ek nie verklaar dat God my daartoe gebring het dat ek Hom liefhet nie, is ek vandag bly dat ek Hom mag liefhê. En dan sien ek hoe die bekering in my lewe gestalte begin kry, dat ek 'n hartlike liefde vir God gekry het. Dat ek bly is met die eredienste, dat ek op Sondae daarna vlug. Dat ek Hom saam met sy kinders kan en mag aanbid. Is dit nie duidelik 'n teken van bekering nie? Natuurlik!

Daar het u die vrug van die bekering: 'n hartlike vreugde in God deur Jesus Christus en 'n lus en 'n liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Die hartlike berou dat ek God deur my sondes vertoorn het. En daarom haat ek my sondes. En ek vlug daarvan weg. Ek keer terug tot die Here. Al het Hy my verskeur in die besef dat ek in doodsgevaar is in my sonde, weet ek Hy sal my genees. Hy wat my geslaan het, sal my ook weer verbind (Hosea 6:1). Al moet ek soos die verlore seun teruggaan na die Vader en sê: "Vader, maak my 'n dienskneg in u huis", dan weet ek dat ek daar veilig sal wees, want daar het selfs die slawe oorvloed. Ek gaan terug na Hom en ek sal sê: "Vader, ek het teen U gesondig." Ek vertel nie in die eerste plek alles wat ek gesondig het nie, maar sê: "Vader, dit was verkeerd dat ek uit u huis weggegaan het, want ek hoort in u huis, by U. Daar kan ek my verlustig in U en in u diens. Daar moes ek gewees het, daar moes dit vir my aangenaam gewees het, daaroor moes ek bly gewees het. En nou is ek by U." Dit is bekering! Dit is die bekering deur die krag en genade van die Here — terug na my God!

Bekering vir my lewe lank🔗

In die tweede plek gaan ons nou daarop let: die bekering is vir my lewe lank. Het ek met die sonde afgereken wanneer ek eenmaal berou oor my sondes gehad het? Het ek my klaar bekeer toe ek my toevlug eenmaal tot die Here geneem het? Het ek klaar afgereken met my ou mens en is ek so totaal nuut dat ek geen stryd teen die sonde meer het nie? Nee! Bekering is nie iets van een oomblik alleen nie. Dit duur my lewe lank! Want ek vlug tog nie net na Christus om eenmaal vergifnis van my sonde te kry en dan het ek 'n erfdeel waarmee ek my eie pad kan gaan nie. Dit is ook deur Hom, deur die Here Jesus, dat ons 'n nuwe lewe begin lei as kinders van God. Daarom wil ek by Hom bly. Hom wil ek hê. Ons beroof God tog nie van sy genade en gaan dan ons eie pad nie? Bekering is juis om na Hom toe terug te kom en dan by Hom te wil bly, nie waar nie?

Dan leef ons nie meer in vrede met ons sonde nie. Die sonde moet doodgemaak word. My ou mens moet sterf. Met geweld! Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê: "Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie" (Hebreërs 12:4). Het ons? Ten bloede toe? Het ek my ingespan om die sonde dood te maak? My sonde wat my hele mens-wees deurtrek. My persoonlikheid — maar daarmee is ek gebore! Dit moet verander, waar nodig, want die Here wil u nuutmaak. My gevoelens — wat dikwels verkeerde gevoelens is. My natuur  — "maar so is ons, in sonde ontvang en gebore". My opvoeding dikwels — "u weet nie in watter huis ek grootgeword het nie." Ja, maar die Here wil ook daar heiligend kom werk. My gewoontes — "ja, dominee, maar u weet nie hoe lank ek dit al op dié manier doen nie." Dalk is die manier verkeerd in die lig van God se Woord. Dan wil God hê dit moet verander. My kultuur — die sonde sit daarin. Hierdie sondes mag nou nie langer heers as ek leef vanuit Christus nie. Hy verdra geen ander saam met Hom in ons lewe nie. Daarom gaan my sonde nie langer my lewe beheer nie. My sonde gee my nie meer plesier nie, maar droefheid. Ek het berou. Nie oor al die aaklige gevolge van die sonde nie. Maar opregte skaamte oor wat ek teen die Here doen. Hy wat soveel liefde en genade en barmhartigheid aan my bewys het, dat Hy sy Seun vir my gegee het. Is ek nog in opstand teen Hom? Nee, ek het 'n hartlike berou!

Maar nie net dit nie. Ek gaan verbly my ook oor die Here. As ek gesondig het, dan sien ek weer wat 'n wonderlike God en Vader ek het dat Hy so 'n kind soos ek sy eie gemaak het. Hoe lief het Hy my dan nie! Daarin gaan ek my nou verlustig. My verleentheid oor my sonde word gelyk ook 'n blydskap oor my God en Verlosser! En hierdie twee dinge hang so nou saam — die berou oor my sonde en die lewende geloof dat die God teen Wie ek gesondig het, ter wille van Christus my Vader wil wees; die sekere vertroue dat ek Hom behaag met my diens aan Hom en tegelykertyd die berou oor die sondes wat daar in my lewe is. Geloof en bekering is onafskeidbaar aan mekaar verbind. Die ontvang van God se barmhartigheid wat Hy ons wil gee en ons bekering leef onlosmaaklik saam. Ons hoef nie eers te verdrink in ons ellende voordat ons dit durf waag om te glo nie. Ons kan ook eers oorweldig word deur die onbeskryflike liefde van God en ons dan gaan skaam vir ons eie toestand. Ons kan egter nooit van ons sonde probeer wegvlug, sonder om in die genadige arms van ons God te vlug nie. Anders word ons wetties en moralisties en leef ons nie uit Christus nie. Dan leef ons nie uit die geloof nie. En alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. Al is dit ook hoe mooi vir ons. Dan is dit nie vir God aanvaarbaar nie. Daarom, gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie. Gaan leer wat dit beteken: ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars terug na my barmhartigheid.

Hierdie lewe as bekeerdes beskryf die apostel Paulus in hierdie woorde: "Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom" (Kolossense 2:6). Ons groei en lewe uit Hom, maar tegelyk ook na Hom toe. "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is" (2 Korintiërs 3:18).

Bekering met my hele lewe🔗

Daarom gaan ons nou in die derde plek daarop let dat hierdie bekering wat my lewe lank duur, ook my hele lewe beïnvloed. Met my hele lewe gaan ek daarom die Here dien. Bekering is dus duidelik nie iets wat ongesiens en ongemerk in my lewe verbygaan nie. Bekering kry heel konkreet gestalte en vorm in my lewe. In die Heidelbergse Kategismus staan dit so mooi dat ons die sonde gaan leer ontvlug! Want sonde is gevaarlik. As jy die sonde nie doodmaak nie, gaan dit jou doodmaak! Ons moet dus nooit ons sonde goedpraat en toedraai in mooi versiering nie. Teenoor die sonde moet die werke van geloof nou gestalte in ons lewe gaan kry. Goeie werke. Uit geloof. Nie uit vrees of uit pligsbesef nie. Nie uit angs en vrees vir mense nie, maar uit liefde vir die Here.

Werke nie volgens wat ek goed vind en wat my goed laat voel nie, maar werke volgens die wet van die Here. Dan gaan ek lewe sodat die mense my goeie werke kan sien, sodat my Vader wat in die hemel is, daardeur verheerlik kan word vir die genade wat Hy aan my bewys het en elke dag steeds bewys.