4 bladsye.

Sondag 40: Heidelbergse Kategismus

Lees 1 Johannes 3:10-24

Jy Mag Nie Doodslaan Nie🔗

'n Hele klomp aktuele sake kom op ons af by die besinning oor die sesde gebod: "Jy mag nie doodslaan nie." Beter vertaal sou dit moes lees: "Jy mag nie wederregtelik doodmaak nie", want dit is wat daar staan. Dit gaan in hierdie gebod oor veel meer as 'n houding van "eerbied vir die lewe". Geen mens of dier of plant se lewe is egter 'n doel op sigself nie. Daarom gaan dit in hierdie gebod nie om die eerbied wat ek vir lewe moet hê nie. Die lewe is nie die mens se hoogste goed nie, soos die menseregte-kultuur ons wel probeer wys maak. Lewe moet gerig wees op lof en diens aan God en aan ons naaste — dit is waarvoor die Here lewe gee; maar nie dat daar maar net lewe kan wees nie.

Geen lewe het "absolute waarde" nie. Ons ontvang lewe as bewys van God se goedheid; maar God self kan dit ook weer van ons wegneem, omdat ons ons voorreg op die lewe verspeel het. Dit is geen absolute besit van my nie. Daarom het God self die dood ingestel as straf op die verkeerde gebruik van my lewe. Die mens wat sondig moet sterf. Dit is geen "natuurwet" nie. Ons moet duidelik sien dat God oor die lewe beskik; Hy kan dit gee, maar ook weer neem wanneer Hy dit besluit. Die lewe is geen onskeibare besit van die mens nie. Daar bestaan daarom ook nie so-iets soos 'n onsterflike siel van die mens nie. Ons moet God vrees wat sowel die liggaam as die siel kan doodmaak. God alleen besit onsterflikheid (1 Timoteus 6:16). Die natuurwetenskaplike, Albert Schweitzer, het die sogenaamde "eerbied vir die lewe" tot in die absurde deurgevoer. Volgens hom is dit eintlik onvanpas om op enige plant te trap, 'n blom te pluk of onversigtig 'n mier onder jou skoensool die lewe te ontneem. Hy was natuur¬wetenskaplike, maar ook medikus, en as medikus was sy uitgangspunt dat alles gedoen moet word om lewe ten alle koste so lank moontlik te rek en aan die gang te hou.

Lewe moet gerespekteer word. Maar dit is nie waaroor dit gaan in die sesde gebod nie. Die betekenis van die sesde gebod kan ons beter so opsom: God vra eerbied vir Hom wat die lewe gee.

Eerbied vir God as Gewer van die lewe beteken nie 'n absolute verbod op die neem van die lewe van 'n ander mens of dier of plant nie. Daar is situasies waarin ons selfs van die Here die opdrag kry om dood te maak. So het Israel die opdrag gehad om die Kanaäniete in die beloofde land uit te roei. Die maat van hul sondes het vol geraak en God wou Israel gebruik om hulle te straf. Israel moes hulle doodmaak. Moses, wat die Egiptenaar doodmaak omdat hy 'n Israeliet mishandel het, word net aangeprys vir sy daad van geloof.

Nader aan ons eie situasie kan ons let op wat ons lees in Romeine 13 van die swaard wat die owerheid gekry het; die staat is 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. En 'n swaard word nie gebruik om mee te streel nie — dit het 'n ander doel.

Israel, Moses en die staat het volle reg en verantwoordelikheid van die Here gekry om in bepaalde omstandighede dood te mak. Maar dit kom nie enigiemand in enige omstandigheid toe nie. Daarom verbied die Here wederregtelike doodmaak van mense. Ek mag nie doodmaak sonder dat ek die reg daartoe het nie. Of soos die Kategismus dit so mooi verduidelik: ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Nie met gedagtes, woorde of gebare nie.

Maar hoekom dan? Waarom mag ons dan nie doodmaak nie? Kom ons nie vandag in situasies waarin ek nie anders kan as om kwaad te word of my te vererg vir iemand, of iemand wat kwaad gedoen het, 'n les te gaan leer nie? Johannes neem ons terug na die begin van die wêreld wat God geskape het. Die boodskap wat ons van die begin af gehoor het, is dat ons mekaar moet liefhê. Dit is die ou gebod wat ons van die begin af gehad het en wat nog net so staan. Want die lewe van 'n mens is iets heel besonders. Die mens is geskape as beeld van God. Daarom het ons van die begin af, selfs van voor die sondeval, die opdrag om mekaar lief te hê. Daarom maak ons mekaar nie sommer dood nie. Die mens is gemaak as God se verteenwoordiger op aarde. Die mens tree namens God, wat die groot Koning is, hier op aarde op. Hoe vreemd dat ons dan mekaar nie sou liefhê nie. Die gebod om mekaar lief te hê, kom uit die feit dat God die mens na sy beeld gemaak het.

Hierin lê uiteindelik ook die verskil tussen die kinders van die duiwel en die kinders van God. Hy wat sy broer nie liefhet nie, is nie uit God nie. Word dit nie duidelik in die lewe van Kaïn nie? Hy was uit die bose en het sy broer doodgeslaan. Nou kan ons wel sê dat dit ná die sondeval was en dat Kaïn wel 'n goeie rede sou gehad het om sy broer dood te maak. Nee, sy broer het hom nie aanleiding gegee nie, maar die enigste rede waarom hy hom doodgemaak het, was omdat sy eie werke boos was en dié van Abel regverdig, so skryf Johannes in 1 Johannes 3:10-12. Nie vanweë die onhoudbare situasies wat sedert die sondeval op aarde kon ontstaan nie. Daar is ook nou geen onhoudbare situasies wat dit vir ons onmoontlik maak om nie kwaad te word nie. "Ja, vanweë die sondeval, vanweë verhoudinge in die huwelik, vanweë verhoudinge tussen vriende en mense, het dit noodsaaklik geword dat ons tog maar 'n keer kwaad word of ons vererg", sê ons dikwels. Nee, van die begin af staan die opdrag: ons moet mekaar liefhê. En as die gedagtes van moord, die gebare of dade, daarby kom, kom dit net omdat ons werke boos geword het. Daarom bly die opdrag van die Here: jy mag nie wederregtelik doodmaak nie.

Hy wat 'n mens se bloed vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak (Genesis 9:6). Hier maak dit nie saak of iemand hom ook werklik gedra soos 'n beeld van God nie. Ja, iemand mag selfs heel vreemd optree, maar ons kry die opdrag van die Here dat ons selfs ons vyande moet liefhê. Dat ons selfs hulle moet liefhê wat in opstand is teen God. Bewys liefde aan hulle. Die unieke plek wat die Here aan elke mens toegeken het, moet maak dat ons respek en liefde vir ons naaste sal hê. Dat ek geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik sal wees. Alles wat my naaste kan benadeel, sal ek sover ek kan probeer voorkom; selfs aan my vyande sal ek goed doen. So bely ons dit ook in die Kategismus.

Absolute Eerbied?🔗

Maar nou kan ons nog die volgende vraag vra: Hoe ver gaan hierdie liefde vir ons naaste? Is daar grense? As ons ons laat lei deur die Woord van die Here, dan kom ons vanself uit by sekere uitsonderings wat die Here self gee. Ons het reeds gelet op die owerheid wat die swaard nie sonder rede moet dra nie. Daar gee die Here selfs die opdrag om, as dit noodsaaklik is, met die dood te straf. In sekere gevalle word dit selfs aangeprys dat ons ons lewe opoffer. Hoeveel sendelinge het nie al hul lewe gewaag om die evangelie in onveilige omstandighede te verkondig nie? Staan Martin Luther nie vreesloos voor die ryksdag van Worms met die wete dat hy waarskynlik gedood kan word vir sy optrede waarmee hy die vergadering verlaat of selfs nog daarvóór nie? En tog het hy doelbewus daarheen gegaan, want hy moes as getuie vir God optree. Maar ook ander gelowiges waarvan ons in die kerkgeskiedenis en in die Skrif self lees. Hoe jammer dat ons dikwels nog so min waardering het vir die lees van die verhale van hulle wat bereid was om te sterf vir die getuienis van Jesus Christus, wat hulle lewens daarvoor in gevaar gestel het. Hulle het nie die sesde gebod oortree nie! Hulle het wettig hul lewe in gevaar gestel om van die lewe in Christus te getuig. Het ons nog daardie moed? Doen ons dit nog vandag, of doen ons alles om onsself maar te beskerm, ons so veilig as moontlik op te stel? Probeer ons nie enige plek waar ons naam, ons reputasie, enigsins op die spel is, te vermy nie? Die kerkgeskiedenis skryf van mense wat gesterf het op brandstapels, aan kruise, aan teerpale; mense wat vir hulle geloof verdrink is in riviere. Ter wille van die getuienis van die lewe in Christus!

Maar minder dramaties en tog dit waarmee ons self meer gereeld gekonfronteer word, gaan oor die grense van wat die mediese wetenskap vir ons kan doen. Is daar geen grense aan die pogings om mense se lewens deur die mediese wetenskap te probeer verleng nie? Tot die absurde toe moet alles gedoen word om mense se lewens maar enigsins te verleng. Selfs al sou dit ten koste van so baie ander dinge gaan, net om maar enkele maande aan iemand se lewe toe te voeg. Die dood is die laaste vyand wat oorwin moet word; maar vanuit die evangelie weet ons dat die dood nie deur die mediese wetenskap oorwin kan word nie. As gelowiges kan ons ook iemand laat sterwe met die wete dat die kind van die Here sal lewe ook al het hy gesterwe (Johannes 11:25-26). Het Jesus nie gesê dat Hy die opstanding en die lewe is nie? Wie in Hom glo, sal lewe al het hy ook gesterwe. Daarom is daar geen absolute bewaring van lewe aan hierdie kant van die graf nie. Soms moet ons die lewe laat gaan.

Geskonde Lewe🔗

Vervolgens gaan ons kyk wat dit beteken dat ons te doen het met 'n geskonde lewe. Ons bly glo, selfs na die sondeval en die uitwerking daarvan, dat die Here die mens gemaak het om te leef en nie om te sterf nie. Die dood is geen natuurlike en blye einde aan elke mens se lewe nie. Die dood bly die mees onnatuurlike saak in die lewe van 'n mens. Daarom kan ons in blye verwondering wees by die geboorte van elke nuwe kind. Maar ook kan ons weer in geskokte verwondering langs elke graf gaan staan. En ook by elke siekte en gebrek, liggaamlik of geestelik. By die aftakeling van ons liggame met hoër ouderdom. By dit alles staan ons in verwondering. Hoe kan dit! Die dood hoort by die lewe om net een rede: omdat God dit gegee het as straf op ons sonde. En geen mens is van hierdie straf uitgesluit nie. Is die dood nie die groot "gelykmaker" nie? En dit bepaal heel konkreet die manier waarop ons omgaan met die lewe van mense vir wie ons lief is en vir wie ons verantwoordelikheid het om hulle te versorg.

Hoe gaan ons om met die lewe, noudat dit geskend is? Daar is liggaamlike en psigiese gebreke, daar is veroudering. Hoe hanteer ons dit? Wat mag ons nog doen, gesien die onvermydelike van die dood aan die een kant en aan die ander kant die waarde van die lewe deur God gemaak? As siekte en liggaamlike agteruitgang alles deel is van die straf van die Here op ons sonde, mag ons dan nog enigsins iets doen om dit teen te staan? Ons dink dikwels dat dit logies is, ons moet dit doen. Maar mag ons? Ons het dit mos verdien om die lyding te ontvang. Maar gelukkig is dit nie waar die Here met ons geëindig het nie, by die straf wat ons verdien het.

Net soos met al die ander gebooie, wil ook die sesde gebod ons terugneem na die verlossing uit Egipte. Die verlossing wat die Here ons beloof. Die verlossing uit die mag van die satan en uit die mag van die dood. Waarom moet ons steeds respek hê vir die lewe van ons naaste? Waarom moet ek alles in my vermoë doen om my eie lewe en dié van my naaste te beskerm? Omdat die Here my lewe en dié van my naaste gered en verlos het van die doodsbestaan en van die mag van die satan. Daarom! Eva het moeder geword van al wat lewe. Want uit haar saad sou 'n Seun gebore word wat die lewe sal wees vir baie. Dit word vir ons verder duidelik uit die verlossing uit Egipte. Egipte het gedreig om verander te word in een groot begraafplaas vir die kinders van die Here. Uitgelewer aan die wrede kinder  en volksmoord van die Farao. Maar daar laat die Here dit nie. Egipte word 'n plek waar die Here weer nuwe lewe kom gee vir sy kinders, uit genade. Hy wil vir sy kinders weer sig op die lewe gee — ook die ewige lewe. Hy haal hulle uit die kloue van die dood en neem hulle na die woestyn sodat hulle met en vir Hom kan lewe!

En dít bepaal in watter lig ek na die lewe en dié van myself gaan kyk. Hoe waar dit ook al is dat ons die dood verdien en dat ons siektes ook die gevolg is van die sonde en die straf daarop, Hy gee ons uit genade weer die lewe. Hulle wat die doodstraf verdien, kry die lewe. Ons hele lewe, elke dag weer, is 'n teken van God se goedheid en genade oor my. Hy gee die lewe vir ongelowiges, sodat hulle hul tot Hom moet bekeer. Adam en Eva sterf nie dadelik nie, maar 'n venster na die toekoms word oopgemaak deur die lewe wat die Seun van God vir ons aflê. Hy is nou vir elkeen die waarheid, die weg en die lewe. In Hom is daar lewe. Soos wat die Vader aan die begin lewe vir die skepping gegee het deur die Seun, so gee Hy ook weer lewe terug aan sy skepping nadat ons in sonde geval het en red ons van die dood.

En hoe duidelik sien ons dit nie, wanneer ons kyk na die bediening van ons Here Jesus Christus as Hy na die aarde kom. Wat gebeur? Stap Hy verby siekes en sê: "Julle het jul verdiende straf gekry"? Laat Hy mense in die graf lê? Nee! Siekes word genees; dooies word opgewek; blindes kan sien; kreupeles loop weer. Hy kom om die dood tot niet te maak. Hy wys dat Hy oor die dood heers. En dit laat Hy meer as duidelik blyk in die opwekkings uit die dood. En veral wanneer Hy Lasarus, sy vriend, uit die dood opwek en Hy as't ware in opstand is as sy vriend in die graf lê. Die vernietigende krag van die dood wat Lasarus se liggaam al laat verrot het, word magteloos gemaak in die krag van Christus wat self die lewe en die opstanding is. Maar die hoogtepunt van die oorwinning oor die dood is wanneer Hy self uit die dood opstaan en finaal die mag van die dood breek deur as onskuldige uit die dood op te staan. Ter wille van ons. Hy maak die dood dood. Die dood word oorwin en verswelg in Christus se opstanding uit die dood (1 Korintiërs 15). En nou het ons die verwagting dat ons vir ewig sal lewe.

In die lig hiervan gaan ons om met die dood en die siektes wat ons in ons lewe en dié van ons geliefdes ervaar, met die gebreke en die afbreek van ons liggame. Hoeveel die dood en siektes en swakhede en gebreke in ons lewe ook al 'n rol speel, dit kan nooit die geweldige lig van Christus se oorwinning, die lewe in Hom, uitdoof nie.

Daarom staan ons nie passief langs 'n siekbed nie. Ons staan nie magteloos en toekyk wanneer mense siek word of begin verouder, wanneer hulle hulpeloos aan 'n bed gekluister is nie. Dan het ons 'n taak. Maar ons probeer ook nie met ons medisyne self die dood oorwin nie. Christus het die pad gemaak wat uitloop op die nuwe aarde en hemel, waar daar geen dood en siektes meer sal wees nie. Die knapste medikus kan ons nie die ewige lewe gee nie. Gelukkig kom vra die Here dit ook nie van die dokter nie. Geen verpleegster en ook nie iemand wat 'n geliefde tot aan die einde van die lewe versorg, is ooit verantwoordelik om mense 'n ewige lewe te gee nie. Christus doen dit. En dit mag elkeen wat verantwoordelikheid het vir die versorging van ander, ook maar heel goed weet. Wat 'n vertroosting en bemoediging! Met hierdie wete hoef ons nie ten alle koste te veg om die behoud van iemand se lewe nie. Ons mag juis ook as gelowiges op 'n bepaalde tydstip iemand laat sterf.

Dit beteken geen oomblik dat ons ontslae wil raak van iemand wat, soos mense soms sê, 'n las vir die samelewing geword het nie, want dit is geen mens ooit nie. Ons gaan nooit ligtelik besig wees met die bejaarde wat bedlêend is en volkome van ons hulp afhanklik is nie. Maar 'n bejaarde of sieke kan ook 'n punt bereik waar hy of sy  afgeleef is, moeg geleef. Dit lees ons van die aartsvaders — oud en versadig van die lewe. Dan mag so iemand ook sterwe en ons mag so iemand ook laat sterwe, al is ons ook hoe lief vir so iemand. Nie aktief iemand doodmaak nie, maar ons mag hulle laat sterf, juis omdat ons nie sonder uitsig is nie. Ons bly egter tot aan die einde sorg dra vir die persoon. Daarom kan ons nooit aktief betrokke raak by die sogenaamde genadedood nie. Daar bestaan nie so iets nie. Dit is 'n teenstrydigheid. Ons verantwoordelikheid bly lê in versorging tot die einde. Juis omdat ons respek het vir Hom wat die lewe gee en mag het om dit ook weer te neem as dit Hom behaag. Dit is nie in ons hande nie. En dan kan ons sterf as gelowige en laat sterf, wetende dat die dood se angel tot niet gemaak is. Nou is die dood vir die gelowige bloot 'n deurgang tot die ewige lewe.