4 bladsye.

Sondag 47: Heidelbergse Kategismus

Lees Jesaja 6; Lukas 1:46-56

Die Here is die Heilige🔗

Die profeet Jesaja kry in die sterfjaar van koning Ussía 'n visioen van die Here waarin hy die Here sien sit op sy hoë en verhewe troon. Rondom die troon van die Here sien hy engele, serafs wat mekaar toeroep: "Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!" (Jesaja 6:3). Wat Jesaja sien, is aangrypend. Die driemaal heilig beteken dat die Here as Koning die Allerheiligste is. Heiligheid is meer as maar net 'n eienskap van die Here; Hy is die Heilige. Sy toorn is 'n heilige toorn. En sy liefde is 'n heilige liefde. Sy trou is 'n heilige trou. Die Here is die Heilige.

Die toorn en liefde en trou van die Here kan met niks anders op aarde vergelyk word nie. Daar is niks in die skepping waarmee die Here gelykgestel kan word nie. Wanneer die Here sy onbeskryflike liefde vir sy volk wat gesondig het, wil voorstel; wanneer Hy wil beskryf dat dit inderdaad onverklaarbaar is dat Hy hulle nog nie verwerp het nie, dan sê die Here by monde van die profeet Hoséa: "Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde" (Hosea 11:9). Jy kan My nie met 'n skepsel vergelyk nie. Moet my liefde nie probeer vasvang in jou gedagtes nie. Moenie my liefde probeer verklaar deur wat jy kan bedink nie, tot waar die grense van wat jy jou kan voorstel, kan gaan nie. Die Here se heiligheid is veel meer as net dat Hy te rein van oë is om die kwaad te aanskou (Habakuk 1:13). Veel meer as net dat God sonder sonde is. Die heiligheid van die Here beteken: Hy IS die HEILIGE.

Hom Moet ons Reg Ken as die Heilige🔗

Wanneer ons bid dat die Naam van die Here geheilig moet word, kan dit voel asof daar afstand tussen ons en God kom. Want ons is bewus daarvan dat ons sondige mense is, dat ons onheilig is. As dit voel of God ver bo ons verhewe is, dat daar afstand tussen God en ons is, dan is dit ook tereg. Dit ís ook so. Wanneer Jesaja die Here in sy heiligheid sien, dan roep hy uit: "Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!" (Jesaja 6:5).

Dit is die indruk wat die heiligheid van die Here op ons behoort te maak. Wee my! Te gereeld dink ons ontsettend maklik oor die Here se heiligheid. Hierdie visioen waarin die Driemaal heilige gesien word, was so dringend noodsaaklik in Jesaja se tyd. Jesaja sien die Here nie toevallig so in sy heiligheid nie. Dit gaan saam met die klag van die Here dat sy volk Hom nie meer ken nie: "'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie" (Jesaja 1:3). My volk ken My nie meer nie. Dit vorm die agtergrond van die openbaring in Jesaja 6. My volk ken My nie meer reg nie.

Daar lê ook die agtergrond van die uitleg van die Kategismus. As ons reg wil bid: "Laat u Naam geheilig word", dan moet ons God reg leer ken. Die klag van die Here teenoor sy volk is: julle moet my heiligheid weer leer sien; dan sal julle ook weer leer om reg te bid. Juda en die inwoners van Jerusalem besef nie meer met Wie hulle te doen het nie. Juda het geen slapelose nagte meer oor haar sonde nie. Die bywoning van die weeklikse eredienste word rustig gekombineer met 'n losbandige, sedelose lewe. Ons kan losbandig leef en Sondag in die erediens sit. Die heiligheid van die Here het net eenvoudig uit ons gedagtes verdwyn. My volk ken My nie meer nie. Die neem van die Naam van die Here op hulle lippe is soms vir gebed en soms as 'n vloek. Uit dieselfde mond word die Here geprys én kom kras en kru, vuil woorde. Daarom wys die Here vir sy volk Wie Hy is. Hy is die Heilige!

Dit het laat geword, 'n laat uur, as die Here dit weer so duidelik vir hulle moet kom wys. Om op hierdie krasse manier diens aan die Here én 'n losbandige lewe te kombineer, is 'n manier om die Heilige van Israel te verag (Jesaja 1:4). Juis daarom kry Jesaja hierdie visioen. Juda moet die Here weer reg leer ken, weer leer met Wie hulle te doen het. Anders ontheilig hulle die Naam van die Here. So maklik, gemeente, vorm ons vir onsself 'n beeld van God deurdat ons uit die Bybel kies wat ons eie gedagtes oor God as 't ware slegs bevestig. Ons lees dat God 'n God van liefde is en laat gerieflikheidshalwe na om te let op sy toorn, dat Hy ook 'n verterende vuur is. Op dié manier word dit onnodig om ooit deur ons sonde gepla te word. En voordat ons ons kan kry, is ons lewens-praktyk presies dieselfde as dié van die wêreld. Met die een verskil dat ons nog kerk toe gaan en die Naam van die Here nog op ons lippe neem. So was dit met Israel in die tyd van Jesaja.

God is heilig in sy onnaspeurlike genade en liefde oor sy kinders. Maar dis ook juis wanneer die Here self opkom vir sy heilige Naam, dat Hy Hom as die Heilige onder sy volk laat ken. As Hy by sy eie huis begin om sy heiligheid te laat blyk. Hoe verskriklik is dit dan om te sien as die Heilige begin met sy oordeel; wanneer Hy begin om te laat blyk dat hy te heilig is om die sonde te verdra. Wanneer Juda die wet van die Here van die leërskare verwerp en die Woord van die Heilige van Israel verag, dan ontvlam die toorn van die Here teen sy eie volk. So lees ons in Jesaja 5:24-25. Hy ontvlam in sy heiligheid teen sy volk, want Hy is die Heilige. Hy is heeltemal anders as wat mense Hom vir hulself probeer voorstel. Hy is almagtig in sy heiligheid. Hy is wys, goed, regverdig en barmhartig in sy heiligheid. Hy is met niemand anders te vergelyk nie. Wie kan met Hom in krag gelykgestel word? Hy is die Heilige!

Maar hierdie heiligheid van die Here beteken nie dat Hy onbereikbaar ver van ons af is nie. Ja, daar ís duidelik afstand tussen ons en God. Maar ook in sy ywer vir sy kinders is Hy heilig. En in sy barmhartigheid. Daarom word Jesaja, toe hy die Here sien, ook nie voor die Here uitgewis nie. Hy word self ook geheilig. Een van die serafs het na Jesaja gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat met 'n tang van die altaar af geneem is, van die altaar van die tempel van die Here wat hy gesien het. Daarmee raak hy die mond van Jesaja aan, met die woorde: "... jou skuld is weg en jou sonde versoen." Van die altaar van versoening kom die engel met die kool vuur om Jesaja te heilig. Maar nie Jesaja alleen word geheilig nie. Hy moet nou ook die volk gaan heilig deur sy boodskap. 'n Boodskap vir 'n volk wat dowe ore en blinde oë het; horende doof en siende blind. In sy heiligheid ywer die Here vir die verlossing van sy volk. Selfs al is sy volk hoe dwaas in hul verhardheid.

Deur die profeet Hoséa kondig die Here op 'n besondere manier sy heilige ontferming oor sy volk aan. Gedurig weer, sê die profeet Hoséa, het die Here deur sy profete vir Israel geroep. Toe Israel 'n kind was in Egipte, het die Here sy seun van daar geroep. Toe sy seun in magteloosheid 'n slaaf was. Hy het self vir Efraim leer loop. Hy het sy kind in sy arms geneem. Dink maar daaraan hoe hy Israel in die woestyn gedra het. En nogtans het sy volk nie erken dat dit die Here is wat hulle genees het nie. Die Here het in sy barmhartigheid neergebuig en sy seun, sy volk, grootgemaak. En tog dreig sy volk om van Hom afvallig te raak. Maar in sy heilige barmhartigheid wil Hy hierdie seun van hom nie prysgee nie: "Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm ..." (Hosea 11:8 e.v.).

Hier sien ons die heiligheid van die Here so duidelik as Hy sê: "Ek sal my toorngloed nie laat geld nie ...; want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie." (vers 9). Sien u die heilige barmhartigheid? Dat die Here sê: "My hart is omgekeer oor jou. Ek kan nie met jou maak soos met ander nie. Jy is my verbondsvolk, my gemeente wat my Naam dra. Ek kan nie met jou maak asof jy 'n heiden is nie. Ek is die Heilige. Dis anders as wat jy dink Ek is. Ek is werklik besorg oor jou en my hart gaan uit na jou. Ek wil nie hê dat jy so hard teenoor My moet wees nie. Ek is God en nie 'n mens nie. Moet dan ook nie van My dink soos jy van 'n mens dink nie." Hier sien ons die heiligheid van die Here as Hy sê: "Ek sal my toorngloed nie laat geld nie ..." Dit is heilige barmhartigheid en heilige ontferming!

Ons sien dit reeds by die verlossing uit Egipte. Dan wys die Here Homself as die Een wat in sy krag verheerlik is in heiligheid (Eksodus 15:11). Die volk sing daarvan saam met Moses wanneer die Here in sy krag die Egiptiese leër laat verdrink in die Rooi See. Die Here as Heilige tree op vir die verlossing van sy volk uit hul benoudhede. Toe die volk letterlik vasgedruk was tussen die duiwel en die Rooi See, het die Here gekom in sy heiligheid en die vyande van Israel in die see gewerp. Die perd en sy ruiter het verdrink. So het die Here sy heiligheid tentoongestel; sy heilige ontferming vir sy seun wat Hy wou grootmaak.

Ook Maria sing in haar lofsang van die heiligheid van die Naam van die Here wat Hom oor haar ontferm het. Hy wat magtig is, het groot dinge gedoen. Sy heilige barm¬hartig¬heid is van geslag tot geslag (Lukas 1:49 e.v.). Hier sien ons die heiligheid van die Here in sy voortgang met sy volk van geslag tot geslag. Ons sien ook sy heiligheid in die geboorte van Jesus Christus, die Seun van die Heilige. Kyk hoe wonderlik is die gedagtes van die Here bo dié van elke mens. Dit wat by geen mens opgekom het nie, bedink God om sy volk te red. Is dit nou nie heilige barmhartigheid nie! — dat Maria kan sing van God se heiligheid nadat die engel vir haar gesê het: "Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word" (Lukas 1:35). Baie pertinent word Jesus hier "die Heilige" genoem. Die Een wat gebore sal word, sal die Heilige wees; hierdie Heilige sal die Seun van God genoem word.

Hy wat die Naam van die Here wil heilig, kan nie om Jesus van Násaret heen nie. Hy is die Heilige. By Hom kan ons vir ewig veilig wees. As ons God se Naam reg wil heilig, dan moet ons God reg leer ken in die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat die Heilige is, wat gebore is vir ons. Hom moet ons in geloof reg ken. Want God se heilige barmhartigheid is in Hom. Maar ook God se heilige toorn vir elkeen wat nie uit die geloof in Hom wil leef nie. Buite Christus, wat God se heilige barmhartigheid is, is daar alleen maar kennis van heilige toorn en heilige vuur wat verteer.

Hom Moet ons Reg Eer as die Heilige🔗

Ons moet Hom nie net reg ken nie, maar ook reg eer. Hoe moet ons dan nou die Naam van die Here heilig? Dit beteken ons moet die Naam van die Here grootmaak. Die lied van Maria is hierin 'n pragtige voorbeeld. Sy begin deur te sing: "My siel maak die Here groot." Dit is dan ook byna sonder uitsondering wat ons elke Sondag in die eredienste in ons eerste gebed net voor die Skriflesing doen. Het u al opgelet hoe daar gebid word? Dit is tog ook u gebed? Het u al opgelet dat die lof van die Here verkondig word? Dat ons die Here eer vir sy groot dade in ons lewens? Dat sy Naam grootgemaak word? Dit is om die Naam van die Here te heilig! Noem sy Naam vir dit waarvoor dit staan. Hy is die magtige Skepper. Hy is ook die Een wat in neerbuigende goedheid na sy volk toe kom. Loof die Naam van die Here, heilig so sy Naam!

Maria maak die Naam van die Here groot omdat Hy haar nederige toestand aangesien het. Hierdie aspek van gebed kry 'n hopeloos te klein deel in ons gebede. Wanneer ons in ons gebede in verwondering is oor die groot dade van die Here — vir dit wat Hy gedoen het in die skepping en ook in die verlossing van sy kinders. Vir die daaglikse goedheid in ons lewe. Deur Hom daarvoor te loof en te prys word sy Naam geheilig!

So verwoord die Kategismus dit ook mooi. Wat beteken die bede: "Laat u Naam geheilig word"? Dit beteken: "... dat ons u heilig, roem en prys in al u werke, waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter." By baie van ons het daar iets van 'n renons gekom daarin om die Naam van die Here te loof en te prys, vanweë so baie misbruike daarvan by die charismatiese groepe of by ander Christene. Waar die uitroepe "Loof die Here!" of "Prys die Here!" blote slagspreuke en stopwoorde by baie geword het, reageer ons dikwels daarop. Maar die konkrete vraag is of óns nog weet hoe om die Here te loof en te prys! Weet ons nog hoe om te roem in sy groot dade van almag en barmhartighede? En as ons dan swyg, dan sal die klippe dit uitroep. Want God hét Hom lof voorberei. Dit pas in die monde van sy kinders.

Die Naam van die Here moet die regte plek in ons daaglikse lewe kry. Durf ons nog die Naam van die Here betrek in die gewone dinge in ons lewe? Wys ons mekaar nog op die goedheid van die Here in ons lewens? Wanneer daar weer voedsel op ons tafels mag wees, as ons gesond is of herstel het na 'n siekte of operasie, sê ons dan vir mekaar: "Die Here was goed vir my"? Sien ons nog sy barmhartigheid in ons lewens? Of is ons net bly as ons weer kragte het en gaan ons dan maar net weer aan met ons lewens? Op hierdie manier, as die Naam van die Here nie geheilig word nie, word dit ontheilig. Maria loof die Here as sy sê: "Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam" (Lukas 1:49). Sy weet ook hoe om die magtige werke van die Here in die verlossing van sy volk te betrek in haar gebed. Maghebbers het Hy van trone gestoot en nederiges verhoog. So sing Maria. Sy sing van die trou van die Here. Hy is goedertieren en barmhartig aan Abraham. Sy sing oor die heilige ontferming van God in die geboorte van haar Seun. Die Seun van God, die Heilige.

Laat ons saam bid: "Here, laat u Naam geheilig word!" en laat ons ook in alles wat ons doen, sy Naam heilig. Laat ons ook so gaan leef, dat die Naam van die Here nie onder die heidene onteer word as gevolg van ons optrede nie.