4 bladsye.

Sondag 51 Heidelbergse Kategismus

Lees: Psalm 25; Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraaf 13🔗

Bitterder as die dood🔗

"Die verberging van die aangesig van die Here" — is dit iets wat ons in ons lewe ken? Is dit iets wat ons ervaar? En dan praat ons hier nie oor die gevoel wat 'n mens soms kan kry dat alles in die lewe eenvoudig skeef en verkeerd loop nie. Die gevoel dat alles en almal teen my is, my vyandiggesind is. Want daaruit kry ons 'n heel miserabele gevoel van eensaamheid en verwerping en voel ons bitter teenoor alles en almal rondom ons. Wanneer die Dordtse Leerreëls praat van die verberging van die aangesig van die Here wat "bitterder is as die dood", dan het dit niks te doen met 'n lewensgevoel dat niks vir my goed uitwerk nie, dat niks in my lewe klop nie.

Die verberging van die aangesig van die Here is 'n beskrywing van wat die Woord van die Here ons leer oor hoe God konkreet met sy kinders besig is. Die Here is op 'n heel lewendige en dinamiese manier besig met dié wat aan Hom behoort. Ons kan maklik oor die vergifnis van ons sondes dink as iets wat êrens in die verlede plaasgevind het, wat klaar en afgehandel is. Ons is mos nou kinders van die Here! Bevestig God dit nie aan ons deur die doop nie? Al wat ons doen met hierdie gebed om die vergifnis van ons sondes, so dink ons soms, is om eintlik maar weer daardie vergifnis "in herinnering te roep". Maar indien dit die geval sou wees, dan is dit nie vreemd nie as ons baie min vreugde oor die vergifnis van ons sondes ken. Dit sou dan ook nie vreemd wees as ons die bede om vergifnis van sondes sommer so tussen al die ander sake wat ons deurloop in die gebed, ook nog noem nie. "O ja, vergeef ons ons sondes; gee ons dit alles saam met die vergifnis van ons sondes. Amen." Soos wanneer ons aan die einde van ons gebed vra dat die Here ook nog weer alles wat daar dalk sondig mag wees in wat ons vandag gedoen het, sal vergewe. Dit is geen gebed om vergifnis nie!

Die hele Skrif is vol daarvan dat die Here die sondes van sy kinders nie eenmalig vergewe, en dan is dit verby nie. Soms is die Here vol blydskap met en oor sy kinders. Maar dan mag die Here oor daardie selfde kind van Hom ook werklik toornig wees. En dan is dit geen toneelspel van God nie! Dan is God nie besig om met sy toorn net te illustreer hoe dit sou gewees het as ons nie gelowiges was nie. God is toornig op sy kinders en ons kan nie sê dat die Here eintlik maar gemaak het asof Hy toornig is nie. Dink byvoorbeeld aan die liefde van die Here vir sy kneg Moses, maar ook aan sy toorn, sodat Hy hom by geleentheid in die nag wou doodmaak omdat hy nagelaat het om sy seun te besny. Nee, die Here het nie gemaak of Hy toornig was om Moses sover te kry dat hy tog die besnydenis uitvoer nie. Nee, die Here was werklik toornig oor Moses. Of ons lees ook in die profeet Hoséa (in hoofstuk 11) hoe die Here sy volk laat verstaan het dat sy "hart omgekeer is" in Hom oor die sondes van sy volk. Hy is ontsteld oor die lewe van sy volk en raak werklik toornig oor sy kinders. Hulle verdien die dood en Hy wil hulle ook straf, maar kan nogtans nie met hulle maak soos met die heidense volke Adma en Seboïm nie!

Ons het Psalm 25 gelees: 'n Gebed van Dawid, 'n smeekbede om vergifnis van sondes. "Here, dink aan u verbond, verheerlik u Naam en vergeef my sondes." Dawid kom nie na die Here en sê: "Here, onthou u nog wel, noudat ek gesondig het, dat U 'n verbond met my gesluit het. My sondes is mos klaar vergewe. Alles is weer goed en wel met my om weer bewus te leef uit die besef van die vergifnis van my sonde." Nee! Juis omdat God se verbond so 'n geweldige werklikheid is, omdat dit so waaragtig is dat Hy beloof het dat Hy ons sonde sal vergeef so dikwels as wat ons na Hom toe kom, juis daarom kom pleit Dawid: "Here, vergeef my. Neem u toorn van my weg." En Dawid mag dit bid met alle verwagting en sekerheid dat God hom sal vergewe. Dawid hoef nie te wag vir 'n engel uit die hemel wat aan hom sê: "Dawid, jou sondes is vergewe" nie. Nee, as hy gevra het vir vergifnis van sy sondes, dan mag hy ook weet dat hy dit deur die geloof ontvang. Waarom? Want God het dit beloof. Hy sal sy volk hulle sondes vergewe as hulle daarom vra; daarom: pleit! Sien u hoe werklik God met ons besig is?

Die verberging van die aangesig van die Here is iets wat werklik is in die lewe van sy kinders. Die gebed om vergifnis van ons sondes is daarom geen manier om te redeneer dat die Here nie eintlik toornig oor ons of oor my sondes is nie. As jy nie oortuig is dat die Here oor jou sondes toornig is nie, as jy nie oortuig is dat jou sondes jou skuld by God groter gemaak het nie, laat die gebed dan nie op jou lippe kom nie, want dan is dit nie uit geloof nie! Ons durf nie redeneer  dat die Here tog met ons 'n verbond gesluit het en daarom nie my sondes teen my sal hou nie. Daarom is hierdie gebed nie maar net 'n manier om elke keer weer bewus te word van die grootheid van sy genade nie. Nee, hierdie is geen gebed vir ons om van iets bewus te word nie. Hierdie is 'n smeekgebed dat God iets sal doen. Nie 'n gebed om te dank vir wat Hy lank gelede gedoen het nie. Ons bid vir 'n gawe van God, nou! Ja, wel op grond van wat Christus in die verlede gedoen het en wat in die doop nou ook afgebeeld word. Op grond daarvan mag ons bid en om vergifnis kom vra en mag ons seker weet dat ons sondes vergewe sal wees. "Here, ek pleit by U, vergewe my nou die sondes wat ek vandag gedoen het."

Midde in die lewe🔗

Die gebed om vergifnis van ons sondes is 'n gebed waarsonder die kinders van God nie kan lewe nie. Dit staan in die midde van ons daaglikse lewe. Dit is gegee vir 'n kind van God wat saam met die gebed by sy middagete by die werk gebid kan word, om vergifnis te vra vir die sondes wat hy daardie oggend op kantoor of in die fabriek of by die bouperseel gedoen het. Dit is die gebed om vergifnis wat kinders mag bid by die skool in pouse, omdat jy voor God verleë staan met jou eie hardkoppigheid, vir jou eiewysheid teenoor ma vanoggend voor skool of vir jou eiewysheid teenoor die onderwysers. Die bede is gegee vir die huisvrou wat saam met haar oggend-tee voor die Here stil word en om vergifnis vra vir die ontevredenheid waarmee sy haar werk doen of die kwade gedagtes teen 'n vriendin of haar ongeduld met die kinders wat die Here vir haar gegee het.

Dan bid ek dit met die wete dat die Here oor daardie sonde van my vertoornd is — Hy is heiliger as dat Hy dit sommer ligtelik sal beskou. En daarom bid ek. Ek bid om die toorn van die Here teen my sonde af te wend; dat Hy dit van my, sy kind, sal wegneem. Dan bid ek soos Dawid in Psalm 25: "Wend U tot my en wees my genadig ... om u Naam ontwil, o Here, wat U ook aan my verbind het, vergewe my my ongeregtigheid, want dit is groot ... wend U tot my, want ek is ellendig." Weet ons nog wat dit beteken om te vra: "o HERE, straf my nie in u toorn nie" (Psalm 6:2)? Hoe moes die Israeliet in die Ou Testament vergifnis kry wanneer hy teen die Here gesondig het? Moes hy alleen maar daaraan herinner word dat hy 'n Israeliet is? Nee, hy moes om vergifnis vra, en dan 'n skuldoffer bring. En daarmee moes hy na die priester gaan, sodat die bloed van die dier kon vloei vir sy sonde. Dan en eers dan, sê die Here, sal sy sonde hom vergewe word. Hy sal dit vergeef, daaraan hoef Israel nooit te twyfel nie.

Of moet ons heel rasionalisties redeneer dat ons in God se verbond is en dat al ons sondes ons daarom reeds vergewe is toe ons in God se verbond opgeneem is? Is dit wat ons ons kinders leer? Is dit in ooreenstemming met die genade van God se verbond? Nee. Te veel ouers leer hulle kinders om te redeneer om te kom tot sondevergifnis. Ons hoef niks te redeneer nie. Maar ons moet wel ons kinders leer om vergifnis te vra vir hulle sondes. Ons moet hulle leer om wel alles te glo wat God ons in sy genade in Christus werklik beloof. "My kind, jy hoef nie te twyfel nie, jy hoef nie onseker te wees oor die vergifnis van jou sonde nie. Bely jou sonde. Jou liefdevolle Vader in die hemel belowe jou dat Hy jou sonde sal vergewe as jy sy Naam aanroep." En daarvan getuig God se verbond met ons en ons kinders.

Die Here vergeef nie maar eenmaal in ons lewe en daarna moet ons maar net herinner word aan daardie eenmaal se vergifnis nie. Nee! Die Here vergeef menigvuldig! Daarvan getuig God se verbond met ons en ons kinders. Ons moet ons kinders leer dat geen sonde te groot is om daarmee telkens weer na Christus toe te kan en moet vlug vir vergifnis nie, om daarvan in die bloed van Christus skoongewas te word nie. Dit is waarvan die doopwater getuig, en die nagmaalbeker en die brood. Die genade van die Here is elke môre weer nuut. Dit mag ons weet. Roep elke dag om vergifnis vir jou sonde. Daar lê die blydskap van die geloof! Dat ek elke dag weer my sonde mag bely en daarvoor vergifnis kry. Die Here vergeef so baie en gereeld omdat ons so baie sonde doen.

Watter kind wat by sy ouers woon en weet dat hy hulle kind is, leef in vrede verder nadat hy ongehoorsaam geword het, sonder om ooit weer die verhouding te herstel? As 'n kind ongehoorsaam was, dan word hy geleer om om verskoning en om vergifnis by sy ouers te vra. En hy hoef nie daarvoor bang te wees nie, want die vergifnis sal daar wees, want hy is mos kind in die huis. Maar watter vreugde is daar nie wanneer 'n kind om verskoning kom vra wanneer hy iets grof verkeerd gedoen het en sê: "Vergeef my, pa, vergeef my", en die pa sê: "Ek vergeef jou, my kind, kom ons wees saam bly", en ouer en kind kan mekaar weer omhels en hul wedersydse liefde vir mekaar bevestig en die vergifnis vir die sonde ken. Is dit nie wat gebeur het met die verlore seun nie? Hy het gesê: "Ek besef wat my sonde is en nou sal ek opstaan en teruggaan na die huis van my vader, want selfs die diensknegte daar het dit beter as ek solank ek in my sonde leef. Ek sal opstaan en na my vader gaan en sê: Ek het gesondig teen die hemel en teen u. Ek is nie meer werd om u kind genoem te word nie. Maar vader, vergeef my!" En dan sien u hoe gewillig die vader is om hom te vergewe. Hy sê nie: "Ag, my seun, moenie jou so bekommer oor jou sondes nie. Ek hoef jou nie jou sondes te vergeef nie; jy is mos altyd nog my kind." Nee, maar dan vergewe die vader hom en maak so alles weer goed tussen hulle. Hy omhels hom en soen hom en sê: "Nou gaan ons feesvier. Kom, trek jou aan soos my kind. Sit 'n ring aan jou vinger." En hy gee hom alles, sodat almal mag weet hy is 'n seun in die huis, en nie 'n dienskneg nie! Hulle slag die kalf wat daar is vir feestelike gebeurtenisse, en daar word fees gehou. Dit kan alleen as ons bid om die vergifnis van ons sondes, uit die besef van die noodsaak van ons gebed.

Die sekerheid van die verlore seun dat hy na die huis van sy vader mag teruggaan, het hom nie een oomblik verhinder om te sê: "Vergeef my!" nie. Dit het hom nie verhoed om te sê: "Ek is nie werd om u seun genoem te word nie." En dan mag alles werklik ook weer regkom tussen seun en vader, en dan is dit ook goed en reg! Daarom is dit juis die een wat werklik glo dat hy kind van God is en kind van God mag wees, wat in heilige vrees bid: "Vergeef my my sonde."

Arme sondaars🔗

Waarom noem die Heidelbergse Kategismus ons in die uitleg van hierdie bede "arme sondaars"? Is dit omdat ons dan slagoffers is van 'n wrede wêreld waarin ons voortdurend geprikkel, gestimuleer en aangemoedig word tot sonde? Is ons sonde soos 'n noodlot wat oor ons kom en waarvan ons die willose uitvoerders geword het? Arme ons! Is dít wat die Kategismus bedoel? Nee, ons is arme sondaars, omdat ons so 'n geweldige skuld voor God het. Want ons sonde is skuld. En dit is meer as maar net dat ons geweldig baie skuld voor die Here het. Ons sonde is iets wat ons eenvoudig "aankleef". Dit sit eenvoudig in ons om sonde te doen. Soos Dawid by geleentheid bid: "My hele hoof is siek." Ons sondes deurtrek ons. Ons arme sondaars!

Ek doen nie net sonde nie. Ek is 'n sondaar! My sonde is nie maar iets wat per ongeluk gebeur het nie. Ek doen sonde omdat, so moet ek erken, my ou mens nog lewendig in my is. My vlees. Dit maak nie my sonde minder erg nie. Inteendeel. Wanneer Dawid in Psalm 25 bid om vergifnis van sy sonde, dan vra hy dat die Here ook nie sal dink aan die sonde van sy jonkheid nie. Ek doen nie alleen nou sonde nie. So was ek ook toe ek jonk was. So is ek nou. Vergewe my my sonde! Sonde is nie iets wat ek geleer het toe ek in 'n verkeerde samelewing opgegroei het, soos die moderne sielkundiges ons probeer oortuig nie. Asof die rede waarom mans hulle vroue vermoor, verklaar kan word uit die feit dat hulle eie groter susters hulle afgeknou het toe hulle nog kinders was. Nee, van jongs af is ek 'n sondaar. Dit noem ons erfsonde. Ek word gebore as sondaar. Ek is ellendig. Ek doen nie slegs ellendige dinge nie.

Maar oor dit alles mag ons bid: "Vader, vergeef ons ons sonde." En dan sal Hy dit doen ter wille van die bloed van Christus. Want die bloed van Christus reinig ons van alle ongeregtigheid. Ons mag weet dat, as iemand gesondig het, daar vir ons 'n Middelaar by die Vader in die hemel is. En nie alleen vir ons sonde nie, maar ook vir die sonde van die wêreld!

Noodsaak van prediking en huisbesoek🔗

Hoe kry ons die sekerheid van vergifnis van ons sonde? Hoe kan ons weet dit is ook vir ons? Dit is in die prediking waar ek vergifnis van my sonde kry. Dit is in die prediking waar Christus na my toe kom met sy evangelie, wat vir my verkondig word sodat ek, deur in Hom te glo, mag weet: my sondes is my vergewe! Vergifnis van ons sonde veronderstel die ontvang van die lewende en gereelde verkondiging van die evangelie van Christus. Is dit waarvoor u nog na die prediking luister? Luister u nog na die prediking om Christus daarin te hoor? Om elke keer weer te mag hoor: "Jou sondes is vergewe"? Glo hierdie boodskap van genade en vergifnis deur die bloed van Christus, en jou sondes is jou vergewe!

Hy wat Christus nie in die prediking ter vergifnis van sy sonde ontmoet het nie, gaan slegter huis toe as wat hy na die erediens gekom het. Ek kan nie na my huis gaan en heel "beskoulik" 'n post mortem van die preek gaan hou nie! "Ja, daar was iets in die preek wat vir my mooi was; daar was tog wel iets in om in die week mee verder te gaan." Waarvoor luister ons na die prediking? Om ná die tyd alles rustig te gaan ontleed? Nee! Ek moet net een ding weet en dit is dat ek weer voor Christus kon staan en dat Hy in die prediking sy bloed oor my gesprinkel het en dat ek na Christus kan gaan vir die vergifnis van my sondes. Ek mag weet my sondes is vergewe! Daarom sê Paulus in Galasiërs 3: "Ek het Christus op so 'n manier aan julle verkondig, asof Hy voor julle oë gekruisig is" (vers 1).

Maar nie net in die erediens nie, maar ook by die huisbesoeke van die ouderlinge word hierdie evangelie verkondig. Die hele doel van 'n huisbesoek deur die ouderlinge is om hierdie boodskap van vergifnis van die Here te bring aan die broeders en susters in hulle wyk. Want dit is wat ons as gemeente werklik nodig het: die boodskap dat ons sondes werklik vergewe word ter wille van die bloed van Christus. As ons dit werklik aan ons broeders en susters kan oordra, dan het ons 'n ryk huisbesoek gehad. Want ons leer om te bid: "Vergewe ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergewe." Ons gaan ons nie vaskyk in die sonde van ander nie. Ons gaan juis weet dat die Here ons sondes vergewe en daarom kan Hy ook dié van ander vergewe. En dan gaan ons teenoor ander, as hulle hul sondes en die ergheid daarvan bely, maak asof dit eintlik nie so ernstig is nie. Maar dan gaan ons hul sonde vergewe in die Naam van die Here deur hulle te wys op Christus wat ons almal eerste liefgehad het en Homself vir ons gegee het.

God wil ons deur hierdie bede — vergeef ons ons sondes — gee dat ons elke dag weer, in antwoord op ons gebed, die vergifnis mag ontvang!