4 bladsye.

Sondag 52 Heidelbergse Kategismus

Lees: Openbaring 3:7-13; Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraaf 1-4🔗

Waak en bid🔗

Die wêreld is vol versoekinge. En die krag daarvan kan nie ontken en mag nie onderskat word nie. In Efesiërs 6 waarsku die apostel Paulus ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie. Ons het te doen met onsigbare magte. Maar nie onmagtige kragte nie. Ons het te doen met die bose geeste in die lug. Gedurig weer beïnvloed hierdie magte die wêreld waarin ons leef. Vir ons oë onsigbaar, maar vir ons daaglikse ervaringe soms byna tasbaar. So dat ek as 't ware kan voel hoe ek daardeur meegesleur word. Dit is as 't ware 'n mag wat ek van my rug wil afkry. So werklik is dit. Ons erken selfs die krag van die werking van die bose in ons kleinste kinders. Vir dié wat gedoop word, word daar by die doopvont 'n heel besondere gebed gebid: "Here, gee dat hy, of sy, onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, sal lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin ..." Die klein kindertjies se lewe is, net soos elkeen van ons s'n, van die begin af 'n stryd teen die duiwel en sy hele ryk.

Die versoekings is byna te veel om op te noem. Die wêreld met al sy begeerlikheid. Die soeke na roem en eer, na 'n sosiale posisie waarin ek erkenning geniet. Selfs na erkenning in die kerk, waar ek voel dat mense my tog uiteindelik die erkenning moet gee wat my toekom. Ons leef in 'n tydgees wat ons elke oomblik wil meesleur — die lewe uit onsself, deur ons eie krag en vir onsself — totale selfgesentreerdheid, alles op onsself gerig. Dit is die krag wat ons beïnvloed. Materialisme staan soos 'n reus lewens¬groot voor ons. Versoekings op seksuele gebied is legio. Dit is amper onmoontlik om daarvan weg te kom in hierdie wêreld waarin ons lewe. Elke oomblik word ons op die een of ander manier daarmee gekonfronteer. Situasies en omstandighede wat ons self nie eers kan bedink en onsself kan voorstel nie, daarin beland ons. En vinniger as wat ons dink dat dit sal gebeur, is ons kniediep in hierdie versoekings. Dikwels selfs sonder om te besef waarmee ons besig is. Want soos wat 'n visserman die hoek met die weerhaak wegsteek in aanloklike aas, net so stel die satan die sonde voor as begerig en aantreklik, maar hy steek die gevolge goed vir ons weg. "Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort" (Jakobus 1:14 15). Maar die dood staan nie vooraan nie. Eers kom die aantreklikheid, die aanloklikheid, die begeerlikheid en mooie van die sonde. Maar die dood wat daarna kom, is daarom nie minder 'n werklikheid nie.

Vanweë die oorblyfsels van die sonde wat ook nog in ons woon, en vanweë die gedurige aanvalle van die wêreld en die satan, kan die bekeerdes nie in genade volhard as ons aan ons eie kragte oorgelaat was nie (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraaf 3). Dink maar goed hieroor na! Wie van ons kan uit eie krag staande bly? Wie van ons roem daarin dat hy nie in dié of daardie sonde sal val nie? Daarom moet almal van ons sonder ophou waak en bid dat ons nie in versoeking gelei word nie. Deur gebed volhard ons in versoeking.

Die uur van beproewing🔗

Wat beteken: "ons leef in die uur van beproewing"? Ons sou dit ook kon vertaal met: "die uur van versoeking" (Jakobus 1). "Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie." Dit was die woord van bemoediging van Christus aan die gemeente in Filadelfía (Openbaring 3:11). Hier is sprake van stryd ten spyte van die kroon wat hulle mag dra. Jy het reeds 'n kroon ontvang, maar hou dit vas. Dit kan geroof word, want daar is 'n uur van versoeking. Trouens, die uur van versoeking is 'n beskrywing van die tydperk vanaf Christus se hemelvaart tot met sy wederkoms. Dit beskryf die totale tydperk waarbinne u en ek vandag leef. Ons leef in die tyd van versoeking! Die "uur van versoeking" is die tyd waarin die satan uit die hemel uitgewerp is om nou op aarde rond te loop soos 'n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (Openbaring 12 en 1 Petrus 5:8).

Hierdie versoeking is niks nuuts nie. Dit kom reeds vanaf die tuin waar die Here self die vyandskap gestel het tussen die nageslag van die vrou en dié van die slang (Genesis 3:15). Hierdie slang word uiteindelik voorgestel as 'n draak in Openbaring 12. Hy het toegeneem in geweld, erger geword in sy versoekinge, nie minder nie. Hy is nie minder wreed in sy taktiek nie. Inteendeel, hy is nou erger as ooit, sedert Christus sy werk vervolmaak het as ons Leraar, Koning en Hoëpriester. Gedurig weer sal hy na die hakskeen byt. Maar daarom ook moet elkeen wat vanuit die geloof in Christus leef, bly veg teen die sonde. Die slang se kop moet verder vermorsel word! Elkeen wat nou reeds die kroon mag dra, word ook opgeroep om hom nie die kroon te laat ontroof nie.

Laat ons daarop let dat die gebed "lei ons nie in versoeking nie" iets totaal anders is as om te bid: "Lei ons nie in die stryd" nie. Nie een van ons kan aan die stryd ontkom nie. Ons is in die stryd teen die satan, of ons veg met hom teen die ryk van Christus. Ons kan nie aan die stryd ontsnap nie. Die vraag is: aan wie se kant staan ons? Daarom bid ons nie dat ons nie stryd sal ken nie. Ook dank ons nie die Here dat ons nie hoef te veg nie. "Ek is dankbaar ek leef nie vandag as jongmens nie; ek het gelukkig nie daardie stryd nie." Is dit waar? Ons bid dat die Here ons nie sal loslaat nie; dat Hy ons in die stryd nie oorlaat aan die mag van die vyand nie.

Die stryd is onvermydelik. Ons leef in die uur van die versoeking. Dit maak ons gebed dat die Here ons sal bewaar, so noodsaaklik en so dringend. Elke gelowige word wel verlos van die heerskappy en die slawerny van die sonde. En tog verlos Hy ons in hierdie lewe nie heeltemal van ons sondige natuur en bestaan nie (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraag 1). Ons moet gedurig nog weer deur die Gees van gebed ons sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak.

Elkeen van ons is nog steeds tot die grofste sonde in staat. Verwag dit van uself, van u medegelowige. Verwag dit van u kinders of van u ouers. Moenie skrik wanneer u hoor van growwe sondes nie. Elkeen van ons is daartoe in staat. Nie een van ons is uitgesluit nie. Hy wat nie waak en bid nie, kan deur sy sondige natuur, die satan en die wêreld verlei word. As ons nie bid nie, kan ons tot gruwelike en groot sondes verlei word sonder dat ons dit beplan het. Ons verantwoordelikheid lê daarin dat ons sal waak en bid. Oppas vir die omstandighede waarin jy jou begeef; dinge waarmee jy jou besig hou. Lewe met oop oë, kyk uit vir die satan. Verwag hom waar jy hom nie eers sien nie. Dink maar aan die droewige val van Dawid. Of aan Petrus, wat beloof het dat al sal almal aan Jesus aanstoot neem, hy dit nie sal doen nie. Die duiwel is egter nooit so gevaarlik as wanneer hy lyk asof hy die minste gevaarlik is nie. Dit is wanneer hy ons in sy listigheid vang! 'n Lewe as gelowige kan nie bestaan sonder 'n daaglikse stryd teen ons drie groot doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur nie.

En laat ons nie so maklik sê dat die Here ons mos sal bewaar nie. Ons glo dat die mag van God so groot is dat Hy die ware gelowiges in sy genade bewaar dat hulle nooit finaal deur hulle sondige natuur oorwin sal word, dat hulle totaal afvallig sal word nie. Maar tog word die bekeerdes nie altyd so deur die Here gelei dat hulle nie soms deur hulle eie skuld van die leiding van die Here se genade kan afdwaal nie (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraaf 4). Nie een van ons kan sê dat dit nooit met ons sal gebeur nie. Of met ons kinders nie. Weet dat die satan gereed is om jou op die mees slinkse manier te verlei. Laat ons almal ons swakhede erken. In hierdie stryd in ons lewe kom leer Jesus ons hierdie gebed bid: "En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose." Hierdie vyande hou nooit op om ons aan te val nie — hoe jonk ek ook al is of al moet ek uiteindelik vanweë hoë ouderdom bedlêend wees, die duiwel hou nie op met sy aanvallende stryd teen ons nie. Ons almal moet kragtig wees in die Here en in die krag van sy sterkte (Efesiërs 6).

Ons doodsvyande🔗

Ons groot teëstander is die satan. Hy is die een wat rondgaan soos 'n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind, wie hy kan doodmaak. Hy is nie onskadelik nie! Hy is 'n heel gedugte vyand. Van hom lees ons dat sy troon op die aarde gevestig is (Openbaring 2:13). Hy mag nooit onderskat word nie. Selfs nie na die geboorte van Christus nie. Ook nie na Christus se sterwe aan die kruis, nadat Hy versoening vir ons sondes gedoen het nie; ja, ook nie na sy opstanding uit die graf, waar die satan Hom nie kon vashou nie, en na sy hemelvaart nie. Want die hemelvaart van Jesus loop uit op die uitwerping van die satan uit die hemel. Mígael en die engele voer oorlog teen die draak en oorwin hom. Daar is nou nie meer plek in die hemel om ons aan te kla sedert ons Hoëpriester met sy bloed daar is nie. Hy is nou uitgewerp uit die hemel, maar losgelaat op aarde. Dit is die verskriklike tyd wat die boek Openbaring ons voorstel. Die slang word 'n draak. In groot woede het hy nou op die aarde neergedaal. En hy weet dat sy tyd min is, want die oorwinning is reeds behaal deur Christus, is hy is daarom baie aktief (Openbaring 12:12).

Die beeld vir hierdie aktiwiteit van die satan wat ons in Openbaring 12 kry, is dié van 'n stroom wat by die bek van die draak uitstroom om die vrou en haar kind, die gelowiges, die kerk, saam met haar Verlosser te vernietig, mee te sleur. Op allerhande maniere doen hy dit. Dawid word verlei deur sy hoogmoed en hy laat die volk tel. Job word al sy kinders en besittings ontneem. Maar ook op ander maniere kan dit gebeur. Deur 'n voorval in my huwelik. Of in my verhouding met iemand van die teenoorgestelde geslag. Deurdat ek meer rykdom kry as wat ek kan hanteer. Of ons word deur allerhande dwaalleringe afgerokkel van die waarheid en eenvoud van die evangelie. Of ek word versoek deur 'n losbandige vrou of man. Deur skinderstories en kwaadpratery. Al hierdie dinge kom op ons af. En wat wil hy bereik? Hy wil ons uiteindelik afrokkel van God se Woord.

Die Here wil ons nie in die stryd teen ons drie doodsvyande bang en vol angs maak nie. Dit is waarom die Here die gemeente in Filadelfía juis in die tyd van versoeking kom vertroos. Hulle kragte is min. Maar waar lê die oorwinning? Hulle het die Woord van die Here bewaar en sy Naam nie verloën nie. Hy sê nie dat hulle nie swakheid gehad en in sondes, miskien selfs in growwe sondes, geval het nie. Maar in die uur van versoeking bly hulle staande deurdat hulle, deur die krag van die Heilige Gees, die Woord van God vasgehou het. Die Woord van sy genade, van sy beloftes van vergifnis in 'n nuwe lewe. Deurdat hulle uiteindelik staande gebly het teenoor hierdie draak. Daar is daarom net een manier om staande te bly en dit is om gedurig ons krag buite onsself te bly soek. Ons gaan nie een maal in ons lewe en neem ons toevlug tot Christus nie; ons besoek Gólgota nie net een keer nie. Gedurig weer in ons lewe neem ons ons toevlug tot Christus. God is getrou en Hy bly getrou. Hy beskerm en bewaar sy uitverkorenes in die daaglikse stryd.

Oorwinning verseker!🔗

Daarom, laat ons in die derde plek daarop let dat die oorwinning verseker is! Ons moet weet dat ons in 'n stryd om lewe en dood is. Veg ons hierin nie 'n verlore stryd nie? Is die satan en sy engele nie uiteindelik vir ons te sterk en te magtig nie? Ons moet nie die intensiteit van die stryd wat baie gelowiges ken, gaan relativeer nie, gaan maak asof dit nie so ernstig is nie. Die versoekinge waarin gelowiges kom, kan baie erg wees. Dink maar aan Job, aan wat deur sy vrou gesê word: "Vloek nou die Here en kry klaar met Hom. Laat daar 'n einde aan die sogenaamde godsdienstigheid van jou kom." So listig kan die satan wees. Dink ook aan Abraham, wat sy kind moes gaan offer.

Maar, hoe swaar ons beproewings en versoekings ook al is, die Here beloof dat Hy nooit sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Daarvoor staan Hy borg. Saam met die beproewing gee Hy ook elke keer weer die krag. In Openbaring 12 lees ons dat die draak die vrou wil doodmaak, die kerk wil vervolg, en op die oomblik dat die vervolging kom, is aan haar twee vlerke gegee waarmee sy na die woestyn gevlug het, waar sy buite die bereik van die draak versorg kon word. In die geloof en in gebed kan die vrou tot die Here vlug. Die woestyn was in die Ou Testament die plek waar die Here op 'n besondere manier vir sy volk gesorg het. Op 'n magtige manier. Soos Israel in die woestyn, waar hulle baie beproewinge deurgegaan het, maar waar die volk ook daarop gewys is dat die mens nie alleen van brood sal leef nie, maar van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. Natuurlik kos dit worsteling. En stryd. En noodwendige inspanning, soms as 't ware tot die dood toe.

Die groot vraag is egter of die Here ons gebede wel kan beantwoord. Kan Hy? Wil Hy? Laat ons eerlik wees. Dit is dikwels hier waar die meeste van ons se grootste versoeking lê. Want ons grootste versoeking en sonde is nie dat ons oorval kan word met die grofste moontlike sonde nie. Die groot versoeking is dat ons nie meer glo dat God 'n genadige God vir my is wat sondes kan en wil vergewe en dat Hy iemand soos ek kan liefhê nie. Dáár is die grootste versoeking en lê die groot stryd. Want daar lê die groot mag van die bose waarvan ons verlos moet word. En dit is juis op hierdie punt waar ons dikwels sonder die evangelie probeer leef. Daarom die oproep: "Laat niemand jou die kroon ontroof nie. Hou vas aan my Woord." Jy het staande gebly nie omdat jy dié of daardie sonde ontwyk het nie, maar omdat jy my Woord bewaar het. Jy het geglo dat daar vergifnis is vir 'n sondaar soos jy. Jy het nie Sondag na Sondag in die erediens gesit en later afgestomp geraak en leeg weggestap omdat jy nie meer geglo het dat daar vir jou vergifnis is nie. Jy het na die Woord geluister en dit geglo.

Waarom bid ons: "... want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid"? Die Kategismus beantwoord hierdie vraag heel mooi: "Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee." Glo ons dit? Daar lê die stryd en die krag van die uur van ons beproewing. Glo u dat God u kan en wil vergeef en u staande hou? Wie is die Een wat vir die gemeente in Filadelfía aanmoedig om staande te bly in die uur van versoeking? Dit is die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid in sy hand het, lees ons in Openbaring 3:7. Hy is die Een wat oopmaak en niemand sluit nie; Hy sluit en niemand maak oop nie. Hoe kragtig die satan ook al is. Jesus is die Seun van Dawid. Hy het die kroon op sy hoof. Die kroon van die koninkryk van die hemel. Hy is Koning! Hy is die Een wat as Koning magtig is om oop te sluit. En toe te sluit. Nie die bose nie.

Die satan is die  prins van die wêreld, wat met 'n geweldige pretensie op die aarde rondgaan en mense probeer intimideer. Hy sê: "Volg my, daar is nie vir julle hoop nie." Hy was van die begin af 'n leuenaar.

Jesus is die Seun van Dawid. En as Hy die koninkryk van die hemel oopmaak, sal niemand dit toesluit nie. Glo u dit? As God in sy almag na 'n pap baba toe kom en sê: "Ek sluit my koninkryk vir jou oop", glo ons dit dan of wag ons tot die kind grootword, tot hy self besluit? Nee! God maak oop en niemand sal sluit nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en ongeregtighede nie. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees. En dan kom die bemoediging vir die gemeente van Filadelfía: die Here beloof dat Hy by die gemeente sal voeg mense uit die sinagoge van die satan. Mense uit die Jodedom. En dit is die krag van die evangelie. Hulle wat waarskynlik uitgeroep het: "Kruisig Hom! Kruisig Hom!" en: "Laat sy bloed op ons en ons nageslag kom!", selfs hulle sal erken dat die Een wat die sleutel van Dawid in sy hand het, die gemeente liefgehad het.

Wat 'n wonder dat die Here Jesus, wat self Hoof van sy kerk is, op hierdie manier die mag van satan oorwin!

Sekere verhoring🔗

Wat veroorsaak dat ons nie meer bid nie? Noudat ons aan die einde van die behandeling van die "Onse Vader" is, kan ons vra: wat veroorsaak dat ons nie meer bid nie? Is dit ons gebrek aan geloof dat die Here nog ons gebede wil en kan verhoor? Ons luister jaarliks na meer as 'n honderd preke, maar dit gaan dikwels by ons verby, want ons kan nie meer glo dat dit vir ons bedoel is nie.

Na ons, wat nou in die uur van versoeking is, kom die oproep: Bewaar my Woord, moenie dat jou kroon jou ontroof word nie! Daarom kan ons ons gebed afsluit met die woord "amen". Wat beteken dit? Dit is waar en seker; want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer. God gaan selfs ons begeertes te bowe. Laat ons op daardie God bly vertrou!