4 bladsye.

Sondag 7: Heidelbergse Kategismus

Lees Handelinge 13:42-52

Almal word In Alle Erns Opgeroep🔗

Ons sal ons in alle erns moet afvra wat ons maak met die evangelie wat Sondag na Sondag aan ons verkondig word. In Handelinge 13 het ons gelees hoe die evangelie aan die Jode in Antiochíë verkondig is. Hulle was die verbondsvolk van die Here, maar hulle het die evangelie nie aangeneem nie. Hulle het dit verwerp en hulself die ewige lewe nie waardig geag nie. Die evangelie word nooit verkondig sonder groot verantwoordelikhede vir dié wat dit hoor nie. God stuur boodskappers uit om sy evangelie te verkondig. Dit doen Hy nie na alle mense nie. Nie alle mense het die voorreg wat ons het om die evangelie week na week te hoor en ook dag na dag in ons Bybels te kan lees nie. Wat 'n genade dat ons die evangelie elke week mag hoor! Dit is die genade wat God in sy verbond aan sy kerk, aan sy gemeente, kom gee: dat hulle geroep is om die bediening van sy Woord week na week te mag hoor. En as die evangelie na ons toe kom, wanneer dit aan ons verkondig word, kom dit altyd na ons met die bevel om dit te glo en met die oproep om ons te bekeer (Dordtse Leerreëls: hoofstuk 2, paragraaf 5). Geloof is 'n opdrag van die Here.

Toe die ongelowige Jode die evangelie verwerp, het Paulus en Barnabas hulle gelos en die evangelie aan die heidene begin verkondig. Daaruit sien ons ook dat niemand gered word sonder dat hy die evangelie met 'n ware geloof aanvaar nie. Dit beteken nie dat die Here nie vol genade is nie. Aan alle mense aan wie die evangelie verkondig word, word 'n opregte oproep gemaak om in Christus te glo. In alle erns beloof die Here aan almal wat na Hom toe kom en in Hom glo, rus vir hulle siele en die ewige lewe. God bedoel dit eerlik en ernstig. Daar is geen bedrog in die Here nie, asof Hy wel die woorde laat verkondig, maar dit net vir sommiges ernstig bedoel. Maar sonder geloof word niemand gered nie.

Soos 'n Hen haar Kuikens (Mattheus 23:37)🔗

Hoe ernstig neem ons die verkondiging van die evangelie aan? Wat ons reaksie ook al op die verkondiging is, ons moet en mag van een ding wel verseker wees: die Here neem dit ernstig op, Hy bedoel wat Hy sê. Die Here bedoel werklik dat Hy sy genade vir ons wil gee. Hy is nie onopreg nie. Al sou ons die evangelie week na week nie ernstig opneem nie, dit week na week maar naas ons neerlê, as't ware maar oor ons laat spoel, beteken dit nogtans nie dat God dit nie ernstig neem nie. Die Here bedoel dit ernstig en opreg! Nadat Jesus Jerusalem vir die laaste keer binnegekom het, en dit gedoen het op die rug van 'n jong esel, en Hy ontvang is as die Koning van Israel, het Hy talle ernstige en lang gesprekke met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs gevoer. Hulle het veel erns gemaak met allerlei godsdienstighede. Hulle het baie pakke gebind wat swaar en moeilik is om te dra en dit op die skouers van die mense gesit — geestelike pakke, wette wat mense moes nakom — terwyl hulle self geen vinger versit het om dit te verroer nie. Hulle het geen erns gemaak met die profete wat die Here gedurig na hulle gestuur het om hulle na die Here self te roep, om hulle tot geloof te bring nie.

Die Here se sorg oor hulle, sy oproep tot hulle, was egter opreg bedoel. Die Here Jesus was opreg bedroef oor die ongeloof van die Jode. Hy het na hulle uitgeroep: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!" (Mattheus 23:37). Ek wou, en julle wou nie! Wanneer die Here die evangelie aan ons laat verkondig, dan wil Hy ook werklik hê dat ons sal glo. Ons mag Hom glo. Ons moet selfs! Wanneer die Here die evangelie aan ons laat verkondig, moet ons nie nog wonder oor die grootheid van ons sonde, of die slegte geskiedenis wat ons het nie. Ons moet nie dink aan hoeveel keer ons die Here al teëgestaan het nie. Hy laat die evangelie aan ons verkondig, sodat ons Christus in die geloof kan ontvang, met al sy skatte wat saam met Hom kom.

God bedoel elke keer weer wat Hy sê. Sy woorde is nie maar bloot mooi verhale nie. Sy Woord wat na ons toe kom, is duur woorde. Want daardie Woord wat na ons toe kom, woorde van genade, is duur gekoop met die bloed van Christus. Elke woord van genade en liefde wat aan ons verkondig word, 'n woord van uitnodiging om te glo in Christus, is by wyse van spreke gedoop in die bloed van Christus. Dit is duur woorde. Ons kan dit nie maar in onverskilligheid naas ons neersit of verby laat gaan nie. Dit is nie woorde waarvan ons sê: ons sal 'n volgende keer wel aandag daaraan gee, of: ek is nog te jonk om daarna te luister, of ook: my sondes is nog te groot, ek hoef nie te luister nie; ek het dit al eerder gehoor, ek ken die verhaal al. Nee! Die evangelie is duur woorde wat ons moet glo, elke keer weer in geloof moet aanneem. God het alle reg daarop dat ons sy woorde ernstig sal opneem!

God se Reg Op Ons Lewe🔗

Daarom gaan ons nou vervolgens let op God se reg op ons lewe. Wanneer Paulus en Barnabas aan die Jode in die sinagoge in Antiochíë die evangelie verkondig, doen hulle dit met die wete dat God alle reg daarop het dat hierdie mense in die sinagoge die Woord in geloof sal aanvaar, in Hom sal glo. Daarom begin Paulus ook op hierdie spesifieke plek. Hy vertel hierdie mense hoe God die volk Israel uit al die nasies uitverkies het om aan Hom te behoort. Toe hulle bywoners in Egipte was, toe hulle verleë was, het die Here hulle met sy almag daaruit gelei. In die woestyn het Hy hulle ongeloof en opstandigheid veertig jaar lank verdra. Hy was so geduldig met hulle. In die beloofde land Kanaän het die Here sewe ander nasies uitgeroei, voor Israel uit verdryf uit die land. Waarom? Omdat God 'n wrede, bloeddorstige God is? Nee, maar omdat Hy in daardie land plek wil maak vir sy volk om daarin te woon, omdat Hy dit vir hulle beloof het. Hy wil vir sy volk hulle erfdeel gee en die land onder hulle verdeel. Nadat Hy hulle, 'n opstandige volk, geregeer het met veel geduld deur rigters, het Hy uiteindelik vir hulle hul eie koning, Dawid, gegee. En uit Dawid se huis, volgens God se belofte, het Hy vir hulle Jesus as Verlosser gegee. En nou kom Paulus. Hy roep hulle op en sê: Glo dit, want God het alle reg op julle. Dit moet julle glo. Kyk wat het God gedoen om sy reg op julle vir julle aan te dui. Hy het julle gekoop. Hy het julle geroep en uitverkies. Hy het julle naby Hom gebring. Hy het reg op julle.

Daarna spreek Paulus hulle aan as kinders van Abraham: ... "vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur" (Handelinge 13:26). Vir julle ... kinders van Abraham. Mense aan wie God onbeskryflike geduld bewys het in die vervulling van sy beloftes vir hulle. Ons en ons kinders mag erfgename wees saam met Abraham, deel in dieselfde belofte. Met dieselfde geduld is God met ons besig in die dieptes van ons sondes. Sal ons dan nie hierdie Here glo nie? Die Here het kom beslag lê op ons lewens. Hy het vir elkeen van ons kom sê: jy is myne. Ek het 'n reg op jou dat jy sal glo in My. En die manier waarop Ek my reg verklaar, is dat Ek my Woord na jou toe bring; deurdat Ek jou in my verbond opneem. Lank voordat ons nog verstand gehad het, het Hy sy hand op ons kom lê en sy genade reeds aan ons beloof. Soos 'n boer sy skape oormerk en sê: jy behoort aan my, so het Hy ons en ons kinders kom oormerk, en sy genade aan ons kom bewys. God het kom sê: Ek het reg op jou. Ek het reg daarop dat jy my woorde van genade vir jou ernstig sal opneem. Dat jy my woorde nie maar langs jou sal laat gaan nie, dat jy dit nie week na week oor jou sal laat spoel nie. Ek het reg daarop dat jy my genade sal aanneem. Ter wille van wie is dit? Ter wille van God? Dit is ter wille van ons dat God so kom beslag lê op ons. Ja, Hy word verheerlik omdat Hy aan sondaars genade bewys. Maar dit is ter wille van ons dat Hy hierdie woorde bring. Ons behoort aan Hom. Christus wat gekom het as Verlosser, het ook vir ons sy bloed gestort. Dit mag ons glo, wanneer ons weet die water van die doopvont het ook oor ons gespoel. Daardie water wil ons wys op die egtheid van God se bedoelings met elke woord van genade wat Hy spreek. Hierdie genadige God vra dat sy Woord van genade ernstig opgeneem sal word. Moet dit nie loslaat nie. God vra dat sy woorde van genade van harte geglo sal word.

Werk met die Evangelie In My Hart🔗

Hoe gee God vir ons hierdie geloof? Dit is juis hier waar ons soms vashaak. Want dit voel dikwels vir ons so onmoontlik om te glo. Hoe kan ek glo? Hoe weet ek dat ek wel 'n vaste geloof het? Hoe kan ek, wat so swaar gesondig het, glo; of ek wat so 'n slegte geskiedenis het? Durf ek? En dan haak ons juis hier vas. Hoe weet ek dat ek uitverkies is? Dit is die vraag wat ons telkens weer onder die jeug hoor. Ons is vol twyfel. Vra God hier nie van ons wat ons nie kan doen nie? Maar die mooie van 'n ware geloof, die wonder daarvan, is nou juis dat dit nie iets is wat ons uit onsself kan doen nie. Die ware geloof waardeur ons gered word, word deur die Heilige Gees deur die evangelie in my hart gewerk, sê die antwoord van vraag 21 so pragtig.

Kyk maar hoe het dit gegaan met die verkondiging van die evangelie in Klein-Asië. Paulus en Barnabas verkondig die evangelie in Antiochíë aan mense wat rou heidene is, en dan staan daar in die gedeelte wat ons gelees het in Handelinge 13: "... en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe" (13:48). God het dit vir hulle gegee, vir hulle beskik; Hy het dit uitgedeel. Die Woord is nie 'n magtelose boodskap wat wag op die instemming van meneer en mevrou die sondaar nie. Ons lees van die Woord van die Here wat met krag op 'n oorwinningstog deur Klein-Asië verbrei het tot aan die eindes van die aarde en heidennasies, heidene se harte, oorwin het. Die Woord van die Here self maak lewend. So lees ons van Lídia, die purperverkoopster, wat die evangelie gehoor het, en "die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is" (Handelinge 16:14). God open haar hart dat sy kan glo. Dit is 'n geskenk, 'n gawe wat God uitdeel.

Die Here wat ons uitgekies het om aan Hom te behoort, werk ook in die binneste van sy uitverkorenes se harte sodat hulle kan glo. Geloof is, lees ons in Efesiërs 2, 'n geskenk van God. 'n Gawe. Daarom dat ons kan sê dat ons deur die geloof uit genade gered word. Geloof is geen nuwe werk waarmee ons onsself moet red nie. Die Here gee ons nie sy Woord en dan moet ons sien en kom klaar nie. Hy belowe ons in die evangelie juis ook sy Gees. Want dit is deur die kragtige werking van die Gees, so bely ons in die Dordtse Leerreëls, dat God deurdring tot in die binnenste van sy uitverkorenes, en daar open God self die geslote hart. Wat hard was, maak Hy sag. Wat dood was, maak Hy lewend, deur die evangelie. Dit is wat in die Dordtse Leerreëls die wedergeboorte genoem word (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4, paragraaf 11).

En die Here het sy Gees nie net aan sommiges nie, maar aan elkeen in die gemeente beloof, selfs aan die kleinste kind. Aan die einde van elke diens hoor ons die seën van die Here as God sê: Gaan dan heen in vrede, want die Heilige Gees is en bly met elkeen van julle. Nie net met die gelowige broeder agter in die kerk nie, nie net met die suster hier voor in die kerk wat so entoesiasties gelowig is nie, nie net met die dogter wat so vroom leef nie. Gaan in vrede, julle het die evangelie gehoor. Die Heilige Gees is met elkeen van julle. Waarvoor? As 'n troos en bemoediging dat ons kan weet: dit is Hy wat hierdie geloof in ons harte werk. Die Gees begin nie werk aan die einde van die erediens nie; Hy werk as die Woord verkondig word, terwyl die evangelie na my toe kom. Daarom kan ek weet: as die evangelie ook na my toe gekom het, dan mag ek glo. Dit is waarom ek weggestuur word met die seëngroet van die Here, met die wete die Gees is ook vir my. Ek mag daarom glo, ja, ek moet glo.

Die Gees is juis besig terwyl die Woord aan ons verkondig word. As die Woord aan ons verkondig word, dan kom die Gees na jou om jou harde hart sag te maak. Om, waar daar duisternis is, lig te bring. Waar daar dood is, lewe. Want die Gees werk die geloof in ons deur die verkondiging van God se genade. Ek hoef en mag dus nie wag om te glo totdat ek weet dat die Gees in my werk nie. Dan is my verlossing nie meer uit die geloof nie. Geloof is om God se Woord, wat ek ook al verder weet, te glo en te aanvaar as sy Woord van genade aan my. Die antwoord van Paulus en Silas aan die tronkbewaarder van Filíppi op sy vraag: "Menere, wat moet ek doen om gered te word?", is nie: Vind uit of die Heilige Gees besig is om in jou te werk. Nee! Dít is die antwoord: "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin" (Handelinge 16:30-31). Dít is die manier waarop God die geloof in ons werk.

Wat is 'n Ware Geloof?🔗

Hier kry ons geen beskrywing van hoe 'n egte gelowige persoon lyk nie. Hier word geen eienskappe genoem van iemand wat ons sal kan leer ken as die ware gelowige nie. Ons kan hier wel let op wat hy doen. Die ware gelowige verwag alles van God. Hy het geleer om niks goeds van homself nie, maar tegelyk alles van God te verwag. 'n Ware geloof vertrou op die Here wat al my sondes vergewe, my ewige geregtigheid en saligheid gee, slegs op grond van die verdienste van Christus. Geloof is om Christus met al sy geskenke en gawes te omhels in vertroue en liefde, omdat Hy my eerste so liefgehad het.

'n Ware geloof laat Christus nie as volmaakte Verlosser op 'n afstand staan nie, om bewonder te word vir sy volmaaktheid, soos wat ons pragtige beeldjies op ons kaggelrakkies laat staan. Nee! Geloof gryp Christus vas en sê: "Hy is ook myne." Hy moet ook in my kom woon. Geloof in ons verlossing wat buite onsself is, hou vas aan Christus wat in ons woon. En dit doen die Gees van Christus in en vir ons.

Die Beloftes van die Evangelie🔗

Wat moet ons glo om gered te word? Wat moet 'n Christen glo? Die antwoord: "Alles wat in die evangelie aan ons beloof word" (antwoord 22). Die hele Bybel. Is dit nie genoeg om 'n gedeelte te aanvaar nie? Nee, alles wat God in sy Woord aan ons beloof. Daarom dat ons soveel erns maak met ons katkisasie. Met ons prediking. Met die jeugvereniging. Kennis van God se Woord is nie bedoel vir die "hoogs geïnteresseerdes" nie! Dit wat ons moet glo en aanvaar, is maar nie bloot die gesag van "'n ou antieke boek", wat voor ons neergelê en aanvaar moet word nie. Ons moet sien wat die Skrif is. Die Skrif is God se genadige beloftes aan ons. Die Skrif is niks minder nie as Christus se liefdesbrief aan sy gemeente. Ons moet sien dat die Skrif getuig van Christus. En dan nie slegs die Nuwe Testament nie.

Die hele Bybel is die kleed waarin Christus na ons toe kom. Daarom is die lees van die Bybel vir elkeen van ons so nodig. Want deur besig te wees met God se beloftes in die Woord, is ons besig om ons verlossing buite onsself te gaan soek. In die Skrif, in die beloftes, wat ons van Hom vertel! Hy word aan ons belowe. En dan, verstaan ons hier onder belofte nie iets wat êrens in die toekoms aan ons gegee sal word nie. Maar Christus word ons beloof deurdat God in Hom "ja en amen" op alles sê wat Hy ons in genade wil gee. In Christus is alles onvoorwaardelik deur ons te aanvaar. Dit is wat God se belofte vir ons is! Wat moet 'n Christen glo? Die genadige beloftes van die evangelie! Hy belowe dat elkeen wat glo, nooit beskaamd sal staan nie.