3 bladsye.

Sondag: Rus en Feesvier Ons Kinders en die Dag van die Here

Sondag is die dag van die Here. Een dag van die week wat verskil van die ander ses dae. ʼn Dag waarop ons kan rus én feesvier. Of ervaar ons dit as ʼn dag waarop jy niks mag doen nie en twee keer kerk toe móét gaan?

Hoe gaan ons om met die eerste dag van die week? Hierdie artikel is nie ʼn teoretiese verhaal oor die geskiedenis en agtergrond van die Sondag nie. Dit gaan oor die praktiese invulling van so ’n dag.

Rusdag🔗

Sondag is ʼn rusdag. Ons mag rus van ons daaglikse werk. Pa hoef nie kantoor toe te gaan nie en Ma doen net die noodsaaklikste take in die huishouding. Kinders gaan nie skool toe nie en die huiswerk kan maar oorstaan. Almal is die hele dag op God ingestel. Nie net in die kerk is daar die “gewyd wees aan Hom “ nie, maar ook by die huis is Sondag die dag van die Here.

Om van die werk te rus, is partykeer nie maklik nie, want die werk van die afgelope week is nog nie voltooi nie. ’n Spesifieke boek moet nog klaar gelees word en die skottelgoed van die vorige aand moet nog gewas word. Die kinders moet hul kerkgeskiedenis nog leer, dit kan mos ook op Sondag gedoen word?

Waar is ons gedagtes, wanneer al hierdie dinge op Sondag gedoen word? By God? Ons rus op Sondag en doen geen werk nie, maar is ons gedagtes op God se werk? Om te rus beteken nie om niks te doen nie, want om die dag aan die Here te wy, vra dat ons baie aktief moet wees.

Feesdag🔗

Sondag is ook ʼn feesdag. Ons is immers bevry van die dood en ons vier die opstanding. Die Blye Boodskap wat ons ken, gee vir ons ʼn goeie rede om fees te vier! Wanneer jy ʼn uitnodiging vir ʼn fees kry sê jy nie gou ‘’Nee” nie. Jy wil baie graag soontoe gaan, sien daarna uit en berei jou daarop voor. Jy sit solank jou kerkklere reg en gaan vroeg bed toe, om goed uitgerus te kan wees.

Wanneer ons op Sondag niks mag doen nie, is dit beslis nie ʼn feesdag nie. Die kinders loop dan  met ’n verveelde uitdrukking op hul gesigte rond die hele dag. Ons mag dan dalk vir hulle sê dat dit ʼn feesdag is, omdat dit die dag van die Here is, maar hoe beleef die kinders dit self?

Sondae is anders as ander dae. In die oggend is daar ʼn lekker ontbyt en na die oggenddiens is daar dalk koffie en koek by die huis. Die middagete kan rustig saam geniet word. Saam met Pa en Ma word daar speletjies gespeel. Ook word daar fietsgery of ʼn entjie gestap. Nou is daar ook tyd om voor te lees uit ʼn boek.

Die atmosfeer waarin dit alles plaasvind, bepaal die feestelikheid van die dag! Wanneer ons ons kant bring, kan ons van die Sondag ʼn dag maak waarna ons en die kinders kan uitsien.

Voorbeeld🔗

Hoe word die Sondag deur ouers beleef? Is dit net ʼn dag waarop jy moeg is van al die werk van die afgelope week? Om te rus beteken dan al te gou om te gaan slaap, te kla en die koerant te lees sonder dat iemand jou pla. ʼn Geïrriteerde stemming kan al vroegoggend begin, omdat daar eers nog laat geslaap moet word. En dit bly hang in die huis, omdat almal vinnig-vinnig alles probeer klaarkry voordat kerktyd aanbreek.

’n Pa en Ma laat deur hulle gedrag en taalgebruik duidelik merk wat hul van die Sondag dink.

Wanneer ons verwag dat ons kinders die Sondag as ʼn feestelike rusdag, ʼn dag van die Here sal beleef, sal ons kritiese selfondersoek moet doen oor die manier waarop ons met die Sondag omgaan.

Dalk is daar verandering nodig….

Kerk Toe Gaan🔗

Ja, dit is die hoofsaak van die Sondag: Kerk toe gaan. Wie gaan almal saam? Dit is die beste om hierin ’n vaste reël te hê dat almal in die huis saamgaan. Dit voorkom ook dat daar elke week ’n argument hieroor hoef te ontstaan met die kinders. Ook in die kerkgang sal die kinders baie van hul ouers oorneem.

Hou die ouers daarvan om kerk toe te gaan? Is hulle netjies geklee? Is daar voorbidding gedoen vir die dominee? Word daar gepraat oor die erediens (nie net na die diens nie)? Wat is die houding van die ouers ten opsigte van die erediens tydens vakansietye? Dan kan die weer in die namiddag so aangenaam wees, dat die erediens nie bygewoon word nie, hoewel die geleentheid om te gaan wel daar is. Daar is mos niemand wat dit agterkom nie… Maar hoe kan ’n mens dan nog vir jou kinders sê dat dit goed en mooi is om na die huis van die Here te gaan?

Tydens die Diens🔗

Die jonger kinders verstaan meestal nie baie van die preek nie. Maar ons gaan nie net kerk toe vir die preek nie. Ons het ʼn ontmoeting met die Here, en dit beleef ons onder andere tydens die samesang, gebede, met die opneem van kollektes, die gemeenskap van gelowiges en die ontvang van die seën. Dis is belangrik dat die kinders weet wat tydens die erediens gebeur.

Die ouers kan in eenvoudige taal verduidelik wat elke onderdeel beteken. Kinders moet welkom voel in die kerk en dit is natuurlik nie so as hulle net die hele tyd negatiewe opmerkings hoor soos ”Hou op om rond te draai”, “sit stil” of “luister tog!”, nie. Dit getuig beslis ook nie van ons blydskap om in die kerk te mag wees nie.

In die kerk moet eerbied betoon word en kinders moet dit leer. Deur allerlei speelgoed saam te neem kerk toe, kan ʼn oneerbiedige houding ontstaan. Maar ʼn boekie en pen kan nogal werk, omdat Pa en Ma ook notas maak tydens die preek. Selfs ʼn prentjieboek met Bybelverhale is glad nie verkeerd nie. Dit kan baie rusgewend wees wanneer kinders tydens die preek skryf of prentjies kyk. Ook in ‘eerbiedig-wees’ leer kinders baie by hul ouers en ouer mense. Wat maak volwassenes tydens die kollekte? Net gou ʼn geselsie inkry? Wat gebeur tydens die seën aan die einde van die diens? Kry ons solank ons baadjie en handsakkie gereed? Die seën is vir ons almal bedoel, die kinders moet bewus wees hiervan, sodat hulle ook weet om met begrip na die dominee te kyk.

Kinders is Deel van die Gemeente🔗

Kinders wil graag voel dat hulle ook in die kerk hoort. Wanneer daar dan ʼn psalm gesing word wat hulle geleer het, is dit vir hulle erkenning. Hulle neem deel! Dit kan ook gebeur wanneer die dominee iets vertel wat hulle op skool behandel het. Daarom is samewerking tussen skool en kerk wel gepas, sodat die “deel-wees-van-gevoel’ bevorder word.

Daar is party primêre skole wat as projek-tema “die kerk(diens)” op hul jaarprogram het. Daarin word dan al die verskillende onderdele van die erediens behandel. ʼn Boekie met prentjies en tekste oor elke onderdeel van die erediens in die regte volgorde, is ʼn pragtige hulpmiddel in die kerk om hulle ook daarby te betrek. Hulle kan blaai en sien wat gebeur en wat nog gaan gebeur. Op so ʼn manier is dit ook nie nodig dat hulle heeltyd vra: “Hoe lank gaan dit nog vat ?” nie.

Kinders moet in die diens teenwoordig wees.  Maar hulle is kinders, wat nie altyd so lank kan luister nie, hulle word gou onrustig en kan nie altyd so lank stil bly nie. Wanneer ons glo dat ons kinders in die diens teenwoordig behoort te wees, moet ons ook daarvoor sorg dat hulle iets daarvan ervaar dat hulle deel is van die erediens. By die huis kan hier ook aandag aan gegee word.

Na Kerktyd🔗

Na die diens op  Sondae sou ons dadelik kon vra: “Waaroor is daar gepreek?” Tog moet ons altyd onthou dat daar ook meer plaasgevind het as net ’n preek. Ons het ʼn ontmoeting met die Here gehad en ons kom bymekaar tot eer van God. Dit is belangrik dat ons ons kinders leer dat dit alles nie in die eerste plek oor ons gaan nie.

Waaroor het die dominee gebid? Het ons nog psalms gesing wat jy geken het? Waarvoor is die kollektegeld ingesamel? Het jy gehoor dat Karlien ʼn sussie gekry het?

Het die dominee nog iets gesê wat jy kan onthou? Daar kan baie vrae gevra word. Die manier waarop dit gedoen word, is baie belangrik sodat kinders ook die betrokkenheid by die kerk en gemeente voel. Wanneer daar net kritiese opmerkings gemaak word ten opsigte van die dominee of die musiek ens., dan sal die kinders ook so praat. Kinders moet die vrymoedigheid hê om te kan sê hoe hulle die diens beleef, al word daar dalk minder plesierige dinge genoem. Dit is vir ons om dit dan op die regte manier te hanteer en te wys op die rykdom van die lewe met die Here.

Ná ete kan daar weer oor die diens gepraat word. Wanneer die Bybelgedeelte van die preek weer gelees word, kan ʼn gesprek hieroor volg. So ’n gesprek is dan ook baie keer meer natuurlik as ʼn verpligte gesprek direk na kerktyd.

Sondag, die Begin van die Week🔗

Die Sondag is verby en dis bedtyd. Ons dank God vir die dag wat Hy ons geskenk het. So ʼn dankgebed deel ons ook met ons kinders. Die nuwe week begin met die Sondag en ons is weer “gelaai”. Ons het gerus en het ons aan Hom gewy. Hiervan kan ʼn goeie invloed uitgaan. Ons kon God ontmoet. Dit is ʼn fees wat deurwerk na die week wat volg.