Spyt of Berou?
Spyt of Berou?
Want die droefheid volgens God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.
2 Korintiërs 7:10
Daar is ’n verskil tussen berou en berou.
’n Mens kry ’n vorm van berou wat ons nie tot inkeer en ommekeer bring soos God dit wil nie. Hierdie vorm van “berou” noem ons spyt.
Jy het jouself skuldig gemaak aan verkeerde optrede. Jou gedrag het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Dit het jou goeie naam, eer en geld in die gedrang gebring. Die gemors waarin jy is, veroorsaak ’n gevoel van spyt en selfverwyt. Hierdie spyt kan selfs so erg wees dat die hele lewe vir jou sinloos geword het. So ’n afkeer van jouself kan soms vernietigend vir jou lewe wees.
Die Farao van Egipte is ’n uitstekende voorbeeld van berou wat nie verder gegaan het as spyt nie. Hy erken dat hy gesondig het, skuldig is, en dat die Here ’n regverdige God is. Hy belowe ook om die volk te laat trek. Maar Moses sê vir hom: “Ek weet dat u nog nie ontsag het vir die HERE God nie” (Eksodus 9:30). En hy is reg. As reën, hael en donderslae ophou, gaan Farao weer op sy ou weg voort, soos voor hy spyt gehad het. Hy weier om die volk te laat trek.
Paulus skryf dat die droefheid van die wêreld tot die dood lei (2 Korintiërs 7:10). Dit is presies wat ook gebeur het met die Farao van Egipte.
Spyt bring jou nêrens. Spyt lei jou slegs tot ’n afgrond waarin jy walg van jouself.
Maar daar is ook berou wat volgens God se wil is. Hierdie berou haat nie in die eerste plek die sonde as gevolg van die gevolge daarvan nie, maar haat die sonde omdat dit God se reg aantas en sy liefde vir ons afwys. Berou wat God bedoel, is genesend. Hierdie berou werp ons nie terug op onsself nie, maar dit bevry ons harte van pyn en open nuwe lewensmoontlikhede. God se liefde bevry ons immers van alle smet?
Mag ons tog deur God se genade hierdie genesende droefheid leer ken.