Bron: Kompas, 2001. 3 bladsye.

Te Veel van 'n One Man Show?

Die gereformeerde erediens word dikwels veroordeel as 'n one man show. Daar is immers een man – die predikant – wat alles doen: die Skriflesing, die preek, die gebede en boonop ook nog die afkondigings. In noodgevalle speel hy selfs die orrel! Is dit werklik nodig dat soveel dinge deur een en dieselfde persoon gedoen word?

Uit my kinderdae onthou ek dat daar destyds nog iemand 'n rol tydens die erediens gespeel het: die voorleser. As die oomblik vir die Skriflesing aangebreek het, het die dominee een van die ouderlinge gevra om vorentoe te kom. Die broeder het dan agter 'n klein lessenaar gaan staan en die Skrifgedeelte gelees. Dit was altyd mooi om te hoor hoe elkeen van die broeders op sy eie manier voorlees uit die Bybel. Op 'n dag was daar skielik nie meer 'n voorleser nie. Die predikant het self die Skriflesing gedoen. Miskien het die kerkraad gevoel dat die predikant beter as die ouderlinge kon lees, ek weet nie. Miskien het hulle maar net die algemene neiging van daardie dae gevolg, naamlik om die voorlesers uit die erediens te verwyder.

Deesdae is daar juis weer ’n teenoorgestelde neiging en is daar stemme wat vra dat die voorleser in die gereformeerde erediens teruggebring word. Prof K Deddens lewer in sy boek Where Everything Points to Him 'n pleidooi vir die herinstelling van die gebruik van die voorleser. Daarin volg hy dr Abraham Kuyper wat sowat honderd jaar gelede in sy boek De eeredienst reeds sterk daarvoor gepleit het.

Kuyper was glad nie ten gunste daarvan dat die predikant alles tydens die erediens doen nie. Hy beskryf die gemiddelde gereformeerde erediens soos volg (bl. 172, in vertaling):

As 'n paar honderd mense saamkom, en hulle wag almal vir een man, en as daardie man daar is, doen hy alles en hy is enigste persoon wat praat, en as hy klaar gepraat het, gaan almal huis toe, dan moet tog vanselfsprekend die gedagte ontstaan dat die mense vir daardie een man gekom het, om na hom te luister, en dat die res bykomstighede was. Op hierdie manier kry 'n mens die indruk van 'n gehoorsaal waar iemand 'n rede uitspreek. Die beginsel van 'n vergadering van gelowiges verdwyn uit die prentjie.

Samekoms🔗

Kuyper se beginsel was dat die kerkdiens 'n samekoms van God en sy versoende gemeente is. In die ou verbond was daar 'n Tent van Samekoms waar die Here sy woonplek te midde van die volk gehad het. So is gesimboliseer dat die heilige God in 'n persoonlike en bindende verhouding met sy volk wou saamleef. Ook in die nuwe verbond soek die Here nog hierdie persoonlike band met sy kinders. Die hoogtepunt daarvan is die weeklike samekoms van die gemeente in die erediens. Hierdie samekoms is meer as 'n vergadering van gelowiges. Dit is ook 'n vergadering van die gemeente met haar Here. Juis omdat dit 'n vergadering van die volk mét die Here is, is dit eintlik vreemd dat een persoon byna al die handelinge tydens die diens verrig.

Inderdaad, as 'n mens 'n teks soos 1 Korintiërs 14:26 lees, lyk dit asof daar in die vroeë kerk meer betrokkenheid van die lidmate by die liturgie was as wat tans die geval is. Die apostel Paulus skryf:

Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging – laat alles tot stigting geskied.

Paulus bekritiseer met hierdie woorde 'n mate van wanordelikheid wat blykbaar in die Korintiese eredienste geheers het. Hy laat hom egter nie krities uit oor die feit dat verskillende lidmate verskillende bydraes tot die liturgie lewer nie. Wat Paulus wil sê, is: Laat elkeen sy bydrae lewer, maar laat dit ordelik en tot stigting geskied.

As 'n mens die gegewens wat in die Nuwe Testament beskikbaar is, vergelyk met die praktyk van die gereformeerde erediens vandag, is dit duidelik dat die gemeente se betrokkenheid by die liturgie drasties ingeperk is. 'n Studierapport wat op die sinode van 1996 van die Geref. Kerken (vrygemaak) in Nederland gedien het, oordeel soos volg:

Die betrokkenheid van die gemeente en die verskillende gawes is nie optimaal nie. Uiteenlopende vorme soos voorgaan in Skriflesing, deelname aan die lering, navraag en diskussie, onderlinge ontmoeting en bemoediging, die inbring van 'n lied, die gebruikmaak van moontlike musikale en digterlike gawes, die uitspreek van 'n lofwoord, afwisselende sang, responsies, ensovoorts, het verdwyn of word tot 'n minimum beperk. (p. 72)

Variasie🔗

Daar is beslis maniere waarop die gereformeerde erediens meer variasie kan hê en die lidmate meer betrek kan word. 'n Voor die hand liggende manier is om die ou gebruik van die voorleser vir die Skriflesing weer in te voer. Natuurlik vra dit oefening en voorbereiding van die kant van die voorleser. Kuyper het geskryf:

Om goed voor te lees, en veral om goed voor te lees uit die Heilige Skrif, is 'n kuns wat niemand van nature besit nie. Alle aksent moet vermy word. Die taal moet suiwer uitgespreek word. Die aksente moet reg geplaas word. Dit moet rustig en plegtig, en tog sonder kunsmatigheid of 'n te opvallende voordragtoon geskied. Die houding moet stil en ernstig wees. Daar moet so voorgelees word, dat elkeen dit kan volg, en dat dit boeiend is.

Nie alle ouderlinge het die gawe om die Skriflesing goed te doen nie, maar daar sal beslis genoeg wees wat dit wel kan doen!

'n Ander manier is om die ouderling van diens die verwelkoming en die aankondigings te laat doen. Hoekom moet die predikant – selfs 'n besoekende predikant – dit doen? Ek was aangenaam verras, toe ek onlangs in Bethal gepreek het, dat een van die ouderlinge voor die diens die afkondigings aan die gemeente voorgehou het, gaste welkom geheet het, en ook die besoekende predikant aan die gemeente bekend gestel het. Dit het onmiddellik aan die diens meer die karakter van 'n samekoms van die betrokke gemeente gegee.

In my bediening in die sendinggemeente was ek bevoorreg om maniere te kon soek om die lidmate ook op ander maniere by die erediens betrek. 'n Voorbeeld: Soms kondig ek voor die preek aan dat ek na die preek sal vra dat iemand 'n toepaslike lied sal opgee. 'n Mens kom agter dat lidmate dan meer bewus na die preek luister en dat daar ook werklik liedere genoem word wat baie mooi by die Woordverkondiging aansluit. 'n Ander voorbeeld. Onlangs het ek – geïnspireer deur 1 Korintiërs 14:26 – aangekondig dat daar na die preek geleentheid sal wees vir 'n paar woorde van bemoediging. Ek het voorgestel dat een broeder, een suster en een van die jeug 'n woord van bemoediging sal spreek, in aansluiting by die preek. Die woorde wat toe gespreek is, was inderdaad opbouende woorde, mooi aanvullings by die preek. Die feit dat die hoofboodskap van die preek nog weer deur gewone lidmate herhaal is, het gemaak dat die impak van die boodskap nog sterker geword het. Ek glo beslis dat die Heilige Gees van hierdie middele gebruik maak om die gemeente te bou.

Nagmaal🔗

'n Ander aspek van die liturgie wat na my mening met 'n bietjie reformasie kan doen, het betrekking op die Nagmaal.

  • In die eerste plek sukkel ons tog maar met die gewoonte van opeenvolgende tafels waarby die gemeente in drie of vier groepe vorentoe kom om die Nagmaal te vier. As dit enigsins moontlik is, moet daarna gestreef word dat die hele gemeente almal saam – en gelyktydig – rondom dieselfde tafel die Nagmaal vier. In die gemeente in Soshanguve het ons die probleem so opgelos dat die ouer lidmate rondom die tafel sit, en die jongeres in 'n kring daaromheen staan. Ons kom agter dat dit rus aan die Nagmaalsviering gee. 'n Mens kan 'n rukkie saam rondom die tafel van die Here vertoef sonder dat jy moet jaag om klaar te kry omdat die volgende groep vorentoe moet kom.

  • In die tweede plek kan 'n mens nadink oor maniere om meer mense in te skakel as net die predikant alleen. By die afsluiting van die maaltyd kan byvoorbeeld een van die ouderlinge 'n Skrifgedeelte lees en enkele woorde daaroor spreek, en 'n ander ouderling kan die dankgebed uitspreek. In die sendinggemeente doen ons dit deesdae altyd op hierdie manier en dit is my ervaring dat dit die Nagmaalsviering verryk.

Afsluitend stel ons nog 'n keer die vraag: Is die gereformeerde erediens te veel van 'n one man show? Nee, dit sou nie reg wees om dit so te veroordeel nie. Die woordjie show is nie tereg nie. Ek is oortuig daarvan dat gereformeerde predikante nie die preekstoel beklim om soveel as moontlik self in die kalklig te wees nie.

Wel glo ek dat die ander deel waar is: Ons eredienste is te veel one man! Daar is, ook op Skriftuurlike gronde, ruimte om ook ander ampsdraers en lidmate aan die erediens te laat deelneem.