Bron: Kerk en Woord, 2004. 4 bladsye.

Televisie Hoe om dit Ten Goede te Gebruik

TV kyk

TV is eintlik ’n jong verskynsel, eers vanaf die laaste helfte van die 20e eeu, en in ons land eers in die jare sewentig. Tydens die eerste jare was dit tot enkele ure per dag beperk. Vandag kan ons 24 uur televisie kyk en as ’n mens oor DSTV beskik kan jy 24 uur per dag na baie verskillende stasies kyk.

In die meeste gesinne neem TV ’n belangrike plek in, iets waarmee jy reke­ning moet hou. Mense wil op ’n sekere tyd daardie program of hierdie film of so ’n wedstryd sien. Die res van die lewe word dan daarby aangepas.

Watter plek neem TV in ons lewe en in ons gesinne in, en hoe gaan ons daarmee om?

’n Meningspeiling🔗

Ek het onder die katkisante ’n menings­peiling oor die kyk na TV en die beoor­deling van programme en films gedoen. Enkele resultate van hierdie meningspei­ling is die volgende.

Ons kinders in die leeftyd van 12-18 kyk per dag gemiddeld 1 uur en 40 minute TV. As hulle omtrent 15 jaar is, is dit 2 uur. As hulle in graad 11 en 12 is, neem dit tot 1 uur per dag af. Dit is veral sport, aksieflieks, avontuur en komiese films wat gekyk word.

Op die vraag of die televisie afgesit word of jy uit die fliek uitloop as gevloek word, het die volgende antwoorde gekom: 50% sê dat hulle dit sal doen. 5% sê dat hulle dit beslis nie sal doen omdat jy dan niks meer kan kyk nie. Ander sê dat dit eintlik wel moet, maar mense sal snaaks reageer as jy uit die fliek uitloop. Ander sê dat dit by hulle nie nodig is want as daar gevloek word, kan jy dit nie hoor nie. Dit word outomaties uitgefilter. Ander sê dat hulle dan gou die mute-knoppie druk of net sies sê.

Dit is opvallend dat by die vraag of die TV afgeskakel word of jy uit die fliek uitloop as daar sekstonele is, 97% daarop met ja antwoord.

Die meeste van ons jongmense – op daar­die ouderdom – fliek nooit. As ons na die gemiddelde kyk, beteken dit dat hulle vier keer per jaar na die fliek gaan.

As ons na die resultate van die meningspei­ling kyk, is dit duidelik dat televisie op ons jongmense ’n baie groter invloed het as dat hulle gaan fliek. Hulle bestee baie meer tyd aan TV-kyk as dat hulle na ’n bioskoop gaan. Die kyk na TV en na films op TV of video’s wat gehuur en gekyk word, het vir die meeste kinders, jong­mense en ook oueres ’n vaste onderdeel van hulle daaglikse bestaan geword. Dit is belangrik om juis daarom daaroor na te dink waarna ons kyk en hoe ons daarmee behoort om te gaan.

Die Invloed🔗

Mense sê somtyds dat TV-kyk net ’n vorm van ontspanning en vermaak is wat regtig geen invloed op ons lewe het nie. As ons so dink, is ons baie naïef en wys dit dat ons onsself nie ken nie. Die dinge wat ons sien en hoor, het steeds weer invloed op ons lewe. Dit is die hele omgewing waarin ons leef, wat ons na ons toe laat kom, wat invloed op ons het.

Dit kan ’n direkte, dadelik waarneem­bare invloed wees.

kinders voor TV

’n Voorbeeld daarvan is wat uit ’n onder­soek van omtrent tien jaar gelede in Europa geblyk het. Iemand van omtrent 20 jaar antwoord dan op die vraag van watter films hy hou: “’n Aksiefliek met agtervolging en daardie soort dinge, baie vinnig ry. As ek so ’n film kyk, het dit op my ook invloed. Ek het saam met my vriende na ’n fliek van James Bond gaan kyk. Ek het my pa se kar gery. Toe ons na die fliek deur die stad gery het, het ons regtig deur die stad gejaag.”

Dieselfde ondersoek onder gereformeerde jongmense het ook daartoe gelei dat die volgende uitspraak van een van hulle ver­teenwoordigend was vir wat die meeste gesê het: “Jy raak na ’n ruk aan seks en geweld op TV gewoond.” TV het sekerlik invloed. Ook as dit om allerhande sepies gaan. Dit lyk vir jou gevoel dikwels onskuldig. Nog­tans vind jy dit na ’n ruk gewoon dat in die sepies die mense mekaar gemeen behandel, dat daar geskinder word, dat mense ontrou in hulle verhoudings is. Jy begin daar selfs op ’n sekere manier van te geniet.

“Dit is veral vir kinders baie verkeerd, want hulle begin dink dat volwassenes so in die wêreld leef, dat dit die gewone beeld is.”

Ons moet goed bedink dat dit waarna ons kyk, nie waardevry is nie en verseker ’n bepaalde invloed het of op ons wil uitoefen. Dit geld nie alleen vir films nie.

Ook programme waarin oor allerhande dinge gepraat word en waar allerhande sienings behandel word, het invloed.

’n Mens sien steeds weer hoe veral TV die vorm van sienings sterk kan beïnvloed. Vanuit die gedagte dat elke mens self moet kan besluit hoe hy leef en dink, sien ons hoe sake soos vrye abor­sie, eutanasie en homoseksuele omgang gepropageer word. Dit gebeur dikwels deur in woorde of in beelde iemand te wys wat in baie moeilike omstandighede is. Is dit dan nog menslik om aborsie te verbied, is dit dan nog menslik om gena­dedood nie toe te staan nie? As jy sien hoe twee mense van dieselfde geslag van mekaar hou, hoe goed hulle vir mekaar is, hoe hulle saam baie vir ander beteken, mag jy dan nog ’n homoseksuele verhouding verbied of daaroor negatief dink? Dik­wels gee die mense wat deur TV menings wil vorm, ’n baie suggestiewe beeld van die werklikheid wat mense sterk beïn­vloed.

Hoe Ons TV Gebruik🔗

Ons kan nie sommer sê dat TV of films nie mag bestaan nie. Ons kan nie sê dat dit in hulself duiwels is nie. Ook van TV en films geld wat ons in 1 Timótheüs 4:4, 5 lees:

Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks daarvan is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die Woord van God en die gebed.

TV kan baie mooi en nuttige programme uitsaai, programme wat ook baie goeie inligting gee, wat ons onder meer van die rykdom van God se skepping pragtige dinge wys en leer om daarvan in dankbaarheid vir die HERE te geniet. Hoe kan dit mense wat swak en siek is, nogtans prag­tige dinge wys! Hoe kan videobande met byvoorbeeld goeie musiek en Bybelstudies of ander goeie voorligting mense wat nie meer uit huis kan kom nie, help!

Ons kan en mag nie sommer alles wat met TV en beeldmateriaal te doen het, verwerp nie. Hoe goed sou sekere films wat op ’n goeie manier verhale uit die kerk­geskiedenis vertel, nie kan werk nie. Ons mag dus nie net afwys nie. Ons moet dalk selfs aktiewer word om te ontdek watter goeie materiaal daar is en dit in ’n soort mediateek versamel en ook self dinge opneem soos vergaderings en kursusse.

Nogtans is dit belangrik om nou daaroor deur te praat hoe ons moet omgaan met TV en films.

As ons hieroor nadink, is vir die goeie gebruik van TV die gedeelte van 1 Timótheüs 4 soos hierbo na verwys, baie belangrik. Ons het daar gelees dat die gebruik van God se goeie gawes deur die Woord van God en die gebed geheilig word. Dit bete­ken dat ons ons kykgedrag vir die HERE volgens die norm van sy Woord moet kan verantwoord.

TV kyk

Dit beteken onder meer dat as ons voor die TV of in die bioskoop gaan sit, ons nie wil geniet van dit wat die HERE in sy Woord vir ons as ’n sondige lewe beskryf nie.

Hoe belangrik is dit dat ons so in ons gesinne daarmee omgaan en daaroor ook so praat.

Hoe belangrik is dit dat ons dit vir ons kinders ook wys in dit waarna ons as ouers self kyk.

Dit beteken ook dat ons die tyd neem om saam met ons kinders te kyk en te kan beoordeel of dit ’n program is waarna hulle kan kyk.

Dit is dan ook belangrik dat ons met ons kinders daaroor werklik praat.

Ons moet daarop let dat ons die televisie nie so gebruik dat dit die plek is waarna ons ons kinders stuur omdat ons hulle dan nie so baie aandag hoef te gee nie. Hoe verleidelik kan dit wees as jy baie besig is om vir die kinders te sê: Gaan kyk of jy na iets op die TV kan kyk.

Kan ons sekere reëls vasstel om verant­woord TV en films te kyk? Ek kom nou met ’n eerste poging waaroor ons kan praat en waarop waarskynlik nog baie aanvulling nodig is.

Eerstens🔗

TV is ’n hulpmiddel om juis nog beter in diens van God te kan leef. As dit ’n hulpmiddel is, maak dit al duidelik dat dit ons lewe nie mag beheers nie. Ons moet goed daarop let. Juis omdat televisie en film geluid en beeld kombineer, maak dit op jou hele persoon, op al jou aandag aan­spraak. As ’n mens baie TV kyk, werk dit luiheid in die hand. Jy kan jou dan al hoe moeiliker op jou gewone werk, soos jou studie, konsentreer. Jy is naamlik daaraan gewoond dat inligting vinnig en saam met beelde aangebied word. Om jou werk­lik in ’n boek of artikel te verdiep waarin baie en grondige inligting na jou toe kom, word dan dikwels moeilik. Baie TV-kyk maak ons dikwels lui, wat veroorsaak dat ons nie baie lus is om dinge in die kerk en vir die gemeenskap van die heiliges te doen nie. Want dit is dan so inspannend en as ek dit doen, mis ek daardie fliek, sepie of wedstryd.

Tweedens🔗

Kies bewus waarna jy kyk. As ek dit sê, gaan dit vir my nie net om ’n film met eksplisiete sekstonele en growwe geweld nie. Dit gaan ook om allerhande sepies. Ek het met opset ’n slag na 7de Laan gekyk wat onder ons baie gewild is. As jy kyk wat daar na jou toekom sonder sekstonele of geweld, is dit 'n wêreld van skinder, van ontroue verhoudings, van die kyk na die ander geslag met oë vol van begeerte, leuens en liefdeloosheid. Dit alles was net in een episode duidelik sigbaar. Hier­die sake moet daardie sepie aan die gang hou. Die kykers geniet van hierdie verhaal wat van sondige gevoelens en dade leef.

Toe ek saam met my kinders daarna kyk en praat, sê een van hulle: “Nou moet pa nie te krities raak nie, want dit is tog die dinge wat in die wêreld gebeur.” Dit is so, maar wat is die groot probleem? Dat dit vir ons as die normale lewe voorgehou word. So sou die lewe wees en eintlik is daarmee nie so baie verkeerd nie.

Hierdie en baie ander programme ondermyn die lewe met die HERE. As ’n mens dit gereeld kyk, is die kans groot dat dit, wat duidelik verkeerd is, later vir ons nie meer so erg is nie. Ons raak daaraan gewoond. Die eerste kere dat jy sekere vloeke in ’n film hoor het, skok dit jou. As jy bly kyk en nie besluit om nie na flieks en programme te kyk waarin God se naam ydel gebruik word nie, raak dit jou na ’n rukkie nie meer so erg nie. Jy raak baie minder sensitief daar­voor dat jou Vader in die hemel, dat Jesus Christus seergemaak word, dat van Hom sleggepraat word.

Die eerste keer dat jy ’n naakte vrou op die skerm gesien het, was jy geskok maar as jy die TV nie afskakel nie en ’n fliek bly kyk, raak jy gewoond daaraan en is die kans groot dat dit jou skaamtegevoel afbreek. Dit gaan vir jou iewers in jou hart tog nie meer so erg voel as iemand sommer met ’n ander persoon in die bed inklim nie. Dit breek jou weerstand teen ’n son­dige lewe in jou af.

tekening van TV

Allerhande prikkels wat invloed op ons het, word in allerhande programme, ook deur advertensies, op ons losgelaat. Hoe dikwels laat ons daardeur die wêreld, wat ons in antwoord 127 van die Heidel­bergse Kategismus, een van ons doodsvy­ande noem, nie op ons afkom, terwyl dit nie nodig is nie. Juis dan is dit so nodig om daaraan te dink wat die Heilige Gees vir ons in 1 Johannes 2:15-17 sê:

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlik­heid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Nou gebeur dit dat mense sê: Ek is sterk genoeg om hierteen weerstand te bied. Ek kan na al hierdie dinge kyk, maar dit het op my nie werklik invloed nie. Die mens wat dit sê, ken nie homself nie. Dit is nie so dat ons op hierdie aarde al volledig van die invloed van ons sondige hart loskom nie.

As jy by jouself merk dat jy nie van die slegte invloed van sekere programme kan loskom nie en dit jou steeds weer tot sonde bring; as jy by jouself sien dat jy nie beheer oor TV in jou huis kan uitoefen nie, dan is vir ons baie belangrik wat die Here Jesus in Matthéüs 18 sê:

Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblokke kom. En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.Matthéüs 18:7-9

Wie dus in eie lewe agterkom dat dit vir hom of haar of vir die gesin onmoontlik is om die TV op ’n goeie manier te gebruik, moet vanweë die beskerming van jou eie of van ander se lewe die TV-stel die huis uitgooi. As jy dit in daardie omstandig­hede nie doen nie, is die TV vir jou ’n stap na die hel. Wie TV in huis het, moet verantwoord teenoor die HERE daarmee omgaan. Dan moet die gebruik van TV of van films, op watter plek ook al, diens­baar aan die lewe met die Here wees. Dan gebruik jy hierdie hulpmiddels op pad na die hemel.

Nog een opmerking. Dit is dat die gevaar van TV nie net in films of sepies lê nie. Ook programme waar net gepraat word, moet ons toets. Ons kan voorligting in ons huis inhaal wat jou en jou gesin heeltemal verkeerd voorlig, wat jou op ’n pad lei wat jou van Christus en sy wil aflei. Ons sal ook hier moet bedink wat ons lees in 2 Johannes 10:

As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.