Bron: Die Kerkblad, 1995. 3 bladsye.

Teologie van Vergelding?

geregshof

Dit is waar dat die politieke bedeling van apartheid verby is maar dit is nie waar dat die teologiese besinning hieroor ook agter die rug is nie. Hierdie besinning het in die jongste tyd die vorm aangeneem van wat genoem kan word 'n "teologie van vergelding". Die argument loop soos volg:

Teologie van vergelding🔗

Wat in 'n post-apartheidsituasie benodig word, is 'n teologie van vergelding. Apartheid was immers 'n sonde van so 'n omvang en intensiteit dat dit nie sommerso vergewe en agtergelaat kan word nie. God toorn oor die sonde en Hy gebruik ook mense – die owerheid byvoorbeeld – om hierdie toorn te verwerklik en die kwaaddoeners te straf. 'n Mondelinge belydenis, soos byvoorbeeld die Ned. Geref. Kerk uitgespreek het, is nie voldoende nie. Vergifnis kan van die swart kant nie gegee word nie tensy bepaalde regstellende stappe gedoen is. Eers as daar sprake is van ekonomiese geregtigheid, kan daar oor liefde en vergifnis gepraat word. 'n Mens kan mense nie vergewe nie alvorens hulle bereid is om hulle verkeerde dade van die verlede te herstel," word gesê. Versoening mag nie goedkoop gemaak word nie. Versoening sonder vergoeding is onaanvaarbaar. God staan aan die kant van die armes en onderdruktes. Die oordeel van God word ook nie net eenmaal aan die einde van die geskiedenis voltrek nie maar midde-in die tyd. Die nuwe regering moet nóú vergelding toepas, want sleg dit sal die woede van die massas laat verdwyn. Apartheidsleiers moet dus vervolg word.

So, in kort, word geredeneer. Die argument is eenvoudig te belangrik om dit liggies af te maak. Almal van ons staan midde-in 'n volkome nuwe situasie waarin die verlede onmoontlik geïgnoreer kan word. Hoewel die lewe vorentoe geleef word, word dit agtertoe verstaan, het iemand gesê. Dit is belangrik dat ons met die verlede in die reine kom, anders gaan somber skuldgevoelens ons voortdurende metgesel wees.

Die vraag is: Mag kwaad met kwaad vergeld word? Indien wel, hoever moet daar in die geskiedenis teruggegaan word? Moet die Engelse misdade van die tweede Anglo-Boereoorlog ook ingesluit word?

Teologie van vergifnis🔗

Tradisioneel het die gereformeerde teologie altyd uitgegaan van wat genoem kan word 'n "teologie van vergifnis", al moet erken word dat hierdie benadering veral binne die kerk van toepassing gemaak is, sonder vrugbare uitwerking vir die politiek.

swart en wit hande

Hiervoor is daar swaarwigtige Skrifgegewens aangevoer.

Eerstens is daarop gewys dat die Skrif vergelding verbied. "Moenie kwaad met kwaad vergeld nie; wees goedgesind teenoor alle mense" (Rom 12:17). Aan die Tessalonisense skryf Paulus dat toegesien moet word dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie (1 Tess 5:15; vergelyk 1 Pet 3:9). 'n Christen mag nie wraakgevoelens koester nie (Rom 12:19).

Tweedens is aangevoer dat vergelding slegs aan die Here God, wat alwetend is en regverdig kan oordeel, toekom. "Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here" (Rom 12:19; vergelyk Deut 32:35; Heb 10:30). Die mens is eenvoudig te eensydig en te verblind om volkome billik en regverdig te kan oordeel.

Derdens is betoog dat vergelding nie net verbode is nie, maar dat goed doen in die plek daarvan gebode is. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet en as hy dors is, gee hom iets om te drink (Rom 12:20; Spr 25:21). Mens moet aan ander doen wat jy graag aan jouself gedoen wil hê (Matt 7:12; vergelyk Spr 24:29). So word Christene opgeroep om mekaar te vergewe soos God in Christus hulle vergewe het (Ef 4:32), vergiffenis tot sewentig maal sewe toe (Matt 18:21-25). As ons nie bereid is om mekaar te vergewe nie, hoe kan ons dan verwag dat God ons moet vergewe (Matt 6:15)? Christene word verder opgeroep om diegene wat hulle kwaad aangedoen het te seën (Rom 12:14; 1 Pet 3:9). Ja, die verste wat hierdie houding teenoor die vyandige naaste kan reik, is om die vyand lief te hê (Matt 5:44). Die liefde hou immers nie boek van die kwaad nie (1 Kor 13:5). Saamgevat: "Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie" (Rom 12:21).

Vierdens vind al hierdie wonderlike dinge hulle begronding en motivering in God self, naamlik die liefde van God vir vyandige mense. God het ons met Hom in Christus versoen toe ons nog vyande was (Rom 5:10). Vandaar die oproep dat ons mekaar moet vergewe soos God in Christus ons vergewe het (Ef 4:32; Matt 18:35) en dat ons ons vyande moet liefhê soos Hy ons as sy vyande liefhet (Matt 5:48). Indien ons nie bereid is om God hierin te verbeeld nie, hef ons ons Christenwees daarmee op.

Die vraag ontstaan nou of hierdie tekening darem nie te goedkoop is nie en of ons nie daarmee aan die kwaad 'n vrypas gee nie. Is die vergewing dan nie 'n duur saak nie, het dit nie die dood van Christus gekos nie? God het immers die sonde nie deur die vingers laat glip nie? Trouens, Hy het die sonde, "eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy geliefde Seun, Jesus Christus, met die bittere en smadelike kruisdood gestraf."

Dit alles beteken nie dat die mens maar die sonde goedsmoeds moet aanvaar en dat hy nooit kwaad en verontwaardig mag word nie. Die Bybel maak ruimte vir 'n heilige kwaadwees, wat ons sowel by Christus (Mark 3:5) as by Paulus (Hand 17:16) aantref. 'n Christen mag kwaad word (oor die sonde), maar hy mag dan nie sondig nie en hy mag ook nie die dag kwaad afsluit nie; ons mag die duiwel nie vatkans gee nie (Ef 4:26-27).

Vergewing sonder bekering en versoening sonder vergoeding?🔗

'n Ander vraag moet nog beantwoord word: Is vergewing moontlik sonder bekering? Is versoening moontlik sonder vergoeding? Nie net teenoor God nie maar ook teenoor mense onderling.

Dit is insiggewend om te gaan kyk hoe Calvyn die verband tussen vergewing en bekering/berou sien. Hy wys daarop dat in hierdie twee begrippe "die volle som van die evangelie" saamgevat word (Luk 24:47) (Inst. 3.3.19). Hy wys verder daarop dat hierdie twee dinge onlosmaaklik met mekaar saamhang. "Wanneer God ons vergiffenis van sondes aanbied, vorder Hy oor die algemeen op sy beurt bekering van ons. Daarmee gee Hy te kenne dat sy barmhartigheid vir die mensdom die oorsaak van hulle bekering moet wees" (3.3.20). Hierdie uitspraak moet egter reg verstaan word. Ons moet daarop let, sê Calvyn, "dat die voorwaardes hierin nie op so 'n wyse gestel word asof ons bekering die basis is waarop ons vergiffenis verdien nie; inteendeel, omdat die Here besluit het om barmhartigheid aan die mens te betoon sodat hy hom kan bekeer, toon Hy eerder aan waarvoor ons moet ywer as ons sy genade wil verkry" (3.3.20). In 'n effens ander verband merk Calvyn (3.16.1) op: "Dit is duidelik hoe waar dit is dat ons nie sonder werke nie, maar ook nie deur ons werke regverdig gemaak word nie."

hande vashou

Om saam te vat: vergewing word nie geskenk op grond van bekering nie maar word ook nie daarsonder verkry nie Ons ontvang vergifnis nie op grond van ons berou nie – want dan maak ons van berou 'n goeie werk en voorwaarde vir verlossing – maar ook nie sonder berou nie. Mens sou ook kon sê, gedagtig aan die gelykenis van die verlore seun: Vergewing vind nie plaas op grond van bekering nie, maar werk hom uit langs die weg van bekering (Luk 15). Die vergoeding wat God gevra het vir die wegneem van ons sondes (teenoor Hom én teenoor mekaar), het Hyself voorsien: Jesus Christus. Moet ons dan nog vergoeding teenoor mekaar betaal voordat ons met mekaar versoen kan raak? Regstellende geregtigheid mag dus geen voorwaarde word vir versoening en vergewing nie, maar daar sónder sal goeie menseverhoudings kwalik uitgehou kan word. (Dit spreek vanself dat regstellende geregtigheid aan morele norme moet voldoen). Ons mag vergewing inderdaad nie goedkoop maak nie. Vergewing is uitgesluit wanneer in onbekeerdheid volhard word; versoening is nie moontlik nie solank 'n situasie van onreg voortduur.

Soos wat vergewing nie plaasvind sonder bekering/berou nie, so vind dit ook nie plaas sonder skuldbelydenis nie. "Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang" (Spr 28:13; vergelyk Jak 5:16). Sonder hartgrondige skuldbelydenis van al ons (ook politieke) sondes, kom ons met die verlede nooit in die reine nie en bly dit sy verlammende gewetensdruk op ons uitoefen. Juis die feit dat God in Christus al ons sondes vergewe het, maak ons vry om ons skuld teenoor Hom en teenoor mekaar te bely. En, wie nie bereid is om sy naaste van harte te vergewe nie wanneer dié om vergewing pleit, loop gevaar om deur God nie vergewe nie maar vergeld te word; God vergeld húlle wat nie bereid is om skuldbelydenis te aanvaar en vergewing te skenk nie (Matt 18:34-35).

Samevatting🔗

Bogenoemde uiteensetting kan in een spreuk saamgevat word:

om goed met kwaad te vergeld, is duiwels;
om kwaad met kwaad te vergeld, is dierlik;
om goed met goed te vergeld, is menslik;
om kwaad met goed te vergeld, is goddelik.