3 bladsye.

Tiener Wees

Geïrriteerd🔗

Hy is so geïrriteerd. En nie net ’n bietjie nie! Hy het sy kamerdeur woedend toegegooi by die huis. Daar is ook altyd net nóg verpligtinge. Hierdie een keer was sy huiswerk betyds klaar, sodat hy sy nuwe rekenaarspeletjie kon uittoets. Hy wil bietjie kyk hoeveel vlakke hy kan wen. Maar helaas, sy ma roep. Hy moet katkisasie toe gaan.

En is hy lus dáárvoor... Sy hele dag by die skool was reeds goor. ’n Onvoorbereide toets geskryf waarin hy swak gevaar het. Die laaste periode se onderwyser het ’n slegte dag gehad. Hy voel sommer waardeloos.

Nou moet hy ewe vroom in die katkisasie klas gaan sit. Nou ja, dis nie vir hom nie.

Katkisasie🔗

Nukkerig loop hy by die kerksaaltjie in. Buitekant het hy gou nog sy werk deurgegaan. Dit is meestal genoeg om die vrae darem redelik te kan beantwoord. Gelukkig kry hy ’n sitplek redelik agter in die klas. Daar kan hy lekker agteroor sit en alles ’n bietjie by hom laat verbygaan. Hopelik vat die predikant nie te lank nie, dan kan hy vroeër huistoe gaan en probeer om vlak ses van sy rekenaarspeletjie te haal. Vlak sewe is alweer heelwat moeiliker.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, kry hy sowaar ’n beurt om sy leerwerk vir katkisasie op te sê. Met ’n bietjie hulp van die predikant voltooi hy dit darem ook nie te sleg nie. Maar hy weet verseker dat sy geïrriteerdheid duidelik sigbaar moet wees, want die predikant kyk hom vir ’n oomblik stip in die oë.

Dit laat hom nog net meer skuldig voel. Hy het nie ’n probleem met die predikant nie. Dit is net dat niemand my verstaan nie!

Partymaal weet hy self nie waar hierdie gevoel presies vandaan kom nie. Die geringste teenslae vang hom onkant en laat hom sleg voel. Dit laat hom op ’n ander manier skuldig voel. Hy wil nie ongeskik met sy ma wees nie. Hy ken die antwoorde immers baie goed.

Waarom moet mens katkisasie toe gaan? “Pa en ek het jou laat doop. Bewustelik laat doop. By die doop het ons belowe om jou te laat leer wie die HERE vir jou is. Daarom wil ons die belofte na die beste van ons vermoë nakom. Daarom.”

Van Binne Af🔗

Die predikant gee opdrag om die volgende te onderstreep: “God is deur Christus my God en my Vader.” Hy weet dit reeds. En om dit weer te hoor beklemtoon sy skuldgevoel net nog meer. Uit homself is hy seker weer net nie goed genoeg nie...

Die predikant vervolg: “Jongmense, die Here weet presies wat in ons binneste aangaan. Hy weet selfs hoe ons gedrag in die toekoms gaan wees. En tog neem Hy ons in sy arms.”

Eintlik mis hy dit soms nog ... die sterk arm van sy pa om sy skouer. Die kameraadskap wat dit vroeër meegebring het, ervaar hy nie meer so nie. Dit is sy eie skuld. Dis hy wat nie wil hê sy ouers moet agterkom dat hy nog behoefte daaraan het nie. Net soos sy ma se kopknikke. Daarmee maak sy sonder woorde duidelik dat sy hom wel verstaan. Sy verstaan dat volwasse word nie eenvoudig is nie. “God is net so lief vir ons soos wat Hy vir sy eie Seun is. Die HERE sê dit oor en oor vir ons. Hy aanvaar nie altyd jou gedrag nie. Maar Hy bly altyd ewe lief vir jou.”

“Ek kan dit eintlik nie glo nie.” Dit was Pieter se stem. Sien jy nou! Pieter, ’n mede-katkisant, het ook moeite daarmee om dit te glo. “Mens doen mos in elk geval alles verkeerd!”

Hy is nuuskierig hoe die predikant homself uit hierdie een gaan red.

"Dis wat die hele situasie juis so indrukwekkend maak, jongmense. Ons maak inderdaad nog baie foute. Maar die Here het dit reeds lank tevore geweet. Juis hierdie sondes word voortdurend deur Hom weggewas. In julle en my plek het Hy Christus perfek laat lewe. Hy het gesterf om vir ons sonde-rekening te betaal. Daarom kan en mag ons vir Hom lewe. Selfs al is dit moeilik om die genadegawe te glo en aan te neem. Ja, dit is regtig nie so maklik om te glo nie. Veral vir julle wat in so ’n moeilik ouderdom van julle lewens is. Jy voel nutteloos, geïrriteerd met alles en almal. Dikwels reageer jy negatief of ongeskik teenoor mense wat goeie bedoelings het met jou."

Vasbyt🔗

Hy vang homself uit dat hy aandagtig geluister het. Hy sit-lê nogsteeds in sy stoel, maar sy aandag is heeltemal gefokus op dit wat die predikant sê.

"Dit is die hart van ons geloof, jongmense. Ons het almal geïrriteerde, ‘af’ dae. Dinge werk nie lekker uit nie. Jy sê goed wat jy nie so bedoel nie en wat ander seermaak. Jy is vir niks lus nie. Wie ken nie sulke dae nie?"

’n Paar katkisante steek hulle hande onseker op.

Wat ’n verligting, dis dus nie net ek wat moeite het met dié soort gevoelens nie.

Die HERE weet alles reeds van die begin af, ook alles van my. Tog het Hy sy Seun opgeoffer om van ons te kan hou.

Jy kan dit dus uit daardie hoek bekyk. Ons is nie God se liefde werd nie. Maar nou is God my Vader. Ja, deur Christus. Hy verstaan die konsep. Maar nog steeds: ’n Vader. Net so veel liefde vir hom as vir Sy eie Seun.

Begrip🔗

Dis tyd om huistoe te gaan. Vroeër as wat hy gedink het.

Hy verlaat die lokaal in ’n heeltemal ander bui as wat hy gekom het. Hy wil nie by die huis laat blyk dat hy in ’n beter bui is nie. Met die intrapslag sit hy maar weer ’n suur gesig op.

Hoe kan hy so wees? Dit is oneerlik teenoor sy ma. Wat kan sy ma in elk geval doen aan die feit dat hy hom vir haar vererg het? Agteraf gesien was dit juis ’n baie goeie ding dat sy hom katkisasie toe gestuur het. Sy buierigheid is sekerlik nie iets van die verlede nie. Hy sal weer sulke dae beleef, maar vandag se katkisasieklas het hom beslis vorentoe gehelp. Hy weet nou dat daar in die toekoms altyd Iemand sal wees wat Hom verstaan, regtig beter verstaan as wat hy homself verstaan. Iemand wat van hom hou, ook al is hy in ’n slegte bui.

Hy’t sommer weer nuwe moed.

Is hierdie verandering wat hy nou voel iets wat God bewerk het? ’n Onbeduidende verskil, maar vir hom is dit ’n groot ingreep.

Terug by die Huis🔗

“Hallo seun, is jy weer terug? Dit is lekker dat jy weer tuis is.”

Sien jy nou, Ma het geen kwade bedoelings gehad nie.

“Jou bui het ook gesak, sien ek. Jy het die deur hard toegeklap toe jy hier uit is. Dit het my laat wonder hoe dit met jou sal gaan by die katkisasie. Hoe was dit toe?”

Hy’s skielik lus om alles met sy ma te deel. “Ja, aan die begin was ek maar geïrriteerd. Ek was niks lus vir die klas nie.” En toe vertel hy haar al die dinge wat hom aan die hart gegryp het. Dit het hom gehelp. Dat God verstaan wat in sy binneste aangaan. En dan ook nog van hom hou en hom verstaan.

“Ja seun, daarby het jy ook nog ’n pa en ma wat dit ook probeer doen. Ek het jou gevoelens van vanmiddag verstaan. Miskien reageer ons ook nie altyd ewe wys nie. Ons het soveel tekortkominge. Die oomblik is ook nie altyd reg om sake rustig deur te praat nie. En ek het ook my gebreke, ek besef dit. Dit maak my net soveel meer dankbaar vir God se versoeningswerk vir my. Ek leef ook van God se genade, net soos jy. Dit is vir my die pragtigste wat daar is.

As daar iets is wat ek wil hê julle moet saamneem van julle opvoeding, dan is dit juis dít.

En wanneer ons vassit en verskil, dan weet jy die HERE is nog altyd daar.

Gelukkig🔗

Fluitend stap hy na sy kamer.

Daar is nou nie meer tyd vir sy rekenaarspeletjie nie. Miskien ’n ander keer. Weet jy wat: hy gaan nog ’n bietjie lees oor wat die predikant verduidelik het.

“God is, danksy sy Seun Christus, ook my God en Vader.”

Wonderlik om so ’n Vader te hê. Die mooiste ding in die wêreld!