Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

"Toe Hoor God die Stem van die Seun..."

Lees Genesis 21:17

Jeug in die Kerk🔗

Hoe belangrik is die jeug in die kerk? Hoe sien volwassenes die jeug in die kerk en erediens?  En dan is die vraag nie wat die “potensiaal” is wat u in die jeug sien nie. Hoe kyk u vandag na hulle vir wie hulle NOU is? Sien u die jeug as kinders van die gelowiges wat plek gekry het in die “voorportaal” van die kerk? Byna lidmate, maar tog nie…? Sien ons hulle veral of selfs uitsluitlik deur die lens van die leer oor die erfsonde en dan as kwaaddoeners wat in die kerk verdra moet word? Die leer oor die erfsonde is egter nie bedoel om ʼn negatiewe kyk op kinders en jongmense te regverdig nie. Dit wil wel die grootheid en noodsaaklikheid van die genade van ons Here vir ons almal altyd weer onderstreep.

Ongelukkig het vir ʼn groot deel in die Westerse wêreld die volwassene die verteenwoordiging en verpersoonliking van die “ideale mens” geword. Kinders moet hulle dus altyd aanpas aan by wat vir die volwassenes van belang is en nie werklik andersom nie. Veral in die kerk en erediens! Sonder kind-wees is ʼn mens egter onvolmaak. Ook in die kerk.

Kinders is as kinders uiters noodsaaklik vir die kerklike lewe. Nie as potensiële volwassenes en as die volwassenes van môre nie, maar as die kinders en jeug van vandag. Die idealisering van die volwassene is ʼn ontkenning van die feit dat die mens verskillende ontwikkelingsfases het waarvan elkeen sy eie skoonheid en bekoring het. Soos wat baie jeug verlang daarna om eendag “groot” te wees, is daar baie volwassenes wat verlang na hul jeugjare. Daardie tyd van hul lewens toe die lewe nog eenvoudig was. Sonder kompleksiteite, pynlike vrae en die letsels van die seer van die lewe. Hoe kan ouers en grootouers nie geniet van hulle kinders en hulle ervaring van die lewe nie! En dit is mooi!

Laat die Kindertjies na My toe Kom🔗

Die belangrikste vraag is: Hoe kyk die Here God na die kinders en jeug in die kerk? Die Here Jesus is hieroor meer as duidelik: “Laat die kindertjies na my toe kom en verhinder hulle nie” (Markus 10). Maar is dit dan ʼn nuwe houding by God teenoor kinders? Ons Here verwoord wat van die begin van die Bybel oor kinders en hul plek by God geleer word. Kinders is ʼn seën van die Here. Kinders hou belofte in en skep geweldige verwagting. Dit is deur die saad van die vrou, dat die kop van die slang vermorsel sal word. Dit is daarom ʼn geweldige wins van ons Kategismus, wanneer daar onomwonde ʼn volwaardige plek aan die kinders van die gelowiges in die kerk erken word:

Ook aan hulle word NIE MINDER as aan die volwassenes deur die bloed van Christus, die verlossing van die sondes en die Heilige Gees, wat die geloof werk, beloof nie. (Antw. 74 van die Heidelbergse Kategismus)

En dit is tegelyk ook die rede waarom kinders van gelowige ouers gedoop behoort te wees. Net soos die volwassenes is hulle in die verbondsverhouding met God ingesluit en daarom in sy gemeente. Daarom is dit so belangrik dat die kinders deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf word. Dit is baie belangrik dat die kinders van die gelowiges op hierdie manier onderskei word van die kinders van ongelowiges. Kinders van gelowiges moet weet dat hulle saam met die volwassenes by die Here en in sy gemeente hoort. Die teken hiervan in die Ou testament was die besnydenis. Christus het self ʼn nuwe teken ingestel waardeur ons mag sien en weet dat ons by Hom hoort, en dit is die doop.

Saad van die Vrou🔗

Laat ons sien hoe in die Skrif van die begin die kinders van die gelowiges net soos die volwassenes in die Here se genade gedeel het. Noag en sy gesin mag in die ark gaan om behou te word. By Abraham word dit nog duideliker gestel dat kinders vir die Here belangrik is. Die Here se verbond wat Hy met die volwasse Abraham sluit, geld niks minder ook vir sy kinders. Só ernstig word dit deur die Here geneem, dat dit uitdruklik beveel word dat elke manlike kind wat nie besny is nie, uit die volk uitgeroei moes word. Die verbond word nie net met Abraham gemaak nie, maar duidelik ook met sy nageslag, d.i. met sy kinders.

Die Here gaan selfs só vêr om met die seun van die slavin, Hagar, nie sonder barmhartigheid om te gaan nie. Aan Ismael word ryke beloftes gemaak van die seën van die Here. Omdat Ismael Abraham se kind is, word ook Ismael onderskei van die kinders van die ongelowiges. En kyk net met watteer deernis gaan die Here met Ismael om. Wanneer Hagar hom onder ʼn bos neersit en sy eenkant gaan sit en huil totdat hy dood is, hoor die Here die gehuil. Maar die verrassende in Genesis 21 is nie dat die Here Hagar se gehuil hoor nie. Hagar het op ʼn afstand gaan sit en haar stem verhef en geween (21:16). Stel u die hartverskeurende geroep van hierdie moeder voor!

Toe Hoor God…die Seun!🔗

Maar wat is dit wat die Here God hoor? Vers 17: “Toe hoor God die stem van die seun…”. Juis wanneer die Here God die stem van die seun hoor, kom daar ʼn troosboodskap vir Hagar. Sy hoef nie bang te wees nie, want God het die stem van die seun gehoor waar hy magteloos lê en skreeu. Nadat die Here haar oë oopgemaak het vir die put waaruit hulle versorg kon wees, kom die bemoedigende woorde nog ʼn keer: “En God was met die seun…” (21:20a). Dit is hoe die aard is van God se genade. Hy deel sy genade uit waar ʼn magtelose klein seun lê en skreeu. Nie net waar volwassenes hulle tot die Here keer nie!

Verstaan u waarom die doopsformulier met soveel klem leer dat ons ons kinders moet leer en help om hulle doop te leer verstaan? Dit help nie ons vertel ons kinders dat hulle gedoop is nie. Dit is nie ons taak nie. Ons moet hulle God se genade daarin leer verstaan. En glo. En aanneem.

Glo u werklik dat die kinders van die gemeente net soos die volwassenes deel het aan die genade van God? Dan sal ons as gemeente veel ernstiger moet besin oor die manier waarop ons aan die kinders in die gemeente plek in die erediens gee. Kinders moet ernstig geneem word. Nie net by die katkisasie nie, maar juis daar waar die verlossing in Christus in die erediens gevier word. In die Psalms hoor ons van seuns-en dogterkore wat die volk toegesing of in beurtsang met die volk gesing het.

In die erediens kom ons nie net vir die luister na ʼn preek nie. Die preek is slegs ʼn onderdeel van die groter erediens. Ons vier saam as gemeente die ontmoeting met die Here en sy genade-liefde vir ons. By hierdie viering hoort veel meer as net goed beargumenteerde preke. Ons sal kreatief moet nadink oor die manier waarop kinders bewustelik saam kan vier. Indien ons kies om nie aparte dienste vir kinders te hou nie, beteken dit wel dat ons konkrete invulling moet gee aan hulle viering wat net soos die volwassenes deel aan die verlossing.

Ook die kinders se gawes sal in die gemeente en erediens mag en moet funksioneer. Dink as voorbeelde aan beurtsang, vrae stel rondom die preek, sake vir voorbidding mag genoem word. Verhale en simbole speel ʼn groot rol in die leer en vierproses by kinders. Die predikant sal veel meer moet rekening hou met die hele gemeente in die preek en erediensvoorbereiding.

Die Here wil die gemeente en haar erediens ook vir die kinders as ʼn veilige hawe gee. Die kinders moet daar volledig deel van wees en voel en dit ook beleef. In ʼn wêreld waar daar baie misbruik is van kinders deur volwassenes, kan ons as gemeente laat sien dat ons, net soos die Here, erns wil maak met die kinders en hulle ʼn plek gee van sorg, liefde en beskerming in die naam van Jesus Christus.