3 bladsye.

Tradisie, kompas of radar?

'n Amerikaanse sosioloog David Riesman gee ons 'n interessante onderskeiding tussen mense. Hier volg sy beskrywing soos dit vind in H.J.H Brentjens se boek Visie op die Jeug.

Riesman het mense rofweg in drie groepe onderverdeel. Daar is mense wie se sig heeltemaal op die tradisie gerig is. 'n Tweede groep word van binne uit bepaal, vanuit ’n eie oortuiging. En 'n derde  groep laat homself beheers deur ander mense.

Verskillende tipe mense🔗

1. Bepaal deur tradisie.🔗

Hierdie tipe mense wat deur tradisie bepaal word, pas by 'n stabiele samelewing wat baie heg gestruktueer is. In Wes Europa was dit gedurende die Middeleeue die geval. So 'n samelewing het nie veranderings geken nie. Die waardes en reëls van die mens se lewenswyse is van vader na seun oorgedra. Die jonger generasie wat in so 'n samelewing opgegroei het, is sorgvuldig geleer wat van hulle verwag word, en is gedwing om aan te pas by die gegewe (hiërargiese) verhoudings.

Omdat in daardie samelewing wet en voorskrifte die norm was, sou jy die wetboek as 'n simbool daarvan kon sien.

2. Bepaal deur innerlike oortuiging.🔗

Wanneer die samelewing sterk begin ontwikkel en verander, soos dit die geval was in Wes Europa vanaf die Renaissanse en die Hervorming, het dit belangrik geword dat mense 'n bewuste individualiteit ontwikkel. Hulle kan nie meer net vanuit die tradisie beheer word nie, maar moet  'n innerlike oortuiging hê. Jou persoonlike gewete bepaal hoe jy dinge doen. Die jeug moet dan ook bewus gemaak word waaroor die lewe gaan.

In teenstelling met  die Katolisisme was dit vir die Protestante nie so belangrik om hulle aan uiterlike reëls te bind nie. Vir hulle was dit die belangrikste dat jy ondanks alles, vashou aan jou eie oortuiging.

Met die Woord van God as rigsnoer.

Hierdie ingesteldheid wat van binne uit bepaal word sou 'n mens kon simboliseer met 'n kompas. Jy kan verskillende rigtings ingaan, maar jy laat jou rigting bepaal deur 'n gegewe oriëntasiepunt.

3. Bepaal deur ander mense.🔗

In 'n moderne pluriforme samelewing staan allerhande waardes en norme langs mekaar. Daar is baie menings en sienswyses wat in èèn samelewing 'n moontlikheid moet wees. Veranderlikheid en relatiwiteit is 'n feit. Of saamleef moontlik is hang af of goeie afsprake gemaak kan word, en verder niks nie. Om in so 'n samelewing goed te kan funksioneer, sal jy 'n ander lewensgevoel  moet ontwikkel, een waarin jy jouself en jou menings kan relativeer.

Die veranderings in so ’n samelewing maak dat die tradisie slegs een moontlikheid is waaruit jy kan kies.

En die relativiteit maak dit onmoontlik dat die individue op een gemeenskaplike ideaal gerig is. In die opvoeding moet die kinders dan ook geleer word om buigsaam te wees, sodat hulle hulself vinnig kan oriënteer op die gedrag van 'n ander en kan inspeel op sekere omstandighede.

So ’n ingestelheid wat bepaal word deur mense in jou omgewing, sou 'n mens simbolies met 'n radarskerm kon voorstel.

Tot sover 'n eenvoudige beskrywing van die opvatting van Riesman wat hiermee ons sig op sekere dinge kan verhelder en ons verder kan help om te oordink hoe ons self met die Here leef.

Beheers deur die tradisie?🔗

As gelowiges moet ons onsself voortdurend daarvan bewus wees dat ons aan God behoort. En dat dit fundamenteel is vir ons bestaan, en dat dit die raamwerk is vir alles wat ons dink en doen. Hierdie geloofsoortuiging is bepalend vir ons hele manier van lewe, ook in die klein dingetjies van elke dag. Ons moet dit ons kinders voorhou en in ons eie voorbeeld duidelik maak dat ‘n Christelike bestaan sy eie oriëntasie, kleur en diepgang het en ons dit anders doen as hierdie wêreld.

Die vraag is nou: beteken dit dat ons vir hierdie bose wêreld moet wegkruip, en dat ons geloof beheers moet word deur vrees (juis omdat ons glo)? Moet ons ons vasklou aan die ou vertroude gewoontes en ons houvas soek in die tradisie?

Dit mag soms so lyk. En hierdie houding sal seker voorkom by sommige mense. Laat ons dit duidelik stel: Ons hoef nie noodwendig die tradisionele opvattings oorboord te gooi net omdat dit iets van vroeër is nie. Wat vroeër in die geformeerde kring gesê en geskryf is is nie noodwendig tydgebonde en onvanpas vir die vrae van die mens van vandaag nie.

Ja, die tye verander, maar daar is ook ‘n deurlopende lyn, daar is kontinuiteit. Baie probleme van vroeër is ook vrae van vandag en die toekoms, miskien in ‘n ander vorm, maar eintlik is dit maar net ‘n variasie op dieselfde tema. Dit sal dan ook kortsigtig wees as ons al die dinkwerk van vroeër oorboord gooi, en dit waardeloos ag en self alles weer van voor af te begin oordink.

Ons breek dus nie met die tradisie nie.

Maar terselfdertyd moet ons ons ook nie sonder meer deur die tradisie laat beheers nie. Die antwoord van destyds was wel destyds se antwoord. Die positiewe daarvan moet ons ook vandaag kan oorneem, en dan in die besonder die onderliggende bedoeling (die intensie) van die vorm wat moontlik tydgebonde kan wees.

As jy die oplossings van vroeër hanteer as reëls van ‘n wetboek, as jy gebruik maak van die tradisie as voorskrifte sonder meer, as jy die reël oorneem omdat dit nou eenmaal die reël is en nie omdat jy ook self innerlik oortuig is dat jou Christen-wees hierdie vorm moet aanneem nie, sal dit dan nie die indruk skep dat Christen-wees nie by hierdie tyd pas nie?

Maar ons is wel geroep om Christen te wees in hièrdie tyd en Christus na te volg ook in die hedendaagse omstandighede. Ons moet ook sekerlik nie met die verlede breek nie, maar dit wat vroeër waardevol was ook vandag nog gebruik met die oog op die vrae van vandag. Terselfdertyd moet ons sê:  dit is moontlik dat dit vir ander vormgewing sal vra wat in pas is met die ander omstandighede van vandag.

Aanpas by vandag?🔗

Ons moet oppas dat ons onsself nie sodanig oopstel vir die hedendaagse leef- en denkwêreld,  dat ons eie posisiekeuse uiteindelik verdwyn nie:

Daar is allerhande maniere van dink en van dinge doen wat met die tyd verander. En wie met die tyd wil saamgaan, moet gevoelig wees vir tendense en homself buigsaam opstel, die betreklikheid van alles besef, ook van jou eie mening. Jy moet die groep probeer aanvoel, wat hulle dink en jou daarby aanpas. Jou radarskerm sal dan die seine van jou omgewing opvang en dit bepaal jou vaarplan.

Baie mense leef vandag op hierdie manier, hulle laat hulle deur die omgewing voorsê wat hulle moet doen en dink. As ons op soek is na ‘n eietydse belewing en vormgewing van ons Christelike lewe, moet ons verseker nie in hierdie rigting soek nie. Van hierdie houding en sy infekterende uitwerking moet ons duidelik afstand neem.

Eie kompas🔗

Maar hoe dan anders? Dus nie volgens die tradisie sonder meer, of deur radarseine wat ons van buite ontvang nie, maar 'n koersbepaling via 'n eie innerlike kompas, wat ons op die regte oriëntasiepunt rig.

Ons moet ons nie deur die verlede die wet laat voorskryf nie, en nie dinge doen soos hulle dit vroeër gedoen het net omdat hulle dit vroeër so gedoen het nie. Ons moet ons ewemin laat stuur deur die steeds veranderende mening van mense vandag om ons heen. Ons mag wel gebruik maak van die baie waardevolle aspekte in die tradisie en ons mag ook 'n oop oog en gevoel hê vir die situasie van vandag.

Maar ons wil lewe van binneuit, gestuur deur 'n goed afgestemde innerlike kompas. So mag elkeen van ons, oud en jonk, in eie werksomstandighede, met eie kapasiteite, volgens eie karakter, heel persoonlik vorm gee aan sy Christen-wees. Deur Christus te volg aan die einde van die twintigste eeu. Deur op Hom te oriënteer by die soeke na 'n antwoord op die vrae waarmee ons te doen kry. In die regte perspektief na alles rondom ons kyk – ’n perspektief wat ons vind wanneer ons in alles gerig is op Hom.

Dan sal ’n mens nie volgens uiterlike reëltjies leef nie, en jou ook nie deur die mening van ander in hierdie tyd laat beheers nie. Maar dan het jy jou eie oortuiging, beheers deur die woord en gebod van God. 'n Innerlike kompas wat jou die regte rigting wys, ook as jy met omstandighede te doen kry waar die tradisie jou nie 'n oplossing gee en die wisselende strominge van eietydse denke geen houvas bied nie. ’n Leefwyse wat van jou 'n Daniël sal maak en die moed gee om alleen te staan!

Lewe van binneuit🔗

In Jeremia (31:31-34) lees ons, dat die HERE 'n nuwe verbond aankondig:
Ek gee my wet in hulle binnenste en skrywe dit op hulle hart;
en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir my 'n volk wees.
En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE, want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE.

En Paulus skryf oor hoe die mense wat aan God behoort deur die gawes wat Christus in sy kerk gee, toegerus word en groei in die geloof en kennis tot die volmaakte rypheid van Christus (Efesiërs 4:7-16):

Dan sal ons nie langer kinders wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus.

Ons en ons kinders mag na hierdie Christelike volwassenheid toegroei, waarby ons ‘eenkant-staan’ daarin uitkom dat ons van binne-uit lewe, volgens 'n innerlike kompas wat ons op onse Heer laat oriënteer.

My oortuiging is dat so ’n siening onmisbaar is vir ons eie geloof, maar ook om ons kinders ’n weg te wys wat dit werklik beteken om te glo. Mag die huidige generasie hierin vir die komende generasie ’n voorbeeld wees.