Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Tussen Gister en Môre

Dit lyk of die menslike gees alle veranderings op politieke en maatskaplik-sosiale vlak nie kan byhou nie. Geestelike waardes bly in die slag. Huwelik en gesin is onderworpe aan 'n uithollingsproses. Daar is jong mense wat dit nie meer die moeite werd vind om te trou nie. Hulle bly net saam.

Die Kerk kry swaar. Vroeër is die evangelie geplaas teenoor die rewolusie. Vandag moet die evangelie gebring word deur middel van die rewolusie. 'n Nuwe teologie dien homself aan as die teologie van die rewolusie.

Ons staan in 'n stormsentrum. Dinge gaan so vinnig. Wat vandag nog nuut is, lyk môre alweer verouderd.

So staan ons tussen gister en môre.   Gister lyk vir ons mooi. Toe kon 'n mens nog bybly. Daar was rus en vrede. Die toekoms het nog geblink. Maar as ons vandag aan môre dink, dan maak dit ons bang en bekommerd.

Dis heeltemal verstaanbaar dat baie mense vlug in die verlede. Pessimisme met betrekking tot die toekoms maak dat ons die verlede gaan idealiseer. Alles wat uit die verlede kom, is goed.

Gister was so beskut en veilig.

Môre is so dreigend en onseker.

Wat is ‘n Christen?🔗

'n Christen is 'n mens van môre. Sy geloof is sy vêrkyker waarmee hy die toekoms kan inkyk. Ons lees dit by Abraham. Hy is die vader van die gelowiges. Deur sy geloof kon hy ver in die toekoms inkyk. Hy het die dag van Christus gesien en hom verbly (Joh. 8:56).

Basies is 'n Christen 'n toekomsmens, 'n mens van môre. Hy kyk vorentoe. Deur die geloof verwag hy die stad wat fondamente het (Heb. 11:10).

'n Christen is egter ook 'n mens van gister. Hy is nie bang om terug te kyk nie. Hy kyk egter nie terug na gister met 'n gevoel van weemoed en verlange na die ou dae wat vir hom soveel rus en sekuriteit gebied het nie.

Dis vir hom nie die belangrikste van gister nie. 'n Christen wat terugkyk, sien in die verlede die kruis van Christus waar sy sonde versoen en sy skuld bedek is. Gister het God Hom reeds met hom bemoei. Hy is opgeneem in die verbond van God. Gedra deur God se liefde.

Van Paul Kruger weet ons dat hy 'n ware Christen was, 'n man met 'n diep en sterk geloof. Hy het ook in 'n tyd vol woelinge, spanninge en dreiginge geleef. In so 'n tyd moes hy as staatsman 'n jong volk lei. Hy was 'n man van gister en van môre. Dis goed om daarop te let hoe Paul Kruger, die groot gryse, tussen gister en môre, tussen hede en toekoms gestaan het. Ons onthou nog altyd sy gevleuelde woorde: Neem uit die verlede alles wat mooi en goed is en bou daarop 'n toekoms.

Wat sê die Bybel van Gister en Môre?🔗

In die Woord van God word ook oor gister en môre gespreek. Die Heilige Gees wil ons daardeur leer hoe ons as Christene tussen gister en môre moet staan. Die gelowige Israeliet in die Ou Testament het gekyk na gister. Dit het hom moeg gemaak. Hy sien die kringloop in die gebeurtenisse.

Wat was, sal weer daar wees; en wat gebeur het, sal weer gebeur, en daar is niks nuuts onder die son nie Pred. 1:9.

Tog was die gelowige Jood in die Ou Testament by uitstek 'n mens van môre. Hy het gekyk na die toekoms. Die profete het met hul vinger na die toekoms gewys. Die gelowige Israeliet se vooruitkykende toekomsperspektief was gerig op 'n nuwe tyd, 'n nuwe eeu, die volmaakte eeu, die eeu van die Messias. Volkome in ooreenstemming met die vooruitkykende perspektief van die Ou-Testamentiese profete het die vromes gekyk na môre: die dag van die Here sal kom, die nuwe eeu sal aanbreek.

Deur die vollediger openbaring van God in Christus leer die Nuwe Testament ons dat die koms van die nuwe eeu 'n twee-fase-koms is. In Christus, met sy geboorte, sterwe en opstanding het die nuwe bedeling, die nuwe eeu, die koninkryk van God gekom.

Die koninkryk van God wat in Christus gekom het, sal egter finaal kom by die wederkoms van Christus.

God se ryk het reeds gekom as saaityd, maar dit sal nog kom as oestyd. Die môre van die groot dag van die Here het reeds aangebreek, maar gister is nog nie heeltemal verby nie.

Dit bring mee dat daar in die tyd tussen die koms en die wederkoms van die Messias 'n tyd van oorvleueling is. Die ou bedeling is in beginsel verby en tog werk dit nog deur. Die nuwe bedeling het in beginsel 'n aanvang geneem, maar die volle ontplooiing moet nog kom.

Twee-Wêrelde🔗

In die briewe van Paulus wys die Heilige Gees vir ons dat daar eintlik twee wêrelde is: hierdie wêreld en die toekomstige wêreld (Ef. 1:21).

Hierdie wêreld is volgens Paulus die ou verslete wêreld van gister, die wêreld van die sonde en die dood. Hierdie ou wêreld het met die sterwe en die opstanding van Christus eintlik, prinsipieel gesien, tot 'n einde gekom. Hierdie wêreld bestaan nog voort. Die ontwikkelinge in hierdie wêreld mag indrukwekkender wees, tog loop dit op 'n einde.

Die toekomstige wêreld lyk miskien klein en onbeduidend. Dit het begin met die opstanding van Christus en dit gaan voort na die ewige toekoms.

Op 'n treffende wyse word hierdie siening op die twee wêrelde in 2 Kor. 5:17 tot uitdrukking gebring:

As iemand in Christus is,  is hy  'n nuwe skepping  (Gr.: ktisis); die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Paulus weet: met die opstanding van Christus het, soos hy letterlik skrywe, die nuwe skepping aangebreek. Die nuwe wêreld van God het toe 'n aanvang geneem. Deur die opgestane Here Jesus Christus, deur geloof in Hom kry ons toegang tot hierdie wêreld van God.

Wie in Christus is, wie in Hom begrepe is, wie deur die band van die geloof aan Christus verbonde is, behoort reeds tot die nuwe wêreld van God.

Deur die Heilige Gees gedrywe kyk Paulus dan terug na gister en vorentoe na môre. Eers kyk hy na die verlede, na gister. Dan skrywe hy: 'die ou dinge het verby gegaan'. Met die ,'ou dinge' bedoel hy die dinge van gister, die ou wêreld van die sonde en die dood.

Vervolgens kyk die apostel vorentoe. Hy skrywe: dit het alles nuut geword. Hiermee bedoel hy die nuwe dinge van God, die nuwe 'Skepping' wat gekom het met die sterwe en opstanding van Christus.

Wie in Christus is, wie in Hom begrepe is, lewe eintlik in twee wêrelde. Ons wat glo, staan nog in hierdie wêreld, die verslete wêreld van die sonde en die dood. Maar deur God se genade, deur ons geloof in Jesus Christus, het ons reeds deel aan die nuwe wêreld van God.

En in die Heilige Gees as die groot Gawe van God van die nuwe heilstyd, besit ons reeds die eerste paaiement van die volle verlossing.

Christelike Realisme en Optimisme🔗

Deur geloof in Jesus Christus, kragtens ons begrepenheid in Christus, staan ons op 'n geheel nuwe wyse in hierdie wêreld. Ons staan tussen gister en môre.

Ten eerste is ons gelowig realisties. Ons weet hierdie wêreld waarin ons lewe gaan verby. Die gedaante van hierdie wêreld gaan verby (1 Kor. 7:31). Ons is vreemdelinge (1 Petr. 1:17).

Dit leer ons om afstand te doen. Al moet ons hierdie wêreld gebruik, ons kan dit nie meer ten volle gebruik nie (1 Kor. 7:31).

Uit die verlede neem ons wat mooi en goed is. Wat kom daar nie 'n ryk skatte uit die verlede nie, die skatte van die verbond: ons Bybel, ons belydenis, ons Christelike kultuurgoedere waarin die geloof van ons vaders tot uitdrukking gebring is.

Op hierdie erfgoed bou ons vir die toekoms. Ons is gelowig optimisties. Die veranderende wêreld met al sy bedreiginge kan ons nie onderkry nie. Ons is mense van môre.

Ons is nie net vreemdelinge nie, ons is ook erfgename. Ons erf 'n nuwe aarde.

Paulus is vir ons 'n bemoedigende voorbeeld. Hy sit in die gevangenis. Dinge lyk sleg. Hy wag op die verhoor. Daarna kom miskien 'n veroordeling en ten slotte die teregstelling.

Hierdie uiters moeilike omstandighede druk hom nie neer nie. Hy is vol geloofsoptimisme. Hy mag dan in die gevangenis wees, hy is ook in die Here en dit is vir hom die allesbeslissende. Sy brief wat hy skrywe aan die gemeente te Filippi is dan ook die brief van die blydskap.

Hy, die man van môre, weet wat kom.

Ons is burgers van die ryk van God.

Ons verwag die Here Jesus Christus as Verlosser.

Hy sal ons vernederde liggaam van gedaante verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp (Fil. 3:20, 21).