Bron: De Reformatie. 5 bladsye.

Tussen Ja en Nee

wipplank

Onlangs is die vraag aan my gestel, hoe dit kan gebeur dat die gegewe ja-woord soms so maklik verbreek word.

Die aantal kere wat dit voorkom is weliswaar nog relatief gering en dit sal buitendien van plek tot plek verskil.  Maar die gemak waarmee dit in sekere gevalle gebeur is tog wel verbasend.

As iemand homself nie meer in die kerk tuisvoel nie, en hy soek ‘n ander geloofsgemeenskap, dan is die ja-woord wat eendag gegee is (voor God én sy gemeente) gewoonlik nie ‘n onoorkomelike struikelblok nie. Sodra hierop as ouderling ‘n beroep gedoen word, is dit gewoonlik alreeds ‘n afgedane saak.

Met die ja-woord van die huweliksdag is dit nie baie beter gesteld nie. As die oortuiging eers sover gegroei het dat iemand die verkeerde eggenoot gekies het (soms ‘n jarelange proses), dan word met die belofte voor God partykeer baie gou klaargespeel.

Asof mens sommer net so jou belofte kan verbreek!

Dit is des te meer opsienbarend, omdat in die Bybel baie uitdruklik hierteen gewaarsku word.

Ek dink aan Deut. 23:21-23, waar o.a. geskryf staan:

 Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die Here jou God vrywillig beloof het – wat jy met jou mond gespreek het.

En veral ook Prediker 5:3, 4: 

As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.

As laaste, om net ‘n paar te noem, Jak. 5:12b: 

Laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie.

Mens wonder hoe dit kan gebeur dat hierdie woorde op beslissende oomblikke geen indruk meer maak nie, tenminste nie naastenby genoeg nie.

Hieroor wil ek graag die volgende opmerkings maak.

Miskien kan dit ‘n aanleiding wees om saam ‘n slag oor hierdie verskynsel dieper na te dink, dalk by Bybelstudie-groepe.

‘Ja’ is ‘n Antwoord🔗

Ons eerste waarneming behoort te wees dat ons ‘ja’ altyd ‘n reaksie op iets is. As jy ‘ja’ sê op ‘n vraag, dan is dit ‘n regstreekse antwoord. Maar jy kan byvoorbeeld ook so reageer as jy geroep word. Ook is die ja-woord van die belofte ‘n plegtige aanvaarding van dit wat deur God voorgehou word.

Ons ‘ja’ staan dus nie op sy eie nie, dit is regstreeks gekoppel aan die spreke van die ander. Dit hou ook in dat die belangrikheid van ons ‘ja’ in die praktyk in direkte verhouding staan met die indruk wat die spreke van die ander op ons maak.  As dit maar min inhou, dan sal ons antwoord ook nie baie diepte hê nie. Dit is baie herkenbaar in die Skrif.

Wanneer God sy verbond sluit met sy volk, praat hy op allerhande maniere met ons. Vanaf die berg Sinaï hoor ons woorde van verlossing en ontferming, ons luister na beloftes en gebooie, ook klink dreiging agterna. Dit alles is baie indrukwekkend, spesifiek ook deur die feit dat God in die vuur verskyn het. Israel bewe en is te bang om verder te luister. Hulle vra vir Moses om vir hulle in te tree. Laat hy na God se woorde luister om dit dan vir die volk oor te vertel. Alles wat die Here sê sal hulle doen, so belowe hulle plegtig.

Ongetwyfeld het hulle dit bedoel tot in die diepste van hulle hart. God was so naby, sy majesteit so oorweldigend, wie sou nie vrees nie? Wie sou dit waag om sy woord te breek?

Tog, na verloop van tyd, is God vir hulle gevoel baie ver weg. Hulle vra waar Hy is. Hulle daag Hom uit om Homself te bewys…!

In daardie klimaat stel die plegtige ‘Ja’ wat op die Sinaï gegee is, nie meer baie voor nie. Die een afvalligheid volg op die ander. Dit leer ons dat die waarde van die ja-woord regstreeks afhanklik is van die besef van die nabyheid van God.

Wie is God?

As mens die vraag onbetrokke invul, word daar maklik oor die geloftes heengestap. Maar as jy sy majesteit raaksien wat Hy openbaar in al sy werke (baie naby!), dan is die gedagte om jou beloftes te verbreek heeltemal buite die kwessie.

gebreekte ring

As ons dit gaan besef, sal ons ook raaksien op watter manier Satan ons in hierdie tyd aanval. Het daar nie in ons huidige samelewing die gevoel ontstaan dat God ver weg is nie?

Vir baie mense is dit selfs nog ‘n vraag wie Hy is. Is Hy ‘n Iemand, of is Hy ‘n ‘iets’, ‘n mag, ‘n krag (die natuur) of ‘n begrip (die liefde), ens.

In elk geval word Hy juis voortdurend nie genoem by die toonaangewende gebeurtenisse in die samelewing nie, maak nie saak of dit met politiek, ekonomie of kultuur te doen het nie. Of Hy wel hier is of nie, mens kan Hom blykbaar doodswyg, jy kan jou gang gaan asof Hy nie bestaan nie.

En dit is wat dan ook op groot skaal gebeur. Kan u die versoeking aanvoel? As dan in hierdie tyd die vraag gestel word, hoe dit moontlik is dat daar in die kerk soms so maklik met die gelofte omgegaan word, dan dink ek dat dit te doen het met die God-op-‘n-afstand-mentaliteit.

Die vraag wat vervolgens gestel moet word, is in hoeverre ons ons inspan om hierdie versoeking in die praktyk van ons lewe te weerstaan. Teoreties gesien lê die antwoord voor die hand: waar die wêreld oor God swyg en sy gawes ook stilswyend as normaal aanvaar, sal ons juis daarvoor moet sorg dat God se Naam heel spesifiek genoem word. Ons sal Hom moet dank, en dan nie net in ons gebed op vaste tye nie, maar ook so dat dit ‘n manier van praat word –  met mekaar, in die kerklike lewe, in die gesinslewe en as dit enigsins moontlik is – ook buiten toe.

Nogmaals, teoreties gesien lê dit voor die hand om op so ‘n wyse God se nabyheid in die daaglikse lewe te benadruk, as antwoord op die sekularisasie (Verwêreldliking). Maar wat sien ons daarvan in die praktyk?

Gelukkig kan ons mooi dinge daaroor vertel, maar ook baie hartseer dinge. Daar is ongelukkig in Christelike kringe nog baie stilswyendheid. Daar is al baie hierop gewys. Ek gaan dit nie nou alles herhaal nie, want hier wil ek konsentreer op een aspek naamlik: As God nie in ons daaglikse lewe genoem word nie, skep ons die indruk dat Hy ver weg is, met alle gevolge van hiervan...

Dan kan ‘n mens dalk vinnig vingerwys na die een wat sy woord breek, en hy kan dan sekerlik ten volle verantwoordelik gehou word. Maar mens kan nie die vraag ontken in hoe ‘n mate ons saam sorg dra vir ‘n klimaat waarin soiets maklik kan gebeur nie.

Hierdie vraag is belangrik genoeg om nog ‘n bietjie nader op in te gaan.  Dit lei vanself van die een ding na die ander.

Ons sê ‘Ja’ in die Geloof🔗

Die wat ‘ja’ sê voor God en sy gemeente, spreek in geloof. Dit kan nie anders nie. Maar wat is geloof?

Daardie vraag blyk nogal moeilik te wees. Ek stel die vraag gereeld tydens katkisasie en ander gespreksgroepe, en dan tref dit my hoe moeilik dit blykbaar is om dit te omskryf.

‘Is dit nie ‘n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue nie?’

‘Dit is so, maar vertel bietjie wat jy daarmee bedoel?’

‘Ek glo vas aan dit wat in die Bybel staan.’

‘En waarop vertrou jy?’

‘Ek vertrou dat die Bybel waar is.’

‘Lees jy self in die Bybel?’

‘Partykeer…’

Hoe afsydig klink dit nie! Die geloof word omskryf sonder dat God se naam ook maar een keer genoem word….

Dan sal ons verder in die groep hieroor praat en dink, en gelukkig kom ons dan saam ook verder hierin. ‘Geloof is om jou hoop op God te stel, te verwag wat Hy belowe; dit is ook om na Hom te luister en aan Hom gehoorsaam wees’.
Mooi so.

Maar ek wag nog steeds op één spesifieke woord. Een woord wat gelukkig steeds meer bekend raak: geloof is om God lief te hê. Is dit nie waarvan die Bybel volstaan nie, dat die Here vra na die liefde van ons hart? Dit is selfs die grootste eerste gebod in die samevatting van die wet: God liefhê bo alles. Daaruit ontstaan die gehoorsaamheid.

hart van klip

Die merkwaardige is egter, dat die eerste antwoord vrywel ‘n letterlike aanhaling uit die Kategismus is: ‘’n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue’ (Sondag 7).

Daardie sin het wel in die gedagtes opgekom, maar blykbaar as ‘n geykte term, sonder dat die betekenis daarvan verstaan word. Dat hiermee liefdevolle kennis bedoel word, kom dan nie in die gedagtes op nie.

Tog is dit maar net ‘n voorbeeld. Wat ek hiermee wil sê is dit: ons (geloofs)lewe ken meer van daardie ‘geykte terme’, waarvan die inhoud onvoldoende of glad nie besef word nie.

Laat my toe om dit toe te spits op die ja-woord tydens die aflegging van belydenis van geloof. As ek vra na die betekenis van die aflegging van die geloofsbelydenis, kry ek van my oudste katkisante partykeer die volgende antwoorde: Een sal sê: ‘Ek neem my doop vir my eie rekening’.  ‘n Ander omskryf dit so: ‘Ek wil antwoord gee op my doop’. Is dit nie gevleuelde gesegdes nie?

Omdat hulle hierdie antwoorde klaarblyklik nie self uitgedink het nie, vra ek vervolgens wat hulle daarmee bedoel. Dan blyk dit dat nommer 1 glad nie kan verduidelik wat hy bedoel het nie.

Hy het iets gesê wat hyself glad nie verstaan nie, maar sommer netso onthou het.

Maar wat sou hy as verklaring kon gesê het? Ek sal nie weet nie. Hoe kan mens in elk geval jou doop vir jou eie rekening neem? Dit is mos onmoontlik? Die doop wil juis uitbeeld dat God ons lewenslank vir Sy rekening neem. Hy betaal vir ons en neem die sorg vir ons op Hom.

In die Skrif word die doop vergelyk met die sondvloed en die Skelfsee. Mense is reeds en gaan nog steeds deur die water heen gered word. Maar het Noag toe die sondvloed vir sy eie rekening geneem, en Israel die Skelfsee?

Tog is die term ‘die doop vir jou eie rekening neem’ onder ons ‘n gevleuelde woord, let wel as omskrywing van die aflegging van belydenis van geloof. As jy wil hê dat iemand sy gelofte sal nakom, is dit dan nie die heel belangrikste dat die inhoud van die gelofte volkome duidelik is nie?

Nommer 2 het gesê: ‘ek wil antwoord gee op my doop’. Dit klink baie beter. Maar ook dit het geblyk ‘n geykte term te wees, waaroor daar nie regtig verder oor nagedink is nie.

Ek het dit toe in my eie woorde geformuleer. Ek het verduidelik, dat die ja-woord op die geloofsbelydenis vergelyk kan word met die ja-woord op ‘n troudag: dit is ‘n ‘ja’ van liefde, van trou en toewyding vir jou hele lewe.

Die ‘antwoord op jou doop’ gee jy dan nie net op daardie een oomblik nie, maar jy gee dit voortdurend, dit is die keuse van jou lewe.

My ervaring is, dat as jy hierdie dinge begin verduidelik, menige katkisant nog ‘n jaartjie langer katkisasie sal wil bywoon. Dit is ‘n goeie saak.

Maar ek is bewus daarvan dat daar ook anders oor gedink word. Dit gebeur ook dat daar katkisante is wat, sodra hulle 18 jaar oud is, oor die drumpel heen gehelp word na die belydeniskatkisasiegroep.

Hulle het immers die regte ouderdom en God wag vir hulle, so word daar gesê. Maar vir my gevoel is dit ‘n bietjie dik vir ‘n daalder, veral vir hierdie keuse in hierdie tyd.

Wat ‘n hoogtepunt in die lewe is, mag ook as sodanig ervaar word.

Dit mag dalk meer voorbereiding kos, maar op hierdie manier probeer mens tenminste voorkom dat die ja-woord wat eendag gegee is, nie sommer vinnig in ‘n nee sal verander nie.

Maar dis nog nie al nie.

Hoe Baie sê Ons ‘Ja’?🔗

Ons nader nou ‘n klimaks. Want wat vir my baie opmerklik is, is dat ons dit vir onsself in ons kerklike lewe so onduidelik gemaak het hoe baie ons ‘Ja’ vir God sê. 

Hierbo het ons gepraat oor die doop, maar laat my nou toe om ter illustrasie iets te sê oor die viering van die nagmaal. As ek na die betekenis hiervan vra, hoor ek so te sê in alle antwoorde die taal van die  Kategismus: dit is ‘n sakrament, God beeld uit en verseël, by brood en beker ontvang ons ons Here Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.

doopwater

Dit is alles goeie antwoorde.

Maar wat, in die lig van ons onderwerp, ontbreek in al hierdie antwoorde? Hier ontbreek dat die viering van die nagmaal na sy aard wedersyds is. Die (kinder)doop wys na die sluiting van God se verbond, eensydig, God is dit wat die begin maak. Maar die nagmaalsviering is keer op keer verbondsvernuwing, dus tweesydig!

God gee en verseël, dit is goed onder woorde gebring. Maar deur by die tafel te gaan aansit gee ons ook, naamlik onsself.  As vrug van die Heilige Gees vertrou ons ons lewe toe aan die Here, ons lê dit in sy hand, ons toewyding lê daarin dat ons sy werke bevorder.

Daar is nie ‘n meer plegtige ‘ja’ as dit nie! Maar as sodanig word dit volstrek nie genoeg besef nie.

Juis omdat ons hierdie gelofte-aspek van die nagmaalviering dikwels nie meer raaksien nie, kom daar vandag opnuut die vraag na vore hoekom die kinders eintlik nie mag deelneem nie.

Hoekom mag hulle wel die doop ontvang, maar nie aan die nagmaal aansit nie? Dit is party mense se eensydige siening van die nagmaal: “God skenk, God verseël". Dit is tiperend van ons manier van praat:  “God is betroubaar, sy beloftes is seker en staan vas”. Jy hoor dit baie, en dit mag ons sekerlik bly maak.

Dit is die basis van ons lewe, daar is nie ‘n ander fondament nie.  Moet my nie misverstaan nie!

Tog kan ons met hierdie woorde wat ons bly maak, eensydig besig wees. Jy kan so baie oor God se beloftes (hoor) praat, dat jy te min aandag skenk aan jou eie belofte. Dit is dan wanneer daar in ons lewe ‘n soort dubbelheid plaasvind.

God se Woord is betroubaar (laat niemand dit in twyfel trek nie!) en staan in die middelpunt, ons woord daarenteen staan in die skadu, kry minder aandag want dit kom nie so goed vorendag nie.

Maar is dit dan nie van die hoogste belang, as ons wonder hoe maklik die geloftes aan God gebreek word en wat ons daaraan sou kon doen, dat ons weer daarvoor sal sorg dat die oomblikke waarop ons geloftes maak, duidelik aangegee word nie?

En vervolgens, dat ons op daardie oomblikke duidelik aandui hoe belangrik ook ons geloftes is?

Dink weereens maar net aan die nagmaalsformulier. By die onderdeel van die selfondersoek word veral ons eie gesindheid onder woorde gebring. Maar laat ons nou ook maar ‘n slag die lig laat val op wat ons self belowe deur van die brood te eet en uit die beker te drink.

 ‘Ja’ en ‘Amen’ Kenmerk die Erediens🔗

En dan nog ‘n saak, wat hierby aansluit. Hoe gereeld sê ons ‘ja’ vir God? Immers tydens elke erediens?

As God ons begroet met genade en vrede, sê ons ‘amen’. Wanneer God ons sy gebooie voorhou, sê die gemeente ‘amen’. Net soos by die Ebal en die Gerisim (Deut. 27). Daar is God se verbondswoorde hardop uitgespreek en die hele volk het telkens ‘amen’ gesê.

Op daardie manier het hulle ‘ja’ gesê, het hulle aanvaar wat daar gesê is om hulle daaraan te bind. Dit is hoe die gemeente vandag ‘ja’ sê, wanneer God se woord in die kerkdiens gelees en verkondig word.

gemeente

Op hierdie manier kry ons elke week ‘n vernuwing van God se verbond met ons. Daarin lê die betekenis van die eredienste. Elke keer weer is daar die ‘ja’ van God tot ons en die ‘amen’ van die gemeente tot God.  ‘Ja’ en ‘amen’ is liefdeswoorde, juis daarom moet hulle telkens herhaal word. As dit nie gebeur nie, bloei die liefde dood.

Maar wat het ons gedoen?

Ons het daardie ‘amen’ vir die predikant gegee en sodoende het ons dit volledig van sy betekenis beroof. Nou verstaan niemand meer wanneer die dominee ‘amen’ sê, dat die gemeente hom daardeur verbind aan die verkondigde woord of dat hulle hul afhanklik maak van die uitgesproke seën nie. Niemand sal dit sommer self uitdink nie.

Want die ‘amen’ is in ons praktyk geen antwoord meer nie; die gemeente wat veronderstel is om dit te sê of te sing, hoor die predikant ‘amen’ sê op sy eie preek. Op hierdie manier het ‘n baie belangrike gelofte-oomblik onherkenbaar geword! 

Daar het by ons maar min oorgebly van die plegtige en deurdagte ‘amen’ wat tussen die Ebal en die Gerisim weerklink het. Maar ons hoef dit nie meer te sê nie, net die dominee…

En as dit ons gewoonte op ‘n Sondag geword het, is dit immers nie snaaks wanneer die deurwerking van die ja-woord op weeksdae nog bietjie vinniger wegslyt nie! Egte liefde het sy bestaan in die daaglikse lewe. Met die oog daarop word dit elke Sondag deur God gevoed, en lê ons ons geloftes af.

Dit wat op ‘n Sondag nie meer ondervind word nie, word deur die week nog minder ondervind. Dit is immers voor die hand liggend…?

As ons nog bietjie verder daaroor nadink, moet ons eintlik konstateer dat ons omgang met die liturgie danig ly aan ‘n dosis gewoontevorming. Ons doen dinge op ‘n manier wat ons self nie meer verstaan nie.

Dit is my bede dat ons oor hierdie dinge ‘n slag hardop en openlik kan nadink, sonder dat dit spanninge veroorsaak. Ons moet juis bekommerd wees oor die gemak waarmee die geloftes aan God gebreek word. Ons moet daaraan werk na ons vermoë. Maar laat ons dan hier begin, by die aflegging van die gelofte.

As daardie aflegging sonder genoegsame oordenking plaasvind of soms selfs onbewus (…!), is dit mos nie vreemd dat die gelofte partymaal nie so duursaam is nie?