Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Twee Bybels of Twee Vertalings?

Die verskyning van die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel (NAV) bring vir baie lidmate 'n dilemma: hulle voel dat twee verskillende Bybels in die kerk nie deug nie en dat daar dus 'n keuse gemaak moet word — verkieslik 'n "amptelike" keuse deur 'n sinode — sodat lidmate kan weet of hulle die 1933-vertaling (OAV) of die 1983-vertaling (NAV) moet lees. So 'n "amptelike" keuse sou egter 'n jammerlike fout wees:

  • Dit lê nie op die weg van Gereformeerde Kerke om een besondere vertaling tot die “amptelike Bybel van die kerk" te verhef nie.

  • So 'n keuse sou tot verskraling van die Skrifomgang van kerklidmate lei.

Amptelike Keuse Ongereformeerd🔗

Anders as die Roomse Kerk kan die Protestantse kerke nie een besondere vertaling as absoluut gesaghebbend aanvaar nie. In die Middeleeue het Rome die Latynse Vulgaatvertaling tot amptelike en gesagvolle Bybel van die Roomse Kerk verklaar. Die Hervormers het egter sonder versuim ander Bybelvertalings gemaak en gebruik, soos die vertalings van Luther, Calvyn, Tyndale, Coverdale en later die Nederlandse Statevertaling. Tog is nie een van hierdie vertalings volgens die Roomse patroon amptelik tot gesagvolle Bybel verklaar nie. Dit sou ook nie by 'n sinode van Gereformeerde Kerke pas om een van die twee huidige Afrikaanse vertalings amptelik bo die ander te sanksioneer nie.

Die rede hiervoor is dat alle vertaling mensewerk is en as sodanig feilbaar is. Daar is dus nie een besondere vertaling wat as vertaling Goddelike gesag dra nie. Vertalings kan dus verander word, maar wat nie verander mag word nie, is die grondteks van die Bybel soos dit in die oorspronklike tale deur die geïnspireerde skrywers van God geskryf is. 'n Vertaling het dus gesag slegs in soverre as wat dit die oorspronklike Bybel korrek en onvervals weergee. As dit nie so was nie, sou dit onnodig gewees het vir predikante om Grieks en Hebreeus te leer.

Ons het dus nie met die verskyning van die NAV twee verskillende Afrikaanse Bybels nie; ons het maar net twee verskillende vertalings van die Bybel. 'n Sinode kan niks meer doen nie as om elke nuwe vertaling daaraan te toets of dit die oorspronklike grondteks suiwer, onvervals en wetenskaplik noukeurig weergee.

Twee Vertalings is Moontlik én Wenslik🔗

Die OAV en die NAV verskil van mekaar, nie omdat die een reg en die ander verkeerd is nie, maar omdat elkeen op 'n eie manier en met 'n eie doel vertaal is.

Die vertalingsmetode en doel van die OAV is baie duidelik deur prof. J. D. du Toit gestel op 7 Augustus 1924 in 'n verslag voor die Vertalingskommissie. Hy het gesê:

Aansluiting by die Statevertaling is noodsaaklik .. . Die Statevertalers het hulle aangesluit by 'dit manieren van spreken der Hebreeuwen en Grieken'. In hoofsaak moet van hierdie stelreël nie afgewyk word nie, omdat nie 'n vrye of kunsvertaling nie, maar soveel moontlik 'n letterlike oorsetting van die Heilige Skrif verlang word (P. J. Nienaber).

Die OAV moet dus beskou word as 'n feitlik woord-vir-woord weergawe van die oorspronklike grondteks. So 'n weergawe het voordele en nadele.

  • Die voordeel daarvan is dat dit die leser 'n uiteensetting bied van hoe die struktuur van die oorspronklike grondteks daar uitgesien het. Gevolglik kan 'n lidmaat met so 'n vertaling in die hand struktuurverklaring in preke en kommentare tot 'n redelike mate volg.

  • Die nadeel van so 'n vertaling is dat dit noodwendig gereeld van maklike verstaanbare Afrikaanse idioom en sinsbou afwyk. Gevolglik is die OAV moeilik bruikbaar vir "gewone" Bybellees, vir voorlesing aan kinders, vir evangelisasie en ander gevalle waar die struktuur van die grondteks meer verduister as verhelder.

Die OAV het dus 'n leemte gelaat. Die NAV was bedoel om hierdie leemte te vul. Dit blyk duidelik uit die opdrag aan die vertalers (Handelinge 1970, p. 302-303):

  • Die nuwe vertaling moet rekening hou met die ontwikkeling van Afrikaans en die resultate van wetenskaplike ondersoek.

  • Die vertaling so getrou moontlik aan die grondteks moet wees.

  • Dit 'n waardige vertaling moet wees wat tot die volk sal spreek in eredienste en huislike gebruik in ons teenwoordige situasie en tyd (eie kursivering).

Die vertalers het hierdie opdrag uitgevoer deur van die letterlike vertaalmetode weg te beweeg. Hulle het nie soseer woorde nie, maar eerder betekenisse vertaal. Hoe dit gedoen is, is deur prof. A. H. van Zyl (Waarom 'n nuwe Bybelvertaling?) uiteengesit. Op bladsy 55 sê hy dat die vertalers die "aksent laat val op verstaanbaarheid bo gebondenheid aan vorm (of letterlikheid)". Daar is binne perke van die grondteks af wegbeweeg sonder om in parafrase te verval (vrye vertaling).

Ook so 'n "betekenis"-vertaling het sy voordele en nadele.

  • Die voordeel daarvan is dat dit maklik lees en verstaan word en nie sulke hoë eise aan die begrip en interpretasie van die leser stel as 'n letterlike vertaling nie.

  • Die nadeel daarvan is dat die struktuur/vorm van die Hebreeuse en Griekse grondteks verbloem word. Vir 'n lidmaat wat ernstige Skrifstudie doen, is die NAV dus onvoldoende, omdat dit nie 'n begrypbare basis vir kontrole van andere se uitleg van die oorspronklike struktuur bied nie.

Die Praktiese Gebruik van Twee Vertalings🔗

Dit is dus duidelik dat ons nou twee vertalings het wat elkeen 'n eie leemte vul. Die een kan die ander nie vervang nie. Daarom moet ons vir albei sy regmatige bestaansruimte in die kerklike lewe bied.

Die praktiese gebruik van elk van die vertalings sal afhang van die doel waarvoor 'n mens die vertaling gebruik. In gevalle waar insig in die struktuur/vorm van die grondteks belangrik is, is die OAV die aangewese vertaling. Dit sou geld:

  • Vir begeleidende voorlesing by die prediking waar die oorspronklike struktuur van belang is vir Skrifuitleg.

  • As verwysingsraamwerk vir eksegetiese studies en publikasies.

  • By persoonlike en groeps-Bybelstudie in vergelyking met en ter aanvulling van die NAV.

In gevalle waar maklike verstaanbaarheid van die Afrikaans belangriker is as die oorspronklike struktuur, is die NAV die aangewese vertaling. Dit sou geld:

  • By huisgodsdiens en voorlesing waar klein kinders by is.

  • By katkisasie.

  • Vir voorlesing by openbare geleenthede (bv. by die opening van 'n skool).

  • Vir sending en evangelisasie.

Die voorstanders van die OAV moet dus nie dink dat aanvaarding van NAV die OAV as erkende en bruikbare vertaling vir die kerk diskwalifiseer nie. Die voorstanders en vertalers van die NAV hoef ook nie te dink dat indien ook die OAV behou word, dit 'n mosie van wantroue in die NAV is nie.

Ons moet in hierdie aangeleentheid perspektief behou: ons behoort albei vertalings te behou, en te gebruik, en te hersien waar nodig, en die voordeel van die gebruik van twee vertalings waardeer.