Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Is U Bekeerd?

oop deur

Onlangs stel ek die vraag in ’n geselskap van gereformeerde mense. ‘Is u bekeerd?’  Die gesprek het aanleiding daartoe gegee, asook die aktuele diskussie met opwekkingsgroeperinge. Dit het stil geword na die vraag gevra is. ’n Enkeling het ‘ja’ gesê, die meeste het geaarsel. Niemand het eintlik geweet nie. Jy word tog daagliks bekeer? Jy is tog nooit klaar daarmee nie? 

Hierdie selfde vraag kan ook aan jou gestel word terwyl jy op die straat loop. Iemand wil by jou weet: ‘Is u bekeerd?’, vriendelik maar vasberade. Self is hy duidelik wél. Daar staan jy dan met jou mond vol tande. ‘Ja, nee, ek weet nie eintlik nie. Ek is besig daarmee.’ Die ander een trek dan baie vinnig sy konklusie: ‘U is seker gereformeerd...’

Daaglikse Bekering?🔗

Die skroom om dadelik ‘ja’ te antwoord, is te verstane. ’n Gelowige ervaar nog soveel onsekerheid. Sy gewete kla hom voortdurend aan. Sy gedagtes en begeertes is nog lank nie in orde nie. Sy woorde en dade laat veel te wense oor. As God jou sal meet aan Sy heilige wet, kom jy laaste. Moet jy dan in daardie situasie sê dat jy bekeerd  is? Indien iemand vroeër ongelowig was, is die situasie anders. Diegene kan ’n groot verandering in sy lewe sien. 

As jy opgegroei het in die Verbond met God, wanneer het jy dan die punt bereik dat jou bekering opreg is? Daarom dan ook dat vele hulle toevlug in die daaglikse bekering soek. Is dit werklik ’n toevlug? ‘Daarmee besig wees’ is ’n baie wye begrip. Maar wie nie ‘ja’ of ‘nee’ kan sê nie, speel die kritiese vraagsteller in die hand. Sy konklusie sal wees dat dit ’n hangende kwessie in die kerk is. Hy sal jou oproep om verder te probeer kom. Want diegene wat homself nie bekeer nie, sal nie die Koninkryk van God binnegaan nie. Dit is tog so?

Misverstand🔗

Wanneer die gesprek so verloop, is daar sprake van misverstand aan beide kante. Die vraagsteller wil weet hoe ver u is. Hy hou aan u ’n radikale bekering voor, wat u baie verder sal bring as wat u reeds is. Volgens hom kan jy die fase van die sonde heeltemal agter jou laat as jy regtig vir Jesus kies.

Self sien jy bekering as iets alledaags, waarmee jy voortdurend besig is sonder dat jy dit ooit kan bereik. Terwyl die Skrif duidelik tot bekering oproep (Matt. 3:2, 4:17, ens.). In die praktyk bly bekering onhelder, dit maak onseker. Terwyl dit tog radikaal moet wees, duidelik en konkreet. 

Wat is Radikaal?🔗

Die fout in die gesprek is dat by bekering dadelik en uitsluitlik vorentoe gekyk word. Hoe gaan jy dit voortaan in geloof doen? Gaan jy die sonde los of nie?

In Pinksterkringe kan mens heel optimisties daaroor wees. Daar beteken die volwassedoop met name ook dat mens self sy ou lewe aflê. Dan is dit ook regtig weg, dan doen jy nie meer sonde nie en hoef jy ook nie siek te wees of te bly nie. Dit kan groot aantrekkingskrag uitoefen, maar intussentyd is dit arm en koud. Want die vergewing funksioneer nie, slegs die barmhartigheid bly oor in die vorm van ’n eis. Jy móét barmhartig wees, maar sélf kry jy geen ontferming meer nie. Want jy sal tog nie meer sondig nie...?

Hierdie konstruksie is slegs moontlik by ’n oppervlakkige sondebegrip. In Pinksterkringe kan mens dit slegs so volhou, aangesien gedagtes en neigings nie as sonde gesien word nie, maar slegs die dade tel.

haai

Dit bring ons by die kern van die saak: as dit gaan oor radikale bekering, wat hou die radikaal in? Die letterlike betekenis laat ons nie dadelik vorentoe kyk na toekomstige planne en beter dade nie. Want ‘radix’ beteken ‘wortel’: bekering het te make met die wortels van jou bestaan. Dus gaan dit juis oor jou gedagtes en jou begeertes, jou innerlike houding voor God. Uiteraard het dit ’n uitwerking na buite toe, maar dit begin nie daarmee nie. Daar mag gevra word na vrugte, maar as jy slegs die resultate tel kan jy baie arm voel, terwyl jy tog ryk is. Baie ryker as wat jy dink.

Bekeer Jou!🔗

Die gemeente in Laodicea is behoorlik daarmee gekonfronteer. Hulle was nie warm of koud nie, maar lou (Open. 3:14-22). Daar is reguit aan die gemeentelede (!) gesê: ‘Bekeer u!’ Die mooi is egter dat in daardie klein briefie die diep werklikheid van die bekering omskryf en ingevul word. Dan staan daar iets heel anders as wat menige sou verwag. Daar staan nie, dat ‘n mens eweskielik van alles en nog wat moet begin doen nie.

Nee, mens moet iets begin besef in die geloof. Naamlik, dat mens van nature ellendig, jammerlik, arm, blind en naak is. Om dan só tot Christus te gaan, déúr Hom ryk te word, van Hom ’n wit kleed te ontvang en ’n nuwe manier van kyk.

Die vraag is dus: wie of wat is jou lewensbron? Is dit in-jouself of buite-jouself, in Christus? Deur wie leef jy? Deur jouself of deur Hom? Bekering het dus inderdaad alles met die wortels van ons bestaan te make. Heel prakties: uit watter bron drink die wortels?

Wel, elkeen wat besef en glo dat sy lewe by Christus begin, mag voluit sê dat hy bekeer is. Dan nie ondanks sy sonde nie, maar juis omdat hy besef dat hy in homself ellendig, arm en naak is. Wel, sê dit dan ook hardop en bely so die Heiland deur Wie jy leef!

Gebed🔗

Sê dit veral só in jou gebed vir God self.  In hierdie brief aan Laodicea staan ook die bekende teks: ‘Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My’ (Open 3:20).  Daar is mense wat by hierdie teks al die klem daarop lê dat jy sèlf die deur moet oopmaak. As jy dit nie doen nie, staan Jesus buitekant. 

Verseker, dit het ’n kern van waarheid. Maar die geheel van die brief werp tog ’n ander lig oor hierdie teks. Dit gaan juis daaroor dat jy besef wie jy self is en wie Jesus is. Wanneer jy groot dink van jouself, dan laat jy Hom buite staan. Dan spring jy in die oggend net so uit jou bed uit werk toe, jy kan eintlik ook sonder Hom lewe. Maar as jy werklik deurdrenk is daarvan dat jy in jouself geen lewe en geen toekoms het nie en dat voor die deur staan wat ryk en regverdig maak, dan loop jy nie by Hom verby nie, maar jy aanbid Hom en jy vra of Hy wil binnekom sodat Hy jou hele lewe kan vul deur Sy Gees en Woord. 

So ‘n (oggend)gebed is nie openlik aan die buitekant sigbaar vir elkeen om te sien nie, maar dit is die verskil tussen lewe en dood.

Wedergeboorte🔗

Bekering is ’n diep werklikheid. Dit is om uit genade alleen te deel in Christus se lewe. Daarom word dit ook wedergeboorte genoem: as die wortels van jou lewe ’n ander bron kry is dit soos ’n nuwe geboorte, die begin van ’n nuwe bestaan.

Boomwortels

Bekering en wedergeboorte: dit is twee kante van dieselfde saak. In ‘bekering’ klink duidelik dat God die keuse van jou vra. Jy word daartoe opgeroep. In ‘wedergeboorte’ klink sterk deur dat jy dit van God moet ontvang, deur die Heilige Gees. ’n Geboorte is immers iets wat met jou gebeur, jy het self geen invloed daarop nie. So is Christen wees ’n groot geskenk én ’n diepe bewussyn, iets wat jy ontvang én wat gevoed moet word.

Daagliks🔗

Die bekering as ’n nuwe geboorte mag jy dus reguit en dankbaar bely, wanneer Christus jou lewensbron is. Dit sluit nie uit dat die nuwe lewe nog groei te wagte is nie. Daarom kom jy ook hierdie betekenis van bekering in die Skrif teë, sonder dat die een op gespanne voet staan met die ander. Aan die gelowiges (!) in Efese word geskryf, dat dit die waarheid is in Jesus dat hulle hul ou mens aflê en die nuwe aantrek (Ef. 4:22).  Dit staan daar geskryf as ’n aktiwiteit in die onvoltooide teenwoordige tyd.

Vergelyk dit met die vergewing van sonde. Jesus kon sê:  ‘U sonde is vergewe’. Tog leer Hy ons ’n gebed, om daagliks vir vergewing te vra. Is dit teenstrydig? Nee, ons leer só dat ons lewe in Christus is: wie in Hom is, sal ook steeds meer vernuwe word na Sy beeld.  Hierdie “word” is nog nie voltooi nie, maar wanneer dit deel is van ons lewe, dan is ons in Hom. Bely dit dan, voluit!!