Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Van God verlate - Ek is met julle

Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”(v. 46)

Matteus 27:45-55

God wat God verlaat — juis om vir sondaars ge­meenskap te skep! U sal begryp — menslik gespro­ke, sal ons by die diepste binnekant van dié teks nooit uitkom nie. Die slui­er bly daaroor getrek.

Laat ons egter enkele lyne vir u probeer trek.

Dit is eerstens opvallend dat die kruiswoord van verlatenheid deur 'n tyds­aanduiding ingelei word. Eers word gestel dat daar duisternis oor die hele land gekom het van 12 uur tot drie-uur. Dan volg 'n nadere tydsaanduiding: teen drie-uur het Jesus uit­geroep: "My God, my God . . ."

Ook tydsaanduiding speel dus 'n rol by die krui­siging! Van baie jare in die lewe van ons Here Jesus weet ons absoluut niks, maar van die laaste drie jaar van sy lewe op aarde kan ons taamlik noukeurig rekenskap gee. Die laaste week voor sy kruisiging weet ons pre­sies wat elke dag gebeur het. In die beslissende moment waarop God met sy Seun besig is, hier aan die kruis, kan ons as 't ware van uur tot uur volg wat met Christus gebeur.

In dié lig moet ons die tydsaanduiding van verla­tenheid beskou: "Teen drie-uur . . ."

Bokant daardie aandui­ding, drie-uur, staan die naam: God. Dit is die donkerste en ingrypendste oomblik in die wêreldge­skiedenis: drie-uur ver­laat God sy Seun. Oor die tyd en die plek en die waarheid daarvan mag geen twyfel bestaan nie: Om drie-uur het God se verlossingstyd vol geword. Die uur waarop Hy gemeenskap vir óns skep deur sy Seun te verlaat — ­op daardie oomblik kan as 't ware met 'n speld ge­druk word: drie-uur!

Tweedens tree die in­tiem persoonlike sterk op die voorgrond: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" Hy, Chris­tus, wil as 't ware geen distansie nie — Hy hou met mag daaraan vas: My God. Inderdaad ge­bruik Jesus hier 'n woord wat reeds in Psalm 22 voorkom: Dawid gebruik die uitroep as hy omring is van vyande en na God roep.

Aan die kruis roep Christus uit: My God! Die vorige keer dat Hy God aangespreek het, was tydens sy gebeds­worsteling in Getsemane. Toe het Hy gesê: "My Vader, as dit moontlik is, laat die beker by My ver­bygaan." My Vader word op Golgota: My God. U begryp, die pad van die tuin na die kruis is die pad van My Vader na My God. Waarom het U My ver­laat?

Dit is God wat ingryp, en beslis teen drie-uur. Die ingryping beteken: Ek verlaat my Seun. Na die mens gesproke, bring die verlatenheid vir Christus kindersmart. lets van ver­bystering, iets van: Kan dit wees — My God het My verlaat? Ek begryp dit nie! Waarom?

Hier het ons gekom by die diepste dieptepunt van Christus se lyding.

My God, my God . . . Géén menslike verlatenheid kan ooit met hierdie smart­kreet vergelyk word nie. Tewens, ons kan ons ver­latenheid en eensaamheid nooit eers vergelyk met dié van Christus nie. Ons voel dikwels van mense naby aan ons verlate, maar aan die kruis ver­laat God vir God!

Christus se uitroep praat dus van Kinder­smart.

Maar was daar nie ook Vadersmart nie? Ja, daar was — drie en dertig jaar tevore, met die geboorte van Christus in Betlehem. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het. Gegee beteken God het sy Seun afgestaan.

Met Kersfees — Vader-smart — God gee.

Met Goeie Vrydag — Kindersmart — omdat God die Een wat Hy gegee het, verlaat.

Juis so — en nie anders nie — wil God gemeen­skap skep tussen Hom en my. Dit kon nie anders nie. So lê dit al in die Ou Testament. Die kreet van Psalm 22: "My God, my God" loop uit op Psalm 23: "Die Here is my Herder".

"My God, my God" van Goeie Vrydag, loop uit op die "Ek is met julle al die dae" — van Hemelvaart. Juis deur sy Seun te ver­laat, skep God gemeen­skap met ons.

Kom ons praat van hart tot hart. U mag vandag dalk alleen voel in u el­lende, of in u vreugde. Maar verlate — nooit weer nie! Op hierdie aarde mag dit swaar gaan — maar van verlatenheid, Godverlatenheid, is nooit meer sprake nie. Want dit het mos Goeie Vrydag geword. En op Goeie Vrydag het dit drie-uur ge­word. En ná drie het God­verlatenheid vir altyd ge­sterf — vir u! Amen.