Bron: Die Kerkblad 2001. 3 bladsye.

Van Hemelvaart tot Pinkster

Pas 6 weke gelede het ons saam met die kerk wêreldwyd, soos elke vorige jaar, die Paasgebeure herdenk. Dit het ons met groot dankbaarheid gedoen, want die kruisdood en opstanding van Jesus staan in die hart van die evangelie. Sou die kerk egter nalaat om met dieselfde dankbaarheid en ywer die hemelvaart van die Here en die Pinkstergebeure in herinnering te roep, dan is ons besig om die evangelie te vermink. Paasfees, Hemelvaart en Pinkster behoort 'n onlosmaaklike trilogie binne die kerklike jaar te vorm.

Hemelvaart - die Here bestyg sy koninklike troon🔗

Die hemelvaart van die Here Jesus Christus is een van die pilare van ons Christelike geloof. Waar Jesus by kruis en opstanding geopenbaar is as die Verlosser van ons sondes, was sy hemelvaart die moment waarby Hy Hom by uitnemendheid openbaar het as ons Koning. Sy hemelvaart was immers die gebeurtenis waarby Jesus sy hemeltroon aan die regterhand van die Vader bestyg het. Van toe af regeer Hy vanuit die hemel in koninklike heerlikheid oor alles en almal.

Dit gebeur soms dat Christene in hulle geloof by die kruis en opstanding van Jesus bly vassteek. Hulle omhels Hom - ten regte - as Verlosser van ons sondes. Maar hulle kom nooit sover om Hom ook as Here en Koning te erken en verheerlik nie. Wie Jesus net as Verlosser wil ken sonder dat ook sy Koningskap in hulle lewe werklikheid word, het die evangelie stomp gemaak. Want God het sy uitverkorenes geroep om sy Seun as Verlosser én as Here in hulle lewe te omhels. Juis hierin is die Gereformeerde godsdiens op unieke wyse veranker. Ons geloof berus op die belydenis dat Jesus ons enigste en volkome Saligmaker is (Kategismus Sondag 5 - 30) én dat Hy ons ewige Koning is (Kategismus Sondag 31 - 52). In die Bybel maak God immers aan ons bekend dat die versoening van ons sondes deel was van die opdrag waarmee Jesus na die aarde gekom het - die opdrag om God se koninkryk met krag te laat deurbreek (vgl. Ef. 1:18-23; Fil. 2:6-11).

Eers binne die raamwerk van Christus se koningsheerskappy maak die vergewing van ons sondes volkome sin. Daarom eindig die Bybel ook in die boek Openbaring uitdruklik met die gelowiges van alle tye wat vergader om die troon van God en van die Lam (Openb. 22:3).

Deur Christus as Verlosser én Here te bely, word daar 'n besondere aksent op ons godsdiens geplaas. Dit lei daartoe dat ons nie die hele tyd maar net met ons eie verlossing en saligheid besig bly nie, maar dat ons hele godsdiens en trouens ook ons hele bestaan toegespits is op die koninklike heerlikheid en eer wat die Here toekom. Uit dankbaarheid, ja, want het Hy dan nie in genade ons sondes deur sy soendood weggeneem nie?

Maar ons dankbaarheid kom eers werklik tot uitdrukking wanneer ons ons hele lewe tot lof van sy heerlikheid so inrig dat ons Hom van harte wil gehoorsaam en alles wil doen sodat dit Hom behaag.

So 'n geloofsingesteldheid maak 'n reuseverskil aan hoe ons kerk en wêreld benader. By elke lewenskeuse waarvoor ons te staan kom, is die groot vraag nie meer "Watter verskil sal dit aan ons saligheid maak?" nie, maar "Watter verskil sal dit maak aan die eer en heerlikheid van God?" Vanuit hierdie ingesteldheid probeer ons dan in alles - tot in die kleinste besonderheid, selfs al lyk dit vir mense onbenullig - getrou bly aan dit wat die Here in sy Woord aan ons voorhou.

Dit doen ons so nougeset as moontlik, nie omdat ons saligheid in enige opsig daardeur beïnvloed sou word nie, maar omdat ons so mag bydra tot die eer en heerlikheid van God. Dit is die opregte Gereformeerde geloofsingesteldheid.

Pinkster - die Here se Gees is by ons tot die einde toe🔗

Tien dae nadat Christus sy hemeltroon bestyg het, het Hy - volgens sy belofte - weer na ons toe teruggekeer, maar hierdie keer in die Heilige Gees. By die Joodse fees van die Pinkster het Hy die Gees van die belofte oor sy kerk uitgestort. Op hierdie manier het Hy sy belofte dat Hy tot die einde van die wêreld toe met ons sal bly (Matt. 28:20) laat waar word. Van toe af woon Christus deur sy Gees by en in sy kerk en lei en regeer Hy sy kerk tot die einde toe.

Hierdie geweldige waarheid vorm saam met Jesus se kruis, opstanding en hemelvaart 'n onontbeerlike pilaar in die evangelie van die koninkryk.

Gereformeerdes word dit maklik ten laste gelê dat ons nie baie aan Pinkster het nie en te min maak van die Heilige Gees. Dit is egter so dat die Gereformeerde godsdiens juis groot erns maak met die Persoon en die werk van die Heilige Gees. Wie met Christus se koningskap erns maak, kan nie anders nie as om ernstig te wees oor die krag waardeur Hy sy koningskap hier op aarde uitvoer - die Heilige Gees! Geen wonder nie dat Calvyn, die baanbreker-hervormer van die Gereformeerde godsdiens, tot vandag toe as "die teoloog van die Heilige Gees" bestempel word nie.

Een punt waarin dit duidelik raak watter erns die Gereformeerde teologie met die Heilige Gees maak, is ons verstaan van die verhouding tussen die Gees en die Woord van God. God maak Homself aan ons bekend as die sprekende God. Hy praat met ons deur sy Woord. Die Bybel is die geskrewe Woord van God. Dié Woord is 'n lewende en kragtige woord (Heb. 4:12), om geen ander rede nie as dat die Heilige Gees van God in en deur die Bybel werk.

Dit is God die Heilige Gees wat in die Bybel met ons praat, want Hy is die eintlike Skrywer asook die eintlike Verklaarder daarvan. Al het die Gees van menslike instrumente gebruik gemaak (2 Pet. 1:21), is dit steeds Hy wat daarin met die gelowiges van alle tye praat. Daarin verskil die Bybel van enige ander boek op aarde.

Teoloë wat nie hierdie noue band tussen die Gees en die Woord insien nie, kom uiteindelik daartoe om die Bybel soos enige ander boek van die ou tyd te lees. Hulle onderskryf miskien die belydenis dat die Bybel Woord van God is, maar in praktyk lees en bestudeer hulle dit as 'n bundel boeke van mense. Soos met ander antieke boeke, stuit sulke geleerdes teen die probleem dat die oorspronklike skrywers van die Bybel nie meer by ons is nie en ons hulle daarom nie meer na hulle eintlike bedoeling kan vra nie.

Ten opsigte van die menslike skrywers van die Bybel het ons wel met dié probleem te doen, maar nou is dit so dat ons in die Bybel met meer as net menslike skrywers te make het. Die eintlike Skrywer is die Heilige Gees. En sedert Pinkster is Hy steeds by ons.

Telkens wanneer ons dan twyfel oor die bedoeling van wat in sy Boek geskrywe staan - en as gevolg van ons eie gebrekkige insigte gebeur dit gereeld - dan is Hy by ons sodat ons Hom na sy bedoeling kan vra. Die vraag stel ons op ons knieë. En Hy antwoord ons - nie met 'n skielike stem uit die hemel nie, maar deur middel van sy Woord self. Wat ons te doen staan, is om net weer en weer te gaan lees, en die Gees sal sy Woord met die Woord verklaar. Vandaar die Gereformeerde verklaringsreël: Die Skrif is sy eie Verklaarder. In praktyk beteken dit dat die Bybelstudent die moeisame pad betree van Skrif-met-Skrif-vergelyking en van openbaringshistoriese lyne in die Skrif navolg. Dit verg harde inspanning, maar dit is die praktiese kant van ons belydenis dat die Heilige Gees met ons is tot die voleinding van die wêreld toe.

Christene wat nie daarmee erns maak dat die Heilige Gees dag vir dag deur sy geskrewe Woord lewend en werklik met ons praat en by ons is nie, het moeite om die teenwoordigheid van die Heilige Gees te beleef. Dit lei dan tot 'n geesdrywery waarin daar voortdurend gevra word na 'n nuwe uitstorting van die Heilige Gees. Ironies genoeg reken sulke gelowiges dikwels dat mense wat nie aan geesdrywery meedoen nie, nie erns maak met die Heilige Gees en sy werking nie.

By die herdenking van Pinkster herbevestig ons die gereformeerde belydenis dat die Heilige Gees, wat saam met die Vader en die Seun ewige God is, by ons is en ewig by ons bly (Kategismus Sondag 20).

Hy is nie weg of op soek nie. Hy is die ewige Krag deur Wie Christus ons regeer en lei. En sy stem hoor ons dag na dag, wanneer Hy deur ons praat deur sy Woord.