Bron: De Reformatie. 1 bladsye.

Vashouplek vir Postmoderne Mens ?

’n Vorige keer het ek die afgode van ons voorouers genoem – afgode soos die Rede, die wetenskap, vooruitgang ensovoorts. Ons kan ook die afgode noem van meer onlangse geslagte. In die vyftiger jare was dit welvaart en onderwys, in die sestiger jare was dit vryheid en gelyke regte, in die tagtiger jare geld en loopbaan. Maar dit is alles afgode van die moderne tyd? Hoe is dit gesteld met die postmoderne tyd? Wat is die afgode van die huidige geslag?

Noudat hy die geloof in ideologieë, in politiek en in godsdiens verwerp het, plaas die postmoderne mens al sy hoop op die liefde van 'n medemens. Die vergoddeliking van intimiteit was altyd 'n versoeking, maar teen die agtergrond van 'n gefragmenteerde samelewing wat gevoelens van vervreemding opwek, kan enige intieme verhouding hom voordoen as 'n bron van veiligheid en betekenis. Die naïewe romantiek van rolprente soos 'When Harry met Sally' of 'Sleepless in Seatle' is die doel wat deur miljoene mense nagejaag word. Die offers wat aan hierdie afgod gebring word, is soms skokkend: seksuele immoralteit, obsessie, totale afhanklikheid van mekaar – selfs 'n selfmoordpakt is nie ongewoon nie.

Die sin van die lewe is deur ons grootvaders gevind in die ondersoek en verkenning van die aarde, en deur ons vaders gevind in soeke na die grense van die tegnologie en  menslike vindingrykheid. Ons geslag soek die sin in verkenning van die eie innerlike. Die oog van die mens word deur die Christelike geloof omhoog gerig, op God, en deur die modernisme op die buitewêreld. Die postmodernisme rig die oog van die mens na binne. Nog nooit was 'n geslag só in homself verdiep nie. Die mens glo dat die verkenning van die eie innerlike, sin en betekenis aan die lewe sal gee. Madonna sê die volgende: 'Ek werk daaraan om myself te leer ken en my standpunt is dat dit my gelukkig sal maak. Ek dink dat iemand anders jou nie kan liefhê voordat jy jouself ken en liefhet nie'. As daar geen transendente werklikheid bestaan nie, bly daar net die immanente oor. Vandaar die enorme populariteit van doen-dit-self-sielkunde en die groeiende aantal mense wat terapie ontvang. Vandaar dat daar gepraat word van 'n narsistiese kultuur. (Narcissus is 'n figuur uit die Griekse mitologie wat op sy eie spieëlbeeld verlief geraak het. So is die moderne mens dikwels grensloos besig met selfverwerkliking.)

Wat moet ons nou verder doen met die afgode? Moet ek hulle een vir een op hulle meriete ondersoek, elke afgod krities bekyk en laat sien hoe gebrekkig hulle nabootsing van die lewende God is? Mens sou dit kon doen, maar die Ou Testamentiese profete het al besef dat dit genoeg is om die afgode net te identifiseer en te beskryf. Daarmee word hulle al tot hulle ware proporsie teruggesny: 'Julle aanbid stukke hout wat julleself gemaak het en julle verwag dat hulle julle sal red? Hoe absurd. Hoe belaglik. Hoe droewig'. So kan óns ook vra: 'Jy stel jou vertroue in romantiese liefde? In hierdie samelewing met sy hemelhoë egskeidingsyfer? Ten spyte van die pyn wat ander jou al aangedoen het? Hoe droewig. Soek jy die sin van jou lewe in die verering van pop-'idols' wie se eie lewe dikwels in wanhoop en selfmoord eindig? Hoe beklaenswaardig. Jy soek jou heil in selfontdekking? Lê die geheime van die heelal in jou kop opgesluit? Wat 'n belaglike idee. Jy probeer die lewe sin gee deur selfverwerkliking? Deur jou eie nietige stemmetjie by die kakofonie rondom ons te voeg? Deur jouself voor te doen as iets wat jy eintlik nie is nie, waarmee jy net jouself vir die gek hou? Hoe absurd'.

Afgode hoef nouliks weerlê te word, want afgode onthul nie soseer die gode van 'n volk nie, as wat dit die leegheid en die wanhoop van 'n volk sonder God onthul.