Ver of Naby
Ver of Naby

Een teenstelling wat 'n mens dikwels in die Bybel aantref, is tussen die mense wat naby God is en die wat ver van God is. Die twee groepe word soms met verskillende woorde aangedui, soos die gelowiges en ongelowiges of die regverdiges en die goddeloses. Oor die eindbestemming en die lewenswyse van die twee groepe word daar baie uitsprake gemaak, waarvan dit goed is om weer na 'n paar te luister.
- Vir die regverdiges lê daar vreugde voor; die goddeloses het geen toekoms nie (Spreuke 10:28).
- Die regverdige word uit sy nood bevry, en die nood tref die goddelose (Spreuke 11:8).
- Die goddelose soek sy veiligheid in verkeerde dade; die regverdiges staan vansèlf vas (Spreuke 12:12).
- Die wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig die wat aan U ontrou is. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees (Asaf in Psalm 73:27, 28).
- Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges (Spreuke 15:29).
Veral die laaste twee aanhalings maak dit duidelik dat die saak van twee kante beskou kan word. Die Here se houding teenoor die twee groepe is dié van ver of naby, maar hulle houding teenoor Hom is ook die van ver of naby. Die gelowige is iemand wat naby aan God wil lewe en die goddelose leef ver van Hom. God is ook by sy kinders en ver van die goddelose. Hierdie twee kante word ook in Psalm 1 duidelik gemaak:
- Eers gaan dit oor die een wat naby God wil wees en sy voorspoed (vs. 1-3).
- Dan word gekyk na hulle wat ver van God leef en hulle teenspoed (vs. 4-5).
- Daarna word gesê wat God se houding teenoor die twee groepe is.
Hierdie saak is dus duidelik. Tog het gelowiges dikwels moeite met iets wat eintlik lyk asof dit hierteen indruis: dit voel vir mense wat naby die Here wil wees, asof Hy ver van hulle is. Iets hiervan het telkens na vore gekom in die lewe van die profeet Jeremia – kyk maar net Jeremia 15. Ook Asaf het dit sterk beleef (Psalm 73). Dit is dan wanneer dit voel asof jou gebede nie beantwoord word nie, asof die Here ver weg is…
Dan moet 'n mens jou nie deur jou gevoel laat lei nie. Al voel dit of die Here ver is, bly sy belofte van bystand en nabyheid waar. Die wat ver van Hom is, is gewoonlik nie daaroor bekommerd nie. Hulle wat by Hom wil wees, kry meermale te doen met die teenslae en versoeking – maar al daardie dinge kan 'n gelowige nie skei van die liefde van God in Jesus Christus vir sy kinders nie. Lees maar die jubeling in Romeine 8:31-39.
Wat ons moet doen, is om aan Hom vas te hou en te leef volgens sy gebod, wat ook nie ver van ons af is nie (Deuteronomium 30:11-14). Dan sal sy nabyheid altyd 'n werklikheid wees.
