Bron: Kompas, 2005. 3 bladsye.

Verdraagsaamheid in “Middelmatige Dinge”

Inleiding en Begripsbepaling🔗

Die twee begrippe wat in die titel hierbo genoem word, is ongelukkig omstrede sake. Oor “verdraagsaamheid” of toleransie is die eeue deur gestry, sowel in die politiek as in die kerk. Kan of mag jy hoegenaamd tolerant wees in beginselsake en, so ja, in watter mate?

En dan die “middelmatige dinge” of adiafora. Bestaan dit ooit? Is daar in hierdie wêreld wel iets soos ʼn neutrale saak waaroor die Woord van God geen seggenskap, het nie?

Uiteraard kom hier baie belangrike en ook moeilike vrae aan die orde. Daarom moet in die eerste plek aangedui word wat in hierdie artikel hiermee bedoel word. Sodat daar so min as moontlik misverstand sal ontstaan.

Onder toleransie word gewoonlik verstaan dat ʼn mening wat in sekere kring van die daar gangbare opvatting afwyk, geduld word. Daar is dan ruimte vir ʼn andersoortige mening, maar daardie opvatting kan tog ook weer nie as volstrek en legitiem aanvaar word nie. In ons postmodernistiese en relativistiese tyd is verdraagsaamheid eintlik nie meer ʼn probleem nie. Maar geld dit ooit in die kerk van onse Here Jesus Christus waarin nie my mening nie, maar die Woord van God absolute seggenskap het?

En wat die adiafora betref – hierdie term beteken letterlik: wat geen verskil of onderskeid maak nie. Dus dinge wat op hulself nie goed of sleg is nie. Of ook binne die Christelike etiek: dinge waaroor daar geen uitdruklike gebod van God is nie. Waarin die een die ander dus wel sy vryheid moet gun. Maar bestaan daar wel sodanige middelmatige dinge? Is ons hele lewe nie van God afkomstig, deur sy Seun verlos en deur die Heilige Gees geheilig nie? As ons praat van dinge van die omtrek, die periferie, dan geld die wet van die sirkel: alle punte, ook op die omtrek, kan deur ʼn regte lyn met die middelpunt verbind word.

In hierdie artikel handel dit veral daaroor hoe ons met hierdie begrippe binne die kerk wat deur Christus vergader word, moet omgaan. Dit gaan hier nie oor politieke of sosiale verdraagsaamheid nie. Ons wil aandag gee daaraan hoe ons binne die gemeenskap van die heiliges hiermee en met mekaar moet omgaan.

Ons Sondige Situasie🔗

Die dilemma waarin ons ons bevind as ons oor hierdie vrae nadink, lê in ons sondige natuur en omstandighede. Uit onsself kom verkeerde gedagtes en begeertes voort. En ook al wil ons die goeie doen, sal ons tog dikwels struikel. Maar daar is meer wat gesê kan en moet word.

In die eerste plek is daar sake waaroor daar geen uitdruklike bevele van God is nie. Met ons verduisterde verstand is dit moeilik of selfs onmoontlik om te bepaal wat dan die wil van God is en Hom die meeste verheerlik.

Maar ook as daar wel uitdruklike gegewens in die Skrif gevind kan word – ook dan weet ons nie altyd onmiddellik om in uiteenlopende en soms verwarde situasies daarvolgens op te tree nie. Daarom moet ons mekaar ook dan wel vrylaat om te handel ooreenkomstig die lig wat ons ontvang het. Ons noem dit die “Christelike vryheid”. Ten opsigte van hierdie Christelike vryheid is soms nog maar ʼn gebrekkige insig. Die eintlike bevryding wat deur Christus gebring is, word omskryf in Hebreërs 2:14 en 15. Christus het gekom en gesterf “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was”.

In die vroeë Christelike kerk het dit egter meegebring dat vrae gevra is oor die houding van die Christene byvoorbeeld teenoor die eet van vleis wat eers aan die afgode geoffer was en die onderhouding van bepaalde dae of gebruike. Bekend is wat Paulus hieroor opmerk in 1 Korintiërs 10, Romeine 14 en ook in die brief aan die Galasiërs.

Sekerlik – daar is vryheid in Christus. Maar dit is ʼn vryheid om God te dien, los van die slawerny aan die duiwel en die sonde. Dus sekerlik geen losbandigheid nie. Daarom is daar beperkings. Nooit mag my vryheid tot gevolg hê dat my broeder of my suster tot sonde verlei word nie. Dit is die beperking van die liefde.

Ook is daar die beperking van die geloof. ʼn Mens moet regtig oortuig wees jy leef geheel en al uit die geloof. Want alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde (Romeine 14:23).

Ten slotte: word nooit ʼn slaaf van die dinge wat aan die omtrek lê nie – die adiafora. “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Korintiërs 6:12). Paulus het aangedui dat die onderlinge verhoudings in geduld en wysheid uitgeleef moes word. Daarom het hy Timótheüs terwille van die Jode besny (Handelinge 16:3), maar hy het geweier om Titus te besny (Galasiërs 2:3). As hy dit sou gedoen het, sou hy die vryheid in Christus verloën het.

Uit hierdie voorbeeld blyk dit dat daar omstandighede kan wees waarin geen eenvormige antwoorde gegee kan word nie. Ons sondige natuur en verduisterde verstand noodsaak ons om nie alles af te dwing nie. Anders kan ook maklik in doperse geesdrywery verval word. Maar ook: in alle dinge en onder watter omstandighede ook al moet vasgehou word aan die wandel in die geloof in die hele lewe.

Houding en Gesindheid🔗

Uit bostaande is wel duidelik dat ons nie kan volstaan met ʼn bloot uitwendige of formele antwoord nie. Ons moet onsself elke keer en op elke tyd opnuut afvra wat die HERE wil ons sal doen. Ons moet van die uiterlike en formele na die inwendige en goeie beweeg. Uit die goeie skat van die hart sal die goeie lewenshouding te voorskyn moet kom (Lukas 6:45).

Wyle prof. K. Schilder het aan die derde druk van sy boek De Openbaring van Johannes en het sociale leven (ook) ʼn hoofstuk toegevoeg wat handel oor Openbaring 2:20, 24 en 25 – uit die brief aan die gemeente van Thiatíre. “Kerk eer dan ‘vakorganisatie’” is die opskrif van daardie hoofstuk. Ook in die oudheid was daar reeds vakorganisasies of gildes. Hierdie gildes kon pragtige werk verrig as dit gegaan het oor die verbetering van werk en dienslewering. Schilder beklemtoon egter verder dat hierdie gildes ook opgeneem is in die heidense of staatsreligie met die verering van eie gode of skutshere. Kon ʼn Christen in daardie geval sy samewerking aan so ʼn vakorganisasie gee?

Soos dit maar gaan en ook toe reeds moontlik gegaan het – die een (die verkrampte) sê: dit mag nie gedoen word nie. Die ander (die verligte) beweer: ʼn afgod is niks en dus kan ek maar rustig my vakorganisasie en sy aktiwiteite steun. ʼn Soortgelyke situasie as in Korinthe. Met al die egte of valse argumente wat daarby behoort. Duidelik is wel: jy kan dan op volkome wettisistiese manier met mekaar stry.

Om bo so ʼn stryery uit te styg moet gelet word op die houding van die broeders en susters. Schilder doen dit deur te wys op die verskil van om te wil profiteer teenoor die begeerte om te profeteer. Die verkeerde houding is om te wil profiteer van die feit dat daar in ʼn bepaalde geval waarvoor jy te staan kom van ʼn adiaforon sprake is. Daar bestaan mos geen uitdruklike gebod van God oor daardie spesifieke saak nie? En wie sal dit dan waag om in te meng? Jy kan doen waarvoor jy self lus is.

Die goeie houding is egter die begeerte om uiteindelik te gaan profeteer teen die adiafora. Dan wil ons die lig van die Woord van God opvang, oordink en ook verder laat deurdring in ons lewe as wat tot dan toe die geval was vanweë ons verduisterde oë en verstand. Dit hinder om so in die onsekere te verkeer.

In die kerk leef ons onder die regsbestel van die Verbond. Juis dit moet ons noodsaak om altyd in die regte verhouding teenoor Hom te staan in alle dinge. Andersins bring dit ons tot ʼn korrupte lewenshouding.

Maar in Thiatíre was daar (net soos in Pergamus) blykbaar mense wat sake op die spits gedryf het en eintlik ʼn leer gemaak het van die “verligte” standpunte. En dan word sake ernstig. Ook by gebrek aan uitdruklike bevele van die HERE. Om te profiteer word dan ʼn lewenshouding wat hom stel teenoor die wens om te profeteer teen die adiafora en om so steeds beter die sin van Gods Woord te verstaan. Gewoonlik word wettisisme net by “verkramptes” gesoek. Maar die omgekeerde kan ook plaasvind. Mense soek dan ʼn spesifieke teks of gegewe, andersins gaan hulle hul eie gang.

Hoe Lewe Ons?🔗

Binne die gemeente van Christus is daar ongelukkig dikwels baie verskil van mening juis in hierdie opsig. En maar te dikwels lei dit daartoe om van die adiafora te wil profiteer pleks van om daarteen te profeteer. Die tydgees met sy subjektivisme en relativisme gaan nie sommerso aan ons verby nie. Tereg sê Schilder daar moet nooit beswaar aangeteken word as tot versigtigheid gemaan word nie. Beswaar moet kenbaar gemaak word as daar dreiging is om van die Woord van God af te wyk. Andersyds moet altyd rekening gehou word met ons deur die sonde verduisterde verstand. Geen juk mag opgelê word net vanweë eie insigte, ervaring of tradisie nie. Wat hierbo opgemerk is, is nog iets anders as verdraagsaamheid. Dit is eintlik ʼn humanistiese term en kan maklik tot hoogmoed lei. Ons is dan so vriendelik en ruim om ander ook hul standpunte te gun. Saam staan ons onder die regsbestel van God.

En dit geld vir almal. Jongeres en oueres, rykes en armes, mans en vroue. Almal moet lewe voor die aangesig van God. En almal moet bid om verligting deur die Heilige Gees, sodat ons mag weet wat die goeie en welbehaaglike wil van die HERE is.