Bron: Kompas, 2010. 3 bladsye.

Vergeef soos God jou Vergewe het

Moet ek hom/haar vergewe? Jy weet nie hoe diep die persoon my seergemaak het nie. Dit is nie eerlik om dit van my te vra nie. Die persoon verdien nie om vergewe te word nie. Dit is bekende woorde in ons sondige en gebroke wêreld. Dit lyk soms onmoontlik om sekere persone te vergewe. Trouens, moet ’n mens wel altyd vergewe, ook as daar geen berou gewys word nie? Wat sê die Here hieroor?

God se Vergewing Lok ons Vergewing uit🔗

Ons moet begin deur te vertrou in God se vergewing van ons skulde. Ons verhouding met mense weerspieël ons ware verhouding met God. Om ander van harte te kan vergewe, moet jy weet dat God jou vergewe het. Die Here Jesus het gesê: “hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief” (Lukas 7:47). Ervaar jy die genade van God? Of wil jy nog steeds God se aanvaarding wen?

Die wonder van God se vergewing wil iets uitwerk in jou lewe. Sy Woord van vergewing wil jou woord van vergewing uitlok.

Vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.Efesiërs 4:32

Christus se gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser maak dit duidelik. Die koning skeld sy dienskneg die onbetaalbare bedrag van 10 000 talente sommer kwyt. Maar wat doen die dienskneg wanneer hy een van sy medediensknegte ontmoet, wat hom slegs honderd pennings skuldig is? Let op die groot verskil in skuld. Die Nuwe vertaling praat van miljoene rande se skuld teenoor ’n paar rand se skuld.

Wel, wat doen die man aan wie miljoene kwytgeskeld is? Hy behandel die mededienskneg, wat hom slegs enkele rande skuld, op ’n harde en liefdelose manier en eis dat die volle bedrag betaal sal word. Hoe die man hom ook om ontferming smeek, met woorde wat hyself kort gelede voor die koning gebruik het, dit help niks nie. Die skuldenaar moet die gevangenis in totdat hy die laaste sent betaal het.

Wanneer die koning hiervan hoor, is hy woedend. Wat ’n ondankbaarheid! Onbegryplik. Terwyl hy die dienskneg miljoene kwytgeskeld het, is hy nie eens bereid om sy mededienskneg die onbeduidende som van enkele rande kwyt te skeld nie. Die groot ontferming van die koning het hom blykbaar nie geraak nie. Hy bly koud en hard daaronder. Die onmeetlike groot liefde van die koning het hom nie eers gebring tot ’n minimale bewys van liefde nie. Daarom is hy onwaardig vir sy heer. So ’n onbarmhartige persoon is vir die vergewende koning ’n belediging. Hy moet nou maar vir sy skuld boet.

Christus sluit die gelykenis af met die woorde:

So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

Besef ons wel dat daar in ons verhouding tot ander mense slegs sprake is van pennings in vergelyking met die enorme skuld wat God vir ons kwytgeskeld het? Ons kan onder mekaar soms baie seerkry. Maar vergeet nooit: selfs die ergste wat ander jou aandoen (hoe verskriklik en pynlik dit ook kan wees), kan nie vergelyk met die miljoene skuld wat jy teenoor God het nie, en wat God jou wil kwytskeld.

As ek werklik vanuit God se vergewing leef, dan moet dit ook in my verhouding teenoor my naaste blyk. Dan kan ek nie hard en liefdeloos bly nie. Dan sal ek die ander se skuld wil vergewe.

Altyd Vergewe?🔗

Moet ons dan altyd iemand wat teen ons gesondig het, vergewe? Ook as die persoon geen berou wys nie? In Lukas 17:13 noem God as reël: vergewing na berou. God self gaan ons daarin voor. In Markus 1:4 lees ons dat Johannes besig was om die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. Let op die volgorde: bekering tot vergifnis van sondes. Nie dat ’n mens op grond van sy bekering vergewing ontvang nie. Ons ontvang vergewing op grond van God se onbegryplike liefde en Christus se offer. Maar die vergewing kom wel na ons toe langs die weg van bekering. Vergelyk ook Handelinge 2:38; 5:31.

In 1 Johannes 1:9 lees ons die bekende woorde:

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Dit is duidelik dat berou en erkenning van skuld ’n voorwaarde vir vergewing is. Dit is die reël waarvolgens God handel. En daarin moet ons Hom navolg (Efesiërs 4:32).

Hoekom kan ons nie sommerso vergewe nie? Omdat die sonde ’n verhindering vir versoening is. Sonde skei twee partye van mekaar. Om te vergewe beteken dat jy die struikelblok tussen jou en die ander wegdoen. Maar hoe kan jy dit doen as die ander party dit nie wil hê nie? Die verhindering bly daar totdat die sondaar die sonde laat wegneem, totdat hy berou daaroor het. Sonder ware bekering kan dus geen ware versoening plaasvind nie.

Liefde🔗

Maar is dit nie ’n gebrek aan liefde wanneer ek die sondaar in so ’n situasie nie vergewe nie? Nee, juis nie. Liefde ignoreer nie die erns van die sonde nie. Die liefde soek die heil van die naaste. Maar as die sondaar sy sonde nie wil bely nie, dan bly hy daaraan vassit. Dan moet hy daarvan bevry word. Die liefde wat nodig is, is ’n liefde wat die sonde bestraf om die sondaar te red. ’n Liefde wat die moeilike pad met die sondaar wil loop met die oog op sy versoening met God en mense.

Hoe moet ons gesindheid dan teenoor die onboetvaardige sondaar wees? Ons moet in elk geval altyd vergewensgesind wees. Mense wat beweer dat ons altyd moet vergewe ook al is daar geen berou nie, verwar die bereidheid om te vergewe en die daad van vergewing. Ons moet inderdaad altyd bereid wees om te vergewe. Die begeerte om te vergewe kan egter slegs in dade omgesit word indien daar berou is.

In Matteus 5:44 roep die Here Jesus ons op:

Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.

Hier praat Christus oor ons houding teenoor ons vyande. Hoeveel te meer moet ons dié houding inneem teenoor ons broeder of suster wat teen ons gesondig het. Werklik die beste vir hom of haar soek. God se guns oor die persoon afsmeek.

Goed doen aan die wat jou kwaad aangedoen het. Vir hom of haar bid. Dit is die beste bewys dat jy inderdaad vergewensgesind is.

Watter Bewyse van Berou🔗

Moet daar altyd ’n uitdruklike belydenis van skuld oor alle oortredings wees voordat ons kan vergewe? Hoe doen God dit? Vergewe Hy slegs die sondes wat ons uitdruklik voor Hom bely? Hoe gaan dit met die verlore seun wanneer hy weer na sy vader terugkeer? Wanneer die vader hom van ver sien kom, dan voel hy innig jammer vir hom, hardloop na hom toe en omhels hom. Dit gebeur alles voordat die seun nog een woord van berou kan uit. Die feit dat die seun terugkeer, is vir die vader voldoende bewys van bekering. Die houding van die seun sê vir hom genoeg.

Wanneer die Here in 1 Johannes 1:9 sê dat ons eers ons sondes moet bely om vergewing te ontvang, dan bedoel Hy nie dat ons eers elke individuele sonde moet bely om vergewing te ontvang nie. Om ons sondes te bely, beteken letterlik dat ons dieselfde oordeel as God oor ons sondes het. Dit is ’n konstante houding, nie ’n meganiese aftik van ’n lys nie. Johannes roep nie op tot ’n een-vir-een verhouding van sonde en belydenis nie, maar tot ’n voortdurende instemming met God se oordeel oor die sondes. Dit gaan oor ’n houding van berou en bekering.

Daar is nog sondes waarvan ons nie bewus is nie. Daarom ook die bede van Dawid in Psalm 139:23:

Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

As daar by ons die ootmoedige houding teenoor God is, dan sal Hy ons nie verdoem oor sondes wat ons nog nie besef en wat ons dus nog nie uitdruklik bely het nie.

Moet daar in ons onderlinge verhoudings altyd ’n uitdruklike skuldbelydenis wees om te kan vergewe? Daar moet wel ’n boetvaardige houding wees. As God nie van ons ’n uitdruklike belydenis van elke spesifieke sonde teen sy hoë majesteit eis nie, sou ons dan wel so ’n uitdruklike skuldbelydenis van elke verkeerdheid teenoor ons klein en sondige mensies moet eis?

In die sonde teenoor God is daar geen enkele skuld van God se kant nie. Terwyl in die sonde teenoor ons daar dikwels wel ook skuld van ons kant is. Ons kon daartoe bygedra het deur ons eie gebrek aan liefde en wysheid. Miskien is ons selfs die oorsaak daarvan dat die ander teen ons gesondig het. Daarom moet ons des te meer bereid wees om te vergewe as ons ’n houding van berou ontdek.

Waar sondaars mekaar ontmoet, daar pas ’n gemeenskaplike ootmoedige houding. Die ootmoed van die een lok die ootmoed van die ander uit. Jy wil dit vir die ander maklik maak om sy oortredinge te bely. Die een uiting van berou lok die ander uiting van berou uit. En so lok die een woord van vergewing die ander woord van vergewing uit. So wil God onder ons versoening bewerk en handhaaf.

Om ander te vergewe is nie natuurlik of maklik nie. Soms wil ons gewoon nie vergewe nie. Dikwels vertrou ons te min op God se genade en Gees wanneer ons protesteer: “ek kan nie vergewe nie.” Laat ons, wanneer ons die moeite om te vergewe ontdek, sensitief wees vir die diepe pyn en vrees wat dikwels daaragter skuil. Herstel van ernstige misdrywe vat tyd. Laat ons mekaar ondersteun en vertroos. Vertrou op God se genade en krag. So kon Paulus sê:

Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.