Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Vergewing

Die woord ‘vergewing’ het nog altyd ʼn nagloed van sy ou betekenis, naamlik wegslinger. Dit kon byvoorbeeld gebruik word vir die wegskiet van ʼn pyl. Die woord vergewing dui dus aan dat alle skuld uit ons boekhouding uitgehaal word en heeltemal na iemand anders toe gaan, naamlik Christus. Saaklik beteken vergewing dus kwytskelding of vryspraak met as gevolg: vrede met God.

Hierdie vergewing is die grootste geskenk wat God aan ons kan gee. Daarom bely ons in Artikel 23 van die Nederlandse Geloofsbelydenis “dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes”. Hierdie vergewing is as‘t ware die moederweldaad, waaruit al die ander weldade voortvloei. Eendag was ’n swaar gestremde man deur ’n gat in die dak voor Jesus se voete neergelê. Dit was baie duidelik wat die doel daarvan was. Maar eerste van alles sê Jesus vir hom: “Seun, jou sondes is jou vergewe”. Daardie weldaad was nie net ʼn inleiding tot sy eintlike genesing nie, maar het vir hom volledige geluksaligheid beteken. Sy genesing daarná – hoe belangrik dit ook al was – was in vergelyking daarmee slegs ʼn toegif, ʼn bonus (Markus 2:1-12).

Ons merk terloops op dat die vraag na vergewing nie vandag meer een van die dringendste vrae van hierdie tyd is nie. Vir sover ʼn mens nog na God vra, gaan dit eintlik maar oor sy aanwesigheid in hierdie wêreld. ʼn God wat ons skulde kwytskeld en daarvoor sy eie Seun laat sterf het, ken ons nouliks nog. Daarom is dit goed om te bly besef dat hierdie tema, volgens die Bybel, die hoogste prioriteit moet hê en hou.

God Dink Nooit Meer aan die Sondes Nie🔗

Slegs God sélf kan ons sondes vergewe. Daarvoor laat Hy ons ruil met sy Seun. Hy het ons skulde op Hom geneem. God neem hierdie oorname van ons sondes deur sy eie Seun baie ernstig op. Dáárom reken Hy ons ons skulde nie meer toe nie. Christus het όns skuld volledig met sý bloed betaal. Ons skulde verdwyn dus nie in ʼn lugleegte nie, maar dit beland op Christus. Hy is die sondebok wat ons skuld na die kruis weggedra en daar betaal het. God dink nie meer aan ons skuld nie. En dan is dit belangrik dat ons besef dat dit nie beteken dat Hy die sondes regtig vergéét nie, maar wel dat Hy gedurig dink aan Christus se gehoorsaamheid tot die dood toe. Die genoemde Artikel 23 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê oor hierdie gehoorsaamheid so mooi: “dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan…”.

Dit kan ons moedeloos maak as ons steeds nuwe skuld maak. Selfs terwyl ons vir vryspraak vra, maak ons weer nuwe skuld. Ons moenie net erken dat ons swaar gesondig hét nie, maar ook “dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is” (HK antw. 60). Beteken dit dat ons sondige aard altyd die laaste sê het? Hoe radikaal en volledig is ons vergewing eintlik? Die Kategismus herken hierdie moeite. Daarom sê hy spesifiek dat “God … aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my hele lewe lank moet stry, nooit meer wil dink nie’ (HK antw. 56). Dit wil dus sê dat God selfs ons vier-en-twintiguur-ekonomie van ons allerdiepste, slegste begeertes, gedagtes en emosies ons nie toereken nie.

In die Bybel is daar baie dinge ter sprake, maar die kern van alles is dat God van sy kant af die beskadigde verhouding herstel. Dit is sy oogmerk. Dit is wat Hy wíl doen. Hy sê dit vir ons in Sy Woord. “Ons verstik in die sonde. Maar Ek (God) wil dit jou nie toereken nie. Ek wil dit toemaak, bedek. Ek wil dit nie sien nie. Ek wil nie in ʼn regstryd met jou hieroor gaan nie...Ek wil jou rein maak uit suiwer barmhartigheid. Ek doen dit met vreugde”, soos Luther dit vertolk.

As ons na die sakramente kyk, spreek hulle helder en duidelik. Hulle wys vir ons die kernboodskap van die hele Bybel. In alle eenvoud en duidelikheid wys die doop en nagmaal ons eenparig op die offer van Christus, as die enigste grond van ons saligheid, te wete “die vergewing van sondes en die ewige lewe” (HK vr./antw. 66, 67).

Hoe sal dit by die Laaste Oordeel Wees?🔗

Hieroor kan ons kort wees. Volgens Antwoord 56 van die Heidelbergse Kategismus wil God “aan al my sondes … nooit meer dink nie”. En nooit is nooit. Hy wil ook ‘nooit meer dink’ aan my sondige aard wat al my lewensjare besoedel het nie.

Die geloof is ʼn vasstaande kennis en ʼn vaste vertroue dat God “ook aan my … vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het” (HK antw. 21).

Maar moet ons nie bang wees vir ʼn Regter wat ons diepste motiewe en gedagtes kan blootlê nie? Sonder om te spekuleer oor die (vir ons) verborge manier hoe die regspraak sal verloop, is dít duidelik: die Regter wat όns verwag, is Dieselfde Een wat vir ons aan die kruis gehang het, en ook Dieselfde Een in Wie se bloed ons gedoop is en uit Wie se beker ons gedrink het. Op daardie indrukwekkende dag sal Hy nog net so oor ons dink as wat Hy vandag doen.

Ons wys ook op die volgende: deur die verkondiging in die kerkdienste word die hemelryk vir die gelowiges oopgemaak. Dít getuig die evangelieverkondiging wat deur hulle gehoor word. Maar die kenmerkende van dié verkondiging is dat God volgens dié getuienis sal oordeel, sowel in hierdie as in die toekomstige lewe. Dus ook op daardie dag.

ʼn Volgende punt is: die gedagte aan hierdie oordeel behoort ons aan te spoor tot ernstige selfondersoek, ook van ons diepste motiewe (sien 1 Korinthiërs 4:5). Dit is egter nie ’n ander ondersoek as dié waartoe die viering van die nagmaal ons oproep nie.

Daarom mag ons “hierdie groot dag met sterk verlange” verwag (NGB art 37).

Asof Ek Self Betaal Het🔗

Die realiteit is dat ons nog steeds ons skulde meer maak en bowendien nog steeds nie ons verkeerde aard afgeskud het nie. Daarom is die enigste manier om my saak met God reg te stel, dat Hy maak asof ek self “in eie persoon” betaal het (HK antw. 79), “asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie’ (HK antw. 60), asof ek self die geregtigheid volbring wat Christus vir my volbring het (nagmaalsformulier).

Die wonderlike van hierdie ‘asof’ is, dat God werklik maak asof ons silwerskoon is. Hy behandel ons regtig sό!

Hoe kan ons weet dat Christus se offer ons regtig sό toegereken word? Daarvoor is ’n sterk band met Christus self onmisbaar. Ons mag selfs praat van ʼn eenwording met Hom, deur die geloof. Om deel te kry aan Christus se weldade en skatte, moet ons eers deel kry aan Hom persoonlik. Daarom praat Artikel 22 van die Nederlandse Geloofsbelydenis tot twee maal toe oor die omhelsing van Christus. Om iemand te omhels is meer as om net ʼn handdruk te gee. Hier dui dit op ons eenwording met Christus. Ons mag as‘t ware ons arms om Hom heen slaan, Hom omhels.

Hierdie eenwording is by die nagmaal ter sprake. Christus wil hê dat ons sy vlees sal eet en sy bloed sal drink. Hy wil hê dat ons regtig één met Hom moet word. Sien daarvoor ook die sterk bewoording van antwoord 76. Ons moet al hoe meer met Hom verenig word, ook al is Hy in die hemel en ons op die aarde. Selfs die beeld van die huwelikseenheid van die bruidspaar Adam en Eva word gebruik!

Ook Vernuwing🔗

God se genade hou in die eerste plek vergewing in, maar nie net dit nie. Christus gee aan ons nie net sy bloed nie, maar ook sy Gees. Met sy bloed het Hy ons volledige skuld betaal. Deur sy Gees maak Hy ons heeltemal ander mense. Vergewing en vernuwing maak saam … genade. Hierdie twee is onafskeidelik met mekaar verbonde. Dit sluit in dat hulle nie afsonderlik verkrygbaar is nie. Niemand kan die genade van vergewing aanneem, terwyl hy die genade van vernuwing afwys nie. Dit is dus onmoontlik om die genade as ʼn vrybrief te misbruik om dan soos gewoonlik op die ou patroon voort te gaan nie. Wie dit wil doen, soos volgens Calvyn, wil Christus eintlik in stukke opskeur en dis onmoontlik. Baie duidelik praat die kategismus in Sondag 26 oor hierdie tweevoudige genade. Deur die doop was Christus ons met sy bloed (dit word vergéwing genoem), maar net so goed met sy Gees (dit word vernuwing genoem). In antwoord 86 sien ons dit opnuut: Christus het ons nie net met sy bloed gekoop nie, maar ons ook deur sy Heilige Gees vernuwe tot Sy beeld.

Gelukkig werk die genade van vergéwing vandag reeds perfek. Al ons sondes word kwytgeskeld. Maar van die vernúwing is daar vandag net ʼn klein begin merkbaar. Tog is dit ʼn baie belowende begin, want die einde daarvan is volmaaktheid!