Bron: Kompas. 3 bladsye.

Verkiesing van Ampsdraers

In Christus se regering van sy kerk gaan dit nie om uitnemende organisasie en optimale funksionaliteit nie. Dit gaan om die geloof in Christus wat van mense gebruik maak om sy hoofskap en vrede te bedien aan sy gemeente. Die Nederlandse Geloofbelydenis (NGB) het die verkiesing van ampsdraers opgeneem as so ’n saak van geloof (art. 31).

Die bevestigingsformuliere sluit hierby aan: “Is u in u hart oortuig dat God self u deur sy gemeente tot hierdie diens geroep het?”

Ons glo die roeping tot die amp is van God.

Maar God wil as die middel van die roeping die gemeente en die kerkraad gebruik. Die geroepene mag in die roeping van die gemeente die roeping van God bemerk. God laat Hom hierin deur sy gemeente bedien. Die geroepene is ’n geskenk van die Heilige Gees aan die kerk van Christus. Die Heilige Gees maak die gelowiges betrokke, sodat hulle deur menslike oorlegpleging in die diens van God se roeping van ampsdraers staan.

Reformasie🔗

Dit het in die reformasie van die sestiende eeu na vore gekom. NGB art. 31 is ʼn belydenis teenoor die praktyk van die Rooms Katolieke Kerk. Daar sorg die geestelike stand (ampte) vir hulle eie voortsetting. Die geestelikheid is ’n stand met eie mag: die mag om die sakrament te bedien en die amp te kontinueer. Die plaaslike gemeente was uitgelewer aan die grille van die hoër geestelikheid wat gesag gevoer het oor die gemeente. Aanstelling van ampsdraers was ’n saak van die geestelike hiërargie en heel bo die pous.

Luther het reeds in 1523 daarop gewys dat die sleutelmag van Christus deur Hom aan sy gemeente geskenk is. Die gemeente het die Woord. Daar is geen ander mag in die kerk nie. Die gemeente het die mag om die leer te toets, hulle teen valse leraars te verset en om goeie predikers aan te stel. Die gemeente is nie van die biskop afhanklik nie, maar kan vir haarself sorg.

Die Skrif ken nie die ampstelling sonder die keuse van die gemeente nie. Calvyn het beklemtoon: die mag van die kerk is die volmag om die Woord te bedien. Dit is geen demokratiese vergryp van die volk wat moet inspraak kry en saam beslis nie. Nee, dit is ’n saak van geloof in die heerskappy van Christus oor sy gemeente, Christokrasie. Christus regeer. Ons glo en bely dat Christus deur sy Gees in die gemeente woon en dat die dink en bid van die gemeente deur Christus ingeskakel word in sy regering oor sy volk.                             

Bucer het benadruk dat in die gemeente ons die oog moet hou op Christus vir die gawes wat Hy aan die gemeente en in die gemeente skenk. Die gawes moet raakgesien en herken word, benut vir die opbou van die gemeente in reëlmatige diensbaarheid. Verkiesing tot die amp is vir Bucer saak van ondersoek, herkenning en navolging. Dit is navolging van Christus wat aan die een broeder die en aan ’n ander broeder daardie gawe skenk.

Afwykende beskouings🔗

Die NGB art. 31 se orde is ook teen die leer van die Wederdopers uit die sestiende eeu gerig. Hulle gaan uit van ’n inwendige roeping. Indien iemand deur God in die hart geroep is om die kerk as profeet te dien, dan was hy daarmee geroep. Dan mag hy hom ook so aan die gemeente opdring en gehoorsaamheid aan sy woorde vra. Kenmerk van die roeping in die reformatoriese kerk was dat die amp deur die gemeente self geroep word. Die inwendige word nie van die uitwendige geïsoleer nie.

Teen die latere Lutheranisme het die gereformeerde kerke ook die formulering van die belydenis benut om die selfstandigheid van die kerk in haar beroepingswerk te verdedig teen die owerheid wat wou inmeng.

Verskillende moontlikhede🔗

Hierdie beginsel laat verskillende praktiese reëlings toe wat verantwoord kan word. Daar is die enkelvoudige voordrag aan die gemeente – die gemeente het reg tot aanvaarding of afwysing.

Daar is die vrye verkiesing – die gemeente kies ’n aantal broers en stel hulle voor aan die kerkraad.

Daar is ’n tussenweg – die gemeente word vantevore deur die kerkraad geraadpleeg en kies in later stadium uit ’n dubbele aantal wat deur die kerkraad vasgestel is en waarop die gemeente ook uiteindelik reg van approbasie het.

Altyd is die reg van die gemeente die agtergrond.

Motivering🔗

Wat gebeur wanneer die gemeente kies? Die uitgangspunt is die regering van Christus oor sy gemeente. Die gemeente is in die goeie sorg van Christus, ook in die skenk van ampsdraers.

In die gemeente mag niemand oor ’n ander heers nie. Maar in die gemeente van Christus mag mense wel sorg dra vir die gemeente. Dit is die plig van elke gemeentelid. Sommige loop selfs voor in die goeie sorg vir die gemeente (1 Timoteus 5:17).

Christus gee as duidelike blyk van sy regering aan sy gemeente ampsdraers (Efesiërs 4). Die gemeente is in die goeie sorg van Christus, ook daarin dat Hy ampsdraers skenk. Hy doen dit deur middel van die handeling van sy gemeente. Van die gesamentlike handeling van gemeente en kerkraad in die saamstem van gemeente en kerkraad en van die gemeentelede onderling word die bedoeling van Christus duidelik. Want in die gemeente woon Christus deur sy Heilige Gees.

Uitvoering🔗

Agtereenvolgens konsulteer die kerkraad die gemeente (die gemeente het geleentheid om name voor te stel), stel ’n groslys op, stel daaruit ’n tweetal vas, laat die gemeente uit die tweetal kies en verkies dan die deur die gemeente verkosene, die gemeente word dan gevra om dit te aanvaar en die voorneme tot bevestiging goed te keur. So word gekom tot algehele eenstemmigheid. Ook die gemeentelede wat vir ’n ander broer gestem het, staan nou agter die bevestiging van die broer wat deur die meerderheid gekies is en daarna deur die kerkraad verkies is.

Hier geld nie die beginsel van die helfte plus een nie, maar groeiende eenstemmigheid. So kom dit tot een naam. Kerkraad en gemeente het saam daartoe gewerk.

Dit staan in lyn met die apostoliese vermanings. Ons lees in 1 Korintiërs 16:15-18:

En ek versoek julle, broeders — julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het — dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei. En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het. Want hulle het my gees verkwik en julle s’n ook. Erken sulke manne dan.

In 1 Tessalonisense 5:12, 13 skryf Paulus:

Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.

Dit gebeur deur oorleg, gebed en onderskikking van die minderheid aan die meerderheid van die gemeente en so aan Christus. Die beleid van Christus openbaar op hierdie wyse wie God, kenner van die harte, uitgekies het om hierdie diens op te neem. So lees ons in Handelinge 1:24, 25:

En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.

Die regering van die kerk berus geheel en al by God en Christus. Maar die gemeente mag saam met die kerkraad die wil van God aan die lig laat kom in die biddende, afwagtende, verenigde uitvoering van die verkiesing.