4 bladsye.

Verootmoediging en Skuldbelydenis

skuldbelydenis

Die openbare belydenis van die sonde van die volk het in die tempel en in die sinagoge 'n vaste plek gehad. Spore daarvan word in die Nuwe Testament gevind. So roep byvoorbeeld Johannes die Doper op tot die belydenis van die sonde. Jakobus skryf: "bely mekaar julle misdade" (Jakobus 5:16).

Vanaf die vroegste Christelike kerk is daar sprake van die openbare belydenis van sonde en veral van verootmoediging voor God. In die Didache kom die volgende uitsprake voor: "bely in die gemeente julle sonde en nader nie tot julle gebedssamekomste met 'n slegte gewete" (4:14); en: "Vier die eucharistie nadat julle tevore julle sondes bely het, sodat julle offer rein kan wees" (14: 1).

Dit word deel van die Christelike erediens om in die erediens die sonde te bely en te verootmoedig.

In die Roomse mis is die openbare skuldbelydenis verdring deur die oorbieg en in die erediens verskraal tot die litanie en die persoonlike skuldbelydenis deur die priester, die sogenaamde confiteor.

In die pronaus het dit weer 'n duidelike plek gekry na die Skriflesing en preek.

By die reformatore kry mens 'n verskeidenheid opvattings omtrent die saak en plek van die verootmoediging en skuldbelydenis:

Luther het dit nie eintlik gebruik nie.

Op gereformeerde bodem vind ons die openbare skuldbelydenis vir die eerste keer in die Taufbüchlein van Leo Juda in 1523.

Zwingli neem dit op in sy orde vir die erediens en plaas dit aan die einde van die diens na die preek. So ook by Bucer en andere.

Calvyn neem die gebruik van die openbare skuldbelydenis en die formule van Bucer oor, maar plaas dit aan die begin van die diens.

In die Gereformeerde liturgieë is daar twee duidelike lyne ten opsigte van die skuldbelydenis in die erediens. Die eerste is wat teruggaan op die pronaus en gevolg word deur Zwingli, Micron en à Lasco. Hier kry die skuldbelydenis 'n plek aan die einde van die diens, na die preek. Die ander is die lyn wat teruggaan op die confiteor en uitgebou word deur Calvyn, Pollanus, en andere. Hier vind die skuldbelydenis plaas aan die begin van die diens, voor die preek.

Die verootmoediging en skuldbelydenis het ook sy weg gevind na Nederland. Spoedig hierna het die sinode van Middelburg besluit dat dit nie nodig is nie. Hierdie patroon is ook na Suid-Afrika oorgeplant. Vandag is die verootmoediging en skuldbelydenis in sowel Nederland as Suid-Afrika in die erediens herstel, wat beslis 'n groot wins is.

Die verootmoediging en skuldbelydenis is inderdaad 'n sterk Bybelse waarheid wat 'n belangrike plek in die erediens as gesprek moet inneem. Veral om die volgende redes is dit belangrik:

  • By die ontmoeting van die gemeente met sy Here in die omvattende gesprek, is die gemeente hom bewus van sy nietigheid, sy onwaardigheid, sy eindigheid en sondigheid voor die ewige en heilige God. Hier pas dit dat die gemeente teenoor die volmaaktheid van God, sy eie swakheid en onwaardigheid sal besef en dit erken. Dit is "die deemoedige selfprysgawe aan die grondelose genade van God" (J. Schweizer).

  • Die erkenning van die sonde en skuld en die belydenis daarvan voor die Here is noodsaaklik sodat hierdie gesprek inderdaad gevoer kan word. Alleen so kan die sondige gemeente op die allerinnigste wyse verkeer met die heilige God. By hierdie ontmoeting besef die gemeente dat "schuldendruk en zondenlast de geloovigen volstrekt onwaardig maken tot eenigen band met den volstrekt-heiligen God, anders dan in Jezus Christus" (Instigator). Die saak van die skuld van die gemeente kom veral ter sprake by die innige gemeenskap met die Here in die Nagmaalsviering. Dit is daarom belangrik om daarop te let dat Calvyn die skuldbelydenis veral laat funksioneer het rondom die voorbereiding tot die nagmaal en daarmee ook in verband met die tug.

  • Die skuld van die gemeente en van die gemeenskap. In die erediens gaan dit in die skuldbelydenis nie soseer om die enkeling nie, maar om die gemeente, waarby die enkeling wel deeglik gereken word. Die klem val veral op die korporatiewe, die gemeenskaplike sonde en sondigheid. Dit is sowel die gemeenskaplike as die persoonlike sonde en skuld. Hoewel daar dikwels aangevoer word dat die moderne mens nie meer die skuld so beleef nie, toon die letterkunde, die films, die hofsake dat dit steeds maar weer om die skuldvraag gaan. Die skuld is deel van die gemeente, maar ook van die gemeenskap. Natuurlik moet elke gelowige in sy binnekamer sy sonde en skuld voor die Here bely, maar dit is ook nodig om dit gemeenskaplik saam met die gemeente in die openbaar te doen. Die Reformasie het dan ook die skuldbelydenis uit die geslotenheid van die biegstoel en uit die privaatbelydenis van die confiteor, gehaal en oorgebring na die openbaarheid van die erediens. Dit is die gesamentlike belydenis van skuld van die hele gemeente en dus ook vir mekaar. So word die hele gemeente in ootmoed voor die Here gestel. So word die ban wat die werk van die Heilige Gees in die erediens in die weg staan, uit die gemeente geweer.

  • Die moment van troos. Waar die gemeente hom voor die Here verootmoedig en sy skuld bely, daar is dit reeds in die sekerheid van die Here se barmhartigheid en sy genade. Dit is 'n ontsaglike troos dat ten spyte van die onwaardigheid, sondigheid en skuldigheid van die gemeente, hulle kan weet hulle buig voor dié Here by Wie daar veel vergewing en redding is. Dit laat die gemeente hierdie gesprek met God in die erediens met des te meer vrymoedigheid tegemoet gaan.

  • Die verootmoediging en skuldbelydenis kan natuurlik ook in die gebed geskied, maar dit het veel meer betekenis wanneer dit voorop staan in die diens en besonderlik verrig word.

Wat die plek van die verootmoediging en skuldbelydenis in die erediens betref:

bieg voor priester

Daar is wel iets voor te sê om dit oor te hou tot na die preek, sodat die gemeente ook eers die prediking kan hoor wat hulle opwek tot besef van sonde.

Daar is egter veel sterker argumente om die skuldbelydenis aan die begin van die diens te plaas. Dit is nodig dat die skuldbelydenis aan die begin sal plaasvind sodat die gesprek met God meer sinvol kan verloop. Hierdie gesprek gaan al dieper namate dit vorder en hierop antwoord die gemeente telkens. Waar die skuld wat in die weg van die gesprek staan, eers aan die einde kom, belemmer dit die gesprek. Verder, in die prediking gaan dit nie slegs om die opwekking tot skuldbesef nie, maar dit gaan om al die aspekte van die heil en geestelike groei en dit kan dempend werk indien na alles nou eers en nou weer met die skuldbelydenis gekom word. Dit kan steurend werk wanneer 'n boodskap van oorwinning en geloofsversekerdheid weerklink en daarna word weer opgeroep tot skuldbelydenis. Waar ons onsself in die erediens stel voor God en sy heilige engele, kan dit nie op beter wyse wees as in die erkenning van ons onwaardigheid en sondigheid nie (Calvyn) – daarom aan die begin van die diens.

Die wyse waarop die skuldbelydenis gedoen word, kan wees:

  • Die voorganger spreek die verootmoediging en skuldbelydenis uit in naam van die gemeente en hulle beaam dit in hulle harte.

  • Die gemeente bely hulle skuld deur dit in die vorm van 'n gepaste lied te sing.

  • Die gemeente self bely sy skuld duidelik en hardop aan die hand van 'n formule.

Die laaste verdien die voorkeur omdat dit só inderdaad die skuldbelydenis van die geméénte self is. Daarna kom in aanmerking dat dit gesing word. Ook hier weer moet afwisseling wees van die drie moontlikhede. En waar dit gesing word, moet die liedere afgewissel word. Waar dit nie behoorlik afgewissel word nie, kan dit so maklik outomaties en meganies geskied en gaan hierdie belangrike en diep-ernstige saak by die gemeente verby. Om jou skuld voor God te bely en te erken jou woorde en dade, ja jyself, is verkeerd, is moeilik. So maklik word na uitweë gegryp om hierdie vernedering en die sterf aan die self, gespaar te bly. 'n Sinvolle skuldbelydenis deur die gemeente vereis 'n deeglike beplanning, gereelde afwisseling en ernstige deurvoering.

Doringdraad hande

Juis omdat die skuldbelydenis so met die hart van die evangelie te make het en elke woord 'n betekenis het en dwaling maklik kan insluip, behoort dit duidelik geformuleer en kerklik goedgekeur te wees. Willekeurige formuleringe kan nie toegelaat word nie.

Genadeverkondiging🔗

Die openbare belydenis van sonde in die erediens vereis ook die verkondiging van die vergifnis, die verkondiging van God se vergewende genade. Dit is die eis van die evangelie om die skuld te bely, en dit is die genade van die evangelie dat op die belydenis van die skuld die genade van God betuig en verkondig kan word. Wie met 'n gebroke en berouvolle hart sy sonde voor die Here bely, kan en moet die verkondiging van vergifnis van die sonde verneem en glo. Verkondiging van vergifnis beteken vryspraak of absolusie. Luther het dit goed raakgesien toe hy geskryf het:

Want om die vergewing van sonde te verkondig, beteken niks anders nie, as absolusie of vryspraak van sonde.Hauspostille 5.171

Want die hoofsom van die evangelie is dit: Wie aan Christus glo, vir hom is sy sonde vergewe.Kirchenpostille, 11.169

Ja seker, die vergifnis van sonde word ook in die prediking aangekondig, maar dit geskied op 'n heel besondere, op 'n geïntensiveerde wyse in die genadeverkondiging. In die genadeverkondiging vind ons as 't ware die uiterste konsentrasie van die evangelie. Dit is dieselfde genade as by die prediking – dit is in die genadeverkondiging net in sy "laatsten directheid" (J. T. Bakker). P. Brunner stel dit nog sterker:

Die verborge middelpunt van die prediking tree in die absolusie as besondere daad na vore. In die absolusie is die mondelinge woord van die evangelie in die sterkste konsentrasie saamgevat. Absolusie is 'n verdigting van die evangelie.

In die genadeverkondiging is daar ook die sterk moment van troos. Die gemeente en die beangste gelowiges kan dit sekerlik weet dat die Here inderdaad vergewe en dat Hy nooit meer aan die sonde dink nie. Veral Calvyn het die moment van troos in die genadeverkondiging beklemtoon. Vir hom word alles oor die genadeverkondiging saamgevat in een motief naamlik die troos wat in baie vorms tot ons uitgaan omdat dit voortkom uit die rykdom van God se barmhartigheid. Hierdie troos het egter sy plek in die geheel van God se handelinge.

Die genadeverkondiging hang ten nouste saam met die eis van egte berou en ware geloof.

Waarvan word die gemeente vergewe? Ten onregte maak G. van der Leeuw onderskeid tussen persoonlike sonde wat nie in die erediens ter sprake kom nie en die sondigheid wat wel hier ter sprake moet kom. Hier het Calvyn dit suiwerder gesien toe hy geskryf het dat algemene en persoonlike sonde beide my persoonlik raak, ook as ek in die midde van die gemeente staan.

Saam met die genadeverkondiging moet daar dikwels die retensie plaasvind, dit is die aankondiging aan diegene wat onberouvol en onboetvaardig is dat die straf en oordeel van God op hulle rus as hulle hulle nie bekeer nie. So kom dit byvoorbeeld ook voor in die klassieke nagmaalsformulier.

Omdat die vryspraak die evangelie op so 'n gekonsentreerde wyse weergee, moet dit geskied volgens 'n duidelik geformuleerde en goedgekeurde formule. Daar kan wisselvorme wees. Op die formule kan geskikte Skrifwoorde gebruik word soos: 1 Johannes 1:9; Romeine 5:1; Romeine 8:1, 2; ens.

In die Roomse mis is die absolusie in smekende vorm gedoen. In die erediens behoort dit duidelik, verkondigend te wees.

troostende hande

Oor die plek van die genadeverkondiging in die erediens is daar ook die twee lyne wat ons by die skuldbelydenis aangetref het. Die genadeverkondiging hoort direk op die skuldbelydenis te volg. Waar aangegee is dat die verootmoediging en skuldbelydenis aan die begin van die diens moet plaasvind, spreek dit vanself dat die genadeverkondiging direk daarop moet volg.

Uit verskillende oorde word van tyd tot tyd besware ingebring teen die genadeverkondiging. Die besware gaan in hoofsaak teen 'n slordige en onnadenkende wyse van hantering van die genadeverkondiging en nie teen die saak as sodanig nie. Daar is die gevaar dat dit te maklik en te onnadenkend gedoen word – dat dit outomaties kan wees sonder dat dit vir die gemeente iets beteken. Die ander gevaar is dat die skuld te maklik gekollektiveer kan word en die persoonlike verantwoordelikheid in die gedrang kom. Hierop is daar die een antwoord dat ook hierdie element met groot sorg voorberei moet word, dat dit met groot begrip hanteer word en dat daar genoegsaam verantwoordelike afwisseling met die inkleding daarvan moet geskied. Dit moet steeds intens deurleef word en die nuutheid van die evangelie behou.