3 bladsye.

Vier Grafte, die Reformasie en Afrika

Elke geslag moet opnuut vir homself die beloftes van God toe-eien of dit verwerp. So moet ook die huidige geslag gereformeerdes in Afrika herbesin oor hulle rol. Hierdie herbesinning is ’n vraag oor wat reformasie nou eintlik is, veral wat die amp van die gelowige alles behels in vandag se Afrika.

Om aktueel die betekenis van reformasie te beleef moet ons van vier grafte kennis neem. Baie idees trek tou om die dominerende krag in ons leefwêreld te wees. Indien ons nie die kaf van die koring skei nie kan ons maklik in ’n doodsakker trap.

Onbekende graf🔗

Die post-modernisme het deesdae ’n gonswoord geword. Dit wil voorkom asof alles wat tans vreemd en onaanvaarbaar is met hierdie vlaggie gedek wil word. Tog is alles wat skeef loop nie post-modernisties nie. Die kerk, ook die GKSA, stry reeds dekades lank teen die liberalisme. Dit is ’n vrysinnigheid wat elke keer ’n nuwe baadjie aantrek maar die grondgedagte bly dieselfde: ek as mens wil nie gebind wees aan wat God sê nie, ek is my eie baas. Die liberalisme werk dus met ’n relativering van die waarheid.

Daar is ’n skynbare verdraagsaamheid by die liberales. Elkeen kan maar doen soos hy goed vind. In kerklike gesprekke vergestalt die liberalisme meermale in die vraag: “Wat maak dit nou saak, solank ek maar net hemel toe gaan”. Hierdie verdraagsaamheid is egter pure skynheiligheid. Daar is niemand so onverdraagsaam soos ’n liberalis nie - juis omdat hy almal wil dwing om liberaal te dink. Jy kan alles aan ’n liberalis sê, moet net nie sy voetstuk bevraagteken nie. Dan word die lang messe uitgehaal.

Verdra🔗

Ons mag nie die ou liberale skynheilige verdraagsaamheid verwar met die nuwe post-moderne vorm van verdraagsaamheid nie. Albei is relativisties. Albei sê die waarheid is maar ’n persoonlike saak. Die post-modernis is net baie meer akkommoderend as die liberalis. Post-moderne verdraagsaamheid sal heeltemal inskiklik wees teenoor ’n gereformeerde perspektief en inset. Om die waarheid te sê, hulle beskou die gereformeerde kant as noodsaaklik vir die gesprek om by die (tydelike) waarheid uit te kom.

Om die post-moderne gesprekstafel sal die gereformeerde sy gereserveerde plek met sy naambordjie aantref. Hierdie verdraagsaamheid van die post-moderniste, wat verskil van die liberale verdraagsaamheid, wat aan die gereformeerde stem geen gehoor wil verskaf nie, is uiters verleidelik en gevaarliker. Die gereformeerde kan dink, bloot omdat hy toegelaat word om aan die gesprek deel te neem, dat hy besig is met sending en uitbreiding van die evangelie. Hy kan homself op die skouer klop dat hy toegang het tot plekke wat voorheen ontoeganklik was.

Tog kan hierdie verdraagsaamheid juis die gereformeerdes se onbekende graf beteken. Deurdat die post-modernis van die gereformeerde ’n gespreksvennoot maak, word die evangeliese getuienis ontkrag. Die post-modernis is nooit van plan om gereformeerd te word nie, hy parasiteer op ander denkstelsels - juis omdat hy geen inherent unieke stelsel het nie. Hy kan trouens ook nie een hê nie, want die waarheid (van wie ook al) is vir hom onbekend en onbereikbaar.

Indien ons die amp van die gelowige wil stimuleer, en werklik evangelies gesprekke wil voer, moet ons nie as genooide gas aan die post-moderne debat deelneem nie. Ons moet nie tevrede wees met “ ’n gereformeerde perspektief op sake nie”, of ons troos dat daar darem so iets bestaan as “die stem van Potchefstroom” nie. Dit is nie genoeg nie. Alle oproepe dat die kerk nou skielik moet kennis neem en aanpas by die post-moderne mens is ’n lokstem na ’n onbekende graf.

Regering vanuit die graf🔗

Nie net die Amerikaans Westerse post-modernisme is ’n graf nie. Uit Afrika self kom ’n graf wat die kerke bedreig. Daar word tans veel gemaak van die Afrika Renaissance (vgl. adjunk pres. Thabo Mbeki se nuwe boek: “Africa - the time has come”, Tafelberg- en Mafube uitgewers). Hierdie Afrika herlewing as wedergeboorte is grootliks ongedefinieerd.

Tog sal dit drie elemente bevat wat ons nou al bedag op moet wees. Die Renaissance sal uit en uit Ubuntu gerig wees. Die voorvader-verering in al sy skakerings en implikasies gaan al hoe meer na vore tree. Die huidige grondhervorming dra reeds die kenmerk daarvan. Die dooie voorvaders se stem is wet, daar gaan dus ’n regering vanuit die graf wees. Op teologiese terrein gaan dit beteken dat stemme gaan opgaan om veral die werk van die Heilige Gees te herdefinieer sodat dit meer versoenbaar gaan wees met die voorvader-gedagte.

Tweedens gaan die Renaissance poog om die Westerse tegnologie oor te neem en te gebruik sonder om die Westerse waardestelsel oor te neem (die Westerse waardesisteem moet nie met die gereformeerde siening gelykgeskakel word nie). Dit het in die Ooste al gebeur dat Westerse tegnologie gekoppel word aan die Oosterse filosofie. Minister Jay Naidoo se “African connection rally” is ’n goeie voorbeeld van ’n poging tot Ubuntu tegnologie.

Derdens gaan daar wel met die Christendom in gesprek getree word, maar nie om volledig na die evangelie te luister nie. Hierdie Afrika hergeboorte mag nie verwar word met die wedergeboorte wat die Heilige Gees gee nie. Die Afrika renaissance gaan aan die Christen, en spesifiek ook die Afrikaner gelowige, vra: Wat is jou en jou kerk se bydrae tot die hergeboorte en opbou van Afrika? Ons moet dus op die uitkyk wees om nie evangeliese uitbreiding te verwar met moderne voorvader-aanbidding nie, of diakonale hulp met staatshulp-programme nie. Veral die diakonieë sal nougeset moét handel volgens Christus se opdragte en nie volgens dooie voorvaders nie.

Verseëlde graf🔗

’n Derde graf wat vermy moet word is die konserwatisme. Die veranderings rondom ons geskied teen so ’n snel tempo dat dit jou lighoofdig maak. ’n Natuurlike, maar uiters gevaarlike teenreaksie teen veranderings is om die verlede in te vlug. Geen nuwe denke word toegelaat nie, ons heil lê maar net om sogenaamde beproefde stelsels weer op te diep, af te stof en daarvolgens te leef. Hierdie konserwatisme is ’n verseëlde ou graf wat meen God is ’n God van die verlede. Met wat in die verlede gesê is, is geldig. Enige nuwe ding is verkeerd, nie omdat dit dalk teen God se wil is nie, maar net omdat dit nuut en vreemd is.

Met konserwatisme is hervorming gedoem om ’n nostalgiese denkreis na die verlede te wees, toe alles mooi, goed en rustig was. Reformasie is om altyd nader na die Woord van God toe te verander. Ons mag nie so skrik vir verandering dat ons die verandering wat die Heilige Gees teweeg wil bring ook gaan teenstaan nie.

Die konserwatisme is veral gevaarlik op twee gebiede. Eerstens koppel konserwatisme bykans altyd met nasionalisme met die gevolg dat ’n religieuse fanatisme ontstaan. Generaal Franco van Spanje het dekades terug sy Rooms Katolieke konserwatisme gekoppel aan Spaanse nasionalisme. Daaruit is die Spaanse fascisme gebore. Hierdie Rooms Katolieke Europese voorbeeld word gegee juis om aan te toon dat die gelowige Afrikaner nie patentreg daarop het nie. In hierdie dae van rewolusionêre veranderings gaan ons geloofskrag nodig hê om onder die hand van God te verander al meer na die beeld van God. Om per definisie teen verandering te wees, om onnadenkend konserwatief te wees, beide teologies en polities, is om die Heilige Gees te bedroef. Dit beteken om na ’n muwwe verseëlde grafkelder te gaan as woonplek.

Oop graf🔗

Die opregte gereformeerde wil niks met hierdie drie grafte te doen hê nie. Ons staan by ’n ander graf. Die oop graf van ons Here Jesus Christus. Ons soek Jesus, die Verlosser, nie by die dooies nie. Hy is die lewende, die een wat opgestaan het, en ons verlos het van die dood - en ook van dooie idees wat doodmaak.

Ons is verlos van die post-moderne relativisme en ons is verlos van skynheilige verdraagsaamheid. Jesus Christus is die waarheid. Hy is kenbaar en bekend by ons. Daarom is ons nie gevlei as die post-modernis ons nooi vir ’n gesprekkie nie. Ons word ook nie om die bos gelei deur die post-moderniste in ons eie kerkverband nie. Hulle staan by die grafsteen waarop staan: Vir die onbekende God. Die HERE het ’n Naam, ’n bekende, verskriklike Naam: Jesus Christus die opgestane Verlosser en Regter van relativisme.

Ons is verlos van die dooies se stemme uit die grafte. Afrika kort ’n wedergeboorte, maar dan onder die stem van die lewende Seun van God, en nie onder leiding van die dooie seuns van Afrika nie.

Ons verwag die opgestane Here wat sal kom op die wolke. Met hierdie geloof kan ons ook gehoorsaam met ons eie geskiedenis omgaan. Ons kan die hand van God daarin sien, sonder om alles wat in die verlede gebeur het te verhef tot lewensnorm vir die hede.

Jesus Christus se graf is oop. Dit is die enigste graf wat blywende betekenis het vir die hele Afrika. Die belofte wat ons geslag opnuut weer vir ons omstandighede moet vasgryp.