Bron: Kompas. 3 bladsye.

Visie op die Kind

Ek en my vrou versorg binne ons kerklike gemeente soms ’n aand vir ouers oor opvoeding. Dit is altyd boeiend. Ons merk op daar bestaan by ouers ‘n groot behoefte aan geleenthede om ervarings oor die opvoeding van hul kinders met ander ouers te deel. ’n Onderwerp wat altyd aan die orde kom, is jou opvatting oor kinders. Watter wesens is dit? Hoe ontwikkel hulle? En op watter manier werk jou visie op kinders, in jou opvoeding deur?

Oor hierdie vrae is reeds baie geskryf. In hierdie bydrae konsentreer ons net op een aspek van die onderwerp, naamlik die vraag: waaroor gaan dit as die kind opgroei om die spontane ontwikkeling en ontplooiing of om die vorming van buite af? Ons bedoeling hierby is om die lig van Gods Woord op hierdie aspek te laat skyn. En ons wil afsluit met ‘n kort toespitsing op die geloofsopvoeding.

Ontwikkeling🔗

“Alles is goed soos dit uit die hande van die Outeur van die dinge kom, alles ontaard in die hande van die mens”. Met hierdie beroemde sin begin die Switsers-Franse pedagoog Rousseau (1712-1778) sy boek Emile. En baie mense het dit nagesê. Totale visies op die opvoeding is hierop gebaseer.  Die kern van die visie is ’n groot vertroue in die natuurlike moontlikhede wat die kind by sy geboorte gekry het. As die kind in die wêreld kom, is hy in aanleg reeds volledig. Die beeld van die knop wat tot ‘n blom ontwikkel of van die saadjie waaruit ‘n plant groei, is hier op sy plek.

Om op te voed, is tuinierswerk en die opvoeder is ‘n tuinier. ’n Goeie tuinier bestee baie sorg aan sy plante. Hy bewerk die aarde, besproei en bemes op die regte tyd. Hy probeer om die mees gunstige omstandighede vir sy plante te skep, sodat daar later van tyd mooi blomme sal bloei. Maar … hy kan nie rêrig beïnvloed nie. Wat uit die knop en die saad te voorskyn kom, lê reeds vooraf vas.

So is dit met hierdie soort visies oor die kind ook. Die kind word beskou as van nature goed, toegerus met groot moontlikhede. Uiteraard moet die kind goed versorg word en jy sal ook probeer om ‘n opvoedingsklimaat te skep waarin die kind hom veilig en geborge voel, sodat hy hom optimaal kan ontplooi, maar jy kan hom nie regtig beïnvloed nie. Daar kan net uitkom wat van nature reeds daarin is.

Pedagogies gesien, gaan dit hier om ‘n pessimistiese kyk op die opvoeding. Sonder opvoeding word die kind nie groot nie, maar om op te voed is nie van die uiterste belang nie en volgens sommige outeurs selfs ‘n misverstand. Deurslaggewend is die spontane, indiwiduele ontwikkeling van die kind self. Gun die kind die vryheid om homself te ontwikkel en te ontplooi. Dan sal dinge reg uitwerk. Hierdie kindbeskouing is dus optimisties.

Vanuit laasgenoemde visie staan die behoeftes, belangstellings en moontlikhede van die kind in opvoeding en onderwys sentraal. Kinders leer eers regtig as daarop gekonsentreer word. Die kind bepaal veral self wat hy uit opvoeding en onderwys put. In Nederland ontmoet jy hierdie visie op die kind steeds weer en in die laaste jare in Suid-Afrika ook.

Toerusting🔗

Teenoor hierdie (naturalistiese) beskouïng van die kind staan ’n visie waarin juis die teendeel beweer word. By hierdie visie kan jy die kind byvoorbeeld met ’n blanko papier of ‘n leë vat vergelyk. Wat op daardie papier geskryf sal word of wat in daardie vat gegiet sal word, word nie deur die kind bepaal nie, maar deur die opvoeding of deur ander invloede van buite af. Of ‘n mens kan dit vergelyk met ‘n ongevormde klip of ‘n klomp klei. Die opvoeder is dan die beeldhouer en boetseerder. Die kerkvader Chrysostomos (ongeveer 344-407) het reeds gesê: die ouers moet soos beeldhouers werk om die kind geleidelik die bedoelde vorm te laat kry.

Hier kry ons dus weer ’n pessimistiese visie. Van vertroue in die spontane ontwikkeling van die kind is geen sprake nie. Om op te voed is nie net om te begelei en te help nie, maar veral om toe te rus. Dit beteken ook om verkeerde dinge in die kinderlewe weg te snoei en by te skawe. Alleen dan kan daar volgens Chrysostomos kampvegters vir Christus opgroei. Binne die pedagogie handel dit hier om ‘n optimistiese visie op die opvoeding. Ook al is die opvoeding nie almagtig nie, tog kan ’n mens - as dit goed gedoen word - baie ver kom met die vorming van die beeld wat jy van die kind wil maak en van die voltooiing van daardie blanko papier. Dus: laat ons skole bou, dan kan ons die gevangenisse afbreek.  

Opvoeding ‘n misverstand? Nee wat, om op te voed beteken om die hande uit die moue te steek en deskundig aan die werk te gaan. Verseker kry jy dan ‘n positiewe resultaat.

Wat sê die Bybel?🔗

Die Bybel laat daaroor geen twyfel bestaan nie dat dit God self is wat ‘n kind skep. Kyk byvoorbeeld Psalm 139 vers 13: “Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef”.  Mense maak geen kinders nie, maar God skep die menslike lewe. En dit nie onbepaald en algemeen nie, maar as ‘n persoon. Kyk maar vers 16: “U oë het my ongevormde klomp gesien”. My ongevormde klomp, die begin van Dawid. ’n Spesifieke individu, nie een van baie identiese blanko blaaie van ‘n skryfblok nie. Dit gaan oor ‘n unieke persoon wat nie net in die wêreld kom met algemeen-menslike vermoëns en moontlikhede nie (byvoorbeeld die moontlikheid om ‘n taal te leer praat), maar met individuele eienskappe, ’n persoonlike bepaalde aanleg en moontlikhede wat spesifiek aan hierdie kind verbind is. Die Skenker van die lewe aan hierdie kind doen dit nie sommerso nie.

Dan hou ons as verantwoordelike opvoeders natuurlik rekening met die bepaalde individualiteit van die kind. H. Bavinck, die gereformeerde dogmatikus, het dit presies ‘n eeu gelede al so geformuleer: “Die opvoeding moet dus uitgaan van, is gebonde aan, is afhanklik van, is bepaal deur die kind wat daar is en wat aan daardie opvoeding vir versorging toevertrou word. Daardie kind moet ons aanvaar soos wat hy is, met al sy vermoëns en kragte, met al sy aanleg en gawes. Die opvoeders moet dit aanvaar soos God dit gee”.

Die vergelyking met die blanko stuk papier of die leë vat is dus volgens die Bybel nie reg nie. Die opvoeding is nie almagtig nie en die opvoeders kan die kind nie net vorm volgens hulle eie ideaalbeeld nie. Hulle kan dit nie doen nie en hulle moet dit ook nie wil doen nie. Die kind wat op daardie spesifieke wyse deur God geskep is, het reg daarop om ook as sodanig deur die opvoeders aangeneem, behandel en gekoester te word. Hy mag kind wees voor die aangesig van God en deur middel van die opvoeding ook geleidelik leer om sy eie manier van geskape wees te aanvaar en te werk aan die daaglikse vernuwing van sy lewe.

Moet ons die toerustingsmodel dan maar heeltemal eenkant toe skuif en die ontwikkelingsmodel omarm? Laat ons weer ons Bybel raadpleeg. Wat ons ook al daaruit verder kan leer oor kindwees en opvoeding, sekerlik nie dat opvoeding veral ‘n handeling is wat bestaan uit die begeleiding van spontane groei en ontwikkeling (van talente byvoorbeeld) nie.

Die hele ontplooiingsdenke is vreemd aan die Woord van God. God se gebooie, insettinge en verordeninge moet nie net in ons eie hart wees nie, maar ons moet dit ook ons kinders inprent (Deut. 6). Kinders moet onderwys word in die geskiedenis wat die HERE met sy volk gegaan het (Psalm 78). Hulle moet saamgeneem word in gelowige gewoontes en gebruike van die volk van God (Neh. 8). Kortom, hulle moet deur ma én pa opgevoed word in die vrees van die HERE (Spreuke 1:7-8).

Met die koms van Christus word hierdie pedagogiese opdrag verryk en verdiep. Ons moet met Christus beklee word (Gal. 3:27) en Christus moet in ons ’n gestalte verkry (Gal. 4:19). Ook hier blyk dat opvoeding, as ons dit in die lig van die Bybel beskou, nie aangedui kan word as “om uit te haal wat reeds daarin is” nie, maar eerder as “om daarin te sit wat van nature nie aanwesig is nie”. En dit met volledige erkenning van die uitgangspunt soos deur Bavinck geformuleer.

Geloofsopvoeding🔗

Kan ons dit wel doen: “daarin sit wat van nature nie aanwesig is nie”? Nee, nie eintlik nie. Om twee redes.

In die eerste plek is daar die kind self wat nie passief ons opvoeding ondergaan nie, maar wat aktief daarin werksaam is. Ons kan probeer om ‘n kind baie te leer deur onderwys, deur ‘n voorbeeld te wees of gerigte inset van pedagogiese middels. Maar ons leer hulle nie eintlik nie. In ‘n baie gekompliseerde proses van wederkerigheid leer hierdie unieke kind self uiteindelik met sy eie moontlikhede, en drink dit self aktief ons opvoeding in of hy laat dit na. Daardie eie inbring van die kind in die opvoeding bepaal die grense van ons opvoeding.  Met daardie besef gaan ons nie agteroor sit nie, maar ons span ons juis in (in soverre ons dit kan doen) om die kind vir daardie een lewensbestemmimg toe te rus: om God en die naaste te dien.

En in die tweede plek kan ons ook wat betref die geloofsopvoeding uiteindelik nie “insit wat van nature nie aanwesig is” nie. Die Dordtse Leerreëls vertel daaroor baie mooi dinge. In hoofstuk III/IV, artikel 12 word die feit dat ons glo, met niks minder nie as met Gods skepping en met die opwekkings van dooies vergelyk. Dat ek en u glo en dat ons kinders gaan glo, is “ ’n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad” van God self deur die Heilige Gees. As opvoeders mag ons daarby diens doen as middel in die hand van God. Ons kan die geloof  tot by die hart van die kinders bring, maar nie in die hart self nie. Dit hou God vir Homself. “Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal” (Dordtse Leerreëls, III/IV, art. 14). Daardie geloof vra oorgawe en vertroue en kan rus gee in die lewe van die Christelike opvoeder. Hoe sou ons hemelse Vader hierdie kind van Hom ooit aan sy lot kan oorlaat? Hy het hom mos tot sy kind en erfgenaam aangeneem en wil hom daarom met alle goeie dinge versorg en alle kwaad van hom afweer of tot sy beswil beskik. In daardie rus mag ons as opvoeders aan die werk spring.