2 bladsye.

Voor die Hof, voor die Hof

Die kanker van menseregte eis sy tol. Natuurlik, want menseregte staan vierkantig teenoor alles wat te doen het met die Verbondsgod wat sy verbondsgenade en verbondseise stel. Menseregte – soos wat dit in die Suid-Afrikaanse grondwet veranker is en in die huidige samelewing toegepas word – wil nie gebind wees aan die wet van die Here nie.

Dit is ’n mond vol om so ’n stelling te maak. Maar laat dié stelling getoets word aan die hand van twee afsonderlike scenario’s.

’n Onderwyser in ’n staatskool word van onbehoorlike gedrag aangekla. Die klag word deur drie graad 7 seuns gelê. Die onderwyser word onmiddellik geskors. Nie lank daarna nie word hy summier uit sy pos afgedank. Op grond waarvan? Omdat hy die kinderreg van die drie seuns aangetas het – so word beweer. Die gevolg? Die onderwyser is sy loopbaan kwyt. Daarmee saam sy bron van inkomste, sy vriendekring, sy eerbare posisie in die samelewing. Die skool is minus een kosbare leerkrag. Die hofsaak wat volg, duur langer as twee jaar. Die uitspraak van die hof is veelseggend. Die onderwyser blyk onskuldig te wees. Wat nou?

Scenario twee. ’n Broeder verskil openlik van sy medebroeder oor ’n onskriftuurlike uitspraak wat laasgenoemde in die openbaar gemaak het. Die medebroeder laat ’n prokureursbrief by sy broeder aflewer: jy het my reg gekrenk. Ek daag jou voor die hof weens naamskending.

Twee totaal uiteenlopende verhale. Tog is daar ’n duidelike punt van ooreenkoms. In beide gevalle is daar sprake van regskrenking. Vermeende regskrenking. Sonder dat die saak onderling behoorlik bespreek en deurgepraat word, word daar aanspraak op die grondwet gemaak. Die moderne mens is ‘legalwise’. Ek vat jou hof toe. Wat moet die hof in so ’n geval doen? Die goue regsreël van hoor en wederhoor toepas – audi alterem partem. Gelukkig staan daardie reël nog. Dit is ’n uit en uit Skriftuurlike reël. God eis dat mense mekaar nie ligtelik, onverhoord sal oordeel en veroordeel nie.

Maar die Here eis ook dat gelowiges mekaar nie ligtelik voor ’n wêreldse hof sal daag nie. ‘Durf iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? … As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word. Ek sê dit tot julle beskaming’ (1 Korinthiërs 6:1,4 en 5). Inderdaad – dit word tot ons beskaming gesê. Instede daarvan dat mense mekaar met hofsake en aktes van menseregte dreig, moet daar heeltemal iets ander gebeur. Praat sake onder vier oë met mekaar uit – die goue reël van Matthéüs 18. En Christus se uitspraak in die bergpredikasie: ‘Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie’ (Matthéüs 5:25).

Die uitsprake in Matthéüs 5 en 18 en 1 Korinthiërs 6 rus op ’n belangrike beginsel. Regspraak op aarde is deur God ingestel. Alle regspraak op aarde. Ouers wat uitsprake in die gesin se alledaagse struwelinge moet lewer, doen dit kragtens die gesag wat God hulle daartoe gee. So is dit ook gestel met ’n onderlinge vermanende gesprek tussen twee mense, die gesprek in teenwoordigheid van getuies, die kerkraad wat tug moet toepas, die onderwyser wat orde in die klas handhaaf, die werkgewer wat volgens kantoorprosedures handel, die owerhede wat die swaardmag by wyse van regspraak moet bedien.

Wat is die geheim? Om op sterkte van vermeende menseregte die skriftuurlike weg van Matthéüs 5 en 18 en 1 Korinthiërs 6 te omseil deur direk op die swaardmag van die owerheid aanspraak te maak? Wie daardie weg volg, sal bemerk dat Matthéüs 18 ook terugwerkend van krag kan wees. Want die hof op aarde is gebind aan die Hof in die hemel. Uiteindelik moet geskille tussen mense – tussen gelowiges in besonder! – onderling uitgesorteer word.

Daartoe verbind die hemelse Vader ons.

Daartoe is ons verlos deur Jesus Christus.

Daartoe word ons gedryf deur die Heilige Gees.