Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Vooruitsiende Blik

Ons sien uit na God se toekoms. Daarby word ons nou met hierdie artikel bepaal. Maar so ’n verwagting moet langer duur as slegs een dag. Dit bly nodig dat ons elke dag opnuut na die koms van Christus uitsien. Dit is nog nie so eenvoudig nie. ’n Mens se aandag word maklik afgetrek na wat vandág gebeur. Jy word dikwels bysiende; staar jou blind op dit wat verby is, of op wat nou aan die orde is.

Daar is ’n plek waar jy van dié kwaal genees kan word. Waar jy leer om waarlik vooruit te sien. Ek bedoel die Heilige Nagmaal. Ons vier immers Nagmaal totdat Hy kom. Ons ontvang aan die tafel as gemeente saam ’n vooruitsiende blik.

1. Gegronde verwagting🔗

Sáám vooruitsien. Daarin lê iets prikkelends opgesluit. Jy leer om saam op die uitkyk te wees na die doel. Wat is dié doel? As God die doel stel, is geen woord te groot, niks te duur of te feestelik nie. God noem dit ’n bruilof. ’n Nuwe aarde. Dis asof God alles aanwend om die doel waarna ons op pad is, te teken.

Langs dié pad is die Nagmaal ’n mylpaal. ’n Bemoediging: Weet jy nog waarheen ons op pad is? Het jy nog die doel voor oë? So rig God ons oë oor die hede heen, sy toekoms in. Maar die toekoms val nie sommer uit die lug nie. Dit het baie gekos. Dit is wat besonders is aan die Nagmaal. Ons kyk terug én ons kyk vooruit. Ons gedenk én ons verwag.

God het self dié twee dinge bymekaar gevoeg, toe hy gepraat het van die bruilof van die Lam. Die bruilof is die fees waarnatoe ons leef, maar die bruidegom is die Lam. Die Lam. Dit is ’n unieke naam. Die Lam. Dit is die kwesbare naam van Jesus. Hy is God wat die kwaad oorwin, maar Hy doen dit op ’n wonderlike manier.

Wanneer óns kwaad teëkom, wil ons dit al te maklik met kwaad teenstaan. Die rede hiervoor is dat die kwaad ons krag te bowe gaan. Jy probeer met alle mag om ’n greep daarop te kry, dit met geweld te stuit, maar dit ontglip jou nietemin. Maar God kán. Dit is so wonderlik: Hy soek die kwaad op, Hy word daarvoor ’n mens - ’n kwesbare Lam.

Hy het die kwaad opgesoek en oorwin met sy goedheid. Hy het Homself kwesbaar gemaak, want Hy het die kwaad nie sommer net so nek omgedraai nie . Nee, Hy sê: bring al die kwaad hier, lê dit op my skouers, Ek kan dit verduur. En ’n mens sien, so te sê, hoe al die kwaad op Hom neerkom. Dit het Hom vermorsel.

’n Mens voel dit aankom in die Bybel. Van die begin af was ’n Lam bestem om geslag te word. En ... dan gebeur dit ook. Die bloed. Dit beteken iets. Jy stryk die bloed aan jou deurkosyn en - die dood gaan by jou huis verby. Só gaan die kwaad verby - as die Lam jou beskerm. Dié Lam. Tot die dood toe kwesbaar, maar daardeur sterker as die dood. Hy is die Lam wat die sonde van hierdie wêreld wegneem.

“Die Lam”. Dit is die kwesbare naam van Jesus. Die naam waarmee Hy sê: Ek gee myself. Tot die uiterste toe. En kyk, Hy is die bruidegom. Ek beklemtoon dit, want dan eers kan jy daarop vertrou dat die fees sal voortgaan. Daar is ’n gegronde verwagting, en dit is die kern van die Nagmaal. Ons kyk terug na Gólgota waar die Lam Homself gegee het.

Maar daarom kyk ons ook vol verwagting vooruit. Straks vier Hy die gróót fees. Die fees van die oorwinning van die kwaad. As daar één is wat dit waar kan maak, dan is dit Hy. Die bloed van die Lam oorwin die kwaad. Vol verwagting sien ons aan die tafel daarna uit. Die kwaad in die gemeente. Die kwaad in die wêreld. Wie kan dit oorwin? Die Lam.

Daarom verkondig ons sy dood, en sien met reikhalsende verlange uit na sy fees. Nou kan ek by die kwaad wat my telkens aan die keel gryp, verbysien. Nou het ek die vertroue dat alles reg sal kom. Daar is ’n gegronde verwagting. Aan sy tafel leer ek om verder te kyk: ek sien ’n nuwe aarde kom. God self kom by ons bly.

2. Met ander oë🔗

By die Nagmaal leer jy om werklik jou uitkyk te verskerp, om met ander oë te kyk. En dan ontdek jy die werklikheid van God. Dit is waarop die viering gerig is: Kyk na Christus. Die brood word gebreek. Dit is die liggaam van Christus. Maar kyk ook geestelik. Kyk dieper. Moenie aan die uiterlike tekens bly hang nie. Kyk met die hart omhoog, in die hemel waar Christus is. Daar sien ons Jesus met sy eer en heerlikheid gekroon.

Ek kyk dan rondom jou. Dan leer jy om te sien: Dit is nou die liggaam van Christus. Jy ontvang ’n plek daarin. Jy ontvang die ander as medelede van die liggaam van Christus. Die viering is daarop gerig. Jy leer om met ander oë te kyk. Wanneer jy dit alles ontvang, word jy as’t ware ’n siener wat die kontoere van die koninkryk gewaar. Jy kyk met ander oë na die gemeente. Jy ontdek die genade. Jy ervaar die gemeenskap. Jy onderskei die liggaam van Christus.

Só groei ook die verwagting. Wat God nóú gee, is ’n voorskot. Jy smaak dat die Here goed is. Maar as dit die voorsmakie is, begin jy na méér verlang. En dit is daar waar die Nagmaal die plek kry wat Christus wil hê. Die eerste keer toe Hy dit gevier het, het Hy gesê: “Ek sal die wyn opnuut met julle drink in die koninkryk van my Vader.” Daarom klop die harte vol verwagting aan die tafel. Ons vier hierdie fees totdat Hy kom.

So kom daar dan ’n nuwe uitkyk in ons lewe. Ons sien saam uit. En in daardie uitsien word ons harte verenig. Die vooruitsiende blik gee hoop op die toekoms. Hoop wat laat lewe. Lewe wat groei moontlik maak.

3. Geestelik sien🔗

Dit hou baie belofte in. Of liewer: God beloof baie. Die vraag is nou: Sien mens iets daarvan? Kry mens dit in die praktyk?

Ek kan nie ’n algemene antwoord daarop gee nie, en ek wil ook nie. Wat my wel opval is dat baie mense sê: ‘My aandag moet telkens weer daarop gerig word’. Daar is ook so baie dinge wat ons aandag aflei. Die dinge van hierdie wêreld. Die vraagstukke in die kerk. Die verwikkelinge in jou eie lewe. Dit kan alles tussen ons en God se toekoms inskuif. Te midde van hierdie werklikheid is die Nagmaal ’n groot krag - die maaltyd van die gegronde verwagting.

Die Nagmaal moet daarom ’n kernpunt in ons liturgie bly. Ons moet ons aan God die Heilige Gees toevertrou. Dit is immers Hy wat die verwagting van Christus lewend hou. Die Gees en die bruid sê: Kom! Ons saam is die bruid. Die Gees wil niks liewer as om ons aan die Bruidegom te verbind nie. Dáárom moet ons Nagmaalviering lewend en kragtig bly. In hierdie verband wil ek graag op twee dinge wys.

Baie Nagmaalgangers ondervind probleme met die viering. ‘Dit beteken vir my min’ sê hulle. Hoekom? Dikwels word daar na die vorm van die nagmaalsviering gewys. En gou is daar die roep om vernuwing. Maar één ding word nie genoem nie: Hoe kom jy na die tafel? Wat verwag jy van die Gees? Wat jy saam met jou van die tafel af wegneem, hang af van wat jy saam met jou na die tafel toe saambring. Kom jy met die verwagting dat die Gees die genade van Christus sal uitdeel? Dan sal jy die genade ontvang. Eers dán is jou hart daarin. Eers dan leer jy om verder te kyk.

Aan die ander kant kan alles vir mense goed en wel wees, maar in werklikheid sit hulle in ’n sekere groef. ‘Ons vier dit mos soos ons dit altyd gedoen het. Waarom sou ons dit anders doen?’ In sulke taal klink daar dikwels geen verlange meer nie. Nie ’n wens vir iets groter, om toe te neem, om na Christus toe te groei nie. Die verwagting staan stil. Jou blik word weer bysiende.

Hoe kan dit wees? Die gebed om die Gees is immers die kern van die Nagmaal. Voor ons aan die tafel aansit bid ons: “... dat U deur u Heilige Gees ’n opregte vertroue in ons harte sal bewerk om ons al meer aan u Seun oor te gee”. Die gebed om die Gees - dit is deurslaggewend. Bly jy ten dele of heeltemal daarbuite, dan het die Nagmaal ’n stilstaande fees geword. Jy verkyk jou aan wat jy sien. Jy staar jou blind teen die uiterlike dinge of die mense aan die tafel.

Die gebed om die Gees is beslissend. Dit is belangrik om daarin en daarmee te lewe, om bewus daarmee om te gaan. Dit is die hart van die fees. Dan ontvang ons waarlik die genade van Christus. Dan onderskei ons waarlik die liggaam van Christus. Dan verwag ons waarlik die koms van Christus. Só sal ons ook met mekaar verder kom, want deur die Gees sien ons wat werklik belangrik is. Die Gees ken slegs één doel: die koms van die Koninkryk. Dit word dan ook ons doel, as ons ons deur Hom laat lei. Ons gesamentlike doel. Op weg na hierdie doel kan die tafel ons juis bymekaar bring. Telkens opnuut. Juis aan die tafel kyk ons mekaar in die oë. En saam sien ons uit na die dag wanneer dit nooit meer sal ophou nie.