Bron: De Reformatie. 1 bladsye.

Vraagtekens by die Vra na 'n Teken

In die pers het iemand onlangs iets geskryf oor God se leiding. Die skrywer het ruimte daarvoor gesien om God in bepaalde omstandighede te vra vir ʼn teken.  As jy jou in ʼn baie lastige situasie bevind en jy regtig nie meer ʼn ander uitweg sien nie, dan is dit syns insiens moontlik om ʼn teken van die Here te vra. Dit is dan nie uitgesluit dat God jou op so ʼn manier hulp bied by die neem van ʼn moeilike beslissing deur die gevraagde teken te gee nie.

Dit is ʼn gedagte wat jy in die Gereformeerde kerke weinig aantref, maar wat jy daarbuite meer gereeld teëkom. Sommige gelowiges praat baie oortuigend oor die dinge wat die Here aan hulle duidelik gemaak het, deur middel van ʼn ‘teks’ wat hulle gevind het of omdat die Here daadwerklik ingegaan het op die vraag na ʼn teken. Het God se kinders in Bybelse tye nie ook soms aanwysings gekry wat onmiskenbaar God se wil duidelik gemaak het nie?

Hierdie gedagte het iets aantrekliks. Wat sal nou mooier wees as om te kan sê: ek is 100% seker dat ek reg is, want God het self vir my die knoop deurgehak ...?!  Tog kan ons groot vraagtekens daarby plaas. En nog meer as dit: Is die vraag vir ʼn teken regtig ʼn vraag? Iemand het eendag aan my vertel dat hy twee moontlikhede aan die Here voorgehou het om duidelikheid te verkry oor ʼn bepaalde kwessie.  Indien ʼn vriend van hom positief sou reageer op sy vraag, dan sou hy dit interpreteer as ʼn goddelike ‘ja’.  Sou die man egter negatief antwoord, dan was dit outomaties die teenoorgestelde. En dit dan ... deur die Here gegee!

Dit het volgens my min te make met die stel van ʼn vraag. Jy dwing die Here om ʼn uitspraak, op watter manier dan ook al, te maak. Jy as mens bepaal vóór die tyd wat die teken is en hoe dit verklaar moet word en bind die Here vervolgens aan jou willekeur.

Tekenvraers gaan nie altyd so ver nie. Maar in ander gevalle vergeet hulle dat die tekens in die Bybel  nêrens die funksie gehad het om probleemoplossers te wees nie. Hulle word nie gegee om in onduidelike situasies ʼn deurbraak te forseer nie. God het aan swak mense tekens gegee om die duidelikheid wat Hy rééds gegee het, nog ʼn slag te bevestig. Tekens is nie ‘knoop-deurhakkers’ nie, maar Woord-versterkers. Toe Gideon in die nag ʼn velletjie van wol op die dorsvloer neergesit het, het die Here sy wil bekend gemaak en toe hét Gideon alreeds ʼn leër op die been gebring.

Die gevolg van die vraag na ʼn goddelike vingerwysing is:  die besluit wat geneem is kan nie verkeerd wees nie. Die menslike, feilbare besluit word bo alle kritiek verhef, jy maak dit onaantasbaar. God het gespreek, nou moet elke mens swyg. Waar mense tekste en tekens kry, gaan dit al gou van ootmoed na hoogmoed.

ʼn Mens kan in uiters moeilike beslissingsituasies beland. Jy kan smag na meer duidelikheid aan die kant van die Here. Die Bybelskrywer Jakobus het begrip vir iemand wat tekortskiet in wysheid. Jakobus skryf aan hulle voor om nie vir God voor te skryf nie. En ook om geen ander wysheid te soek as in die weg van gelowige gebed nie. Hierdeur wil God ons verstand reinig om dit goed te kan gebruik in ons beslissings. ‘.. en dit sal aan hom gegee word.’ (Jak. 1:5) By hierdie belofte kan ons ʼn uitroepteken plaas.